fbpx

deur dr Wynand Boshoff

Selfbeskikking: Selfstandigheid in groepsverband

Mens hoor soms die aanspraak: “My plaas is my volkstaat!” of “Ek het selfbeskikking, want ek gebruik boorgatwater, sonkrag en ek het my eie besigheid”.

Dit is baie goed, maar die eintlike beskrywing daarvoor is selfstandigheid – wanneer mens binne redelike perke – self jou lot kan bepaal.

’n Bekende skrywer oor persoonlike finansies skryf dat mens rykdom nie bepaal deur hoeveel besittings jy het nie, maar hoe lank jy kan aangaan as jy vandag ophou salaris trek.

Dit illustreer die punt: Selfstandigheid is ’n persoonlike saak; en selfbeskikking is selfstandigheid binne groepsverband.

’n Tuisskoolgesin is selfstandig. ’n Gemeenskapskool is selfbeskikking.
’n Goed beskermde erf is selfstandig. ’n Buurtwag is selfbeskikking.
“Off the grid” is selfstandig. ’n Dorp met sy eie kragnetwerk is selfbeskikking.
Rykdom bring selfstandigheid. Om belasting te hef en te bestee is selfbeskikking.

Selfstandige mense kan makliker deel word van ’n gemeenskap wat selfbeskikking beoefen. Iemand wat moet wag vir ’n pos wat oopgaan, vind dit moeiliker. As selfbeskikking ’n huis is, is selfstandige gesinne boublokke daarvan. Onselfstandige gesinne ook, dis net moeiliker om met hulle te bou.

Selfbeskikking het ’n politieke faset, wat selfstandigheid nie noodwendig het nie. Die Griekse woord waarvan politiek afgelei is, beteken “van, vir, of met betrekking tot die stad (polis)”. Met ander woorde, dit gaan oor wat openbaar of gemeenskaplik is, in teenstelling met dit wat privaat is.

Die deelnemers aan ’n gemeenskapskool dink heel moontlik nie dat hulle met selfbeskikking besig is nie; net dat hulle saam aan hulle kinders se toekoms werk. Daarom sal hulle soms heftig aanspraak maak dat “politiek geen rol in die skool te speel het nie”.

Tot die skool op een of ander punt teen die onderwysdepartement te staan kom; wanneer ander se politieke denke afgedwing word. Onwillekeurig hunker mens dan na politieke mag; oftewel, die vryheid om te handel.

Dit is duidelik dat selfbeskikking strek van die plaaslike buurtwag tot ’n onafhanklike staat. Watter mate van selfbeskikking mens wil uitoefen en watter mate mens kan, hang van baie dinge af. Volgende bring ons ’n dowwe beeld van selfbeskikking in fokus, deur na vorme daarvan te kyk.

Die menings van skrywers weerspieël nie noodwendig die mening van die Orania Beweging nie.