
Joost Strydom, Hoof: Kommunikasie
23 Augustus 2019
Na ʼn lang regsproses is daar finaal in Orania se guns beslis na die afloop van die Orania Beweging se klagte by die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika. Die uitslag bevestig dat die eNCA onakkuraat, onregverdig en onjuis oor Orania berig het. Hierdie beslissing volg na ʼn besoek in April van die eNCA aan Orania, waartydens Orania se eie-arbeid beginsel grof misken is en bewerings gemaak is dat Orania geen erkenning aan ander rasse gee nie.
Die Uitsaaiklagtekommissie het insette van beide partye gekry en daarna in Orania se guns beslis en die eNCA opdrag gegee het om ʼn openbare verskoning aan Orania te rig. eNCA se regspan het teen hierdie uitspraak appelleer en die saak is na ʼn tribunaal verwys. Die reuse onkostes wat met goeie regsverteenwoordiging gepaard gegaan het, het die Orania Beweging genoop om ʼn openbare veldtog te loods waarin lede en ondersteuners versoek is om ʼn bydrae te maak om te help om die onkostes te dek en geregtigheid te laat seëvier. Die personeel van die Orania Beweging het verstom gestaan oor die reuse reaksie van lede, ondersteuners en vriende en die regskoste is volledig gedek.
Die Orania Beweging het van die begin af in die geloof vertrou dat reg sal geskied, maar die golf van hulp en ondersteuning het ons grootste verwagtinge oortref.
Die paneel wat die appèl hanteer het, het beslis dat die vorige uitspraak van krag bly omdat eNCA duidelik die gedragskode van die Uitsaaiklagtekommissie oortree het en dat die uitsending nie net onakkuraat en onregverdig was nie, maar ook nie bestaan het uit feite wat juis en waar weergegee word nie.
Die eNCA moet nou op ʼn datum soos deur die Uitsaaiklagtekommissie bepaal, en in dieselfde tydgleuf as die oorspronklike uitsending, verskoning vra vir die onwaarhede en enige skade wat die uitsending aan die Orania Beweging en Orania se beeld berokken het.
Orania staan by die beginsel dat ons deur oop is vir die media, en dat ons hulle besoek hier sal verwelkom, maar ook dat ons deur die regte kanale stappe sal neem sou daar valshede verkondig word.
Die beginsel van eie-arbeid bly vir Orania een van ons ononderhandelbare kernbeginsels.
Joost Strydom
076 44789 44
Wonderlik geluk!
Trots op julle.
My ou Grootvader het gesê alle koerante lieg, party net meer.
Nou waar daar meer kommunikasie media is, byvoorbeeld TV, dink ek die stelling is nog steeds waar, soos wat hier bewys is.
Ek is baie bly oor julle oorwinning in die hof. Te veel leuns is al oor dekades vertel oor die Boere afrikaner.
Baie voorspoed en sterkte julle toegebid.
JAN GUNTER
Baie bly dat geregtigheid eindelik seevier! Trots op Orania om hul man te staan!
Gaan hulle die regskoste betaal?
Indien wel, kan ek asb my R250 terug kry.
Dag Rikus,
Ongelukkig nie. Geen kostebevel nie. Dankbaar vir jou bydrae tot ons oorwinning!
Baie geluk aan julle. Anti blanke en anti Afrikanerpropaganda vier hoogty en word soos soetkoek opgeet. Die teendeel is gewoonlik nie polities korrek nie .