fbpx

2011-04-19171613_^_u-flagDie afgelope dekade of twee is daar ‘n volskaalse aanslag op die soewereine nasiestaat in Europa. Na die Tweede Wêreldoorlog het daar ‘n dominante denkrigting in Europa onstaan dat enige vorm van nasionalisme verwerplik is en tot diskriminasie, haat en uiteindelik bloedvergieting aanleiding gee. Enige vorm van nasionalisme moes dus ondergrawe word.

Die grootste voorstanders van eenheid binne Europa ondersteun eerder ‘n soort losse Europese identiteit as die realiteit van ‘n Europa wat uit uiters diverse volkere bestaan. ‘n Nasionale of volksidentiteit wat in ‘n nasiestaat setel moet dus met ‘n nuwe bedeling wat klem op ooreenkomste eerder as verskille plaas, vervang word.

Die bedeling wat voorgestel word is een waar landsgrense, kultuurverskille en soewereine regerings stelselmatig afgebreek moet word ten einde plek te maak vir sentrale beheer vanuit die Europese regeringsetel in Brussel.

Tydens die onlangse Europese verkiesing het hierdie strategie egter ‘n terugslag gekry met Euroskeptiese, nasionalistiese en sogenaamde regse partye wat groot opgang gemaak het. Die verbetering in steun vir partye soos Front National in Frankryk en die United Kingdom Independence Party in die Verenigde Koninkryk beteken nie noodwendig dat kiesers in hierdie lande na regs beweeg het nie. Kiesers in talle lande in Noord- en Wes-Europa stem egter nie saam met die manier waarop hul lande se soewereiniteit stelselmatig afgebreek word nie.

Die verbrokkeling van sterk nasiestate in Europa lei tot ‘n skerp toename in immigrasie uit Derde Wêreldlande en die gevolglike uitdagings van ‘n multikulturele samelewing met ‘n invloei van mense met swak opvoedingsvlakke en ‘n gewoonte tot misdaad. Die ekonomiese gevolge van hierdie invloei van Derde Wêreldse probleemgevalle en rugryers wat van regeringsondersteuning afhanklik is, skep saam met die ongelyke mededinging tussen Europese lande en die onlangse finansiële krisis in Europa ‘n breuk tussen politici en die gewone, hardwerkende Europeër.

Dit is juis hierdie mense wat graag beter immigrasiebeheer, strenger optrede teen misdadigers, minder genade vir en finansiële ondersteuning aan asielsoekers en onwettige immigrante, minder finansiële ondersteuning aan Derde Wêreldlande en ‘n terugkeur na eie nasionale geldeenhede, wil sien gebeur. Daarteenoor staan die politieke elite in Europa vir oper grense, groter verdraagsaamheid en ‘n verdere verbrokkeling van die nasiestaat.

Die feit dat byna 20% van die setels in die Europese parlement tydens die onlangse verkiesing deur partye wat ernstige probleme met die rigting van die Europese Unie het, gewen is, is ‘n goeie teken. Dit gaan nie vandag of môre die skielike herstel van die nasiestaat en die terugkeur na die Nederlandse Gulden en die Duitse Mark beteken nie, maar die verkiesingsuitslag is ‘n sterk boodskap aan die politieke elite dat kiesers nie ‘n verdere wegkalwing van die soeweriteit van Europa se diverse nasiestate sal duld nie. Die erkenning van en behoud van Europa se diverse kulture, tale en tradisies is ook noodsaaklik ander volkere wat ‘n stryd voer om hul identiteit te beskerm. Afrikaners kan dus die verwikkelinge in Europa fyn dophou.