Monument

Ek gaan met my harde nek op my knieë, maar ek buig nét voor Hom.
Ek het my Vrou, my gesin, lief, hulle is my alles
Ek het my honde liewer as wat ek meeste mense het
My honde se name is Afrikaans of Duits of Skots
Ek sing ‘Grote God’ en ‘Genade onbeskryflik groot’, sonder die boekie
Ek sing ‘Ek sien ’n nuwe Hemel kom’ as die kis afsak
Ek kan die twaalf-artikels saam met die dominee opsê
Ek sing ‘Sarie Marais’, ek sing ‘My Vader was ’n musikant’
Ek praat van Transvaal en Suid-Wes
Ek steek my trane weg as my mense vermoor word
Ek huil openlik as ek die diere sien doodgaan
Ek weet wat ‘jakkals trou met wolf se vrou’ beteken
Ek weet nie wat ‘husse met lang ore’ is nie
Ek het voorvaders in Duitsland, Frankryk, Nederland, Skotland, Engeland
Ek het familie in Australië, Engeland, Kanada, Amerika, Israel, Nieu-Seeland, Suid-Wes en Botswana
Ek vier Kersfees met koue beestong en aartappelslaai
Ek vier verjaarsdae met boerewors en Windhoek lager
Ek vloek as ek bestuur
Ek laat ou mense voor my in die ry staan
Ek bid vir reën en as die reën kom, loop ek kaalvoet in die modder
Ek kan kleilat speel
Ek weet hoe om ’n mierleeu te vang, sommer met net ’n grassie in my hand
Ek weet hoe maroelas proe
Ek sny biltong
Ek sny gras
Ek sny koek as ek vroteier speel
Ek het al plakkate op pale gesit
Ek het al skelm plakkate afgehaal
Ek stem nie altyd saam nie
Ek weet nie vir wie om te stem nie
My stem was al hees vir die Bokke
My stem was al hees van Die Stem
Ek kry hoendervleis as ek die Monument sien
Ek kry hoogtevrees as ek bo staan
Ek brand in die Afrikason
Ek mis my Ouma
Ek wens ek kon my Oupa beter ken
Ek is Afrikaans
Ek is van Afrika
Ek, Afrikaner

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel