fbpx

Jonge dame van Orania kwalifiseer
as elektriese ingenieur…in Russies!

Foto: René van Reenen

ʼn Skoolverlater van Orania het in 2017 haar studies in Elektriese Ingenieurswese aan ʼn Siberiese universiteit begin. Einde Junie 2022 het sy haar finale opdragwerk ingehandig, en die beste moontlike punt verwerf!

Jong Oraniërs presteer, in die werksomgewing, by verskeie universiteite waar hulle studeer en selfs op studenterade dien, en selfs internasionaal!

René van Reenen is ʼn produk van Orania en het die prominente deel van haar skoolloopbaan aan Orania CVO-skool deurgebring, waar sy ook haar matriekeksamen afgelê het. Ná afloop van haar skoolloopbaan het sy verskillende geleenthede oorweeg om haarself as ingenieur te bekwaam. Volgens René het die besige skedule van gemeenskapslewe en buitemuurse aktiwiteite waaraan sy deelgeneem het in ʼn baie bedrywige Orania ʼn invloed op haar skoolwerk gehad, omdat mense hier betrokke is by meer as net die gewone. “Daar was soveel om te doen in Orania!” sê Rene, wat nadat sy laat in haar skoolloopbaan begin ernstig raak het oor haar akademiese toekoms, en erns gemaak het met haar werk, ook ʼn N-4 en N-5 kwalifikasies afgehandel het om haarself voor te berei vir die uitdagende ingenieurswese-kursus.

René het haar nie net in plaaslike moontlikhede vasgekyk nie, maar was oopkop oor selfs internasionale moontlikhede. “Ek het eintlik van die begin af geweet dat ek graag internasionaal wou studeer,” sê René wat saam met haar pa ontdek het dat Rusland voornemende ingenieurs uitnooi om daar te studeer. Op daardie stadium het sy niks van Tomsk geweet nie en kon natuurlik nie ʼn woord Russies praat nie!

“Ek het my voorberei om in Engels te studeer en ek was aanvanklik ingeskryf as meganiese ingenieur. Die fakulteitshoof het my egter ingeroep en aangedui dat die Russiese dosente se beperkte vaardigheid in Engels my studies gaan kniehalter. Ek het besef: ek sal moet Russies leer!”

Geen uitdaging was egter te groot vir hierdie jong Oraniër nie, en sy het haarself bekwaam en ʼn B1-taalsertifkaat in Russies verwerf.

René het op 21 Junie haar finale projek voorgelê en die hoogste moontlik punt, 5 uit 5 (90-100%)verwerf! “Ek weet ʼn 3/5 (55-70%) is steeds ʼn baie goeie punt, en dit is wat ek verwag het, omdat die taak werklik moeilik was en ek die werkstuk sonder ʼn akademiese oorsigbeampte moes afhandel.”

Oor die storie dat Orania-kinders in “isolasie grootword” en nie blootstelling kry nie, het René dadelik ʼn antwoord: “Dit is werklik dom om te glo Oraniërs nie die vermoë het om aan te pas nie, ek dink ons is almal baie onafhanklike mense.”

“Ek het ook glad nie gesukkel met ʼn aanpassingsperiode nie, die taal was die grootste uitdaging. Ek is egter nie kultureel beperk in vergelyking met, of teenoor die ander Russiese of internasionale studente nie.” René brei uit, dat ʼn gemeenskaplike doel ʼn samebindende effek het. “In Orania word ons altyd blootgestel aan ander mense of kulture. Ons is almal in Orania vir ʼn doel, naamlik die uitbou van ʼn volkstaat. In die koshuis was ons ook vir ʼn gemeenskaplike doel, graadvang!”

René vertel dat sy beplan om op 13 Julie van Siberië af, terug na Suid-Afrika te vertrek. Sy beplan om ervaring in Johannesburg te kry waar sy reeds ʼn afspraak vir ʼn werksonderhoud het. “Ek glo die elektrisiteitskwessies in Suid-Afrika dui daarop dat elektriese ingenieurs baie welkom sal wees!”

“Ek kan nie in die nabye toekoms terugkom na Orania nie, maar waar ook al ek sal wees sal ek Orania help vooruit beweeg en na ʼn Afrikanerstad ontwikkel!”

Foto: René voor die Tomsk-Universiteit in Siberië, waar sy sopas ‘n graad in elektriese ingenieurswese suksesvol afgehandel het.

word 'n lid!

Orania Beweging nuusstories word volledig deur ons lede befonds. Indien u hierdie storie geniet het, sluit aan as lid deur hierdie skakel te volg. Baie dankie!

Orania Beweging-nuusspan

Opgestel deur die Orania Beweging se nuusspan

Hierdie berig is deur die Orania Beweging-nuusspan geskryf, verwerf of opgestel.
Eksterne bronne of berigte kry volledige erkenning vir gebruik in stories.
Nuus kan gestuur word na inligting@orania.co.za