Orania se groei dra vrugte vir elke seisoen van die lewe.

Orania se groei dra vrugte vir elke seisoen van die lewe.

Orania maak baie mense se harte warm, en selfs sommige mense warm onder die kraag. Een ding bly egter seker – Orania groei teen ʼn snel!

Oraniërs en toeriste van die dorp ken al die bekende Oewerhotel, restaurant en spa teen die Oranjerivier, die verskeie lekker eetplekkies in die dorp, die heerlike dorpswembad, plaaslike bierbrouerye, die splinternuwe sportinstituut en ander besienswaardighede soos Orania se  Monumentkoppie. Dit is egter ʼn riem onder die hart (en kraag, vir sommiges) om te sien hoe daar in Orania, tot bate van Oraniërs in elke seisoen van die lewe,  gegroei, gebou en ontwikkel word.

Vir babas van drie maande tot peuters van vier jaar oud groei Orania se twee dag sorgsentrums Kieliepensie en Huppelkind, eersteklas dagsorgsentrums, geweldig. Huppelkind kyk na ongeveer 80 kindertjies wat liefdevol versorg word en in ʼn veilige, mooi, opvoedkundige omgewing kan speel.

Die twee skole, wat albei laer- en hoërskole is, se skoliere presteer op verskeie terreine en die CVO-skool is tans besig om ekstra klaskamers aan te bou, om die toenemende skolier-aansoeke te akkommodeer. Die nuut uitgebreide sportgronde van die skool spreek boekdele van ʼn lekker, lewendige skoolloopbaan in Orania.

Bo-Karoo Opleiding (BKO) het in 2019 die eerste voltydse groep studente ontvang en sedertdien so baie belangstelling gewek dat daar reeds planne vir verdere uitbreiding is. Die oprig van koshuise en die aanbieding van nog kursusse is in die pyplyn. Tans kan BKO studente ʼn nasionaal geakkrediteerde kwalifikasie in die volgende rigtings verwerf: elektries, bou en siviele konstruksie, loodgieter en gemeenskapsversorging. Hierdie kursusse bou egter nie net studente se kennis en vaardighede nie, maar die studentelewe by BKO is een wat ook die studente se Christelike en Afrikanerkarakter ontwikkel. In 2022 gaan BKO ook ʼn landboukursus aanbied en die grond vir ʼn eie proefplaas is reeds gekoop. Orania het ook sy eie haar-akademie, waar studente hulself as geakkrediteerde haarkappers kan bemagtig. Verder is daar reeds planne opgeteken om in die nabye toekoms nog tersiêre opleiding-instellings in Orania te bou.

Ontwikkelings, soos ʼn park by Gannabos se verblyf-eenhede, getuig van ʼn toename in jong werkendes wat hulself in Orania vestig. Al hoe meer verblyf-ontwikkelings word deur die 28 geregistreerde bouspanne in Orania, wat almal ver vooruit vol bespreek is, aangepak. Volgens Christo Conradie van OOM (Orania ontwikkelingsmaatskappy) is “Orania se eiendomsmark verbysterend goed”. Daar is gelukkig genoeg grond in Orania se besit om  alreeds ʼn bevolkingsgroei van 2000 inwoners, tot 10 000, te akkommodeer. Conradie sê die grond gaan vir die ontwikkeling van woonerwe, huurerwe en besigheidserwe gebruik word.

Die nuwe toring vir hoë spoed internet wat tans opgerig word is een van die vele bakens van vooruitgang wat dit vir jong werkendes makliker maak om Orania hul tuiste te maak. Stadsontwikkeling in die nabye toekoms gaan juis fokus op die stadskern, waar dit tans beplan word om drie groot geboue met kantoorspasie te ontwikkel. ʼn Blink toekoms vir die landbousektor word in Orania verwag, soos daar beplan word om al hoe meer handel- en diensgeleenthede aan Boere in die omgewing te bied. Die toerismesektor in Orania groei ook, en soos ekonomiese bedrywighede toeneem volg werksgeleenthede.

Karoosig Atreeoord is ʼn veilige hawe vir Orania se bejaardes. Hier is 10 wooneenhede en ʼn topklas versorgingsaal wat in ʼn personeelspan van 13 toegewyde werknemers se betroubare hande is. Daar is vier-en-twintig-uur versorging en die inwoners sê sommer spontaan hoe lekker hulle eet, en hoe goed daar na hulle gekyk word! Verdere uitbreiding en ontwikkeling word reeds beplan vir Karoosig Aftreeoord, wat ideaal naby aan Orania se mediese sentrum geleë is.

Die snelle bevolkingsgroei in Orania dien as katalisator vir instellings om infrastruktuur en diensteontwikkeling ten bate van baba, peuter, kleuter en kind, voort te sit.

Geskryf deur René Krüger

 

Orania van dorp tot stad – ‘n nuwe strategie. Boek bied belangrike nuwe strategie.

Die titel van Frans de Klerk se nuwe boek Orania, van dorp tot stad. ‘n Nuwe strategie is veelseggend. Dit behandel ‘n nuwe benadering tot die verkryging van vryheid vir die Afrikaner in sy eie gebied en behandel ook kortliks Orania se ontstaan en werkwyse.

Laat ek sommer met die intrapslag sê wat dit nie is nie omdat die persepsie wel bestaan het en nog bestaan. Die boek verteenwoordig nie ‘n argument vir ‘n verdere afskaling van die ideaal van staatkundige vryheid vir die Afrikaner nie. Dit is ook nie ‘n nuwe skuif om die aanspraak op selfbeskikking af te water nie en om ons te oortuig dat ons nou maar moet afsien van die ideaal van uiteindelike vryheid en tevrede moet wees met ‘n dorpie of ‘n mini-stadstaat nie.

Wat die boek wel goed beredeneer, is ‘n nuwe strategie om vryheid te bereik onder veranderde omstandighede. Die ideaal van uiteindelike vryheid bly nog dieselfde. Die kernargument van die boek is om die tans nog beperkte energie vir Afrikanerselfbeskikking te fokus op dit wat ons het, die dorp Orania, en om daarvan ‘n voertuig te maak wat ons by ‘n eie gebied vir die Afrikaner uitbring.

De Klerk argumenteer dat ons met die feit van beperkte getalle moet werk. Toe die idee van ‘n volkstaat in die Noordwes-Kaap bekend gestel is in 1989, en later weer in 1996 ook deur die Vryheidsfront ondersteun is, was die verwagting dat binne ‘n relatiewe kort tydperk van enkele dekades duisende Afrikaners hulle in die gebied gaan vestig, asook dat die ANC-regering gewillig sal wees om oor ‘n Afrikanergebied te onderhandel voordat nog iets op die grond tot stand gebring is.

Albei verwagtings is nie vervul nie, maar was terugskouend waarskynlik te naïef gewees. Om verskeie redes het Afrikaners se ontnugtering met die nuwe Suid-Afrika langer gevat as wat diegene wat Orania begin en ondersteun het en wat reeds voor 1994 ontnugter was, verwag het. Van ontnugtering met die oue tot die beywering tot die nuwe is ook nog ‘n redelike groot stap om te neem. Wat die regering betref, het die houding van “daar is plek vir almal in die land, ook Afrikaners” plek gemaak vir een van onbeskaamde swart nasionalisme en is die ANC nie bekommerd oor toenemende frustrasie, onttrekking en emigrasie van Afrikaners nie.

Om dié rede moes Orania sy strategie (nie sy einddoel nie), naamlik om ‘n groot, uitgestrekte gebied redelik gelyktydig te beset met aansienlike getalle Afrikaners, herbedink. Die strategie van verspreiding, om so veel as moontlik grondgebied te beset (wat eie is aan die Afrikaner se voorgeslagte, die Trekboere en Voortrekkers) kon om verskeie redes nie werk nie. Gewillige vryheidstrekkers was min en diegene wat in bestaande dorpe in die aangewese gebied in die Noordwes-Kaap gevestig het, moes besef dat hulle min of geen verskil maak nie omdat hulle met ‘n reeds gevestigde struktuur en ekonomie, wat nie te vinde was vir Afrikanerarbeid nie, te make gehad het. Slegs Orania, ‘n dorp wat van nuuts af opgebou is, het die ideaal vergestalt. Eenduisend Afrikaners wat gekonsentreerd in Orania woon, het ‘n baie groter impak as 100 Afrikaners wat elk in 10 dorpies oor die uitgestrekte Noordwes-Kaap sou woon.

Orania bied die voordeel dat dit reeds onder Afrikanerbeheer is en reeds in ‘n groot mate na sy mense se belange kan omsien en dinge vir Afrikaners kan doen wat geen ander munisipaliteit in die land doen nie. Hier is werk vir Afrikaners, hier is veiligheid, funksionerende dienste en ‘n mate van maatskaplike sorg en opheffing, behuising, goeie opleiding, beskerming en uitbou van ons kultuur, geleenthede vir ondernemers en vele meer.

Wat Orania en sy vermoë om groter uitdrukking aan die Afrikaner se vryheidstrewe te gee beperk, is veral die gebrek aan getalle. Dit maak dat hier tans geen hospitaal en voltydse dokter, geen universiteit of beroepskollege en geen groot nywerhede is nie. Die uitdaging is om Orania tot ‘n klein stad te ontwikkel vanwaar dit moontlik is om ‘n ware enjinkamer te wees vir die vinniger bereiking van die Afrikaner se vryheidsideaal.

Die woord stad mag vir mense uit Johannesburg, Durban of Kaapstad negatiewe beelde oproep van misdaad, vervreemding, besoedeling, verkeersknope, beknoptheid en anonimiteit. Vele stedelinge kom juis Orania toe op soek na ’n idilliese plattelandse bestaan. Die gerusstelling is dat Orania nooit ‘n megastad sal raak nie. Afrikaners se beperkte getalle maak dat ‘n Afrikanerstad Orania heel waarskynlik nie eers 50 000 inwoners sal hê nie en dat dit die voordele van stad en platteland sal verbind. Alles wat nodig is, sal in die stad beskikbaar wees en die lang en duur ritte na die stede onnodig maak. Dit is egter nog steeds ‘n opset waar mense gemoedelik en rustig kan lewe. ‘n Sekere grootte is nodig om die instellings, dienste en werksgeleenthede te kan vestig wat vir die meeste Afrikaners noodsaaklik geword het vir ‘n gehalte lewe. Dit sal ook ‘n deur en deur Afrikanerkarakter hê en die nadele wat met groot stede gepaardgaan, sal nie van toepassing wees nie.

Die Afrikanerstad Orania kan uit die aard van die saak nie sonder omliggende grond bestaan nie. Voedselsekuriteit is uiters noodsaaklik en ruimte bied ook veiligheid. Dus sal daar rondom die kernstad ‘n kleinhoewegebied wees, soos wat die meeste stede het, en nog verderaan sal daar ‘n gordel van plase wees om die kos te produseer.

Die boek Orania: Van dorp tot stad. ‘n Nuwe strategie kan ‘n belangrike rol speel om Afrikaners te laat besef dat Orania werklik ‘n alternatief kan wees.