Waar daar ʼn leemte is…

Dit is ‘n oeroue wet van die fisika: as daar ‘n vakuum ontstaan deurdat iets verwyder word, dring iets anders binne. Byvoorbeeld, as jy ‘n leë« bottel onder water hou, dring daar water in en verplaas die lug. As die bottel egter ‘n prop op het, of reeds vol is met iets anders soos wyn, kan daar nie water indring nie.

As ‘n mens die natuurwet nou op die aktuele politiek van toepassing maak, beteken dit die volgende: as ‘n samelewing leeg is en gekenmerk word deur allerhande negatiewe en ontkennende kenmerke pleks van positiewe waardes, dan dring daar ook iets anders binne wat die leemte vul, en dit is nie noodwendig iets goeds nie.

Die Weste was vir eeue lank gekenmerk deur sy Christenskap. Dit was nie net die eng Christelike soos die kerke en kloosters nie, maar ook die Christelike kultuur, wat gewoontes en tradisies gevestig het soos om Sondag nie te werk en handel te dryf nie, om aan God erkenning in jou daaglikse handel en wandel te gee deur samekomste met gebed te open, om in die hof en by die aanvaarding van ʼn amp jou afhanklikheid van God te betuig, om geboue met verwysings na God, soos AD (Anno Domini, die jaar van die Here) of seënwense te versier, kruise op bergpieke op te rig ens.

Veral in die 20ste eeu, met versnellende spoed, het sekularisasie ingetree. Dit is geproklameer as die skeiding van staat en kerk (veral in ‘n land soos Frankryk) wat in beginsel reg is, maar het in praktyk die uitdrywing van God en die Heilige en Bonatuurlike uit die samelewing geword, wat verkeerd is. Soos met elke beweging wat van sy eie onfeilbaarheid oortuig is, het ook sekularisasie geen einde gehad nie en neem in vandag se tyd al hoe meer absurde vorme aan, soos om verwysings na Christus op Kersfees en Paasfees of die dra van Christelike simbole te verbied in die naam van gelykheid. Die sekularisering het veral verder spoed opgetel nadat meer en meer vreemdelinge wat nie Christene is nie, die Weste binnegekom het. Onder die waan van akkommodering is in vooruitlopende onderdanigheid alles verwyder wat dalk aanstoot aan nie-Christene en nie-Westerlinge kon gee, selfs al het niemand daarop aangedring nie. Die Weste het daardeur egter sy eie skanse gesloop.

Die vreemdelinge bring nie net vreemde gelowe (by name Islam) met hulle saam nie, maar hulle bring veral geloof, die irrasionele en die tradisionele met hulle saam, wat tot groot ongemak en onsekerheid onder die inheemse inwoners lei. Islam en ander gelowe kan net so welig groei en uitbrei omdat deur sekularisasie so ʼn geweldige leemte gelaat is, al word dit verdoesel as “verdraagsaamheid” en “godsdiensgelykheid”. Dit gaan selfs so ver dat die leemte van die een deur die ander een fisies en nie net ideologies oorgeneem word nie, naamlik wanneer kerke wat leegstaan deur Moslems gekoop en in moskeësekularisme« omskep word, sonder dat ‘n haan daarna kraai.

Die Weste probeer nou inderhaas om die leemte wat in die wêreldbeskouing gelaat is en wat toenemend deur vreemdelinge beset word, met inhoud te vul. Sekularisme word nou skielik aggressief verdedig en as die gemene deler vir alle inwoners, gevestigdes en nuwes, voorgehou. In Frankryk word dit laicite genoem, in Duitsland word van ‘n Duitse of Europese Leitkultur gepraat of elders van Europese waardes (en dit is omstrede begrippe wat ook by die inheemse bevolking nie noodwendig aanklank vind nie, nog minder by die vreemdelinge). Die probleem is egter, om tot die analogie in die inleiding terug te kom, dat ‘n minder digte stof nie ‘n digte een kan verdring nie. Met ander woorde, jy kan met ‘n strooihalm so veel lug in ‘n glas water blaas soos jy wil, dit gaan nie die water verdring nie. Gooi jy egter sand of klippie in die glas, word die water verdring. Sekularisme het vlak wortels, anders as godsdiens en nasionalisme. Daar waar die Christelike godsdiens en ‘n nasionale kultuur sterk gevestig is, byvoorbeeld in Oos-Europa, sukkel Islam om binne te dring. Islam het diep wortels, maar die Christendom het nog dieper wortels en is in talle opsigte teenoor die Islam verhewe.

Kan die Weste as antwoord op die bedreigings van buite van binne her-christianiseer? Tans lyk dit onmoontlik, die verval en sekularisasie is al te vêr gevorderd, en indien hoegenaamd die Christendom by Europese waardes gevoeg word, dan is dit ‘n afgewaterde Christendom wat veral humanisties van aard is en waar waardes soos gelykheid en naasteliefde voorop staan. Dit is juis die soort Christendom wat Islam en ander gelowe met ope arms as ‘n verryking verwelkom en die gemeenskaplikhede beklemtoon. Natuurlik sou die antwoord op islamisering geen militante en radikale Christendom wees nie, want dan dryf jy die duiwel met die beelseboel uit. Dit moet egter ‘n selfversekerde Christendom met ‘n missie wees, die soort wat in die 18de en 19de eeu groot dele van die wêreld meesal vreedsaam gekersten het, omdat die Christene geloof gehad het en van hulle saak oortuig was. Menslik is ‘n nuwe Christelike Europa onmoontlik, maar by God is dit moontlik. Herlewing het al op die onmoontlikste plekke en in die onmoontlikste tye gebeur. As die Weste sy oeroue tradisie wil voortsit, dan moet hy terugkeer na sy wortels en sekularisme sowel as vreemde godsdienste verwerp.

 

Die nuwe uitgawe van die tydskrif Rede het onlangs verskyn en behandel ook die vraagstukke wat in die artikel net aangestip word in diepte in verskillende, boeiende artikels. Dit kan by die Orania Beweging bestel word (ontvangs@orania.co.za, 053-2070004)

Integrasie. Kan dit werk?

Integrasie is die towerwoord waarmee Europa glo dat hy die miljoene vlugtelinge wat uit veral lande van die Derde Wêreld instroom, kan beheer en tot landsburgers wat ʼn bydrae lewer en ʼn aanwins is, kan omskep.

Veel warm lug is al geproduseer in die debatte en nog veel meer geld is al ingeploeg in burgerkunde, taalkursusse, inligting- en opleidingsessie, alles met die oog daarop om so veel as moontlik van die nuwe aankomelinge in die hoofstroom-samelewing in te smelt.

Veel word gesê, veral van Europeërs, oor die ou Suid-Afrika onder bewind van die Nasionale Party, wat misluk het met sy beleid om mense volgens ras en etnisiteit te skei. Dit het nie gewerk nie, maar die teendeel, integrasie, gaan werk, so word geglo. Europa het min ervaring met die opbou van ʼn nuwe, multi-kulturele samelewing en sal gou ontnugter word oor die beperkinge van integrasie.

As ʼn mens wil leer oor hoe integrasie van mense uit verskillende lande en agtergronde (met beperkinge) werk, moet ʼn mens eerder na tipiese immigrasiesamelewings soos die VSA, Australië, Kanada of Brasilië kyk. Selfs daar is die suksesse baie gemeng.

Een vasstelling wat gemaak kan word, is dat integrasie op ʼn individuele vlak werk, maar baie moeilik op ʼn gemeenskapsvlak. Die Ierse of Duitse of Italiaanse gesin of enkeling wat byvoorbeeld na die VSA geëmigreer het, moes eenvoudig by die meerderheidssamelewing inskakel as hulle wou oorleef. Sodra daar egter groot getalle immigrante van ʼn spesifieke land emigreer, en veral as hulle in ʼn spesifieke gebied vestig, vorm hulle hulle eie subkulture en gemeenskappe en dien as aanlooppunt vir individue wat nog op pad is. In die VSA het byvoorbeeld ten spyte van alle smeltkroes-idee ʼn Sjinese en ook Italiaanse subgroep ontstaan, deels met eie woonbuurte. Terwyl Europese volke gewoonlik wel uiteindelik in die meerderheidskultuur opgeneem word (soos die Duitse of Ierse immigrante na die VSA), is dit moeiliker, indien nie onmoontlik nie, met gemeenskappe met ʼn ander ras en godsdiens as die meerderheidskultuur. Daarom kry jy ook oor die wêreld heen “China Towns” en “Little Indias”.

Interessant in die verband was ook die stem van buitelandse Turke in die onlangse referendum oor grondwetlike veranderinge, wat in praktyk daarop neergekom het om Turkye van ʼn demokrasie na ʼn outokrasie te omvorm. Daar waar Turke net in klein getalle en wyd verspreid woon, soos in die VSA, Kanada, Australië en ook Suid-Afrika, het die groot meerderheid teen die grondwetlike muslimslondonveranderinge gestem. ʼn Mens sou daaruit kan aflei dat hulle met hulle gasheerland en sy demokratiese strukture vereenselwig. In lande waar daar groot getalle Turke is en waar hulle hul eie woonbuurte met eie media, restourante, winkels, skole, moskeë ensovoorts het, soos in Duitsland, Nederland, België en Frankryk, het hulle oorweldigend gestem vir die grondwetlike veranderinge en by implikasie gesê: ons identiteit is in die eerste plek Turks en die president, mnr. Erdogan, is ons leier en ons voel nie tuis in die lande waar ons is nie.

Die Afrikanervolk is ʼn interessante voorbeeld waar ʼn nuwe volk uit individue gevorm het wat hulle moederland en sy kultuur grootliks agtergelaat het, maar wat nie in ʼn bestaande samelewing opgeneem kon word nie, omdat daar nog geen bestaan het nie. Latere immigrante, soos Britte, Grieke en Portugese, het in meeste gevalle nie in die Afrikanervolk ingesmelt nie omdat hulle in groot getalle gekom het of kultureel en godsdienstig te verskillend was.

Selfs in Orania, wat ʼn etnies homogene gemeenskap is, is integrasie belangrik en nie iets wat van self gebeur nie. Die enkele Engelssprekendes wat hier is, kan net opgeneem word omdat hulle as individue, dikwels met ʼn Afrikaanse eggenoot, hier aankom en daar geen Engelse skool, klub of kerk is om hulle identiteit te bevestig nie. Selfs boorling Afrikaners moet geïntegreer word in die spesifieke Orania-gemeenskap en moet talle gewoontes en persepsies uit Suid-Afrika, soos oor arbeid, agterlaat.

Laastens, die beginselvraag wat die balans tussen integrasie en eiesoortigheid moet wees, is ook iets waaroor die laaste woord nog nie gesê is nie. In die ou bedeling is byvoorbeeld gepoog om die Afrikanervolk te versterk deur die aanmoediging van immigrasie en integrasie van stamverwante Europeërs, terwyl terselfdertyd rasse-integrasie verhoed en eiesoortigheid aangemoedig is. Suid-Afrika as geheel het geen meerderheidskultuur nie (selfs die swart meerderheid is etnies versplinter), maar roem op sy diversiteit, wat ons krag sou beteken.

In die geval van Orania, waar ons ʼn nuwe samelewing in ʼn sekere sin wil skep sowel as ʼn bestaande volk wil bewaar, is dit nodig dat die basis van die begin af reg is en ons nie later met ʼn klomp individue, of erger, verskillende etniese subgroepe sit wat niks voel vir Orania en sy strewe nie en wat nie bereid is om hulle deel tot sy uitbou by te dra nie.

Vind jouself!

retief

Ek staan voor die beelde in brons gesmee
Van Swart, De Wet en Vorster;
Kruger en Cronje;
Malan, Verwoerd en Hertzog;
Retief en Cilliers,
Hulle hammer en timmer aan my,
Hulle hammer en timmer aan my.

Ek luister in silabes in taal geklee
Van Pannevis, Malherbes;
Hoogenhout en die du Toits;
Ahrbeck, Meurant, Totius;
Van Rooyen en Keet,
Hulle eggo en klank binne my,
Hulle eggo en klank binne my,

Ek blaai deur papiere in ink gesmeer
Van Wyk Louw en Leipoldt;
Fagan en Marais;
Opperman en Cussons;
Boerneef en Krog,
Hulle skreeu en fluister binne my,
Hulle fluister en skreeu in my.

Ek droom in doeke in kwas gekleur
Van Claerhout en Pierneef;
Egersdörfer en Stern;
Van Boonzaaier en Ferguson-louw;
Loubser en de Jongh,
Hulle skadu en lig binne my,
Hulle skadu en lig binne my.

Ek dans in akkoorde in klank gesmee
Van Koos Doep en Korsten;
Die Briels en Groep Twee;
Van Kramer en Mareé;
Kerkorrel en Kombuis,
Hulle draal en deuntjie binne my,
Hulle deuntjie en draal binne my.

Ek trane en groei in arms gevou
Van my Moeder en Ouma;
Vader en Vrou;
My van trotse erfnis;
My huis en my grond,
Alles en almal vir my,
Hulle is alles vir my.

Ek bid in teks in perkament geklee
Van Johannes en Paulus;
Petrus en Matheë;
Moses en Dawid;
Salomo en Job,
Hulle reinig en red binne my,
Hulle red en reinig vir my.

So vind ek myself in die kronieke van my volk
En sien ek myself in die spieël;
Die grysheid en leegheid’t skielik verdwyn
In die baard van die gesig wat ek sien;
In die lyn van die gesig wat ek sien;
In die erfnis gesig wat ek sien;
In die erfnis gesig wat ek sien.

Watter rol wil China in die wêreld speel?

people-s-republic-china-kartlgger-med-sjunker-28409083Die meeste Chinese glo vandag nog in die gesegde dat jy eerder die sneeu voor jou eie deur moet wegvee voordat jy bekommerd raak oor die ryp op jou buurman se dak.

Terwyl die wêreld onseker is oor wat ’n Trump-administrasie vir hulle gaan inhou, hoe die talle oorloë in die Midde-Ooste en Afrika gaan uitspeel en hoe die invloed van die immigrasiekrisis, Brexit en die verval van die politieke konsensus wat na die Tweede Wêreldoorlog ontstaan het, Europa gaan verander, moet die opkoms van China nie misgekyk word nie.

Slegs ’n paar eeue gelede was China nog die grootste ekonomiese ryk in die wêreld. Dié magtige ryk het egter tydens industrialisasie in die Weste, stelselmatig agteruit begin boer. Die aanslag op die ryk Chinese kultuur wat met Mao se opkoms in 1949 ’n hoogtepunt bereik het, was die finale spyker in die een magtige Chinese ryk se doodskis.

Dekades van verval en agteruitgang het tot grootskaalse armoede en agterstande in China aanleiding gegee. Die afgelope twee dekades het dinge in China egter begin verander. Die land se kommunistiese regering het talle vryemarkbeginsels sy eie begin maak en die kombinasie van goedkoop, ongereguleerde arbeid en ’n groot internasionale mark vir goedkoop produkte het meegebring dat Chinese industrieë teen ’n vinnige tempo onwikkel het en dat honderde miljoene mense binne enkele jare uit armoede gelig is.

Die media berig gereeld oor China se betrokkenheid in Afrika en hoe Chinese maatskappye eiendomme in die VSA, Europa en ander wêrelddele opkoop. Kommer oor Chinese imperialisme of selfs ’n soort Chinese kolonialisme word gereeld geopper. Wil die Chinese regtig die wêreld oorneem soos wat mense soms vir mekaar langs die braaivleisvuur probeer oortuig?

Die realiteit vandag is dat die Chinese steeds ’n volk op soek na ’n nuwe identiteit is. Die huidige regering het wesenlike binnelandse kwessies waarmee hulle moet handel en beskou internasionale deelname steeds as ’n luukse. Die sterk Chinese selfbeeld van drie of vier eeue gelede bestaan nie meer en in die Chinese regering se poging om daardie selfbeeld te herwin sien ons toenemend streeksagressie en ’n vertoon van militêre mag soos wat die onlangse krisis in die Suid China-see bewys het.

Die Chinese regering probeer alles in hul vermoë doen om te verhoed dat ongelykhede, korrupsie en die steeds ernstige armoedekrisis in groot dele van China tot opstande onder hul burgery lei. Terselfdertyd probeer hulle nasionalisme aanblaas deur in die Verre Ooste hul spiere te bult.

Of China egter werklik ’n bedreiging vir ander lande inhou is onseker. Professor Shi Yinhong van die Renmin Universiteit in Beijing sê dat hy vyf jaar gelede nog gedink het dat Chinese agressie geen bedreiging is nie, maar dat hy vandag onseker is.

Terwyl binnelandse uitdagings die Chinese regering nog vir lank gaan besig hou, sal een van die belangrikste internasionale vraagstukke van 2017 moet handel oor die toekomstige rol van China in vrede en in konflik en tot watter mate veral Westerse lande nou reeds daarvoor moet voorberei.

Kort- en langtermyndenke

By die Orania Beweging (of dorpskantoor, of eiendomsagente) hoef ons nie koerant te lees om te weet of daar weer ʼn vreesaanjaende storie op die voorblaaie was nie, ons moet net kyk na die volumes navrae oor Orania. As daar weer ʼn misdaadgolf was, as ʼn nuwe skandaal die land skud, as nuwe wetgewing oor grondgryp voorgestel word, as daar slegte ekonomiese nuus is, dan lui die telefone en is die e-posbusse vol. Dikwels beteken die skielike belangstelling ook die eis na onmiddellike hulp: Orania moet nou vir my werk en behuising hê, nou moet “julle” iets doen aan hierdie en daardie dreigende toedrag van sake.

Natuurlik is dit verstaanbaar, en ons kla glad nie oor die navrae en belangstelling nie, trouens, daarsonder sou ons die Orania Beweging kon toemaak. Hoe meer belangstelling, hoe meer navrae, hoe meer aansluitings, hoe sterker word Orania en die Orania Beweging en hoe meer geleenthede en plek kan ons vir ons mense skep. Maar, ongelukkig is die teendeel ook waar: as daar weer iewers goeie nuus is, byvoorbeeld as die ANC swak vaar in ʼn verkiesing, ʼn minister versoenende geluide maak, ʼn wetsvoorstel versag of afgeweer is, dan skielik kry Orania ʼn koue skouer en dan is die hier en nou belangriker as die langtermyn-toekoms en mense sien weer kans vir die nuwe Suid-Afrika. Of, soos ʼn DA-kandidaat eendag vir my gesê het: ”Julle strewe is alles goed en wel, maar as die DA regeer, dan sal die hele land so wees dat geen Orania nodig is nie.”

Daarby moet Afrikaners egter onthou dat Suid-Afrika nooit meer sal wees soos dit was nie, of soos hulle dit graag wil hê, selfs al word president Zuma deur Ramaphosa vervang, of al wen die DA en ander opposisiepartye die volgende verkiesing. Die ideaal moet nie wees om beter regeerders te hê nie, maar om jouself te regeer. Ook ʼn DA-geleide koalisie sal die belange van die meerderheid eerste moet stel. Misdaad sal nie weggaan solank daar ʼn relatief welvarende etniese minderheid teenoor ʼn meesal arm meerderheid te staan kom nie, ongeag daarvan hoeveel die minderheid doen om die armes in diens te neem of op te hef. Die logika van liberale, individuele kapitalisme wat almal bevoordeel sal nooit die arm swart meerderheid oortuig nie en belasting sal altyd hoog wees om die armes deur welsyn te onderhou.

Orania is ʼn langtermyn oplossing, wat egter nou reeds in beperkte mate ʼn uitkoms vir ons mense bied. In ʼn sekere sin werk dit soos ʼn versekering: jy moet vir jare betaal, maar as jy dan in ʼn ongeluk is, dan kan jy eis vir die groot operasie, vir die huis of motor wat afgebrand of afgeskryf is, en jy kan weer aangaan. Ek kan nie na ʼn ongeluk of ramp skielik ʼn versekering wil uitneem en verwag dat hulle my motor of huis moet vervang voor my eerste paaiement betaal is nie.

Die vergelyking laat egter ook nie heeltemal reg aan Orania geskied nie, want dit is nie net “die laaste uitkoms as al die ander opsies misluk het nie”, dit is ʼn beter toekoms, wat reeds in die kleine praktyk is, vir Afrikaners wat weer vry, in ʼn Christelike opset en trots wil lewe en wat bereid is om hulle deel daartoe by te dra. Jy hoef dus nie te wag vir die volgende inbraak of die volgende onbedagte aankondiging wat die Rand laat tuimel nie. Die beste dag om navraag oor Orania te doen, by die Orania Beweging aan te sluit en ʼn besoek of selfs ʼn verhuising te beplan is vandag.

 

 Longterm

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel