fbpx

 

Sedert 2019

Ons het die eerste gerugte van COVID teen die einde van 2019 ontvang. In 2020 is dit verklaar tot ʼn wêreldwye pandemie. Intussen het ons verskeie golwe van die siekte beleef en geleer dat daar verskillende variante van die Corona-virus is.

Ons is reeds in die tweede semester van 2021 en steeds is COVID daagliks deel van ons lewe. Ons ken almal mense wat baie siek geword het. Ons betreur dit ten diepste dat ons reeds verskeie geliefde Oraniërs aan COVID verloor het. 2021 was ʼn moeilike jaar ten opsigte van sterftes in Orania.

Wat moet ons weet van COVID?

Die spesifieke Corona-virus, deesdae bekends as SARS-CoV-2, wat COVID veroorsaak is ʼn griepvirus wat nog baie lank met ons sal wees. Soos ons reg aan die begin gesê het, sal daar ʼn klein persentasie van mense wees wat sterf aan die virus, sommige sal erg siek word, maar die grootste meerderheid sal slegs ligweg siek word en volkome herstel.

Ons weet ook reeds dat onderliggende siektetoestande kan bydra tot ernstige siekte, byvoorbeeld hoëbloeddruk en diabetes. Vrees is egter ook ʼn bydraende faktor by sterftes. Doen wat jy kan om hierdie risikofaktore te bestuur.

Hoe word die pandemie hanteer?

Wêreldwyd het lande min of meer dieselfde maatreëls ingestel om COVID te bekamp. Sommige lande se maatreëls is werklik drakonies van aard, en ander lande en sekere state in Amerika het verkies om baie ligter maatreëls in te stel.

Dit lyk of daar min verskil in die verloop van die siekte is by die verskillende toepassingsmaatreëls. Of daar streng of minder streng maatreëls is, die siekte eis lewens, maak mense soms baie, maar meestal ligweg siek.

Wat is Orania se standpunt?

Orania het aanvanklik die Nood Operasionele Sentrum (NOS) tot stand gebring om COVID te bestuur. Soos wat meer inligting oor COVID beskikbaar geraak het, het die NOS besluit om te ontbind en het ons in Orania so ver as moontlik normaal met ons lewens voortgegaan.

Betreklik min mense het hulle werk as gevolg van COVID in Orania verloor, terwyl ons tans ʼn redelike instroming van mense beleef wat hulle poste in Suid-Afrika verloor het.

Ons standpunt hier was deurgaans dat Oraniërs vir hulleself moet verantwoordelikheid neem en dat die broses onder ons beskerm moes word. Daarom is daar nie gepolisieer of mense maskers dra, hulle hande ontsmet of sosiale afstand handhaaf nie. Elkeen moes doen soos wat hy of sy glo die regte ding is om te doen.

Fokus op gesondheid

Hoewel ons dankbaar is dat die gevalle van pasiënte wat aktief siek is aan COVID baie afgeneem het, wil ons Oraniërs graag versoek om op gesondheid eerder as op siekte te konsentreer.

Om op gesondheid te konsentreer is ʼn positiewe handeling en dit plaas jou in ʼn groot mate in beheer van wat met jou gebeur, eerder as om te wag dat jy siek word en dan probeer om die siekte te oorwin.

Om self verantwoordelikheid te neem vir gesondheid beteken om bepaalde keuses te maak ter wille van gesondheid en spesifieke optrede te neem wanneer jy wel siek word.

Hoe kan jy jou eie gesondheid verbeter?

Ons word geseën met ʼn uitsonderlike immuunstelsel waarin t-selle, makrofage en limfosiete altyd beskikbaar is om indringers, soos die SARS-CoV-2 aan te val en ons te beskerm. Sodra ons liggame aan ʼn indringer soos ʼn virus blootgesel word, word teenliggaampies onmiddellik geproduseer wat help voorkom dat die virus selle kan binnedring. Daar is verskeie dinge wat ons kan doen om ons immuunstelsel te ondersteun sodat dit beter kan weerstand bied teen siektes. Terselfdertyd kan sekere dinge wat ons doen ons immuunstelsel verswak. Doen gerus moeite met die volgende om jou immuniteit te verhoog:

  • Maak erns met jou geloof, want ons weet en bely dat ons in Jesus Christus vry word en dat ons ons vrese aan Hom kan toevertrou. As ons waarlik in Hom glo, kan ons bid dat ons Sy wil sal aanvaar, selfs al is dit anders as waarop ons gehoop het, self as Hy verkies dat ons of ons geliefde nie sal herstel nie. Ons kan dan daarin berus dat alles binne sy Raadsplan gebeur.
  • Doen moeite om ʼn gesonde dieet te volg, dit is al oor en oor bewys dat ʼn gesonde dieet weerstand teen siektes verhoog. Dít beteken om aktief weg te bly van suiker en verfynde koolhidrate, energiedrankies en hoogsverwerkte voedsel, pakkies en blikkies kos met bestanddele waarvan jy nie die name kan uitspreek nie, en transvette.
  • Eet soveel as moontlik vars groente en sorg dat dit die grootste deel van jou dieet uitmaak. Sorg dat jy daagliks groen groente inneem, maar ook elk van die ander kleurgroepe van groente.
  • Knoffel het bewese eienskappe wat weerstand teen siektes verhoog. Eet gereeld knoffel en verhoog die dosis as jy siekerig voel. Knoffel het ʼn bloedverdunningseffek wat veral ten opsigte van COVID ʼn belangrike rol kan speel.
  • Drink vitamiene om weerstand te verhoog. Begin altyd met ʼn multivitamien omdat vitamiene en minerale mekaar se opname beïnvloed. ʼn Mens kan daaraan dink soos aan ʼn orkes: al die lede moet teenwoordig wees sodat die regte musiek gespeel kan word.
  • Daar is spesifieke aanvullings wat immuniteit beïnvloed en wat saam met ʼn multivitamien geneem kan word:

– sink versterk selmembrane en keer so dat die virus toegang kry tot die sel

– vitamien C versterk die immuunstelsel en veg teen infeksies

– selenium stimuleer die immuunstelsel

– vitamien D versterk die immuunstelsel en beskerm veral teen lugwegsiektes

  • Sorg dat die son daagliks vir sowat 20 minute direk op jou vel skyn omdat vit D in die vel gemaak word.
  • Rus genoeg, dit beteken om agt ure per nag te slaap.
  • Hanteer stres sodat dit nie jou weerstand verlaag nie.
  • Kry gereeld oefening, as jy gereeld stap sal dit alreeds ʼn bydrae lewer tot jou gesondheid.

Hoe gemaak met die COVID-inenting?

Die mensdom is tans ernstig verdeel oor die inenting teen COVID. Die verdeling is so erg dat dit moeilik raak om middelgrond te vind.

In Orania is dit vir ons belangrik dat elke volwassene self sal besluit of hulle die inenting wil ontvang of nie. Mense se omstandighede en oortuigings verskil en ons wil Oraniërs aanmoedig om mekaar se keuses te respekteer. Ons kan nie toelaat dat die debat ʼn wig tussen ons sal indryf nie.

Ons is min en het mekaar nodig en ons moet veral nie slagoffers word van die “verdeel en heers-strategie” nie.

Laat ons onthou dat ons in Orania op pad is na vryheid en dat ons daardie doelwit nooit moet vergeet nie, selfs nie midde-in ʼn COVID-pandemie nie. As ʼn klein volk tel elkeen se bydrae op pad na vryheid en daarvoor moet ons ruimte gee.

Dankie

Ons mediese spanne by OraniaMed24 sowel as by Orania Kliniek en ook by Karoosig Aftreeoord het die afgelope jaar moeilike omstandighede hanteer en buitengewone diens aan ons gemeenskap gelewer. Ons hartlike dank aan elkeen van die personeel wat uit hulle pad gegaan het om siekes by te staan en families te ondersteun.

In ons gemeenskap is daar verskeie staatmakers wat steeds vir siekes kos aandra, help met verskillende take waar dit nodig is, eetgoed verskaf aan families wat geliefdes verloor het, en inkopies doen vir diegene wat afsonder. Daar is soveel welwillendheid in ons gemeenskap. Daarvoor is ons opreg dankbaar en ons vertrou dat ons al meer sal groei na ʼn gemeenskap waarin mense in liefde na mekaar sal omsien.

As gelowiges glo ons dat ons Vader in die hemel in beheer is, ook ten tyde van ʼn wêreldwye pandemie. Laat ons in hierdie tyd ons lewens ondersoek sodat ons kan afstand doen van dit wat skeiding bring tussen ons en Hom en laat ons ons lewens al meer toewy aan Hom.

Laat ons as ʼn gemeenskap waarlik so leef dat elkeen sal weet dat ons kinders van die Allerhoogste is.

Ek wens elke Oraniër goeie gesondheid.

Vriendelike groete

Hanri Maritz

Burgemeester