fbpx

2781Tydens die Slag van Wene in 1683 is die groot opmars van die Ottomane na Wes-Europa gestuit. Die Moslem Ottomane het uit die ooste gedreig om die hele Europa oor te neem. Sou die Ottomane die Slag van Wene gewen het, sou hulle maklik die res van Wes-Europa kon verower en sou Europa ’n Moslemvasteland word.

Die afgelope Sondag was Wene weer in die nuus. Terwyl presidentsverkiesings in Oostenryk meestal rustige gebeurtenisse is waar daar meer op persoonlikhede as op politiek gefokus word, was Sondag se presidentsverkiesing iets heeltemal anders. Norbert Hofer van die Vryheidsparty van Oostenryk, ’n anti-immigrasieparty, het die eerste ronde van die presidentsverkiesing gemaklik met 37% van die stemme gewen.

Hofer is uitgesproke teen Moslemimmigrasie en het sy veldtog gebou op ’n boodskap van die gevaar van Moslemimmigrasie en oop grense. Terwyl Barack Obama Sondag in Hannover, Duitsland vir Angela Merkel oor haar oopgrensebeleid geloof het, het die mense van Oostenryk ’n harde boodskap vir swak leiers wat onbeheerde Moslemimmigrasie wil toelaat, gestuur. Dieselfde het onlangs in verkiesings in Duitsland, Nederland en Denemarke gebeur.

Net soos in 1683 is Wes-Europa toenemend onder beleg. Miljoene Moslems uit Noord-Afrika en die Midde-Ooste stroom Europa reeds vir jare binne. Anders as die aanslag van die Ottomane in 1683 vind die huidige aanslag geleidelik plaas. Terwyl die wêreld wys gemaak word dat die miljoene immigrante vlugtelinge uit Sirië en Afghanistan is wat net tydelik in Europa gehuisves gaan word, raak dit duidelik dat die meeste immigrante jong Moslemmans uit ander lande as Sirië of Afghanistan is.

Teen die huidige tempo van Moslemimmigrasie sal Europa binne enkele dekades ’n meerderheid Moslembevolking hê. Talle groot stede soos Amsterdam, Rotterdam, Stockhölm, Brussel, Antwerpen, Marseille en Birmingham het reeds Moslembevolkings van meer as 20%. Hierdie syfers reken die vlaag van immigrante wat verlede jaar na Europa gestroom het uit.

In onder andere Londen, Amsterdam, Brussel, Antwerpen en Stockhölm is Mohammed deesdae volgens amptelike statistieke die gunsteling naam vir babas. Moslemvroue in Europa kry twee tot drie keer soveel kinders as Europese vroue. In Duitsland sal die Moslembevolking binnekort die aantal Duitsers jonger as 18 ewenaar.

Die Amerikaanse navorsingsinstelling Pew Research het onlangs ’n verslag oor die tendense met die Moslembevolking in Europa bekend gemaak. Hoewel hierdie verslag ook nog nie die vlaag van immigrasie oor die afgelope jaar of twee in ag neem nie, dui dit veral op die feit dat Moslemimmigrante jonger as die Europese bevolking is. Die gemiddelde ouderdom van Moslems in Europa is tans 32 terwyl die gemiddelde ouderdom vir ongelowiges 37 en vir Christene 42 is. Pew Research voorspel dat die Moslembevolking in Europa tot minstens 58 miljoen teen 2030 gaan styg.

Terwyl talle Europese leiers ten gunste van hierdie verswelging is, staan gewone Europeërs op en sê hard en duidelik NEE. Sondag se verkiesingsuitslag in Oostenryk kan dalk net die keerpunt wees. Volgende jaar sal die Franse, Nederlanders en Duitsers nuwe regerings verkies en dit sal die kans bied vir gewone Europeërs om soos in 1683, hierdie keer net met hul kruisies, Nee te sê vir ’n Moslemoorname van Europa.