“My ma het hierdie bome nog hier geplant, nou die dag nog, so wie van ons ookal eendag op hierdie plaas gaan bly, gaan ‘n baie lekker tuin hê. So bietjie soos ‘n woud,” sê my vriend die naweek vir my toe
ons van die perdestalle op hulle plaas terugstap huis toe. Hulle is reeds die sesde generasie wat op die spesifieke plaas bly.
Dit is nogal ‘n besondere daad van vertroue, het ek onmiddellik gedink. Om ‘n klein boompie te plant, te versorg met water, mis en liefde en die hoop dat, al sal jy bes moontlik nie eendag in sy skaduwee
kan sit nie, jou kinders dit sal kan doen. Dat jou kleinkinders aan sy takke sal kan swaai, onder hom kan speel.
Ons was onlangs op ‘n studietoer na Europa en ons het meer kerke besoek as wat ek ooit gedink het bestaan. Ek dink nie die konsep “klein kerk” bestaan in Europa nie. Elke kerk is groot. Ongelooflik groot.
En die detail is iets wat ‘n mens nie in een of selfs twee leeftye kan bou nie. Ook daar het ek onmiddellik gedink dat dit ongelooflike vertroue in jou toekoms veronderstel om as gemeenskap ‘n kerk te bou,
‘n monumentale stuk werk en bloot te vertrou dat jou kinders en kleinkinders en die geslagte na jou nog in so ‘n mate aan hulleself, hulle verlede en toekoms sal vashou, dat hulle die projek verder sal bou,
verder sal bou aan ‘n kerk. In Europa het dit dalk meer vertroue geneem om ‘n kerk te bou, as wat dit geneem het om ‘n boom in Afrika te plant. Maar die verskil is dat daar in Afrika steeds bome geplant
word, terwyl kerke in Europa, in my vriend Bernard Buys se woorde “museums” geword het.
‘n Mens kan bome plant, jy kan kerke bou. Of jy kan ‘n Orania bou.
Orania is eintlik niks meer as dit nie. ‘n Berekende sprong in die toekoms, ‘n vertroue dat ons kinders en kleinkinders dieselfde dinge as ons belangrik gaan vind. Maar Orania is dalk ‘n bietjie meer. Dit is
‘n manier waarop ons ons kinders kan grootmaak om wél dieselfde as ons te glo. Dieselfde dinge as ons belangrik sal vind.
Orania is meer as bome plant, Orania is meer as kerke bou. Dis nie net ‘n hoop, ‘n vertroue nie. Orania is ‘n manier waarop ‘n mens kan verseker. ‘n Toekoms vir jou kinders kan verseker.
Dalk kan mens dit ook omdraai, Nikke: Nikke, die mens, wat bome plant en kerke bou(en soveel hoop en vertroue het, dat sy begeesterd is) is ‘n seker manier waarop Orania gebou word en die aarde bewoon en bewerk word op ‘n verantwoordelike manier.
En dan kom daar weer ‘n ou gediggie van my in my kop:
Die stryd woed om ons volk se siel
ons harte, die Achilleshiel
Hoe harte klop?
…net U die tolk
Hier draai die wiel
met woord en daad in eiewaan
verbete met U Skeppingsopdrag saam
Ek vra aan U in Christusnaam
(ek wat in nikswees op moet gaan)
sien ons tog aan
sien ons tog aan
So mooi om die jonger garde so begeesterd te sien!