Deur Victor Correia
Sien gerus ook “Oorweeg Orania want dis veilig”
Die tweede rede waarom mense vandag emigreer is om ʼn beter toekoms vir hul kinders te soek. Dit is verstaanbaar, in ʼn tyd waar funksionele Afrikaanse skole die teiken geword het van die regering se transformasie of eerder deformasieplanne. Ouers kan dit nog tot ʼn mate hanteer as daar by die werkplek teen hul gediskrimineer word, maar waar kinders die teiken word van mislukkende regeringsplanne raak dit ouers diep.
Emigrasie hoef wel nie die enigste oplossing te wees nie. Voordat ʼn mens kies om te emigreer te wille van die kinders, is dit nodig om eerder semigrasie te oorweeg. Semigreer is ʼn term wat deur die sakeman en joernalis Magnus Heystek gepopulariseer is, om die grootskaalse skuif vanaf Gauteng na die Weskaap te beskryf. Semigrasie beteken dat ʼn mens eerder na ʼn beter deel van Suid-Afrika trek, as om heeltemal te emigreer. Nes die Kaap in baie opsigte ʼn ander wêreld is met ʼn ander lewenstyl, bied Orania ook ʼn opsie.
Veral waar ouers wat ernstig is oor die bewaring van hul kinders se geloof, taal en kultuur is Orania ʼn bestemming wat hul ernstig kan oorweeg.
In Orania kan kinders nog speel. Hier merk ʼn mens nog op dat kinders fietsry op die straat, saamspeel by die dorpswembad en selfs in die aande winkel toe loop. In kontras met die engtes van die stad bied die oop ruimtes van die platteland ruimte vir kinders om net kind te wees.
Hier kan kinders skoolgaan sonder om die teiken van rasseboelies te wees. Die skoolterrein behoort immers ʼn plek te wees waar kinders in vrede kan leer, speel en sosialiseer.
Meeste mense sal saamstem dat van die belangrikste dinge wat ʼn mens vir jou kinders kan gee, nie dinge is wat jy met geld kan koop nie. Hoewel finansiële stabiliteit tot ʼn groot mate die opvoeding van ʼn mens se kinders kan vergemaklik, is eenvoudige dinge soos geloof, liefde, aanvaarding, tyd, veiligheid alles dinge wat nie tot monetêre terme beperk kan word nie.
Orania bied vanaf kindsbeen af verskeie opsies vir ouers wat oorweeg om na Orania te verhuis. Vanaf die nuwe kleuterskool (Huppelkind Dagsorgsentrum), tot skool (volkskool en Orania CVO) tot naskoolse (Bo-Karoo Opleiding) bied Orania reeds baie wat ouers kan oorweeg.
Indien ouers steeds wonder of hul kinders na Orania sal wil verhuis, doen dan die volgende. Kom hou dan julle volgende vakansie in Orania en vra dan vir julle kinders self waar hulle graag sal wil bly.