by Orania Beweging | Jan 18, 2022 | Uncategorized |
Besigtigingstoere dra by tot Orania se bemarking
Gedurende Desember 2021 het meer as 468 persone die gratis dorpstoer onderneem wat met ʼn minibus deur die Orania Beweging aangebied word.
Hennie Pelser, Hannetjie Conradie, John Strydom en Joost Strydom is die toergidse wat vir gemiddeld drie toere per dag verantwoordelik is. Hulle is die spreekbuise van ons dorp wanneer besoekers grootoog begin vrae vra en meer besonderhede oor ons spoedig-ontwikkelende dorp wil bekom.
Besoekers wat die besigtigingstoere onderneem kan ʼn vrywillige donasie maak wat weer aangewend word om tot uitgawes soos brandstof en meganiese onderhoud by te dra. Elke toergids se unieke aanslag maak die toere opwindend en sorg vir volledige inligting wat deur die Inligtingskantoor se personeel aangevul kan word.
Die Inligtingskantoor se geskenkwinkel moes bontstaan om in besoekers se behoefte aan aandenkings van Orania te voorsien. Daar word uitgesien na nog baie besigtigingstoere waartydens besoekers korrekte inligting oor die ontstaan, bestaan en toekoms van Orania kan kry.
Inwoners van Orania word uitgenooi om ʼn toer te onderneem indien hul dit lanklaas of dalk nog nooit gedoen het nie. Kontak die Inligtingskantoor van die Orania Beweging by 053 207 0004 om jou toer te bespreek. Skakel na die Orania Beweging se Inligtingskantoor vir ‘n gratis dorpstoer. Ondersteun die bemarking van Orania! Word ‘n Orania Beweging-lid / vriend van Orania en help die dorpstoere moontlik maak! Foto’s: Orania Beweging se toerbus in aksie! 
|
by Orania Beweging | Jan 17, 2022 | Uncategorized |
Orania Eiendomsontwikkeling se nuutste ontwikkeling van 20 eenhede in Karoosig fase vier, in Orania is ingelei met nuwe intrekkers wat besit geneem het van die eerste huis.
Hierdie ontwikkelingsprojek maak deel uit van verskeie ontwikkelaars se planne om deur aanbod in die mark te verhoog, huispryse in Orania (wat tans deur reuseaanvraag die hoogte ingeskiet word) te help stabiliseer.
Volgens die ontwikkelaar, Rikus van Staden, hoop hulle om hierdie projek wat vanjaar begin het en met heelwat ander projekte saamloop, in Desember 2023 afgehandel te hê.
Die twintig eenhede sal bestaan uit twaalf tweeslaapkamereenhede en agt drieslaapkamereenhede.
Omdat ontwikkeling in Orania so vinnig gaan en die behoefte so groot is, oorweeg Orania Eiendomsontwikkeling (OEO) tans om ʼn nuwe opsie aan voornemende intrekkers te stel. Die opsie sal bestaan uit ʼn sogenaamde ‘dophuis’, wat beteken dat die binnenshuise afwerking nog nie gedoen is nie, wat korter ontwikkelingstyd benodig en die koper die geleentheid gee om afwerking binne die huis na eie smaak te doen. Dit sal dinge soos teelkeuse, verf, kaste, krane en kaste aan die koper laat om self in te sit, wat natuurlik ʼn heelwat verlaagde prys tot gevolg het.
Foto’s
Foto een: Die eienaars van die eerste huis ontvang die sleutels!

Foto twee: Die gebied voor die ontwikkelling.
Foto drie: Die bouery in proses.

by Orania Beweging | Jan 14, 2022 | Uncategorized |
Nuwejaarsboodskap: Bekwaam jouself, Orania het vaardige mense nodig
Boodskap van die uitvoerende hoof Een van Orania se mees aanloklike eienskappe is die vryheid wat inwoners hier geniet. Van veilige laataand wandelings en kinders wat fietsry in die strate, tot slaap met oop vensters en deure en ontspan oor naweke. Die belangrikste is natuurlik die vryheid om ons Christelike geloof en Afrikanerkultuur uit te leef.
Tydens ʼn gespreksgeleentheid in die ontvangs- en oriënteringsfase van ʼn groep studente wat vanjaar eerstejaars in Orania is, het ʼn student my gevra wat my nuwejaarwense vir Orania en die Orania Beweging is. My antwoord, hoop ek, is ook van toepassing op ons ondersteuners, Orania Beweginglede, internasionale vriende van Orania en natuurlik, ook Oraniërs.
Dit is egter baie belangrik dat dié wat Orania teenstaan, veral in die media en politieke kringe, dit ook in 2022 sal sien.
In die konteks van die gesprek met die groep studente, is my nuwejaarsboodskap: Bekwaam jouself. Orania het vaardige mense nodig.
Volhoubaarheid in ontwikkeling is afhanklik van bekwaamheid Orania moet op die heel minste wat vaardigheid, werksetiek, dienslewering en deeglikheid betref met die res van die land se ondernemings en industrieë kompeteer. Orania se eie arbeidsbeginsel as ʼn volhoubare oplossing vir Afrikaners kan op geen ander manier aan Afrikaners ‘verkoop’ en verduidelik word nie. Dit kan slegs deur prestasie gebeur. Omdat ons ook nie bou aan ʼn tydelike verskynsel nie, maar ʼn vrye Afrikanertuiste vir ons kinders se kinders wil vestig, moet ons die vaardigheidsvlakke wat die toets van tyd kan weerstaan, ontwikkel.
Dus, (Jong) Afrikaner- bekwaam jouself in messel, in loodgieterswerk, in ingenieurswese, rekenkunde, in die wetenskap, in die kunste en veel meer. Bekwaam jouself egter ook in werksetiek, dissipline, deeglikheid en dienslewering. Volhoubaarheid in orde is afhanklik van bekwaamheid. Orde verval wanneer die reg, die staat en die samelewing tweede gestel word teenoor vae begrippe soos menseregte en diskriminasie. In ʼn wêreld waar enige iets enige iets kan word of wees, het Orania die geleentheid om homself te onderskei deur orde te handhaaf met konsekwente toepassing van ordereëls (wette), billike hantering voor die reg en deeglike owerheids- en juridiese prosesse.
Dit is afhanklik van ʼn tradisie in die owerheids- en regsbestel wat in ons Westerse wêreldbeskouing al vir duisende jare beredeneer en verfyn is.
Dit kan slegs behou word deur bekwame mense.
Dus, bekwaam jouself in die regte, in die staatskuns en regeringsprosesse. Moenie dat korrupte politici plaaslik en internasionaal die reg en die staat definieer nie.
Definieer dit self deur jou daarin te bekwaam. Orde hang daarvan af. Volhoubaarheid in ons Christelike tradisie is afhanklik van bekwaamheid (en genade!) Bo alles staan ons geloof in ons Drie-Enige God.
Christene is deur die eeue vervolg, vermoor en vernietig vir ons geloof. In ‘n tyd waar God se woord deur die wêreld en vals leraars vervaag en verflou word en talle Afrikaners ook op dwaalspore gelei word of totaal die geloof versaak, is dit ongelooflik belangrik om jouself te bekwaam in die geloof.
Bekwaam jouself in die woord van God. Bekwaam jouself in ons protestante tradisie, die geloofsbelydenisse en die Leerreëls.
Selfs al het ons dringend nog meer deeglik gekwalifiseerde leraars nodig, behoort elke Christen ‘n dissipel te wees. Bekwaam jouself en dra die Woord van God en die genade van Christus die wêreld in.
Hierdie ‘bekwaamheid’ is net moontlik deur die genade. Ons toekoms hang af van bekwaamheid. Bekwaamheid van die jeug, bekwaamheid van die volwassenes, bekwaamheid van die bejaardes, bekwaamheid van instellings, van skole, van kerke. Bekwaam jouself! Orania het jou nodig. Foto: Orania kinders vooltooi hulle voorskoolse loopbaan. Hulle is gereed vir ‘regte’-skool! |
by Orania Beweging | Des 31, 2021 | Uncategorized |
Die Helpsaamfonds se toedelings laat baie skoolkinders, studente en bejaardes met geruste harte oor die Kerstyd
Meer as R700 000 se toedelings, wat pas deur die Orania Beweging se Helpsaamfonds gemaak is, laat baie behoeftiges met ʼn heerlike gevoel van verligting! Ouers wat bekommerd was oor skoolgeld, jong eggenote wat nie geweet het hoe om kleuterskoolgeld te betaal nie, bejaardes wat bekommerd was oor hulle versorgingskoste en persone wat maatskaplike hulp benodig word deur die Helpsaamfonds se Desember toedelings gerusgestel.
Die Helpsaamfonds, wat deur Orania Beweginglede en donateurs befonds word, word nou aktief gebruik om behoeftiges, op ʼn langtermyn, volhoubare wyse te help.
VIDEO: Die Helpsaamfonds se toedelings in Desember
Jy kan help: Maak ‘n bydrae tot die Helpsaamfonds

Orania se Helpsaamfonds het ʼn plan, en dit werk!
Wat as elke donasie wat jy aan armoedeverligting gemaak het, eerder ʼn belegging was?
ʼn Belegging in ʼn behoeftige kleuter se toekoms, ʼn belegging in die potensiaal van ʼn ywerige skoolkind wat nie skoolgeld kan betaal nie, ʼn belegging in ʼn hardwerkende gesin se lewe in Orania deur bekostigbare behuising te skep, ʼn belegging in ʼn toegewyde student wat in Orania wil studeer, maar dit nie kan bekostig nie.
Dit is presies wat die Orania Beweging se Helpsaamfonds doen; fokus op volhoubare ‘beleggings’ in mense, eerder as tydelike verligting.
Foto: ‘n Student ontvang tegniese opleiding by Bo-Karoo Opleiding in Orania. Die Helpsaamfonds skenk geld aan die Helpende Hand beursfonds om dit te help moontlik maak.

Hoe werk jou geld vir die Helpsaamfonds?
Die Helpsaamfonds se direksie het, met die oog op volhoubare beleggings in mense se toekoms, besluit om in Desember weer baie spesifiek op bemagtiging van Afrikaners in Orania te fokus.
Die Helpsaamfonds het aan beide skole beursfondse beskikbaar gestel om kinders by te staan wat nie tans skoolgeld kan betaal nie, maar wel ywerig werk en ʼn sukses van hulle skoolloopbane wil maak. Die kandidate se behoeftes word deur Orania Helpmekaar se onafhanklike maatskaplike werkers bepaal. Die doel is om ouers te help, en aan te moedig om, so gou as wat dit moontlik is, op hulle eie voete te staan.
Ook Orania se voorskoolse behoeftige kleuters word deur jou bydrae bemagtig, op dieselfde wyse.
Verder het die Helpsaamfonds in Desember toedelings aan Helpende Hand se beursfonds gemaak om om verskeie studente te help om in Orania te studeer.
Die Helpsaamfonds volg steeds dieselfde strategie as in die verlede, naamlik om in bekostigbare behuising te belê. Dit is belangrik om te help verseker dat elke ʼn Afrikaner in Orania ʼn dak oor hulle koppe het, maar dit is net so belangrik dat dit op ʼn verantwoordelike en volhoubare wyse gedoen word sodat mense leer om self verantwoordelikheid te neem.
In die gees van die Helpsaamfonds se vorige behuisingsprojekte soos Nerina en Soetdoring ( twee intreevlak behuisingsprojekte), is daar vanjaar weer ʼn belegging in Gannabos Behuising gemaak wat ʼn laekoste behuisingsoplossing, en ʼn voet in die deur, vir baie bied.
Laastens, maar beslis nie die minste nie: bejaardes en maatskaplike hulp
Orania Beweging se Helpsaamfonds het belangrike toedelings aan Orania Helpmekaar MSW (Orania se maatskaplike instelling) en Karoosig Tehuis vir bejaardes gemaak om ook daar deel te wees van volhoubare oplossings.
Foto: Orania CVO-skool se 2021 leerlingraad. Die Helpsaamfonds ondersteun ook Orania se twee skole. Gesonde kinders in ‘n gesonde gemeenskap.

Hoe kan jy verder help?
Terwyl baie van ons ʼn welkome blaaskans kan neem, is daar steeds baie behoeftige Afrikaners wat dringend gehelp moet word. Wanneer die Helpsaamfonds hierdie mense bystaan, is dit met ʼn plan en volhoubaarheid as doelwit.
Elke bydrae wat gemaak word, word noukeurig geallokeer om Afrikaners op ʼn wyse te bemagtig wat die toets van tyd sal deurstaan.
Oorweeg gerus om ʼn bydra te maak aan die Helpsaamfonds, Indien u verkies om die Helpsaamfonds te ondersteun met ‘n direkte bankoorplasing, om hierdie en ander volhoubare projekte te help groei, doen gerus ‘n oorplasing na:
**Die Helpsaamfonds**
**Bank: ABSA**
**Takkode 632005 **
**Spaarrekening** **916 450 4961**
**Verwysing: U naam of Helpsaamfonds 2020**
Of word ʼn lid van die Orania Beweging met ʼn Helpsaamfonds toedeling, en help deurlopend!
Jy kan help: Maak ‘n bydrae tot die Helpsaamfonds
Die Helpsaamfonds, Volhoubare oplossings vir die langtermyn bemagtiging van Afrikaners
Foto: ‘n Jaareindgeleentheid by Huppelkind dagsorgsentrum, Hierdie instelling, en Kieliepensie kleuterskool, word ook deur die Helpsaamfonds ondersteun.

by Orania Beweging | Sep 15, 2021 | Uncategorized |
Orania in isolasie? Orania Beweging eerder ‘n fakkeldraer |
| Deur Joost Strydom Isolasie? Westerse media slinger gereeld aantygings na Orania wat ons gemeenskap met Apartheid vergelyk, en as ‘n desperate poging tot isolasie uitbeeld. Antagonisme van hoofstroom media is iets wat die Orania Beweging al tot ‘n mate as vanselfsprekend aanvaar het, en om hulle guns te wen is nie vir ons ‘n bestaandoel nie. Wat egter bekommerenswaardig kan word, is wanneer mede-Afrikaners Orania op ‘n positiewe wyse as ‘n geïsoleerde gemeenskap begin verstaan, en selfs so bemark.
Isolasie is nog nooit Orania se doel gewees nie, en dit sal ‘n baie groot fout wees om Orania so te verstaan.
Indien ons egter in skaarste lewe, en glo dat bewaring slegs deur isolasie kan plaasvind, dit wil sê Afrikanerkultuur, Afrikaans as taal en ons Christelike geloof so verdoem is dat ons dit êrens in die donkerste hoekie van die land moet wegsteek uit vrees dat iemand ons die laaste bietjie wat ons oor het ook gaan ontneem, kan ons verseker wees dat ons sal faal.
Behalwe vir die logiese argumente teen isolasie, ekonomies, meta-polities, internasionale vriendskap en meer, is Orania inherent die teenoorgestelde.
Ons behoort ons kultuur en kulturele-waardes oop en duidelik te kommunikeer vir die wêreld om te sien. Indien ons dit nie doen nie, vervaag ons Orania en Afrikaner-identiteit tot ‘n kwesbare en stadig uitdofende vlammetjie. Orania is eerder ‘n groeipunt Om deel te wees van ‘n groeipunt is dan ook eerder ‘n verantwoordelikheid. Belangstellendes moet nie vlug nie na Orania nie, maar eerder hulleself kom aanmeld om ‘n waardestelsel (klassiek Westers in dinge soos filosofie en die regstelsel, en Afrikaner in identiteit en handelswye) te help beskerm, en ook uit te bou. Voornemende inwoners kom steek nie hulle talente onder die spreekwoordelike maatemmer weg nie, maar moet eerder voorberei om hulleself diensbaar te maak vir die Stad op die berg, gegewe ons Christelike Geloof wat ons grootste en belangrikste roeping behoort te wees.
Indien ons deur vrees en skaarste gemotiveer word sal Orania ‘n tydelike verskynsel wees. Indien ons fakkeldraers van die Orania-idee is, met ons Geloof, taal en kultuur as riglyne, kan ons ander gemeenskappe inspireer en sodoende ‘n onstuitbare golf aanwakker.
Indien jy dus wil vlug, is emigrasie ‘n beter geleentheid.
Indien jy wil kom aanmeld, is Orania ‘n wonderlike roeping. Dankie aan elke lid van die Orania Beweging wat Orania help groei en hierdie roeping help opneem, en aan elke Oraniër wat elke dag bou aan die Afrikanertuiste. |
Foto: Die Orania Beweging ontmoet met die Konsul-Generaal van die Indonesiese Konsulaat in Suid-Afrika, tydens ‘n besoek aan Orania.
