fbpx

Tersiêre Onderwys

Ons droom in Orania van ons eie Christelik-Afrikaanse instelling wat kan groei tot volledige kampus, waar kinders van doeke tot by diploma of selfs graad begelei kan word om hulle volle potensiaal te bereik. 

Die realiteit van die omstandighede in Suid-Afrika vandag ten opsigte van tersiêre onderrig en opvoeding dwing ons om saam te dink en werk aan die vestiging van ons eie Christelik-Afrikaanse instellings. Doelbewuste pogings om Afrikaans te verwyder by al die bestaande tersiêre instellings en Christenskap te relativeer tot net nog ‘n ander godsdiens, noodsaak ons om weer van nuuts af opvoedkundige instellings te bou wat onbeskaamd Christelik en trots Afrikaans is. 

Dit is in die lig van die bogenoemde dat ons besluit het om te werk en bou aan die Bo-Karoo Kampus projek. Tans vorm die Huppelkind dagsorgsentrum, CVO-skool en die Bo-Karoo Opleidingsentrum deel van die Kampus gedagte. Die woord Kampus word in die oorspronklike Latynse sin gebruik as verwysende na ‘n terrein. Op hierdie terrein akkommodeer ons verskeie instansies wat Christelik-Afrikaanse opvoeding en onderwys  bied. 

Bo-Karoo Opleidingsentrum het reeds verskeie studente begelei om hulle ambagte te voltooi en Rooiseëls te ontvang deur middel van die Erkenning van vorige kennis (RPL) stelsel. Bo-Karoo Opleiding bied ook kort vaardigheidskursusse aan wat strek vanaf algemene beroepsveiligheid en die konstruksiebedryf tot by die besigheidswêreld. Die volgende skakel verleen toegang tot die volledige prospektus wat aanlyn beskikbaar is: https://interactivepdf.uniflip.com/2/611867/1091015/pub/html5.html. Indien u belangstel in die opleiding wat die Bo-Karoo Opleidingsentrum bied kan u gerus met mnr Willie du Plessis kontak maak by willie@orania.co.za

Onderhandelinge met Akademia vir die opening van ‘n sentrum in Orania vorder goed. Praktiese uitdagings ten opsigte van Telkomlyne en optieseveselkabels word tans aangespreek, maar ons hoop om binnekort ook op hierdie wyse toegang te verleen tot volledige graadkursusse wat deur middel van ‘n aanlynsentrum op ons kampusterrein geakkommodeer kan word.

Intussen is ons hard aan die werk aan die verbetering en opgradering van ons fasiliteite sodat elkeen wat deel in die gemeenskaplike visie van Christelik-Afrikaanse onderrig en opvoeding dit binne ‘n aangename, wêreldklas omgewing kan uitleef. Tans word daar ses netbalbane en twee tennisbane op die terrein gebou met behulp van die CVO-skool se Mielieprojek. 

Die Bo-Karoo Sportfederasie dra verder by tot die vestiging van sportgeleenthede vir ons mense wat nie onderhewig is aan kwotas en diskriminasie nie. Die federasie vorm deel van die Bo-Karoo Kampus projek en onderneem reeds ‘n internasionale 7’s Rugbytoer met die Bo-Karoo Gazelle-span na Dallas in die VSA. 

Tersiêre onderrig is nie iets wat oornag ontstaan nie, maar ons sien reeds hoe die behoefte en die aanbod begin groei, sodat Orania uiteindelik ‘n sentrum vir uitnemende akademiese opleiding kan word.

Vir verdere inligting oor ons Bo-Karoo Kampus projek kan u gerus vir Pieter Bisschoff kontak by pieterb@orania.co.za.