Dagga, moet ek of moet ek nie?
Dr ECP Nothnagel
Nee jy moenie.
Dit was dalk ‘n bietjie te maklik. As dit in die mens se aard was om gehoorsaam te wees sou ons steeds in die tuin van Eden gewoon het.
So hoe kan ek jou oortuig om nooit aan Dagga of enige dwelm te raak nie? Ek kan noem dat die kortstondige gevoel van welstand na die rook van dagga net bestaan omdat dit onnatuurlik inmeng met normale breinfunksie, dus is jou kommerloosheid maar eintlik net ‘n vorm van domwees. Dit kan dalk help vir angs maar veroorsaak dikwels erger angs en selfs paniekaanvalle. Ek kan daarop wys dat psigiatriese hospitale vol is van die slagoffers van dagga-psigose, met ander woorde mense wat hul greep op die werklikheid geheel en al verloor het. Ons kan praat oor geheueverlies, leerprobleme, voortplantingsprobleme, sosiale probleme, asma en bronchitis, kanker, verslawing en nog meer maar uit ondervinding weet ek bangpraat is oneffektief om mense se slegte gewoontes te beïnvloed.
Dagga is volksvreemd, die plant kom eintlik van die suide van Asië af waar dit al vir duisende jare deel vorm van die kultuur en afgodediens – daardie leegkop ‘trans’ oefeninge wat selfdink en verstand probeer vervang met ‘n booswigtige begeesterdheid wat geen plek oorlaat vir ons ware geloof nie. Dagga is perfek daarvoor : Verlaging in intelligensie, lang – en kort termyn geheueverlies en emosionele stofstorms is net die ding om ‘n welgeskape jongmens se lewe te verwoes, jou te weerhou daarvan om Die Here jou God met jou hele verstand lief te hê en jou selfbeeld en eerbaarheid so te krenk dat jy ‘n sluiper sal wees vir altyd. Kom ek wees maar reguit, dagga en respekteerbaarheid ken mekaar glad nie.
Ek ken die koor van pretsoekers en kansvatters wat sing dat dagga eintlik veilig is, minder verslawend is as nikotien en selfs geneeskundige waarde het. Nou goed, laat ons dit nie weerhou van terminale kankerlyers nie, in druppeltjie doserings en op voorskrif van ‘n spesialis maar veilig as ‘n prettige dwelmmiddel? Wel, omdat dit by verre die mees misbruikte onwettige dwelm in die wêreld is veroorsaak dit mediese – en sosiale probleme wat buitensporig uit verband is wanneer dit vergelyk word met gevaarliker dwelms. Daarby bring hierdie middel jou maklik in aanraking met die groot kanonne, weereens omdat jy met die semels sal moet meng om dit in die hande te kry. Jou emosionele verslawing aan dagga sal net so erg wees soos iemand se liggaamlike verslawing aan kokaïne. Dit word met ander woorde vir jou ‘n totale afhanklikheid wat beteken dat jy ‘n gewoonte oortreder sal wees van die eerste twee gebooie…….en die vyfde – , die agtste- , negende – en tiende gebooie nou dat ek daaraan dink.
Verstaan my mooi, ek is ook ‘n sondaar wat gebooie oortree, en desperaat in nood is vir ‘n Verlosser en Saligmaker. Die laaste ding wat hierdie benarde mens nodig het is ‘n volksvreemde substans wat die bietjie verstand wat ek het verminder, my emosionele – soortvan – stabiliteit vernietig en boonop my vervreem van my enigste Hoop in lewe en in sterwe. Hier is my verrassing aan jou: Om ‘n dwelmverslaafde te wees en oorgegee te word aan ‘n lewe van afhanklikheid is nie die sonde nie, dit is die straf. ‘n Hel op aarde wat steeds miljoene maal beter is as die ware hel. Dink maar ernstig hieroor voor jy besluit om kanse te vat.
Jy is baie duur gekoop, dit is nie binne jou mag om die besluit te neem om jouself te vernietig of van jou waarde weg te neem nie. Daar is geen veilige hoeveelheid van daggagebruik nie. As jy by ‘n geleentheid is, of saam met mense verkeer wat jou blootstel aan dagga of enige ander dwelms, erken dit vir wat dit is, ‘n aanslag van die bose wat jou wil verslind. Vlug en keer nooit weer terug nie. Omring jouself met die Heilige kinders van die Allerhoogste en weet dat jou vreugde baie meer is as wat enige aardse middel kan bied.
Dr ECP Nothnagel
*Die menings van die outeurs op Oraniablog is nie noodwendig die menings van die Orania Beweging nie*
Dear Dr.
I take that this is only your opinion regarding this matter?
Because if not. Then you have a big problem, both in your Christian values and in your medical knowlege, not even to mention aspects like science and governmental capitalism on this “drug/herb”
I do feel sorry for you. I suppose there is a difference in having a relationship with the Father and just having an emty religion (please, I’m not saying this is you… But your statements sure makes it seems like it.)
Regards