fbpx

 

Tensy ons wil hê dat ons kinders eendag op ’n reusagtige ashoop woon, moet ons ons deel doen en herwin waar ons kan. Ons mag wel nie kan verander hoe die mensdom lewe nie, maar ons kan wel verander hoe dinge in ons eie huishoudings gebeur.

’n Ou man stap op die strand en kom op ’n jong seun af wat besig is om gestrande seesterre terug in die see te gooi. Die ou man bekyk die spul so ’n rukkie en vra dan vir die seun: ‘Hoekom mors jy jou tyd, daar is tog so baie van hulle, hoe kan jy ooit ’n verskil maak?’ Die seun tel nog ’n seester op en met die gooi sê hy: ‘Ek maak ’n verskil aan hierdie een’.

Met die gedagte dat so min van ons hulpbronne as moontlik ons perseel behoort te verlaat, hier is wat om met hulle te doen ter voorbereiding van jou kostuin:

 

  • Metaal: blikkies, spykers en ander skrootmetaal: vir die bodem van die groentetuin beddings.
  • Nie-glans koerantpapier en karton: bo-op die gras wat jy wil omskep in ‘n groentetuin en vir die komposhoop.
  • Jogurt- en margarienhouers en plastiekbottels: sit dreineringsgate in en gebruik hulle om saailinge te groei.
  • Hout: verbrand stompe en takke en sit die as op die komposhoop
  • Ongekookte kombuis vrugte – en groenteafval, eierdoppe, koffiemoer en teeblare: vir die komposhoop of klein gesny as deklaag
  • Met ‘n wurmdrom kan jy gekookte kos, nie geskik vir die komposhoop nie, herwin. Jou erdwurms sal doodgelukkig hul pad deur jou muwwe brood, yskas kosoorblyfsels en selfs gisteraand se pizza eet. Hulle verwerk tot hulle eie liggaamsgewig in een dag!

 

Op my kombuistoonbank het ek twee bakke: een vir die komposhoop en een vir die voëltafeltjie en wurmdrom. Drie groot emmers staan daaronder gereed vir herwinbare vullis saam met ’n klein asblikkie – al wat nodig is vir dit wat oorbly.

0 Comments

Submit a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

eighteen − 17 =