2 FEBRUARIE: TWEE BESLISSENDE OOMBLIKKE
Deur Louis Bothma
Is ons gereed vir ‘n Piet Retief-oomblik?
Die geskiedenis is ‘n genadelose leermeester. Dit kom altyd terug om ons te konfronteer, gewoonlik wanneer ons dit die minste verwag; soms wanneer ons dit die nodigste het.
Wie sou kon dink dat die ou Voortrekker, Piet Retief, in hierdie “post-moderne era” van grendelstate en derglike meer, sommer so uit die niet soos ‘n voorvadergees sou verskyn?
Die van ons wat vandag 35 jaar en ouer is, behoort 2 Februarie 1990 baie goed te onthou; die dag toe meneer F.W. de Klerk die ANC en al sy mutasies op ons losgelaat het. Daar is gesê ons het geen ander keuse nie, die alternatief is eenvoudig “too ghastly to contemplate”. En só het meneer De Klerk ons in ‘n nuwe bedeling ingelei wat – in sy eie woorde – “onomkeerbaar is”.
Skaars 25 jaar later, terwyl die ANC-regime ons agter slot en grendel het, sê meneer Ramaphosa hierdie land sal nooit weer dieselfde wees nie. Hy en sy bevelsraad is besig om ‘n radikale plan uit te werk. Ons het geen ander keuse as om daarby in te val nie. Nou is dit skynbaar ‘n kwessie van onomkeerbaar – tot die wederkoms.
Hoe voel u in hierdie situasie?
Magteloos, woedend, uitoorlê, tweedeklas, kaal gestroop, verraai, verneder, wanhopig, eenkant gestoot – sonder enige toekoms vir u en u kinders in hierdie land wat u lief het en help opbou het…?
Dan verstaan u vir die eerste maal regtig hoe Piet Retief op 2 Februarie 1837 gevoel het, toe sy “Manifesto of the Emigrant Farmers” in die Grahamstown Journal gepubliseer is.
“We despair of saving the colony from those evils which threaten it by the turbulent and dishonest conduct of vagrants, who are allowed to infest the country in every part, nor do we see any prospect of peace or happiness for our children in a county thus distracted by internal commotions…”
“We quit this colony under the full assurance that the English government has nothing more to require of us, and will allow us to govern ourselves without interference in the future.”
Die tyd van praat was verby. Rietief-hulle het handelend opgetree en die regering, wat heeltemal uit voeling met hulle was, die rug gekeer. Dit was in werklikheid ‘n “Groot Rebellie” – nie deur die wapen teen die regering op te neem, of die regering by die stembus te probeer uitdaag nie, maar om eenvoudig van hom af pad te gee.
Van toe af was hulle nie meer TEEN iets nie, maar VIR iets . Net daar het hulle die inisiatief oorgeneem en was die regering op die agtervoet. Die debat het nie meer oor die regering se planne gegaan nie, maar oor die Voortrekkers se planne waarmee die regering nie raad gehad het nie.
Vandag praat Piet Retief en die Voortrekkers hard met ons. Maar hoeveel is gereed vir kaalvoet oor die Drakensberge; of is dit letterlik ‘n kwessie van sak en pak terug oor die Oranjerivier?
2 Februarie 2021. Waar gaan ons dan wees? Steeds tussen die skandemakers wat ‘n toekoms op haat en leuens probeer bou, of tussen die geskiedenismakers wat aan vryheid bou?
Die tyd het aangebreek! As God vresende mense is ons onder beleg net soos destyds met die Engelse! Ek was n nee stemmer teen die De Klerk verraaier.