Die Orania Beweging en dié organisasie se president, Carel Boshoff, word by onlangse sensasionele mediaberigte genoem, ons reageer graag op hierdie bewerings.
Klagtes teen die president is onmiddellik hanteer
Dit is inderdaad die geval dat ʼn voormalige werknemer klagtes gelê het, soos wat deur Netwerk24 berig word. Die Orania Beweging het egter dadelik op hierdie klagtes reageer deur ʼn onafhanklike ondersoekpaneel aan te stel om dit te ondersoek. Die paneel het onder andere ʼn professionele forensiese ouditeur ingesluit, wat elke bewering met groot deeglikheid kon deurvolg. Die Uitvoerende Raad het juis die proses met soveel deeglikheid hanteer om seker te maak dat die klagtes op die regte wyse hanteer word.
Niemand is skuldig aan korrupsie nie
Die ondersoekspan het na ʼn deeglike ondersoek bevind dat nie die President van die Orania Beweging of enige ander personeellid hulle aan korrupsie skuldig gemaak het nie. Daar is wel bevind dat die bestuurstelsels leemtes laat en dat prosesse van stapel gestuur moet word om interne stelsels te verbeter. Die paneel het ʼn reeks aanbevelings gemaak wat betref hoe hierdie stelsels verbeter kan word, en dit na die Orania Beweging se Burgerraad verwys. Die Burgerraad vergader in Mei en die implementering en afhandeling daarvan is tans nog in proses. Dit is ook belangrik om te noem dat die Burgerraad in Februarie na ʼn skoon oudit die Orania Beweging se finansiële state goedgekeur het. Die tweedehandse voertuig wat aangekoop is, is baie spesifiek vir Carel en ander personeel se werksverwante ritte.
Die saak is buite konteks en voortydig aan die media gelek
Dit is betreurenswaardig dat ʼn persoon ʼn onafgehandelde saak sonder die nodige konteks na die media sou stuur en die motief hiervoor kan slegs as kwaadwillig beskou word. Die indruk wat die mediaberigte skep is dat oortredings van ʼn baie ernstige aard begaan is wat nie die geval is nie. Die mediaberigte het die potensiaal om die Orania Beweging groot skade te berokken. Die onderskeid tussen die Orania Beweging en Orania as dorp is belangrik, aangesien die twee afsonderlike instellings is.
ʼn Deursigtige en deeglike afhandeling
Die Orania Beweging verseker graag alle lede en belangegroepe dat ons omslagtig en deursigtig met ledegeld omgaan. Ons sien uit na die volledige afhandeling van die hele proses en daar sal deurlopend terugvoer gegee word aan belanghebbendes. Die Orania Beweging bedank ons lede vir hulle ondersteuning en positiewe reaksie.
Sarel Roets
Visepresident: Orania Beweging
082 481 0691
________________________________________