NAMPO en Orania
Daar is ’n spreekwoord wat sê: Die waarheid hoor jy van jou vyande nooit, maar van jou vriende soms. Dit geld natuurlik net vir ’n sekere soort waarheid, want vriend en vyand sal (gelukkig) in die reël die waarheid praat as jy byvoorbeeld vra hoe laat dit is.
Maar staan nou op die punt om ’n fout te maak waarby jou ego op die spel is – en laat jou ego net ’n bietjie te veel op die spel wees – dan kos dit ’n vriend om te sê: “’n baard pas jou nie” of “jou nuwe haarstyl laat jou gesig vet lyk”. Die res van die mensdom sal jou vrolik laat begaan en jou vyande sal hulle stilweg in jou skade verheug. Vandaar die veelseggende Duitse woord Schadenfreude.
Nou het ek sopas vir die sesde keer ’n hele week by NAMPO deurgebring, besig om ’n aantreklike en innoverende produk te bemark. Almal wat dit van naderby ondersoek of wat reeds daarvan weet en ons kom opsoek, vra op ’n tydstip waar dit vervaardig word. En siende dat dit nie ’n vraag van vriend of vyandskap is nie, antwoord ons eerlik: Orania.
Oor die reaksie wat daarop volg, sal mens ’n studie kan doen. Wat gesê word en wat nie gesê word nie, die loop wat die gesprek verder aan neem, of dit hoegenaamd ’n klokkie lui, ens. sou vir studente in Sielkunde, Sosiologie, Kommunikasie, Openbare betrekkinge en sekerlik nog vakgebiede waarvan ek nie eers weet nie, van waardevolle data voorsien.
Sonder om nou al sulke studente se werk vooruit te loop, kan ek al met gesag ’n toevoeging tot ons taalkundige kennisskat maak. Ek kan tot die bostaande spreekwoord toevoeg dat mens ook die waarheid hoor by mense wat nie weet wie jy is nie. Wanneer ek by plekke kom waar daar by wyse van spreke ’n bordjie met ORANIA om my nek hang, moet ek met die meeste mense se ingeboude neiging tot beleefdheid rekening hou.
Wanneer ek egter die gewone bemarker van ’n interessante produk is wat van ’n ongewone plek af kom – of meer nog, wanneer ek agter die skerm sit en op my rekenaar werk terwyl ’n kollega die navrae hanteer – hoor ek dinge wat nie deur die filters van beleefdheid gegaan het nie. Oor Orania, maar ook oor ander verbandhoudende sake.
Aan die hand daarvan wil ek ’n paar waarnemings maak, nie wetenskaplik nagevors nie, maar wel op ervaring gebaseer. Bygesê dat ons boere buitengewone mense is, selfs al sal baie waarnemers die besoekers aan NAMPO juis as gewoon beskryf. Dit is dus ’n groep wat nie die hele Suid-Afrikaanse bevolking volgens getalle of streke verteenwoordig nie, maar dit sluit (meer) wit- en (minder) swartmense vanoor die hele SA en buurstate in.
Die eerste waarneming is dat ek min tot geen vyandigheid beleef nie, inteendeel, dat daar eerder uit byna alle oorde belangstelling en meelewing is. Selfs meelewing is ook nie tot Afrikanerboere beperk nie, maar word nogal dikwels deur swart boere betoon. Afkeer, wanneer dit voorkom, tref mens ook by wit én swart, Afrikaans én Engels aan. Die tendens is ook positief, beide belangstelling en meelewing word elke jaar meer.
Die tweede waarneming is dat daar mense is wat nie van Orania weet nie, maar dat dit tog by die meeste ’n klokkie lui. Ek dink dat die hoeveelheid mense wat dit as ’n rariteit beskou, afneem en dat ons ’n gevestigde deel van die Suider Afrikaanse “kaart” geword het.
’n Derde waarneming is dat dit mense nie verbaas nie, inteendeel, dat hulle verwag om vernuwing en gehalte (innovasie en kwaliteit in Gautengse Afrikaans) uit Orania te sien kom. Wat verder daarby aansluit, is dat mense wat persoonlike herkenning toon of wat reeds meer van iets soos die Ora weet, op die oog af tot die boonste derde van ’n sosio-ekonomiese skaal sou behoort. Soos dr Jooste per geleentheid gesê het, die mense wat darem lyk asof hulle tande borsel.
’n Laaste waarneming vir die doel van hierdie rubriek, bevestig iets wat ons weet, maar voeg darem nog iets daarby. Dit bevestig dat die meeste van ons mense kliphard planne beraam om die beste van hulle huidige omstandighede te maak. ’n Verandering van omgewing of van gevestigde arbeidspraktyke word nie ligtelik oorweeg nie, selfs al wens hulle Orania alle sukses toe.
En tog … meer en meer mense spreek die versugting uit om ’n nuwe begin op ’n nuwe manier te maak. Een persoon, kennelik jonk, wêreldwys, welvarend en dinamies, sê vir my iets wat hy onlangs uitgedink het. Hy sê ons moes in 1994 met die Afrikaanse dele van die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Namibië afgeskei het en ’n twintig voet hoë muur omgebou het. Hy sê ons sou een van die suksesverhale van die wêreld gewees het.
En ek sê: ja, ons moes. Maar nou is ons op die lang pad en ons bou van onder af op.
“Hy sê ons moes in 1994 met die Afrikaanse dele van die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Namibië afgeskei het en ’n twintig voet hoë muur omgebou het. Hy sê ons sou een van die suksesverhale van die wêreld gewees het.”
Ironies genoeg het Prof. Boshoff en ander stigters van Orania en die Orania beweging (AVSTIG) dit geweet meer as 30 jaar terug.
Soos met Steve Jobs was hul, die tyd ver vooruit en het ‘n sin gehad dat die trein wat die Afrikaner hom bevind besig is om te snel na ‘n rampspoedige einde.
Ironies genoeg was die staats aparatuur wat voorheen effektief was teen die vyand van die Afrikaner ook effektief om Prof. Boshoff se boodksap te ondermyn.
Hopelik sal die jonger geslag verteenwoordig in die 3de Afrikaner die logika van b.g. Stelling insien en praktiese uiting daaraan gee deur nou van “onder af op te bou”
Andersins, soos Prof. Gesê het is daar ‘n goeie kans dat die Afrikaner oor 200 nie meer sal bestaan nie.
As Uitwoner-lid van die Orania beweging,boer in die Langkloof, is dit altyd met trots dat ek vir ander van tyd tot tyd brokkies inligting oor Orania en al die ontwikkelings en bedrywighede aldaar kan meedeel.
Ek ondervind dat waar daar voorheen dikwels spottenderwys of met argwaan gereageer is, daar almeer positief geluister en kommentaar gelewer word. Ek kry almeer die indruk dat mense met nuwe begrip en belangstelling na Orania kyk.
Ons bid vir wysheid,Geloof, krag en geduld vir hierdie groot taak, nee roeping, waarmee julle op Orania mee besig is.
Trotse lid!!
Die jong kan se stelling is inderdaad korrek. Ons moes aan ‘n Volkstaat gewerk het en nie aan selfregrende swart gebiede nie, dan was ons volk iewers in ‘n geografiese gebied onafhanklik. Die stryd op oorlewing wat nou voorlê is dus nou veel moeiliker.