As jy van Westerse afkoms is, is jou identiteit deesdae ‘n groot taboe. Indien jy van enige ander afkoms is, mag jy maar trots wees op wie jy is, jou taal, kultuur, tradisies en selfs ras. In nie-Westerse beskawings soos Afrika en die Midde-Ooste is xenofobie of te wel ‘n angs of vrees vir vreemdelinge heeltemal normaal. In die meeste Westerse lande is oikofobie, of te wel ‘n vrees vir die eie, weer deesdae die inding.
‘n Sterk en uitgesproke assosiasie met die eie is toenemend sigbaar by nie-Westerse minderhede in Westerse lande. In die VSA word ‘n voortdurende veldtog gevoer om swart Amerikaners trots op hul Afro-Amerikaanse kultuur te maak. Daar is elke Februarie in die VSA en Kanada en elke Oktober in Brittanje ‘n maandlange viering van die swart bevolking se geskiedenis deur die sogenaamde “Swart Geskiedenis Maand”. President Obama in die VSA praat gereeld oor sy swart identiteit, ten spyte daarvan dat sy moeder wit was, en bevorder in toesprake en boeke die swart identiteit.
Daarteenoor is baie wit Amerikaners amper skaam vir hul herkoms en die ‘bose dinge van die verlede’ wat elke dag aan hulle toegedig word. Om jouself as Westers of Europees te beskryf kom neer op rassisme en ‘n teruggryp na ‘n verlede van meerderwaardigheid. ‘n Swart Amerikaner word geloof as hy in die openbaar sê dat hy trots is op sy Afrika-herkoms. ‘n Wit Amerikaner word verguis as hy in die openbaar durf sê dat hy trots is op sy Europese herkoms.
Die verskil is natuurlik baie groter as wit en swart of Christen en Moslem. Die verskil tussen mense van Westerse afkoms en mense van nie-Westerse afkoms is wesenlik. Eintlik is selfs hierdie vergelyking ‘n enorme vereenvoudiging van ‘n baie groter diversiteit in vandag se wêreld. Mense van Westerse afkoms is intern divers, maar om selfs net te probeer om mense van nie-Westerse herkoms in een kategorie te plaas, klink laf.
Tog sien ons orals in Westerse lande presies dit gebeur. Die rede hiervoor is natuurlik dat mense van Westerse afkoms nie besig is om Pakistan, Maleisië, Angola of Marokko oor te neem nie. Mense van nie-Westerse lande is egter wel besig om stelselmatig Westerse lande soos die VSA, Engeland, Frankryk, Nederland, België en Spanje deur grootskaalse migrasie oor te neem. In hierdie Westerse lande vorm minderheidsgroepe van derde wêreldlande ‘n soort eenheid en mobiliseer hulle, hulself om daardeur hul afsonderlike identiteite te beskerm en te laat geld. Groepe Christene probeer nie in Moslemlande Christeneilande skep of selfs die Christendom sentraal in die openbare sfeer te plaas nie. In talle Westerse lande sien ons egter dat nie-Westerse immigrante hul kerke, eie skole, kultuurgewoontes en totale identiteit indra en dan aandring dat dit in hierdie lande erken en selfs bevorder moet word.
Die identiteit van Westerse volkere word dus vanuit hulself en van buite hulself bedreig. Om die Westerse beskawing te beskerm sal ons eerstens weer trots op ons eie identeit moet wees en tweedens mense van buite mooi laat verstaan wat die voorwaardes van deelname is. Jy kan nooit jou deur sluit nie, maar mag die reëls vir jou eie huis bepaal.
Kolhou! Hierdie boodskap moet aan soveel moontlik gestuur word.
Ja nee kyk, ‘n absolute onverklaarbare verskynsel onder Westerse mense. Dit is lingse liberalisme wat tans die botoon voer. Aangedryf deur, snaaksgenoeg, wit mense.
Dit spoel soos ‘n vloedgolf oor die wereld………onkeerbaar.
Halluja vir westerse liberalisme wat julle skeidingsbeleid en arbitrêre nasionalisme in die voet skiet. Halluja!
(Sien graag ‘Gebed van Tieties Tokaan’ deur Paul Vermacher, 1893)
Chris. Kan jy asseblief “skeidingsbeleid en arbitrêre nasionalisme” definieer?