by Jaco Kleynhans | Mei 6, 2014 | Nuus |
Môre is ‘n belangrike dag vir Suid-Afrika. Dit is ook ‘n belangrike geleentheid vir Afrikaners. Of jy nou stem of nie stem nie die Afrikaner se rol in Suid-Afrika word in elk geval met elke verkiesing getoets.
Sedert 1994 het ons rol in Suid-Afrika se politiek stelselmatig afgeneem. Voor 1994 was Afrikaners die primêre rolspelers in Suid-Afrika se politieke bedeling. In 1994 en kort daarna is hierdie posisie deur swart Suid-Afrikaners, verteenwoordig deur die ANC, oorgeneem. Afrikaners het egter steeds ‘n belangrike sekondêre rolspeler gebly.
In 1994 het die Nasionale Party meer as 20% van die stemme op hom verenig en daardeur verseker dat Afrikaners steeds sentraal in die na-1994 bedeling kon staan. Die Vryheidsfront het self goed gevaar en daardeur meegebring dat Afrikanerbelange en selfs die reg tot selfbeskikking deel van die na-1994 politieke gesprek kon wees.
Teen 1999 was dit alles vergete. Die Nasionale Party het totaal misluk en reeds begin wegkwyn. Die Vryheidsfront het ‘n groot pakslae gekry. Intussen is diskriminerende beleid wat spesifiek Afrikaners teiken aanvaar en is ons tot tweedeklasburgers afgegradeer.
Vandag bykans 20 jaar nadat Afrikaners hul mag verloor het, kan ons, onsself afvra wat ‘n nasionale verkiesing vir ons beteken. Ons rol in nasionale politiek neem steeds af en minder en minder opposisiepartye doen nog die moeite om Afrikanerstemme op gefokusde wyses te werf.
Die demografie van Suid-Afrika tel ook sterk teen ons en Afrikaners maak ‘n dalende persentasie van die land se bevolking uit. ‘n Mens sal dus neig om te dink dat môre se verkiesing nie veel betekenis vir ons mense inhou nie. Dit is egter nie die geval nie.
Die meeste Afrikaners is vandag tereg diep bekommerd oor hul toekoms in Suid-Afrika. Honderde duisende van ons mense het reeds emigreer en nog honderde duisende se ekonomiese posisie het sodanig afgeneem dat hulle in besonderse swak omstandighede moet probeer oorleef.
‘n Verkiesing is die gulde geleentheid vir enige groep wat oor sy huidige omstandighede ongelukkig is om ‘n stelling te maak.
Watter stellings kan Afrikaners môre maak? Afrikaners wat nie wil stem nie, maar wat wel geregistreer is om te stem moenie net wegbly van die stembus nie. Bederf eerder jou stembrief en bring so ‘n protesstem uit. Indien jy nie geregistreer is nie moet jy moeite doen om die land daarvan te laat hoor. Daar is min sin daaraan om nie geregistreer te wees nie en net stil te bly daaroor. Laat jou stem hoor deur ‘n brief vir ‘n koerant te skryf, op radioprogramme in te bel of watter ander openbare stappe ookal te neem om jou protes te verduidelik.
Indien jy beplan om wel te stem moet jy slim stem. ‘n Stem vir ‘n party wat nie identiteit belangrik ag nie beteken dat jou stem net in die massas kan wegraak. Oorweeg dan eerder ‘n stem vir ‘n party waar jou stem ‘n boodskap aan die res van Suid-Afrika sal stuur. Hopelik ‘n boodskap dat ons hier is om te bly en dat ons as Afrikaners ‘n tuiste aan die suidpunt van Afrika het.
by Jaco Kleynhans | Apr 30, 2014 | Nuus |

Een van die mees besoekte plekke in Nederland is Museumplein in Amsterdam. Die plein het sy naam te danke aan die Rijksmuseum wat in 1885 geopen het. Vandag vind ‘n mens ook die Van Gogh Museum, die Stedelijk Museum en die Koninklijk Concertgebouw langs die groengordel van die plein met sy grasperke, boomlanings en meer.
Die Rijksmuseum is ‘n toonbeeld van Nederlanders se argitektoniese vermoë uit die negentiende eeu. Die imposante gebou is een van die mees gefotografeerde geboue in Nederland. Ook die inhoud van die museum vertel die verhaal van ‘n era toe Nederlandse kunstenaars soos Rembrandt en Johannes Vermeer as van die beste in die wêreld beskou is.
Die Koninkliljk Concertgebouw is ‘n ‘n pragtstuk uit die laat negentiende eeu met sterk klassieke en neo-renaissance argitektoniese elemente.
Die Stedelijk Museum open in 1895 ook ‘n in besonderse gebou wat weer ‘n toonbeeld van sestiende eeuse Nederlandse argitektuur en boukuns is.
Tot laat in die twintigste eeu het die geboue van die Rijksmuseum, Koninklijk Concertgebou en die Stedelijk Museum die unieke aard van Nederlandse argitektuur en kultuur op Museumplein uitgebeeld.
Hierdie skoonheid en bewys van Nederlandse kultuur en vermoëns kon egter nie staande bly teen die na-oorlogse verligtingsdenke nie.
In 1973 open die Van Gogh Museum in ‘n moderne gebou wat juis daarop uit is om niks van die unieke Nederlandse kultuur te wys nie.
Gedurende die 1980’s loop die Koninklijk Concertgebouw deur met die aanbou van ‘n lelike, moderne nuwe ingang wat juis die klassieke aansig van die gebou wegsteek.
‘n Paar jaar later spreek die munisipaliteit van Amsterdam sy kommer uit oor die Museumplein en dat dit nie die beeld van ‘n moderne wêreldstad uitbeeld nie. ‘n Groot parkeerarea en winkelsentrum word onder die grasperk van die plein aangelê.
Volgende op die lys was die Stedelijk Museum. ‘n Nuwe gebou wat wegdoen met die “outydse” en tipies Nederlandse boustyl moes die Museumplein ‘n nuwe moderne era inneem. Die argitekfirma Benthem Crouwel is in 2004 aangewys om ‘n nuwe gebou te ontwerp. Hul doel was om spesifiek iets te ontwerp wat nie mooi is nie omdat soos hulle dit beskryf het, argitektuur nie mooi hoef te wees nie.
Tipies aan die moderne denke in kuns en argitektuur moes die konsep vreemd en so eenvoudig wees dat die eenvoud juis mense moes aangryp. Daar is besluit op ‘n gebou wat soos ‘n badkamerbad lyk. Blykbaar was die rede hiervoor dat mense in Amsterdam weens beperkte leefruimtes baddens met storte vervang het. Die badgebou moes dus ‘n soort ode aan die bad wees.
Vandag staan die nuwe lelike gebou op die plein, waar daar voorheen gras was en waar jy voorheen ‘n mooi sig op die pragtige gebou van die Stedelijk Museum kon kry. Stukkie vir stukkie word Nederlandse kultuur en geskiedenis deur modernisme afgebreek.
Die rede hiervoor lê in die drang na integrasie. Europese volkere soos die Nederlanders wil tog so graag geglobaliseerde individue wees. Niks meer kultuur, geskiedenis en tradisies. ‘n Swewende individu sonder herkoms. Dit moet egter nog bewys word dat die mens sonder kultuur en tradisie ‘n gelukkige wese kan wees.
by Jaco Kleynhans | Apr 22, 2014 | Nuus |
As jy van Westerse afkoms is, is jou identiteit deesdae ‘n groot taboe. Indien jy van enige ander afkoms is, mag jy maar trots wees op wie jy is, jou taal, kultuur, tradisies en selfs ras. In nie-Westerse beskawings soos Afrika en die Midde-Ooste is xenofobie of te wel ‘n angs of vrees vir vreemdelinge heeltemal normaal. In die meeste Westerse lande is oikofobie, of te wel ‘n vrees vir die eie, weer deesdae die inding.
‘n Sterk en uitgesproke assosiasie met die eie is toenemend sigbaar by nie-Westerse minderhede in Westerse lande. In die VSA word ‘n voortdurende veldtog gevoer om swart Amerikaners trots op hul Afro-Amerikaanse kultuur te maak. Daar is elke Februarie in die VSA en Kanada en elke Oktober in Brittanje ‘n maandlange viering van die swart bevolking se geskiedenis deur die sogenaamde “Swart Geskiedenis Maand”. President Obama in die VSA praat gereeld oor sy swart identiteit, ten spyte daarvan dat sy moeder wit was, en bevorder in toesprake en boeke die swart identiteit.
Daarteenoor is baie wit Amerikaners amper skaam vir hul herkoms en die ‘bose dinge van die verlede’ wat elke dag aan hulle toegedig word. Om jouself as Westers of Europees te beskryf kom neer op rassisme en ‘n teruggryp na ‘n verlede van meerderwaardigheid. ‘n Swart Amerikaner word geloof as hy in die openbaar sê dat hy trots is op sy Afrika-herkoms. ‘n Wit Amerikaner word verguis as hy in die openbaar durf sê dat hy trots is op sy Europese herkoms.
Die verskil is natuurlik baie groter as wit en swart of Christen en Moslem. Die verskil tussen mense van Westerse afkoms en mense van nie-Westerse afkoms is wesenlik. Eintlik is selfs hierdie vergelyking ‘n enorme vereenvoudiging van ‘n baie groter diversiteit in vandag se wêreld. Mense van Westerse afkoms is intern divers, maar om selfs net te probeer om mense van nie-Westerse herkoms in een kategorie te plaas, klink laf.
Tog sien ons orals in Westerse lande presies dit gebeur. Die rede hiervoor is natuurlik dat mense van Westerse afkoms nie besig is om Pakistan, Maleisië, Angola of Marokko oor te neem nie. Mense van nie-Westerse lande is egter wel besig om stelselmatig Westerse lande soos die VSA, Engeland, Frankryk, Nederland, België en Spanje deur grootskaalse migrasie oor te neem. In hierdie Westerse lande vorm minderheidsgroepe van derde wêreldlande ‘n soort eenheid en mobiliseer hulle, hulself om daardeur hul afsonderlike identiteite te beskerm en te laat geld. Groepe Christene probeer nie in Moslemlande Christeneilande skep of selfs die Christendom sentraal in die openbare sfeer te plaas nie. In talle Westerse lande sien ons egter dat nie-Westerse immigrante hul kerke, eie skole, kultuurgewoontes en totale identiteit indra en dan aandring dat dit in hierdie lande erken en selfs bevorder moet word.
Die identiteit van Westerse volkere word dus vanuit hulself en van buite hulself bedreig. Om die Westerse beskawing te beskerm sal ons eerstens weer trots op ons eie identeit moet wees en tweedens mense van buite mooi laat verstaan wat die voorwaardes van deelname is. Jy kan nooit jou deur sluit nie, maar mag die reëls vir jou eie huis bepaal.
by Jaco Kleynhans | Apr 10, 2014 | Nuus |
Die tradisionele Afrikaanse media verkeer in ‘n krisis. Die groot Afrikaanse koerante se verkope daal so vinnig dat hulle nie meer vir lank volhoubare publikasies sal wees nie. Afrikaners kry eerder hul nuus op die internet en veral op webbladsye wat nie deur Naspers beheer word nie en in kleiner gemeenskapskoerante. Wat radio aanbetref verkies mense toenemend om na gemeenskapsradiostasies te luister, eerder as na die openbare uitsaaier se polities korrekte radiopoging.
Afrikaanse joernaliste is uit voeling met hul eie teikenmark. Die probleem begin reeds by ons universiteite waar joernalistiekstudente deur vêrlinkse dosente opgelei word. Stellenbosch Universiteit se joernalistiekskool is ‘n teelaarde vir linkse ekstremisme. Dit is ook die plek waar ‘n groot hoeveelheid jong Afrikaner studente as joernaliste opgelei word.
Ons probleem is nie uniek nie. Regoor die wêreld beleef konserwatiewe instellings en individue dat die hoofstroommedia deur mense links van die politieke spektrum beheer word. Daar is minstens twee redes hiervoor. Eerstens is kinders uit meer konserwatiewe huishoudings geneig om eerder beroepsrigtings soos ingenieurswese, finansiële en mediese dienste te kies. Konserwatiewe kinders kom gewoonlik ook uit huise waar die ouers een van hierdie hoogs professionele beroepe beklee of waar die ouers entrepreneurs is. ‘n Beskouing dat die geesteswetenskappe en onderwys nie die regte beroepskeuse is nie, heers dus telkemale in konserwatiewe huishoudings.
Daarteenoor sien ons dat in liberale huishoudings waar die ouers hulself in die politiek, kunste of mediawêreld bevind kinders juis ook hierdie beroepsrigtings kies. Die tweede rede waarom die media deur persone links van die politieke spektrum beheer word, is dat byna alle dosente wat hierdie studierigting by universiteite doseer, self links is. ‘n Studie in die VSA het bewys dat meer as 80% van alle universiteitdosente links van dié land se politieke spektrum is. Ook in Suid-Afrika sien ons by die meeste universiteite dat die kommunikasie en joernalistiekdosente uitgesproke links is. Selfs kinders uit konserwatiewe huishoudings word binne drie of vier jaar in linkse joernaliste omskep.
Dit alles bring mee dat talle nuuskantore vandag totaal uit voeling is met die mense vir wie hulle nuus versamel en verpak. Joernaliste word politieke kommentators eerder as verslaggewers. Joernaliste wil beïnvloed eerder as inlig. Die joernalistiek is veronderstel om een van die mees nederige beroepe op aarde te wees. Ons bespeur egter vandag toenemend ‘n intellektuele meerderwaardigheid by joernaliste. Die koerantredakteur van ouds se hoofdoel was om nuus so objektief, volledige en korrek weer te gee. Vandag wil party redakteurs eerder vir hul lesers vertel hoe hulle moet dink. Adriaan Basson van Beeld is hier seker die beste voorbeeld.
Wat staan ons te doen? Eerstens moet Afrikanerinstellings saamwerk om ‘n onafhanklike, Afrikaanse mediaskool tot stand te bring. Tweedens moet ons seker maak dat meer van ons jongmense in joernalistiek opgelei word. Vir jongmense wat tans joernalistiek studeer moet daar goeie begeleiding deur die linkse oerwoud op hul universiteitskampusse gebied word. En laastens moet ons voortgaan om meer volhoubare alternatiewe media te skep. Slegs dan kan ons ‘n balans skep wat hopelik die hoofstroommedia tot hul sinne sal bring.
by Jaco Kleynhans | Apr 3, 2014 | Nuus |
Die afgelope naweek het ‘n belangrike gebeurtenis vir volkere regoor die wêreld wat na selfbeskikking streef, plaasgevind. In die Europese hoofstad, Brussel, het 3500 mense van onder andere Skotland, Katalonië, Vlaandere en Suid-Tirool aan ‘n optog ten gunste van selfbeskikking deelgeneem.
Wat maak die gebeurtenis so betekenisvol? Die afgelope paar jaar is daar ‘n toename in volkere regoor die wêreld, maar in besonder in Europa, wat hul heil in selfstandigheid en groter outonomiteit begin soek. Die Europese projek met een geldeenheid en ‘n sentrale regering in Brussel begin toenemend krake te toon. Regerings in lande soos Italië, België en Spanje misluk ook toenemend weens korrupsie, binnegevegte, elitisme en ‘n totale onvermoë om die behoeftes van hul burgers te verstaan en daarvolgens te handel. Gevolglik sien ons dat volkere soos die Skotte, Kataloniërs, Suid-Tirolers en Vlaminge ernstig na selfbeskikking as ‘n uitweg uit die doodloopstraat waarin hulle tans verkeer, begin kyk.
Die relevansie van Sondag se optog in Brussel is egter eerstens dat dit enigsens plaasgevind het en tweedens dat dit in die teken van groter samewerking tussen volkere wat na selfbeskkiking streef, staan. Die feit dat die burgemeester van Brussel toegelaat het dat so ‘n optog plaasvind is ‘n teken dat selfs die politieke elite in Europa wat droom van een Europa sonder ‘n verskeidenheid van volkere en kulture nie meer die opkoms van die vryheidsbewegings regoor Europa kan ignoreer nie.
Tweedens was daar by Saterdag se optog ‘n groot mate van eensgesindheid onder ‘n uiters diverse groep mense van verskillende lande. Uit Suid-Afrika was daar ook ‘n afgevaardigde van Orania wat saam met die afvaardiging van Suid-Tirool aan die optog deelgeneem het. Selfbeskikkingsbewegings van regoor die wêreld begin toenemend beter saamwerk en hul verskille opsy skuif om ‘n sterk blok op elke internasionale verhoog te vorm. Suid-Afrikaanse selfbeskikkingsinstellings soos die Orania Beweging skakel ook reeds vir etlike jare met ander volkere wat na selfbeskikking streef en Orania het vandag ‘n goeie netwerk van vriende in plekke soos Vlaandere en Suid-Tirool.
In Mei vanjaar sal Europese lande hul verteenwoordigers na die Europese parlement verkies en een tendens om tydens dié verkiesings dop te hou is die mate waartoe partye wat selfbeskikking onderskryf, sal presteer. Nog belangriker is om te sien om hierdie partye na vanjaar se Europese verkiesing daarin sal slaag om hul verskille eenkant te skuif en ‘n sterk nuwe blok in die Europese Parlement te skep. Die afgelope paar jaar was daar herhaalde pogings om pro-selfbeskikkingspartye binne een blok te laat saamwerk, maar dit het telkemale misluk.
Die meeste Afrikaners wat na selfbeskikking streef het reeds besef dat selfbeskikking nie ‘n gebeurtenis is nie, maar wel ‘n proses. Om die waarheid te sê: Dit is meestal ‘n lang en moeisame proses. Een gesamentlike optog in Brussel gaan vir geen volk sy selfbeskikking verseker nie, maar dit gaan ‘n belangrike bydrae lewer om volkere wat wel selfbeskikking nastreef beter te laat saamwerk. Die Afrikaner kan en moet deel hiervan wees.