Wat leer COVID-19 ons oor magverspreiding?
Deur Tiaan Theron
Hoekom kan ons nie almal net verstaan en saamwerk en maak soos die president van ons vra en by ons huise bly en die inperkingsreëls gehoorsaam nie, en, en, en… ?
Wel, daar sal seker baie verskillende antwoorde op die vraag kan wees wat sal strek van burgerlike ongehoorsaamheid tot by praktiese onuitvoerbaarheid.
Vir my lê die antwoord op ʼn veel dieper vlak.
Kom ons kyk na Noord-Europa, ‘n streek wat bestaan uit 10 state met ʼn oppervlak en bevolkingsgrote rofweg 40% groter as SA. As ons die onbewoonbare ys streke weglaat kan ons die twee scenario’s goed vergelyk.
Veronderstel nou die president van Swede het sy land se maatreëls met betrekking tot Covid 19 op die ander 9 state in die streek probeer afdwing, hoeveel burgerlike gehoorsaamheid sou ons kon verwag?
Dit is nou in ʼn sogenaamde eerste wêreld omgewing en in vergeleke met SA, relatiewe homogene bevolkings. Almal hoë opvoedingspeile met hoë geskooldheid- en inkomste vlakke en tog uiteenlopende standpunte en sienswyses wat soms lynreg teenoor mekaar opgestel is.
Tenspyte van die ekonomiese geïntegreerde aard van die streek kies die verskillende bevolkingsgroepe in die onderskeie state steeds om self te besluit hoe hul gaan reageer op die krisis wat hul bedreig. Die eens magtige EU het skielik op die agtergrond geskuif en besluitneming is oornag gedesentraliseer met regerings wat die belange van hul state en plaaslike bevolkings vooropstel.
Die Suid-Afrikaanse werklikheid roep ten hemele vir presies daardie werkswyse. Een wat neerkom op die afwenteling van mag met stippellyn-grense wat groter jurisdiksie sal verleen aan plaaslike owerhede en nee, nie daardie tipe owerhede wat grense manipuleer en slegs geboortesyfers en demografie verreken nie, maar een wat wel geskoei is op identiteit en doeltreffend die uiteenlopende aard van belange en behoeftes akkommodeer.
Met so n federale grondslag wat ons besluitneming onderlê, sal SA ontdek dat sy praktiese uitdagings nie onoorkombaar en sy burgers nie so ongehoorsaam is nie.
Die idee van “presidente” wat alles vir almal moet wees het uitgeloop, die Sjinese kiem het dit kom uitwis.
Intussen, pas julle self op en bly gesond en weet daar is wel een plek onder die Afrika-son wat nie wag vir ander om besluitnemings-bevoegdheid na hul af te wentel nie, hulle neem dit, met of sonder toestemming, self op… Dankie Orania!
Die menings van die skrywers op die Oraniablog is nie noodwendig die menings van die Orania Beweging nie