’n Tuin vir natuurlewe
Dis amper lente en ek sif my kompos om die beddings vir die volgende groeiseisoen gereed te kry. Die voëls hou my nuuskierig dop en party het so mak geword, dat ek moet oppas om hulle nie met my kruiwa raak te ry nie soos wat hulle na insekte en larwes op soek is.
Ons maak tuin om iets moois rondom ons te hê, maar met ’n bietjie beplanning kan ons tuine ook ’n hawe vir voëls, skoenlappers en ander gelyksoortige welkome besoekers word. Probeer na jou tuin kyk deur die oë van die wesens wat jy wil aanlok. As jy hulle taal sou kon verstaan, sou jy hulle hoor vra vir 5 verskillende biotope in jou tuin.
- Die oordekte gang: ‘n ry hoë bome en struike naby aan mekaar geplant sodat hulle veilig van een deel van jou tuin na die ander kan beweeg – of na die bure toe vir ’n gesellige kuiertjie.
- Die uitsluitingsgedeelte vir die skamer besoekers, geleë in die deel van die tuin wat die verste weg is van menslike aktiwiteite. Dit word dig aangeplant en so onversteurd as moontlik gehou. (Nou het dié van ons wat nie by ons tuine uitkom darem ten minste ’n verskoning: Ons hele tuin kan sommer ’n uitsluitingsgedeelte wees.)
- Die vleigedeelte met ’n dammetjie, omring deur inheemse waterplante vir die waterliewende wesens.
- Die sandbad waar voëls jou sal vermaak as beloning vir jou inspanning.
- Die oop gedeelte beplant met grasse en laag-groeiende grondbedekkers.
Jy het nie ’n yslike groot tuin nodig om dit te kan bereik nie. Dit is net ’n kwessie van die skaal en verhouding aan te pas by wat jy beskikbaar het. Kies ’n wye verskeidenheid plante wat gedurende verskillende tye van die jaar blom en vrug om die hele jaar kos aan jou loseerders te kan voorsien.
Liewe Gaby, ek dink jy weet van die wonderlike boek wat beskikbaar is en die idees wat jy hier promoveer, in detail bespreek. Eintlik is dit ‘n moet om aan te skaf: LOK NATUURLEWE NA JOU TUIN IN S.A. deur Roy Trendler met manjefieke foto’s deur Peter Chadwick.
Mag ons spoedig daarby kom om weer die natuur om ons blyplekke te vestig.
Innige groete en baie sterkte,
Revo.