fbpx

Orania sonplaas op SAUK-tv

FOTO: Riaan Jacobs, projekbestuurder by ORASOL, antwoord die SAUK se vrae.

Met vlak ses beurtkrag wat die land in die donker laat, stel die media baie in Orania se energieplan belang. Die Orania Beweging het vandag verskeie onderhoude met joernaliste gehad. Die onderhoude kan hieronder gekyk word.

‘n Belangrike verantwoordelikheid wat die Orania Beweging opneem is om Orania se saak in die openbaar te stel. Dit sluit gereelde onderhoude met die media in, wat ons die geleentheid gee om Orania te verduidelik aan beide vriende en teenstanders.

Op Maandag vier Julie, het Orania Beweging weer ‘n vol media-dag gehad en moes Orania verteenwoordigers bont staan om al die joernaliste te woord te staan.

Die SAUK het ‘n goeie gebalanseerde storie gedra. Hulle het met Joost Strydom, die Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging, ‘n regstreekse uitsending gedoen en vrae oor Orania en ORASOL (Orania se eie sonplaas) en Orania se energie-toekoms gestel.

 

Daarna het hulle versoek om met twee verskillende besigheidseienaars in Orania onderhoude te voer. Beide insetsels op die SAUK-nuus het baie positiewe en opbouende reaksie van kykers uitgelok.

Riaan Jacobs, projekbestuurder by ORASOL, het die energietoekoms van Orania aan die joernaliste verduidelik. “Hierdie is die eerste fase van ORASOL, ‘n tweede en derde fase is op pad. Dit sluit groter opwekkingskapasiteit en later ook volhoubare energieberging in.” Volgens Riaan is die mediumtermynplan om Orania van 06:00 soggens tot 22:00 saans op eie krag te laat funksioneer. Dit sal moontlik word met die derde fase van ORASOL.

Later het Strydom ook ‘Newzroom Africa’ te woord gestaan oor dieselfde onderwerp. 

Volgens Strydom is die idee van ‘eie instellings’ ‘n fondasie van die Orania idee, en die kwessie van meer onafhanklikheid, ook wat energie betref, is deel van die ‘Orania DNS’. “Orania se doel was nog altyd om telkens meer en meer verantwoordelikheid vir ons eie sake te neem. Eie instellings, veral energieinstellings is die ruggraat van Orania se bestaan.”

 Met die ontwikkeling van eie kragkapasiteit, en die hanteer van verskeie joernaliste, is Orania weer een dag nader aan vryheid!

(Baie dankie aan elke Orania Beweginglid wat hierdie belangrike werk help verwesenlik)

 

word 'n lid!

Orania Beweging nuusstories word volledig deur ons lede befonds. Indien u hierdie storie geniet het, sluit aan as lid deur hierdie skakel te volg. Baie dankie!

Orania Beweging-nuusspan

Opgestel deur die Orania Beweging se nuusspan

Hierdie berig is deur die Orania Beweging-nuusspan geskryf, verwerf of opgestel.
Eksterne bronne of berigte kry volledige erkenning vir gebruik in stories.
Nuus kan gestuur word na inligting@orania.co.za