fbpx

Die Orania Beweging beplan vir einde April tot middel Mei 2013 ‘n skakeltoer na Nederland, België, Duitsland, Switserland en Suid-Tirool in Italië.

Die bande met ondersteuners in Europa kom al ‘n rukkie saam met ons. Reeds in 2006 het Carel Boshoff (iv) en Frans de Klerk ‘n eerste Europese skakeltoer na Nederland, Vlaandere en Engeland onderneem om eerste kontakte aan te knoop met organisasies en partye wat die saak van Afrikaner-selfbeskikking goedgesind is en om Orania en sy strewe bekend te stel. In Nederland is die Nederlands-Zuid-Afrikaanse Vereniging (NZAV) en die Nederlands-Zuid-Afrikaanse Werkgemeenskap (NZAW) besoek en toegespreek, in Vlaandere (België) is kontak gemaak met die politieke party Vlaams Belang (VB), wat ook staan vir selfbeskikking van ‘n volk en wat ‘n sterk verteenwoordiging in die Belgiese en Vlaamse parlement het, asook met die Vrienden van Suid-Afrika (VVS). Afrikaners in Engeland wat bande met en belangstelling in Orania het, is ook besoek en ‘n ondersteunersgroep uit uitgewekene Afrikaners is in Engeland gevestig en lede daar gewerf.

Die eerste kontakopname in 2006 is in 2010 opgevolg deur ‘n hernude skakeltoer van Frans de Klerk en Rian Genis na Nederland, België, Duitsland en Suid-Tirool. In Nederland is die NZAW weer besoek en voor ‘n groter gehoor gepraat en is samesprekings gevoer met die Staatkundig Gereformeerde Party wat ook in die Nederlandse parlement verteenwoordig is. In Vlaandere is die bande met die VB verstewig. Die kontak met Suid-Tirole het onstaan deur twee broers, Christoph en Florian von Ach, wat op ‘n stadium net uit belangstelling Orania besoek het en met inwoners in kontak gekom het en waar die ooreenstemming van die stryd om erkenning en kulturele handhawing ooglopend was. Vir Frans en Rian was die besoek aan Suid-Tirool ‘n openbaring omdat die Suid-Tirolers ook ‘n klein minderheid in ‘n kultureel en taalkundig ander land (Italië) is. Ook verteenwoordigers van die VB en ander organisasies het Orania in die tussentyd besoek.

Die uitvloeisel van die tweede besoek was al taamlik tasbaar: daar is duisende Euros se donasies verkry vir maatskaplike bouprojekte soos die opgradering van Elim, die Nerina-woonstelle vir jong vroue en gesinne en die deurgangshuise vir mense sonder heenkome. ‘n Ander praktiese uitvloeisel was die “ambassadeursprogram”. Ondersteuners in Duitsland en Suid-Tirool het Orania-belange- en drukgroepe gestig wat ons saak in die onderskeie lande bevorder. Soortgelyke inisiatiewe in ander lande is in voorbereiding.

Met die aanstaande skakeltoer in April en Mei vanjaar sal die bestaande bande met die genoemde organisasies verder verstewig word. Hierdie keer is dit ook nie meer ‘n tweeman-afvaardiging van Orania nie, maar ‘n groep van 12 mense uit verskeie oorde wat saamgaan.

Die besoek vorm deel van die “verinternasionalisering” van ons strewe. In die era van globalisering waar ons deur middel van internet, selfone en sateliettelevisie van bykans enige nuusgebeurtenis in elke uithoek van die wêreld weet, kan geen strewe meer in isolasie plaasvind nie. Die druk van die “wêreldopinie” deur middel van Twitter en Facebook en allerhande elektroniese petisies en boikotte speel ‘n al hoe groter wordende rol.

In die verlede, en ongelukkig ook nog in ‘n mate vandag, was die swak beeld van Orania ons achilleshiel. Ons kon gedoen het wat ons wou, die plaaslike media was ons sleg gesind en het Orania afgekraak waar hulle kon. Ook buitelandse media het gewoonlik negatief oor Orania berig, in ‘n soort instinktiewe onkritiese vereenselwiging met die nuwe bewind. ‘n Negatiewe beeld keer dat mense ons ondersteun. Sonder steun kry ons geen beleggings, geen nuwe intrekkers en geen donasies nie.

Die “verinternasionalisering” van ons saak is van uiterste belang. Trouens, dit was een van die Afrikaner se groot leemtes, dat hulle hulle strewe in die verlede nie oortuigend kon verduidelik nie en die veld oorgelaat het aan die ANC en sy trawante.  Suid-Afrika se vorige bewind het in ‘n beduidende mate tot ‘n val gekom weens internasionale druk wat die ANC en ander sogenaamde bevrydingsorganisasies toegepas het. Die internasionaal erkende en gevierde beweging wat die ANC in die 1980’s was, was dit nog nie in die 1950’s en 1960’s nie. Daar is hard gewerk om die ANC se ondersteuning uit te brei van die “logiese” ondersteuners soos die kommunistiese lande en die meeste Afrika-lande na Westerse lande soos die VSA en die lande van die Europese Unie. Die ANC kon slaag om hom te bemark as die natuurlike verteenwoordiger van die meerderheid en die aangewese regeerder, omdat dié beweging die welvarende en invloedryke polities gematigde Westerse nywerheidslande kon oortuig van sy saak. Sanksies teen die ou bewind was eers regtig pynlik toe die Westerse lande, met wie Suid-Afrika sterk handelsbande gehad het, dit begin toepas het. Sanksies van Afrikalande of kommunistiese lande, met wie daar min handel was, was daarteenoor geen noemenswaardige faktor nie.

Ons ondersteuningsbasis is nog klein, maar dit brei met elke besoek uit en word goed instand gehou deur opvolgkommunikasie. Die fondse wat ons reeds ontvang het vir ontwikkeling is van groot waarde. Die moontlikheid bestaan van beleggings wat die relatief klein bydrae wat Afrikaners tans nog in Orania belê het, sal kan oorskadu, veral met die veel sterker Euro. OSK (Orania se kooperatiewe bank) se rentekoerse is baie hoog in vergelyking met ‘n feitlike nulkoers wat Europese banke gee en Orania is ‘n groeiende ekonomie, terwyl meeste Europese lande stagneer maar nog heelwat opgegaarde beleggings rondlê en wag vir ‘n doel.

In ‘n vorige rubriek het ek reeds die diplomasie van Orania verduidelik. Die skakeltoer is deel daarvan en gemeet aan die sukses wat die twee vorige skakeltoere, wat nog klein was, reeds bereik het, is hierdie toer ‘n goeie belegging in ons saak.