by Nikke Strydom | Nov 6, 2013 | Nuus |
“My ma het hierdie bome nog hier geplant, nou die dag nog, so wie van ons ookal eendag op hierdie plaas gaan bly, gaan ‘n baie lekker tuin hê. So bietjie soos ‘n woud,” sê my vriend die naweek vir my toe
ons van die perdestalle op hulle plaas terugstap huis toe. Hulle is reeds die sesde generasie wat op die spesifieke plaas bly.
Dit is nogal ‘n besondere daad van vertroue, het ek onmiddellik gedink. Om ‘n klein boompie te plant, te versorg met water, mis en liefde en die hoop dat, al sal jy bes moontlik nie eendag in sy skaduwee
kan sit nie, jou kinders dit sal kan doen. Dat jou kleinkinders aan sy takke sal kan swaai, onder hom kan speel.
Ons was onlangs op ‘n studietoer na Europa en ons het meer kerke besoek as wat ek ooit gedink het bestaan. Ek dink nie die konsep “klein kerk” bestaan in Europa nie. Elke kerk is groot. Ongelooflik groot.
En die detail is iets wat ‘n mens nie in een of selfs twee leeftye kan bou nie. Ook daar het ek onmiddellik gedink dat dit ongelooflike vertroue in jou toekoms veronderstel om as gemeenskap ‘n kerk te bou,
‘n monumentale stuk werk en bloot te vertrou dat jou kinders en kleinkinders en die geslagte na jou nog in so ‘n mate aan hulleself, hulle verlede en toekoms sal vashou, dat hulle die projek verder sal bou,
verder sal bou aan ‘n kerk. In Europa het dit dalk meer vertroue geneem om ‘n kerk te bou, as wat dit geneem het om ‘n boom in Afrika te plant. Maar die verskil is dat daar in Afrika steeds bome geplant
word, terwyl kerke in Europa, in my vriend Bernard Buys se woorde “museums” geword het.
‘n Mens kan bome plant, jy kan kerke bou. Of jy kan ‘n Orania bou.
Orania is eintlik niks meer as dit nie. ‘n Berekende sprong in die toekoms, ‘n vertroue dat ons kinders en kleinkinders dieselfde dinge as ons belangrik gaan vind. Maar Orania is dalk ‘n bietjie meer. Dit is
‘n manier waarop ons ons kinders kan grootmaak om wél dieselfde as ons te glo. Dieselfde dinge as ons belangrik sal vind.
Orania is meer as bome plant, Orania is meer as kerke bou. Dis nie net ‘n hoop, ‘n vertroue nie. Orania is ‘n manier waarop ‘n mens kan verseker. ‘n Toekoms vir jou kinders kan verseker.
by Nikke Strydom | Jun 26, 2013 | Nuus |
Orania: My-hart-se-punt-dorpie
Daar word dikwels beweer dat ouers hulle kinders ‘n oneer aandoen deur hulle in Orania groot te maak. Daar word dikwels beweer dat Orania kinders geïsoleerd grootword. Daar word dikwels beweer dat Orania se kinders aanpassingsprobleme het as hulle die ‘buitewêreld’ aandurf. Daar word dikwels beweer dat Orania se kinders geen sosiale lewe het nie. Daar word in wese dus eintlik beweer dat Orania-kinders eintlik ‘n bejammerenswaardige lewe lei.
Min wetende…
Orania is my grootword-dorpie. My hart-se-punt-dorpie. My gunstelingvakansiebestemming.
Ek het in Orania grootgeword, ek het my skoolloopbaan in Orania begin, en matriek in Orania geskryf. Ek het in Orania mens geword. Jonk gebly en grootgeword. Pret gehad en verantwoordelikhede geleer. In Orania kon ek kind bly én grootword, op ‘n wyse wat in min ander Suid-Afrikaanse dorpe nog moontlik is.
Vir my is grootword in Orania tekenend van teenstellings, op ‘n goeie, positiewe, verrykende manier. In Orania word kinders vry groot. Hulle klim boom. Hou middernagfeeste op grondpaaie gebaai in maanlig. Ry in die na-nag in groepies van ses of sewe met fietse huis toe na kuiers – vol geselsies en in verwondering oor die Karoo se sterre. Orania-kinders hou gereeld nog moddergevegte langs die rivier, of swem vir ‘n dag en ‘n nag oor na ‘n eiland in die rivier, bak brood op warm klippe, slaap onder die sterre. Ervaar witwater in die Oranje. Dans in die pad, dans op die dak, dans in De Boer, dans onder die sterre, in die sonlig en maanskyn. In Orania kan kinders nog kind wees, nog pret hê, nog daagliks gelukkig gaan slaap.
Maar in Orania kan kinders ook reeds vroeg groot wees. Verantwoordelik word. Orania is ‘n internasionale toeriste-/studente-/navorsersaantrekkingspunt. Ek kan persoonlik nie aan ‘n enkele vakansie in Orania dink waar ons nie met internasionale studente gekuier het nie. Meestersgraadstudente uit Brasilië, finalejaarstudente uit Nederland, honneursstudente uit Poland. In Orania leer kinders vroeg reeds ook om met internasionale joernaliste te praat, te redeneer. Om idees met oorsese parlementslede te deel. Om gesprekke met grootkoppe van die ANC te hê. Om ministers en premiers te ontmoet. Om voor televisiekamera’s te praat en direkte televisie-uitsendings na Duitsland te beleef.
Maar meer as dit leer Orania-kinders van klein-klein af hoe om verantwoordelikheid vir hulle dade te neem. Orania-kinders word groot met ‘n mentaliteit van indien ons dit nie doen nie, gaan niemand anders dit vir ons doen nie. Orania-kinders soek nie verskonings nie, hulle soek oplossings. Hulle skrik nie vir probleme nie, hulle werk dit uit die pad uit. En dis nie toevallig nie. Dis omdat Orania haar kinders goed grootgemaak het.
So ‘n bietjie meer as twee dekades gelede het mense dieselfde van Orania gesê. Gesê dat dit ‘n onbegonne taak is om só ‘n dorp op te rig. Dat dit nie haalbaar is nie. Dat dit onuitvoerbaar is. Maar Orania met sy handjievol inwoners het teruggegkyk, gevra “Hoekom nie?” en vandag lag sy in hulle gesigte.
Mense het vir Orania-kinders ook gesê dat hulle nie sal kan aanpas nie. Vandag maak Orania-kinders ‘n sukses van hulle lewens. Presteer hulle op universiteitsvlak. Kry hulle Golden Key-toekennings. Word hulle senior navorsers in groot firmas. Kry hulle agt onderskeidings in matriek. Volg hulle suksesvolle loopbane as ingenieurs. Is hulle kompeterend in wetenskap-, sport- en skaakkompetisies. Vandag is hulle ambassadeurs vir hulle taal en kultuur, of hulle nou aan Maties, Tukkies of by Potch studeer – Orania-kinders maak hulle merk. Hulle skop stof op. Hulle swem provinsiaal. Hulle stoei vir hulle provinsies. Van hulle werk vir ‘n jaar oorsee. Van hulle word op internasionale uitruilprogramme gekies. Hulle doen goed vir hulleself. 100% van die Orania-kinders (drie van hulle) wat in 2012 aan Tukkies gestudeer het, het op die universiteit se Studenteparlement gedien.
Hoekom? Want Orania leer haar kinders vroeg al om hulleself te handhaaf. Om na hulle eie regte om te sien. Om verantwoordelikheid vir hulle toekoms te neem. Dis hoe hulle grootgeword het. Dis wat hulle ken.
Orania is my liefling-dorpie. Orania is my avontuur en my rustigheid. Orania is my vesting. Orania is my droom.
Orania is nie net ‘n dorp nie, Orania is ‘n lewenswyse, dis ‘n mentaliteit. Dis ‘n toekoms. My toekoms. Jou toekoms. Orania is óns toekoms.