Voorskoolse Onderwys
Dagsorgsentrum – Huppelkind
Die Dagsorgsentrum, Huppelkind, is deel van die Bo-Karoo Kampus en staan onder die bestuur van Orania Maatskaplike Raad. ‘n Nuwe gebou, wat op die CVO-skoolterrein geleë is, is pas betrek en word bestuur deur Esna Schumann, ‘n opgeleide kleuterskool-onderwyseres. Sy is sedert die beginjare van Orania by kleutersorg/opvoeding betrokke en word deur sowat elf personeellede bygestaan. Daar is tans ongeveer sestig kinders ingeskryf, vanaf drie maande tot voorskoolse ouderdom.
By die dagsorgsentrum word ‘n kinder- sowel as ‘n karakterontwikkelingsprogram gevolg wat skoolgereedheid ten doel het, maar ook sosialisering en aanpassing in ‘n gemeenskap met Christelike waardes en -tradisies. Die kinders se omgewing word so huislik moontlik ingerig. Moderne geriewe, vensters en kameras op strategiese plekke, ‘n groot sandput en ruim speelplek en -apparaat, verseker die bes moontlike sorg en opvoeding. Die sentrum is oop van halfagt soggens tot vyfuur namiddae in die winter en somertye van sewe-uur soggens tot halfvyf.
Hulle gee ook ontbyt en middagete met verversings tussen etenstye. Die personeel kry ‘n ligte middagete. ‘n Volledig toegeruste kombuis maak die voorbereiding van maaltye baie gerieflik. Die sentrum beskik ook oor ‘n pragtige saal vir aktiwiteite en konsert-opvoerings.


Die sentrum help ouers wat net vir een dag versorging soek vir hulle kinders, soos gedurende oriëntering van nuwe inwoners. Ouers betaal 100% skoolgeld oor elf maande. Daar is wel ruimte vir persone wat voel dat hulle ondersteuning wil verleen, om teen R1 500 per maand aan die projek, “Borg ‘n kind se geluk” deel te neem. Verdienstelike ouers word uit hierdie fondse gehelp. Soms vat dit ‘n maand of drie vir ouers om hul voete te vind op Orania en hulle word dan in daardie tydperk bygestaan. Dit word egter nie op ‘n permanente basis gedoen nie. Belangstellendes kan Esna kontak by selnommer 082 472 0637. Eposadres: huppelkind@orania.co.za
Die ses waardes waarop Huppelkind fokus in kinderontwikkeling:
- Om om te gee vir ander mense
- Om regverdig op te tree deur deurentyd konsekwent te wees
- Om betroubaar te wees
- Om verantwoordelik te wees
- Om respek vir ander mense te toon
- Om eienaarskap deur entrepreneurskap te ontwikkel