Ek is ’n nuwe intrekker op Orania, maar net 5 maande hier. Benewens die soektog na doelgerigte gemeenskap het Orania se omgewingsvriendelikheid – ‘groen’ gesindheid my hiernatoe getrek. My man en ek woon hier op ’n 1 hektaar stukkie karooparadys met volop grondwater en sonkrag. Ons gryswater lei ’n gedeelte van ons land nat, waar ons binnekort vrugtebome wil begin aanplant. Ons het so pas ons skadutonnel klaar gebou, die komposhope lê gereed en nou is daar geen verskonings meer oor om nie met alle erns te begin groente plant nie.
Ek neem jou graag saam met my op my reis na selfstandigheid en voedselsekerheid binne die raamwerk van permakultuur. Tegnologiese vooruitgang, wonderlik as wat dit is en hoe baie die mensdom ookal daaruit voordeel getrek het, het ons van ons eie wortels losgesny. Ons het ons natuurlike verbinding tot ons Aarde en daarmee ons respek vir haar verloor. Ons buit haar nou kortsigtig uit en offer haar op aan die god van kapitalisme. Ons het so ver wegbeweeg van dit wat vir ons natuurlik behoort te wees, dat ons ‘n ingewikkelde term soos permakultuur moes ontwikkel om te her-aanleer, wat ons grootouers as alledaags aanvaar het.
Permakultuur beteken natuurlike hulpbronbewerkingsmetodes wat blywend lewensvatbaar, dus volhoubaar is. So sal ons Aarde aan die gesondheid en fisiese welsyn van die huidige geslag sowel as die van toekomstige geslagte sal kan voorsien.
Dit is ‘n ingesteldheid van vrywillige spaarsaamheid binne ‘n geslote stelsel. Ons mag wel die geld hê om vir groot water en elektrisiteitsrekeninge te kan betaal, maar dit stel ons nie vry van die verantwoordelikheid teenoor ons Aarde se beperkte steenkool en water hulpbronne en om hulle dus spaarsaam en met wysheid te gebruik nie. ‘n Geslote stelsel beteken dat ons ons hulpbronne so lank as moontlik deur herbenutting and hernuwing behou. Ons probeer om byvoorbeeld water en organiese materiaal op ons persele te behou.
Meer oor hoe ek tot dusver vaar teenoor bogenoemde standaarde volgende keer.
Gaby
Dit is fantasties dat die hoeveelheid mense wat kos op ‘n gesonde manier verbou toeneem.
Daar is genoeg van alles in die wêreld vir almal as os leer om dit oordeelkundig gebruik.
Geluk met jul inisiatief Gaby. Alle voorspoed word u toegewens.
Gaby, ons sien uit daarna om te hoor hoe julle vorder!
Mooi, julle stel ‘n voorbeeld dat permakultuur nie net ‘n gonswoord is nie.
Surely this is the way forwards for all man kind as our resources dwindle! Great to know that some have their eyes on our future.
Dis mos nou kultuur!
Dankie vir die publikasie en gedagtes oor dié onderwerp. Ek het sopas ‘n engelse podgooi geluister hieroor en het gewonder hoe ek die idee in Afrikaans kan oordra.