fbpx

Golda Meir, voormalige Eersteminister van Israel, skryf in haar outobiografie (“My Life”) dat die beweging vir ‘n Joodse staat gedryf is deur die besef dat hulle verdra word in die state waar hulle hulself as minderhede bevind het, maar nie gekoester is nie.

So is daar, terwyl sy as kind in Tsaristiese Rusland grootgeword het, nie staatsgeborgde geweld teen die Joodse minderheid gepleeg nie, maar het hulle selde hulp van die regering gekry wanneer hulle deur misdadigers van hul eiendom verjaag, aangerand of selfs vermoor is nie.

Met die onttrekking van Brittanje as mandaatowerheid in Palestina in 1948, het hierdie gedagte die Jode in Palestina genoop om hul onafhanklikheid van Jordanië eensydig te verklaar en hul eie staat in die lewe te roep.

Later skryf Golda dat dit die regte besluit was, want toe Joodse burgerlikes op plase en dorpe deur Arabiese terroriste vanuit Egipte aangeval is, het die Israelse weermag valskermsoldate oor die grens gestuur om die terroriste te onderskep en tot verantwoording te bring.

Dít sê sy is die verskil tussen om deur ‘n ander regering verdra te word en om deur jou regering gekoester te word, want onder die regering van Jordanië, soos in Rusland, Duitsland, Nederland, Frankryk, Roemenië, Turkye, Brittanje as mandaatregering en Yemen, sou daar eerder anderpad gekyk word as om ‘n minderheid teen die vergrype van die meerderheid te beskerm.

Sou ‘n Afrikanerregering nie reeds lankal die plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad verklaar het nie? Daar kan geargumenteer word dat die Suid-Afrikaanse meerderheidsregering ten minste nalatig teenoor Afrikaners gestaan het toe hulle opgehou het om landsgrense te patrolleer, enige kans op billike vergoeding vir swartes beëindig het deur publieke onderwys in duie te laat stort, onrealistiese verwagtinge geskep het, kommando’s ontbind het en die polisiediens tot oneffektiwiteit getransformeer het.

Word ons in Suid-Afrika verdra of gekoester? Die reaksie van die Minister van Polisie, Nathi Mthethwa op die briewe van plaasmoordslagoffers wat Afriforum aan hom oorhandig het (hy het die briewe as ‘n publisiteitsfoefie van Afriforum afgemaak) spreek boekdele.

Hoe lank sal ons daarmee verlief neem om slegs verdra te word, voordat ons in groot getalle self verantwoordelikheid vir ons toekoms begin opneem deur vir onsself ‘n eie ruimte te skep?

Dit is ‘n skande dat so baie Afrikaners op Orania neerkyk en weier om hulle te ondersteun, terwyl daardie pioniers hulleself afsloof, gewildheid, gemak en rykdom ontsê in ‘n poging om vir ons ‘n plek te skep waar ons gekoester word.