fbpx

Deur Victor Correia

Etenstyd

Hoewel huisgodsdiens die belangrikste is, is dit raadsaam om die dag te begin met ’n goeie maaltyd. Kindertjies wat nog nie weet hoe om vir hulself te sorg nie, is gewoonlik na ’n lang nagrus baie honger. Etenstyd gaan oor meer as net jou maag. Dit is oor die algemeen ’n geleentheid om as gesin saam te wees, goeie maniere te leer en die tyd saam te geniet. Met kindertjies gaan dit maar rof. Daar beland soms meer kos op die grond as in kinders se magies, maar dit is altyd groot vreugde om te sien hoe die grootste trane kan opdroog as kinders begin smul aan ’n heerlike bord kos. Begin dus die dag met ’n heerlike bord kos.

Huisgodsdiens

’n Mens moet jou dag reg begin, maar met kinders is dit soms ’n groot uitdaging. Wanneer ’n mens se lewe gejaag is, word dit maklik afgeskeep. In grendeltyd het ons nie ’n verskoning om nie saam as gesinne Bybel te lees, te bid en ja, ook saam te sing nie. Tydens huisgodsdiens word die Woord van God in ons kinders ingeskerp. Waardes word hierdeur van een geslag na die volgende oorgedra. Na huisgodsdiens is daar geleentheid om daaroor te praat, gesinskonflik te bespreek en voortdurend selfondersoek te doen. Ouers wat nie erns maak met huisgodsdiens nie, moet nie verbaas wees as hul kinders eendag self nie erns met hul godsdiens maak of die geloof afsê nie.

Werktyd

Met ’n vol maag en roepingsbewustheid wat deur huisgodsdiens opgeskerp is, kan die werkdag aangepak word. Hoewel grendeltyd sekerlik ’n groot impak op mense se gewone werksaamhede het, kan die tyd ’n uiters produktiewe tyd wees. Ons maak ’n groot fout om te dink dat mense nie effektief van die huis af kan werk nie. Mense wat ’n roepingsbesef het, kan dalk selfs meer produktief in hul eie huise wees as wat hul by die werkplek sou wees. Hoewel sommige mense ’n baas nodig het om om te sien na hul werk, moet dit nie veralgemeen word nie. Die 8-5 werkdag is heel moontlik nie meer vir almal die beste manier om te werk nie. Wie kan in elk geval konstant kwaliteit werk lewer?

Indien iemand regtig effektief wil werk, kan dit in verskillende werksessies opgebreek word. In plaas van die 8-5 werkdag kan ’n werkdag in verskillende sessies opgedeel word. Ma en pa kan mekaar aflos. Terwyl die een ’n breek vat kan die ander een werk. So gesien is ’n mens feitlik heeltyd by die werk, maar ook heeltyd by die huis. Diegene wat meen dat dit nie waar is nie, moet nie vergeet van die twee ure wat elke dag in verkeer verlore gaan as ’n mens ’n vaste werksadres het nie.

Speeltyd

Die lewe van werk, werk en nogmaals werk kan sy tol eis. Buiten die feit dat dit nodig is om met jou kinders te speel, dien dit as noodsaaklike afleiding sodat jy weer ten volle op jou werk kan fokus wanneer jy weer daarmee begin. In plaas daarvan om ’n koffiebreek te neem en met ’n kollega by die werk oor koeitjies en kalfies te gesels, kan jy in jou breektyd met die kinders speel. Dit verlig die werkspanning sommer vinnig.

Opruimtyd

Nadat daar lekker deur die dag gespeel is, is dit tyd om op te ruim. Dit is hier belangrik om self  op te ruim, want deur dit te doen sien kinders hulle ouers opruim en leer so. Selfwerksaamheid begin by die huis. Ouers wat hier vir hulle kinders die regte voorbeeld stel, sal spoedig sien dat hul kinders self hul deel in die huis begin doen. Kindertjies leer veral deur te sien wat hul ouers doen. Indien ouers self die dissipline aan die dag lê om hul eie huis skoon te maak gaan kinders leer om ook self skoon te maak. Die ouer wat self te lui is om skoon te maak, kan nie met gesag vir hul kinders beveel om hul kamers skoon te maak nie.

Veral as ’n mens ’n slegte werkdag agter die rug het, help dit om klein suksessies by die huis te behaal. Wanneer ’n kombuis, ’n tuin of ’n badkamer opgeruim word, verskaf dit tog ’n mate van werksvervulling. Op ’n sielkundige vlak is dit wel belangrik, omdat ’n mens ten spyte van die slegte werkdag met jou oë kan sien dat jy wel iets goed gedoen het.

Slaaptyd

Na ’n dag wat jy saam met jou kinders bestee het, is jy dalk pootuit. Maak dit deel van jou roetine om na die aandgodsdiens die kinders in die bed te sit. Lees ’n storie of doen iets wat vir julle gesin werk. Dit is nie ’n goeie idee om kinders voor die televisie aan die slaap te laat raak nie. Inteendeel, dit is bewys dat dinge soos selfone en TV-skerms se lig kinders langer kan laat wakker bly. Skakel dus eerder die huis se ligte af sodat almal kan rustig raak.

Grendeltyd

Grendeltyd het baie ouers gedwing om meer tyd saam as gesinne te bestee. Vir sommige was dit goed, maar vir ander heel sleg tot op hede. Vir dié wat dit geweldig uitdagend tot op hede ervaar het, is daar wel hoop. Die grendeltyd is nog nie verby nie en as dit tans sleg gaan moet ons eerlik vra of ons dalk nie self daartoe bydra nie.

Dit is nodig om in hierdie tyd oor ons gesinslewe te besin, want as ons kyk na die toename in egskeidings onder Afrikaners sê dit vir ons dat ons wel dinge het om reg te stel. Een ding wat ons definitief kan doen is om meer tyd as gesinne saam te bestee. Dalk word grendeltyd juis aan ons gegun sodat ons in die tyd gesinsverhoudinge kan versterk.

Kwantiteit troef kwaliteit tyd

Een van die mites wat daar oor ouerskap vertel word, is dat kwaliteittyd met kinders beter is as kwantiteit. Ouers wat dink dat hul heeldag kan werk en in die aand ’n paar ure kwaliteittyd saam met hul kinders kan bestee misgis hulself. Dit is juis kwantiteittyd wat vir kinders belangrik is. Kinders wil net hê hul ouers moet beskikbaar wees vir hulle. Natuurlik is dit goed om die tyd wat ’n mens saam is sinvol te benut, maar as ’n mens regtig wil weet wat die antwoord op die vraag is moet ons vir kinders self vra. “Kind, sou jy verkies om een uur kwaliteit tyd met jou ouers te bestee of tien gewone ure?” Kinders, wat sê julle?

Die menings van die skrywers op die Oraniablog is nie noodwendig die menings van die Orania Beweging nie.