fbpx

Oor wie en wat Orania is, is daar al baie gepraat en geskryf en selfs baklei. Dis nie ’n eenvoudige konsep nie, want watter gemeenskap is eenvoudig? Soveel te meer ’n uitsluitlik Afrikanergemeenskap in die Nuwe Suid-Afrika! Daar lê ’n mynveld vol uitdagings en probleme voor Orania as dorp en ook voor elke individu of gesin wat van Orania en sy gemeenskap ’n tuiste wil maak. Die eersgenoemde is dikwels juis die rede vir die eerste uitdaging wat die individue en gesinne moet oorkom. Ek onthou die skok wat baie mense beleef het toe ek en my gesin ‘n bietjie meer as twee jaar gelede besluit het om na Orania te verhuis.

Persepsies oor Orania, reg of verkeerd, maak dat mense, en veral jong werkendes, baie negatief oor Orania dink. Isolasie en eensaamheid, verarming, politieke ekstremisme en sommer net agterlike vreemdheid is die eerste dinge waaraan die meeste mense wat nog nooit hier was nie, dink. Baie sien in hul geestesoog ’n stowwerige dorpie in die woestyn waar die tolbosse in die strate waai en bebaarde manne in kakieklere, kompleet met bandoliers en haelgewere, die hekke en reuse mure (wat nie bestaan nie) rondom die dorp bewaak. ’n Prentjie so uit die anti-Afrikaner rolprent van 2002, “Promised Land”.

Die eerste ding wat die Orania Pioniers vir nuwe intrekkers met reg vertel, is dat Orania nie die hemel is nie. Om hier te lewe, verg harde werk, opofferings en aanpassings. Toe ek hier gekom het, het ek gedink dit is omdat Orania so ’n abnormale plek is. Met tyd het ek besef dit is omdat die res van Suid-Afrika so dramaties abnormaal is. Meer hieroor later.

Is Orania ’n vlugtelingekamp vir verbitterde Afrikaners en sosiaal wanaangepaste jong werkendes? VIR SEKER NIE. Ja, daar is dié wat met hierdie redes hierheen kom. Die Orania-realiteit is egter dikwels te veel van ’n uitdaging vir dié wat nie weens beginsels en met ’n positiewe gesindheid hierheen kom nie.

Orania is nie ’n plek vir mense wat ten alle koste ryk wil word nie. Dis nie ’n plek vir selfgesentreerde mense nie. Dis nie ’n plek vir dié wat nie hou van uitdagings en veranderings nie! Een van Orania se grootste uitdagings is juis die vermoë om aan te pas by veranderings! Om nuut te dink en aan te pas by nuwe maniere van doen, is deel van elke Oraniër se daaglikse lewe. Van die aanleer om jou eie vullis te herwin en die gebruik van volkseie arbeid tot die skep van kreatiewe nuwe strukture en werkswyses om die samelewing en gemeenskap beter te laat funksioneer.

Baie dink dat Orania ’n aftreeoord is, ’n plek vir die ouer geslag. Ja, hulle is die oues wat die wysheid bring en ’n baie belangrike rol speel in die stabiliteit van ons gemeenskap. Dit is egter ongetwyfeld die jong werkende Afrikaners wat die meeste by Orania kan baat.

Orania is die perfekte plek vir jong gesinne. Hier is uitstekende skole wat hoogstaande gehalteonderwys aan kinders bied. Sedert die ontstaan van Orania spog ons met ’n 100%-slaagsyfer. Dit is ’n veilige omgewing waar kinders buite kan groot word en tot na donker met vriende in die strate kan baljaar. Daar is nie ’n plek in Suid-Afrika waar kinders meer met buitelanders, toeriste en joernaliste te doen kry nie. Dikwels besoek hierdie mense juis ook die skole om te sien en hoor wie Orania se kinders is.

Orania is ’n plek vir jongmense wat hou van kuier! Oraniërs hou van kuier en sosiale byeenkomste. Soms is dit ’n lentedans waar die hele dorp byeenkom en soms is dit ’n braai saam met vriende by iemand se huis. Ander kere is dit dalk ’n paar drankies by De Boer* saam met een of ander toeris wat niemand ken nie, of ’n verslaggewer wat wil weet hoe lyk Afrikanerkultuur. Afrikaners is plesierig! Gasvryheid was oor al die jare deel van ons identiteit. Op Orania kan hierdie belangrike deel van Afrikanerwees weer tot sy reg kom. Wie eers eenmaal Nuwejaar op Orania gevier het, kom altyd terug vir nog.
Orania is ’n plek vir jong professionele mense. Vir dié wat kreatief kan dink, entrepreneurskap aan die dag kan lê en bereid is om klein te begin en groot te droom, kan Orania die beste plek wees om te begin of óór te begin. Anders as plekke soos Johannesburg, Durban, Kaapstad en vele ander word rykdom nie hier net gemeet in rand en sent nie, maar ook in lewenskwaliteit en werksbevrediging. As geldmaak alleen jou doel is, los Orania eerder as opsie. Tog, as ‘n mens in gedagte hou die besparing in sekuriteit, brandstof gesondheidsorg en ander kostes wat nie in Orania nodig is nie, raak Orania vinnig ’n sinvolle finansiële opsie. Verder is Orania ’n groeiende dorp. Dié wat vandag belê in Orania, sal môre die vrugte pluk. Anders as ander plekke is elke uur se arbeid in ’n eie besigheid ook ten bate van Orania en ons selfbeskikkingsideaal. Die dividende hierop is groei in kliënte, dienste en infrastruktuur omdat elke suksesvolle besigheid meer vertroue in Orania kweek en sodoende nog nuwe intrekkers lok.

Orania is ’n plek vir die Afrikaner-Nasionalis. Na 1994 het Afrikaners, en veral jong Afrikaners, totaal belangstelling in Afrikaneraktivisme en Afrikanernasionalisme verloor. Miskien het ons asem opgehou om te sien of die Nuwe Suid-Afrika nie dalk gaan werk nie. Die skrif is egter aan die muur vir Afrikaners in die post-’94-Suid-Afrika. Daarom sien ‘n mens al meer Afrikanernasionalisme en aktivisme onder Jong Afrikaners. Ons wil weer ’n verskil maak! Ons wil ’n tuiste vir ons kinders skep! Orania bied ’n baie besondere geleentheid vir aktiviste en dié wat wil werk aan selfbeskikking vir Afrikaners. Nie net kan ‘n mens in Orania aktief bydra tot die uitbou van ons ideaal nie, maar hierdie ideaal word hier ook uitgebou deur elkeen se dag-tot-dag-bestaan. Elke steen wat hier opmekaar gesit word, bou ook aan ’n Orania-werklikheid wat nie weggewens kan word nie. Met elke Rand en Ora wat in ’n winkel spandeer word, bou ons aan ‘n interne ekonomie en dra ons by tot ons groei en dus ons ideaal. Selfs elke gesellige saamkuier dra by deur ons gemeenskap sterker te maak. Waar anders kan mens ’n braai hou, inkopies doen en jou gewone dagtaak verrig tot uitbou en voordeel van ons Afrikanertoekoms?
Al hierdie dinge maak dat Orania vir baie mense na ’n vreemde plek lyk, mal mense wat alewig groet, nie hulle huise sluit nie en ‘n vreemde werksetiek het. Om nie te praat van die vreemdheid om Afrikaner-manne en -vroue as arbeiders te sien nie.

Maar is dit nie hoe dit veronderstel is om te wees nie? Is gasvryheid en vriendelikheid nie ’n Bybelse opdrag nie? Is ons nie veronderstel om in vrede en veiligheid te bly nie? Is ons nie veronderstel om vir meer as geld te leef en te werk nie? En die arbeid kwessie: Waar anders as in Suid-Afrika sien ‘n mens dat een deel van die bevolking reken hy is te goed vir ‘n sekere tipe werk? Dit terwyl bykans 20% van ons Afrikanerbevolking werkloos en verarm is.

Nee, Orania is normaal!
• Suid-Afrika is die vreemde plek waar nors mense nie bereid is om die nuwe buurman te ontmoet of te bang is om die vrou met die gebreekte voertuig langs die pad te help nie.
• Suid-Afrika is die vreemde plek waar misdadigers vry rondloop en wetsgehoorsame mense in “tronke” woon.
• Suid-Afrika is die vreemde plek waar mense vir 4 tot 6 uur in verkeer sal sit, hul kinders net na bedtyd sien en hartaanvalle en hoë bloeddruk op 40 kry. En dit vir ’n groot salaries!
o Daai salaris koop dan ’n luukse voertuig omdat ‘n mens 25% van mens se lewe in hom moet deurbring.
o Daai salaris betaal dan vir kinderoppassers, dagmoeders, nasorg en koshuisfooie omdat ons nie self daar kan wees vir ons kinders nie. Ons moet mos werk!
o Daai salaris word spandeer om meer tralies aan ons “tronke” te sit en ons en ons kinders se mediese kostes te betaal.

Ja, Orania is sekerlik nie die hemel nie, maar darem is Orania die normaalste plek in Suid-Afrika. Vir die jong Afrikaner wat normaliteit soek, is Orania die beste plek om ’n lewe te maak. Hoe meer jy vir Orania gee, hoe meer gee hy vir jou terug!

*Plaaslike uithangplek