fbpx

Later hierdie week sal Europeërs in 28 lande na die stembus gaan om hul verteenwoordigers vir die Europese parlement te verkies. In ‘n peiling laat verlede jaar het meer as 40% van Europa se inwoners aangedui dat hulle skepties oor die rol van die Europese regering is. Dit volg na die Europese finansiële krisis die afgelope paar jaar.

Inwoners van Suid-Euopese lande soos Griekeland en Spanje voel dat noordelike lande soos Duitsland ‘n onbillike handelsvoordeel deur die monetêre vereniging van lidlande verkry het. In Griekeland wil baie Grieke hê dat Griekeland weer sy eie geldeenheid moet kry. Heelwat Grieke is selfs ten gunste daarvan dat die land heeltemal uit die Europese Unie onttrek.

Inwoners van noordelike lidlande soos Nederland, Frankryk en die Verenigde Koninkryk is ook gefrustreerd met die Europese Unie. Aan die een kant gaan hul ongelukkigheid oor die feit dat hul lande baie geld moes bydra om lande soos Griekeland en Spanje uit die moeilikheid uit te help. Aan die ander kant is daar ook ‘n groot frustrasie met die wyse waarop lande in Europa toenemend hul outonomiteit moet inboet soos wat die Europese regering in Brussel sekere funksies en mag sentraliseer.

‘n Groot bron van frustrasie in Wes- en Noord-Europa is die immigrasie van mense uit Noord-Afrika, die Midde-Ooste en Oos-Europa. Aangesien mense vrylik binne Europa kan beweeg beteken die swak vermoë van suidelike lande soos Italië en Spanje om onwettige immigrasie te bekamp en hul grense te beveilig dat baie onwettige immigrante ook in Nederland, België, Frankryk en Duitsland ‘n heenkome vind.

Die Europese Unie is nog altyd aan die wêreld voorgehou as dié voorbeeld van samewerking tussen lande wat voorheen aardsvyande was. Deur die Europese Unie probeer Europeërs bewys hoe ‘n herhaling uit die geskiedenis voorkom kan word deur groter samewerking en inbinding op ekonomiese, politieke en ander terreine.

Die probleem hiermee is egter dat juis die verskille tussen die volkere van Europa misken word. Daar word by diversiteit verbygekyk om uiteindelik te kan sê: Ons is een Europa!

Die miskenning van Europa se diversiteit en in besonder hoe groot die verskille tussen Europese volkere wel is, kan waarskynlik as die hoofoorsaak van sogename ‘Euroskeptisisme’ beskryf word. Waarom word Britte of Nederlanders kwaad as hul belastinggeld gebruik word om die ekonomie van Griekeland te probeer stabiliseer? Die burokrate in Brussel sal vir jou sê dat Europeërs soos broers is wat mekaar die heeltyd moet ondersteun. Vir die gemiddelde Fransman of Nederlander is ‘n Griek egter ‘n vreemdeling met snaakse gewoontes wat allesbehalwe as ‘n broer beskou kan word.

Die finansiële krisis van die afgelope paar jaar het ook al die krake in die Europese-model duidelik na vore laat kom, want ja, broederskap is makliker wanneer dit goed gaan as wanneer dit sleg gaan. ‘n Toename in steun vir Euroskeptiese partye hierdie week sal goed wees. Want dit sal bevestig dat diversiteit nie sommer net uitgevee kan word nie en dat elke volk ‘n reg op ‘n outonome voortbestaan het.