Ons Vader in die Hemel het dit beskik dat gelowiges altyd binne gemeenskappe met mekaar staan. Ja, gemeenskappe, want kerklike gemeentes is maar een so ’n gemeenskap. Die gesin soos deur God voorgeskryf in 1 Pet. 3 is dalk die heel belangrikste gemeenskap. Die huwelik is die fondasie waarop alle Christelike gemeenskappe gebou word. Daarom is die huwelik heilig! Wie die huwelik breek, bring groot skade aan AL die gelowige gemeenskappe. Die grootste skade word egter altyd aan die kinders gedoen. (Lees Jesus se groot waarskuwing hierteen in Matt. 18:6)
Die woord van God is baie duidelik daaroor dat die Duiwel rondloop soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hy is nie dom of swak nie en hy is beslis nie ons speelmaat nie. Dis geen wonder dat die Duiwel in hierdie tyd juis ons huwelike teiken nie. Daar is sekerlik geen beter manier om die gemeenskap van die gelowiges skade te berokken, as om ons fondament te laat verbrokkel nie. Ons moet ten bloede toe hierteen weerstand bied!
In 1 Pet. 3 word die regte verhouding tussen man en vrou baie mooi beskryf. Lees dit gerus saam met jou huweliksmaat. Vra gerus jou predikant indien iets steeds onduidelik is. Man en vrou is mekaar se kosbaarste aardse besittings. Ons moet mekaar so opbou en beskerm. Die veiligste plek vir enige Christelike huwelik is tussen die groter gemeenskappe van die heiliges. Hier is die kerk die heel belangrikste. Man en vrou wat saam kniel en bid kan saam staan en leef!
Daar is in die huwelik geen ruimte vir ander mense nie. Die Duiwel gebruik dikwels mense om sy bose werk te volbring. Praat eerste met mekaar wanneer daar probleme is. Wanneer dit nie meer werk nie, kan ons met ons leraars gaan gesels. Pasop vir slimpraatjies van vriende of sielkundiges. Dink aan hoe Job se vriende hom van die wal af in die sloot in wou begelei. Wanneer iemand egskeiding aanbeveel, moet jy baie versigtig luister. As ek ’n ander se wysheid kan aanhaal… Die Huwelik is 80% lojaliteit en 20% liefde. Ek dink dit is waar!
Lees ook Jak 3 oor die skade wat ons tonge kan veroorsaak en laat ons elkeen dan selfondersoek doen. Dra my woorde by tot die opbou van die huwelik en die gemeenskap van gelowiges in hierdie wêreld? Of is ek aandadig aan die morele verval van ons tyd?
Nuutste Opmerkings