fbpx

By die Orania Beweging (of dorpskantoor, of eiendomsagente) hoef ons nie koerant te lees om te weet of daar weer ʼn vreesaanjaende storie op die voorblaaie was nie, ons moet net kyk na die volumes navrae oor Orania. As daar weer ʼn misdaadgolf was, as ʼn nuwe skandaal die land skud, as nuwe wetgewing oor grondgryp voorgestel word, as daar slegte ekonomiese nuus is, dan lui die telefone en is die e-posbusse vol. Dikwels beteken die skielike belangstelling ook die eis na onmiddellike hulp: Orania moet nou vir my werk en behuising hê, nou moet “julle” iets doen aan hierdie en daardie dreigende toedrag van sake.

Natuurlik is dit verstaanbaar, en ons kla glad nie oor die navrae en belangstelling nie, trouens, daarsonder sou ons die Orania Beweging kon toemaak. Hoe meer belangstelling, hoe meer navrae, hoe meer aansluitings, hoe sterker word Orania en die Orania Beweging en hoe meer geleenthede en plek kan ons vir ons mense skep. Maar, ongelukkig is die teendeel ook waar: as daar weer iewers goeie nuus is, byvoorbeeld as die ANC swak vaar in ʼn verkiesing, ʼn minister versoenende geluide maak, ʼn wetsvoorstel versag of afgeweer is, dan skielik kry Orania ʼn koue skouer en dan is die hier en nou belangriker as die langtermyn-toekoms en mense sien weer kans vir die nuwe Suid-Afrika. Of, soos ʼn DA-kandidaat eendag vir my gesê het: ”Julle strewe is alles goed en wel, maar as die DA regeer, dan sal die hele land so wees dat geen Orania nodig is nie.”

Daarby moet Afrikaners egter onthou dat Suid-Afrika nooit meer sal wees soos dit was nie, of soos hulle dit graag wil hê, selfs al word president Zuma deur Ramaphosa vervang, of al wen die DA en ander opposisiepartye die volgende verkiesing. Die ideaal moet nie wees om beter regeerders te hê nie, maar om jouself te regeer. Ook ʼn DA-geleide koalisie sal die belange van die meerderheid eerste moet stel. Misdaad sal nie weggaan solank daar ʼn relatief welvarende etniese minderheid teenoor ʼn meesal arm meerderheid te staan kom nie, ongeag daarvan hoeveel die minderheid doen om die armes in diens te neem of op te hef. Die logika van liberale, individuele kapitalisme wat almal bevoordeel sal nooit die arm swart meerderheid oortuig nie en belasting sal altyd hoog wees om die armes deur welsyn te onderhou.

Orania is ʼn langtermyn oplossing, wat egter nou reeds in beperkte mate ʼn uitkoms vir ons mense bied. In ʼn sekere sin werk dit soos ʼn versekering: jy moet vir jare betaal, maar as jy dan in ʼn ongeluk is, dan kan jy eis vir die groot operasie, vir die huis of motor wat afgebrand of afgeskryf is, en jy kan weer aangaan. Ek kan nie na ʼn ongeluk of ramp skielik ʼn versekering wil uitneem en verwag dat hulle my motor of huis moet vervang voor my eerste paaiement betaal is nie.

Die vergelyking laat egter ook nie heeltemal reg aan Orania geskied nie, want dit is nie net “die laaste uitkoms as al die ander opsies misluk het nie”, dit is ʼn beter toekoms, wat reeds in die kleine praktyk is, vir Afrikaners wat weer vry, in ʼn Christelike opset en trots wil lewe en wat bereid is om hulle deel daartoe by te dra. Jy hoef dus nie te wag vir die volgende inbraak of die volgende onbedagte aankondiging wat die Rand laat tuimel nie. Die beste dag om navraag oor Orania te doen, by die Orania Beweging aan te sluit en ʼn besoek of selfs ʼn verhuising te beplan is vandag.

 

 Longterm