by Orania Beweging | Mei 22, 2017 | Nuus |

NAMPO en Orania
Daar is ’n spreekwoord wat sê: Die waarheid hoor jy van jou vyande nooit, maar van jou vriende soms. Dit geld natuurlik net vir ’n sekere soort waarheid, want vriend en vyand sal (gelukkig) in die reël die waarheid praat as jy byvoorbeeld vra hoe laat dit is.
Maar staan nou op die punt om ’n fout te maak waarby jou ego op die spel is – en laat jou ego net ’n bietjie te veel op die spel wees – dan kos dit ’n vriend om te sê: “’n baard pas jou nie” of “jou nuwe haarstyl laat jou gesig vet lyk”. Die res van die mensdom sal jou vrolik laat begaan en jou vyande sal hulle stilweg in jou skade verheug. Vandaar die veelseggende Duitse woord Schadenfreude.
Nou het ek sopas vir die sesde keer ’n hele week by NAMPO deurgebring, besig om ’n aantreklike en innoverende produk te bemark. Almal wat dit van naderby ondersoek of wat reeds daarvan weet en ons kom opsoek, vra op ’n tydstip waar dit vervaardig word. En siende dat dit nie ’n vraag van vriend of vyandskap is nie, antwoord ons eerlik: Orania.
Oor die reaksie wat daarop volg, sal mens ’n studie kan doen. Wat gesê word en wat nie gesê word nie, die loop wat die gesprek verder aan neem, of dit hoegenaamd ’n klokkie lui, ens. sou vir studente in Sielkunde, Sosiologie, Kommunikasie, Openbare betrekkinge en sekerlik nog vakgebiede waarvan ek nie eers weet nie, van waardevolle data voorsien.
Sonder om nou al sulke studente se werk vooruit te loop, kan ek al met gesag ’n toevoeging tot
ons taalkundige kennisskat maak. Ek kan tot die bostaande spreekwoord toevoeg dat mens ook die waarheid hoor by mense wat nie weet wie jy is nie. Wanneer ek by plekke kom waar daar by wyse van spreke ’n bordjie met ORANIA om my nek hang, moet ek met die meeste mense se ingeboude neiging tot beleefdheid rekening hou.
Wanneer ek egter die gewone bemarker van ’n interessante produk is wat van ’n ongewone plek af kom – of meer nog, wanneer ek agter die skerm sit en op my rekenaar werk terwyl ’n kollega die navrae hanteer – hoor ek dinge wat nie deur die filters van beleefdheid gegaan het nie. Oor Orania, maar ook oor ander verbandhoudende sake.
Aan die hand daarvan wil ek ’n paar waarnemings maak, nie wetenskaplik nagevors nie, maar wel op ervaring gebaseer. Bygesê dat ons boere buitengewone mense is, selfs al sal baie waarnemers die besoekers aan NAMPO juis as gewoon beskryf. Dit is dus ’n groep wat nie die hele Suid-Afrikaanse bevolking volgens getalle of streke verteenwoordig nie, maar dit sluit (meer) wit- en (minder) swartmense vanoor die hele SA en buurstate in.
Die eerste waarneming is dat ek min tot geen vyandigheid beleef nie, inteendeel, dat daar eerder uit byna alle oorde belangstelling en meelewing is. Selfs meelewing is ook nie tot Afrikanerboere beperk nie, maar word nogal dikwels deur swart boere betoon. Afkeer, wanneer dit voorkom, tref mens ook by wit én swart, Afrikaans én Engels aan. Die tendens is ook positief, beide belangstelling en meelewing word elke jaar meer.
Die tweede waarneming is dat daar mense is wat nie van Orania weet nie, maar dat dit tog by die meeste ’n klokkie lui. Ek dink dat die hoeveelheid mense wat dit as ’n rariteit beskou, afneem en dat ons ’n gevestigde deel van die Suider Afrikaanse “kaart” geword het.
’n Derde waarneming is dat dit mense nie verbaas nie, inteendeel, dat hulle verwag om vernuwing en gehalte (innovasie en kwaliteit in Gautengse Afrikaans) uit Orania te sien kom. Wat verder daarby aansluit, is dat mense wat persoonlike herkenning toon of wat reeds meer van iets soos die Ora weet, op die oog af tot die boonste derde van ’n sosio-ekonomiese skaal sou behoort. Soos dr Jooste per geleentheid gesê het, die mense wat darem lyk asof hulle tande borsel.
’n Laaste waarneming vir die doel van hierdie rubriek, bevestig iets wat ons weet, maar voeg darem nog iets daarby. Dit bevestig dat die meeste van ons mense kliphard planne beraam om die beste van hulle huidige omstandighede te maak. ’n Verandering van omgewing of van gevestigde arbeidspraktyke word nie ligtelik oorweeg nie, selfs al wens hulle Orania alle sukses toe.
En tog … meer en meer mense spreek die versugting uit om ’n nuwe begin op ’n nuwe manier te maak. Een persoon, kennelik jonk, wêreldwys, welvarend en dinamies, sê vir my iets wat hy onlangs uitgedink het. Hy sê ons moes in 1994 met die Afrikaanse dele van die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Namibië afgeskei het en ’n twintig voet hoë muur omgebou het. Hy sê ons sou een van die suksesverhale van die wêreld gewees het.
En ek sê: ja, ons moes. Maar nou is ons op die lang pad en ons bou van onder af op.
by Orania Beweging | Mei 15, 2017 | Nuus |
Nie gedag ek sal dit ooit sê nie, maar ek kry die laaste tyd vir Helen Zille jammer. Hoe moes sy ook nou geweet het dit sal nie help om te leer toyi-toyi nie? Of om jou party se leierskap vrywillig aan ’n meer verteenwoordigende leier af te staan nie? Of – lofwaardig soos dit is – van die verhoog af isi-Xhosa te praat nie? (Moeilik vir ’n grootmens om ’n nuwe taal aan te leer, en sy het gedoen wat ander hulle net voorgeneem het.)
Sy het dit gedoen, en nog baie meer glo ek, want ek weet mos nou nie van alles nie. En sy het probeer om eerlik en reguit te bly oor onderwerpe waarvan, nouja, sy ook nie alles weet of mooi gedink het hoe haar gehoor dit sal ontvang nie. Dit is natuurlik haar tweets oor die nalatenskap van kolonialisme waarop ek afstuur, en die vêrreikende gevolge daarvan.
Laat ek my haas om te sê: net die lot wat ons Boere republieke 110 jaar gelede aan die hand van Britse imperialisme te beurt geval het, sou my verhoed het om haar stellings te tweet, al dink ek dat 80% van die wit middelklas in Suid-Afrika nie eers sou opkyk as iemand dit in hulle geselskap sê nie. Die tweets kom daarop neer dat ons goed soos paaie, waterpypleidings en gespesialiseerde mediese dienste aan kolonialisme te danke het en dat die nalatenskap nie net sleg is nie, maar dat sy kolonialisme ongekwalifiseerd veroordeel en verskoning vra vir tweets wat misverstaan kan word.
Dit klink na genoeg om ’n lang rits heftige reaksies op Twitter uit te lok en, gegewe haar posisie en haar party se aspirasies, die nuus te haal. Ek het selfs ’n baie goeie diepte-artikel op ENCA Opinion raakgeloop waarvan sy nie te goed afgekom het nie, maar ’n dissiplinêre verhoor deur haar eie party? En ’n ondersoek deur die Menseregtekommissie vir klagtes van haatspraak en aanhitsing tot geweld? Dit klink nie moontlik nie – en tog is dit waar!
Die ondertoon van haatspraak en aanhitsing tot geweld was eerder by haar kritici te bespeur, iets waarvoor jy geen dieper analise hoef te onderneem nie. Maar oor gekrenkte waardigheid kan sy gerus weer dink, want soos een kommentator dit stel: jy kan nie jou verkragting regverdig deur te sê: “maar kyk watse mooi en slim kind het dit tot gevolg gehad, een wat ’n dokter geword het en vandag mense se lewens red” nie. Dit laat my dink sy was regtig nie gevoelig genoeg vir haar omgewing nie.
As dit dus nou net ’n kwessie was van ’n oud anti-Apartheidsaktivis wie se kierankies braai in die nuwe orde wat sy self gehelp vestig het, kon mens oorweeg het om dit daar te laat. Maar dit gaan oor meer – meer selfs as die bloot formele reg op vryheid van spraak. Dit gaan oor ’n kultuur van onverdraagsaamheid en die toepassing van sensuur deur aanhangers van ’n dominante ideologie; dit gaan oor wat wêreldwyd met goed- of afkeuring as Politically Correct (PC) beskryf word.
Die reaksie op Zille se onwyse uitlatings deur eers die publiek, toe die media, toe haar party en nou ’n staatsorgaan spreek van ’n totalitêre kultuur wat in Suid-Afrika posgevat en oorgevat het. Hierdie aksies is intimiderend en dit is bedoel om intimiderend te wees. Dit geld vir Zille, maar dit geld duidelik ook vir elke ander wit Suid-Afrikaner wat dit oorweeg om die kodes van politieke korrektheid uit te daag of te ignoreer.
Dit is slegte nuus, nie net vir liberale demokrasie in Suid-Afrika nie, maar ook vir Afrikaners wat as’t ware per definisie daarby betrek word. Oor die liberale demokrasie en individuele regte sal ander hulle koppe breek, ek het in elk geval my bedenkings daaroor onder Suid-Afrikaanse omstandighede. Dit is Afrikaners wat my bekommer, veral omdat min van hulle oor iets anders as ’n beroep op die reg tot vryheid van spraak beskik om hulle verontwaardiging met die huidige sensuur en intimidasie mee te kenne te gee.
Grondwetlik gewaarborgde individuele regte kan ons vervreemding van vandag se Suid-Afrika nie omkeer of herstel nie. Om die waarheid te sê, ek vrees die tuisteloosheid van ons mense kan eerder meer sulke verontwaardigende gedagtes en uitsprake tot gevolg hê en gemoedere verder opjaag. Wat ons nodig het, is ’n tuiste – polities, kultureel, fisies. Onder verslegtende omstandighede veral fisies.
Daarom dat dit so dringend is om Orania uit te bou op die fondamente wat reeds gelê is.
by Orania Beweging | Mei 8, 2017 | Nuus |

Jare gelede gesels ek met ’n oom oor die skepping, Genesis 1 en 2, die moontlikheid van buiteruimtelikewesens, Kopernikus en die plat-of ronde aardeteorieë. Oom Faan gaan sit op ’n miershoop en beduie na sy grasshoppers. “Natuurlik is die aarde rond, kyk hoe skeef loop ek die loopvlak van my skoene af.” Hierdie verhaal het ek al telkemale herroep soos ek op gedagtereise saam met vriende, meermale so op my eie, gaan. Oom Faan se wêreldbeskouing is eenvoudig, logies en duidelik. Die wêreld is rond, want my skoene loop skeef af. Vandag reis ek egter nie op die weg van kopernikaansedenkstrome nie, maar op ’n ander, ’n veel diepere weg, die weg van skoene.
Onlangs draf sommige van ons kantoormense die Bo-karoo vasbyt; 100km oor 4 dae…of die ligloop 50km oor dieselfde tyd. Almal horrelpoot die daaropvolgende week hier tussen die deursigtige silo’s in die kantoor. Ek sien die rondloperbrakke soek skuiling soos dit blyk of al my kollegas heeltyd klippe optel om te gooi. Al aan die een kant… Ek staan soos ’n buitestander en beluister die teorieë, goeie raad, diagnose en prognose van die onderskeie martelare. Skoene. Dit wil vir my voorkom of skoene die ding is.
Een se voete hardloop in, wat dit ook al mag beteken… en sy skoene hardloop uit. ’n Ander het sommer met sy vellies die tog aangepak en lyk minder fiks na die afstand as voor die tyd. Een het geen blase maar blou toonnaels, blykbaar ’n besering wat met jukskeitoernooie ook volop is. So kyk ek al luisterende na my paar. My skoene wys waar ek was, rooigrond-modder, knapsekêrels in die veters, waterspatsels tussen die stof en oliekolle. Ek dink oor waar dit alles vandaan kom en glimlag. Skoene is die mens se gebruikerskoppelvlak met sy leefwêreld, dink ek.
Lianda, my liewe vrou, het elke dag ’n nuwe weergawe in gebruik. Pienk met hoë hakke, swart leerstewels, snoesige wol voetmusse, spesiale loopkouse, visplakkies, swart hakskoene, groen hakskoene, Adidas-tekkies, Nike-tekkies, Dr. Martins, ’n ou paar North-Stars…die lys gaan aan. Kaste en kaste vol verbruikerskoppelvlak-keuses vir elke dag. Elke oggend staan sy voor die kas en worstel met haar freudiaanse id, ego en superego oor wat die beste koppelvlak met die bepaalde dag se leefwêreld sal wees. Ek gryp my vellies (die huidige weergawe) wat onlangs my donkiejaaroue vorige koppelvlak, samelopend groot emosionele kwellinge en selfondersoek, vervang het… ek hou van ten minste een onveranderlike in my lewe.
U sien skoene is vir my iets groots, dit is ’n ding, ’n ding in die filosofiesbelaaide sin, dit is immers my koppelvlak met die wêreld waarbinne ek leef; en waar my bestaanswêreld swanger met veranderlikes is, wil ek die betroubaarheid van ’n bekende koppelvlak beleef soos ek die dag tegemoet strompel. Skoenekoop is dus nie perdekoop nie, vir my weeg dit swaar. Dit is immers die koppelvlak wat ek elke dag, vir die afsienbare toekoms, gaan gebruik om met my leefwêreld in verbinding te tree, dit is immers my begronding, dit is my fondament, dit is my voertuig binne my ruimte.
Ek luister hoe die mense gesels oor die skoene en loer na hul koppelvlakke. Ek moet moontlik nie so ligtelik ’n boek aan sy stewels takseer nie… maar mens kan darem baie van iemand sê deur na sy skoene te kyk. Ek blaai deur ’n boek met klomp ou familiefoto’s en wens dat die portrette mense se skoene ook kon vasvang… ek sou darem soveel meer van my voorouers kon verstaan.
by Orania Beweging | Mei 8, 2017 | Nuus |

Ons almal weet, veronderstel ek, dat ’n hamer ’n buitengewoon handige ding is. Toe ek en die seuns byvoorbeeld vroeër vanjaar by Majuba moes tent opslaan, kort na donker en in gietende reën, het die afwesigheid van ’n lekker tenthamer wat saam met die braaivleisrooster op die stoep bly staan het, nogal skerp reaksie uitgelok.
En luidrugtig, tot die mate dat die kampeerders langsaan ons mettertyd te hulp gesnel het – seker maar om die kêreltjie wat op sy foon gespeel het toe hy moes inpak se lewe te red. Die ding is: as ’n mens eers een van daardie winkelhaak tentpenne met ’n nat klip in die donker probeer inslaan het, waardeer mens ’n hamer – enige hamer – heeltemal anders as wanneer jy dit nog nie gedoen het nie.
Nou kan ek my voorstel dat Jan Spies êrens al ’n storie kon vertel het van ’n moedelose en gefrustreerde reisiger, iemand wat dalk ook nie so kundig is nie, wat onder beproewende omstandighede langs die pad met motormoeilikheid gekonfronteer word – en geen ander gereedskapstuk as ’n hamer byderhand het nie.

Ek kan my dit voorstel, want ek het self as student nie met ’n nuwe kar gery nie en moes soms maar so onderweg onderhoudswerk doen. Nou het my kundigheid en geduld my natuurlik nie toegelaat om onder sulke omstandighede met ’n hamer onder die enjinkap los te trek nie, en daarvoor is ek vandag nog dankbaar. Maar ek het dikwels daaroor gefantaseer, gedink hoe ek veral die ou Citroëntjie se dubbelkeël vergasser wat so geneig was om te verstop, sou bydam. As die een keël se sproeier verstop is, wou die enjin nie onder 3000 rpm loop nie en as die ander een s’n verstop is, nie daarbo nie. In elke geval het jy gewens dat jy eerder nie ’n vriend, of erger nog: ’n vriendin by jou gehad het nie!
Die punt is natuurlik dat mens gereedskap moet gebruik vir die werk waarvoor dit gemaak is. Op die oog af vanselfsprekend goeie raad, maar dit word nie altyd ewe getrou gevolg nie. Veral nie op die ietwat meer gesofistikeerde terrein van intellektuele “gereedskap” nie. Ek het twee voorbeelde in gedagte en ek hoef hulle eintlik net te vermeld om ’n oortuigende punt te maak.
Dit is die soort denkbeelde wat mense wat die waarde daarvan ingesien het, dikwels so inspireer dat hulle dit tydig en ontydig wil gebruik, ook wanneer dit omtrent so ontoepaslik soos ’n hamer onder die enjinkap is. Die een is die sogenaamde normaalkurwe of klokgrafiek (ek het onlangs ’n deftiger naam daarvoor gehoor, maar kan dit nie meer onthou nie), en die ander is die sogenaamde 80-20 beginsel.
Nou haas ek my om te bevestig dat beide hierdie instrumente hulle toepassing het, maar dat hulle dit verloor as hulle op die verkeerde tyd en plek ingespan word. Om byvoorbeeld te redeneer dat ’n gemeenskap met ’n klokgrafiek beskryf moet kan word – min regtig rykes en min regtig armes met die meeste in die middel tussen die twee – hou nie rekening met die werklikheid nie. Óf die hele gemeenskap word nie in berekening gebring nie, soos in ou apartheidsdenke, óf die middelpunt lê nie waar die meeste van ons dit sou verwag nie.
Hoewel, selfs as mens die middelpunt sou rondskuif om jou voorskriftelike beskrywing te probeer pas, hou dit nog nie rekening met die feit dat die oorwig van elke funksionele gemeenskap arbeiders is wat nie sonder meer tot die professionele middelklas, waaruit die voorspraakmakers vir dié teorie meestal kom, behoort nie. Teen die tyd dat die parameters vir die grafiek só aangepas is dat die data wel ’n eweredige klokgrafiek oplewer, vind mens jouself waarskynlik nie meer in die parameters terug nie en sou dit nuttiger gewees het om die werklikheid van ’n grafiek wat taamlik skeef na die een kant toe trek, onder oë te sien.
Dieselde geld vir die 80-20 beginsel. Die teorie is dat 20% van mens se inset gewoonlik 80% van die resultaat lewer en 80% van jou geswoeg net 20% van die resultaat. Die gevolgtrekking: konsentreer op die belangrikste 20%. Weereens nie sonder meriete nie – in die regte konteks. Bestuurders byvoorbeeld, wat sekerlik nêrens naby die middel van die klokgrafiek van enige gemeenskap lê nie, kan dalk bekostig om só daarna te kyk.
My diepsinnige broer Wynand sê egter noudiedag toe ons daaroor gesels: “Ja … ek het ook al daaroor gedink. Wanneer ek my koeie melk byvoorbeeld. Dan het mens kans om te dink. Ek het ook al agtergekom dat mens 80% van die melk in die eerste 20% van die tyd uitkry. Maar as mens jou elke keer net met daai 80% tevrede stel, is jou koei binnekort droog. Dan kry jy nul persent. ’n Mens moet maar jou werk doen, die lekker én die sleur.”
Wat meer kan ek sê? Hou maar die hamer vir die kap!
by Orania Beweging | Mei 2, 2017 | Nuus |

Enigeen wat oom Prinsloo Potgieter geken het, sou een of ander tyd gehoor het dat hy sê: “Kyk, ek is nie so geleerd soos julle ouens nie; ek is die gewone man en laat ek nou vir jou sê hoe die gewone man hieroor dink.”
Niemand wat oom Prinsloo geken het, sou goedsmoeds met sy stelling saamstem nie, want hy was alles behalwe gewoon; hy was uitsonderlik nadenkend, wel ter tale en intelligent. En boonop geleerd in soverre enige gegradueerde persoon geleerd is, al het hy nie ’n akademiese loopbaan gevolg nie. Om die waarheid te sê, hy was ’n toonbeeld van die vorming wat mens aan klassieke universiteitsopleiding te danke kon hê as jy dit met ’n oop gemoed tegemoet gegaan het.
As arm, plattelandse seun (sy grootouers was Dorslandtrekkers en sy ouers het met ’n repatriasieskema Suid-Wes toe getrek) het ’n onderwysbeurs vir hom na sy enigste weg universiteit toe gelyk. Hy het besluit om BSc te studeer, maar uiteindelik nie onderwyser of “geleerde” geword nie, maar die wêreld van werk in die vorm van ’n landboukoöperasie en besigheidsbestuur betree.
Die geluk het Orania te beurt geval dat hy en tannie Lydia besluit het om hier te kom aftree en sy lewenservaring en -wysheid tot diens van sy mense te stel. Hier het hy ’n aansienlike bydrae gelewer tot met sy ontydige afsterwe in 2008 (?).
Terwyl niemand dus sou saamstem dat oom Prinsloo ’n gewone man was nie, was daar andersyds iets aan sy aanspraak wat jy ook nie kon ontken nie: hy was plat op die aarde, reguit en pynlik eerlik. Hy was die toonbeeld van Boerewysheid; iets wat mens nie kan studeer nie, wat in beginsel vir almal beskikbaar is, maar deur min mense verwerf word.
As eerstejaar filosofiestudent het ek seker vyf keer begin lees aan ’n Engelse inleiding tot die filosofie wat ’n maat van my se pa 30 jaar tevore ook nie kon baas raak nie. Al wat ek daarvan onthou, is dat die skrywer telkens ’n ondeurdringbare uiteensetting van ’n lewensvraag waaroor ek my nie kon moeg maak nie, afgesluit het met ’n beroep op “common sense” – maar van die soort wat nie so “common” is nie. Daarenteen, het ek later gedink, is dit juis wat van oom Prinsloo ’n gewone man gemaak het: sy common sense.
Nou kan mens dalk wonder of die ietwat anglisistiese frase “gewone man” eerder as die hedendaagse “gewone man/vrou”, of ’n ietwat geforseerde “gewone persoon” verder deur gebruik verewig moet word. My antwoord daarop kom uit ’n heel a
nder hoek. Omdat ek ouderdomsgewys so tussen hom en sy kinders gelê het, het ek hom eendag gevra of hy verkies dat ek hom “oom” noem. Sy antwoord was dat ouderdomsverskil nie vir hom ’n persoonlike struikelblok was nie, maar dat hy nogal waarde aan ons tradisionele erkenning daarvan heg en hom met grasie in sy oom-skap berus. Om een of ander rede het dit my weer in sy gewone man-skap laat berus.
Om die waarheid te sê, ek het oom Prinsloo se gewone man begin idealiseer – as dit nou nie ’n teenstrydigheid afgee nie. Wat ek bedoel, is dat ek in talle moeilike situasies begin vind het dat die gewone, eenvoudige en eerlike, selfs gestroopte aanslag mens dikwels die vêrste bring. Daar is so ’n oorvloed van woorde en opgestapelde denkbeelde in die wêreld, dat dit soms ons insig in moeilike vrae versper eerder as bemiddel. Dit beteken nie, en het ook nie vir oom Prinsloo beteken, dat ingewikkelde vrae altyd eenvoudige of kort antwoorde het nie. Wat wel waar is, is dat ons soms op ons denkweg tussen konsepte en konstrukte verdwaald raak en, soos tussen die duine, ’n kompas nodig het.
Die gewone man (of vrou, ons tradisie het na my mening beide geslagte daarby ingesluit) is nie gewoon daarin dat hy ononderskeibaar van die man langs hom is nie; hy is gewoon in sy beskeidenheid. Die gewone man is byvoorbeeld nie so selftevrede met sy eie sin vir rigting dat hy op jag geen kompas saamneem nie. As hy verdwaal, is hy nie so eiewys dat hy nie aanwysings vra nie. As hy raad nodig het, is hy nie te trots om dit te vra nie en as iemand hom vra, is hy nie te verwaand om dit te gee nie.
Jare na oom Prinsloo se dood is ek nou ook gereed om ’n gewone man te probeer wees. Daarom gaan ek onder dié opskrif en op ’n gewone manier probeer skryf oor die alledaagse lewensvrae wat ons mense deesdae teister. Wees dus op die uitkyk vir meer Gedagtes van ’n gewone man.