fbpx

Geagte Oom Paul

27 November 2019

Oom Paul, ek skryf sommer twee keer in een week aan Oom, nie omdat ek noodwendig soveel tyd ophande het nie, maar juis omdat ek soveel op die hart het. Eerstens, dit gaan goed op Orania, maar meer daaroor later.

Oom Paul, ek weet Oom het eenkeer, daar in Switserland, gesê dat Oom onder ‘n Britse vlag gebore is, maar nie onder een ook wil sterf nie. Ek het nogal baie simpatie hiermee, net soos wat ek ook simpatie het met soveel Afrikanerkinders wat vandag emigreer uit Zuid-Afrika uit. Daar is seker meer as een rede hiervoor, daar word gereken dat bykans ‘n half-miljoen van onse mense hul talente onder ander vlae in die buiteland inploeg. Die redes is dat dit nie goed met Zuid-Afrika gaan nie. Oom Paul, ons is die tweede gevaarlikste land op aarde, nie gevaarlik in die sin dat ons ‘n bedreiging met ons sterk militêre krag en vermoëns vir ander lande inhou nie, alhoewel ons hier tydens die 1970’s en 80’s dit ook was, maar gevaarlik omdat ons die hoogste moord- en verkragtingsyfers het. Oom Paul, sonder om te veel oor die grusame brutaliteit uit te brei, word ons mense, en veral ons boere op die plase, wreedaardig geslag deur barbaarse moordbendes. Ek was nie by Blaauwkrans nie, maar ek reken Oom sal die prentjie kan insien. Selfs met al die veiligheidstoerusting, alarms en ysterstawe voor die vensters, selfs met geëlektrifiseerde heinings en waghonde, word ons mense week na week op die plase uitgemoor, en wreedaardig. Oom Paul, dit is ook nie altyd die weerbare manne wat aangeval word nie, maar ons vrouens en kinders, ons ou mense… en die lafaards daag sommer in spanne van vier tot twaalf op, met die doel om ons mense seer te maak en te verneder. Dit is seker een van die grootste redes dat ons Afrikanerkinders liewers oor die waters hul nes gaan skrop. Die ander rede Oom Paul, en hierdie is eintlik waansin, maar die ander rede is die feit dat hier wetgewing in Zuid-Afrika tans is wat bepaal dat ‘n groot getal van alle aanstellings, op alle vlakke, die demografie van Zuid-Afrika moet verteenwoordig, en Oom Paul, die demografie het nogal verander. Ons is so bykans 55 miljoen mense hier in Zuid-Afrika, ek dink dit is selfs meer maar dit daar gelaat. Van hierdie 55 miljoen, is ons Afrikaners dalk nog so 1,8 miljoen mense oor. Dit beteken dat goeie gekwalifiseerde en opgeleide Afrikaners, selfs diegene met jare en jare se ondervinding in hul veld, afgedank word om plek te maak vir ‘minderbevoorregtes’. Oom Paul, dit is alles uit reaksie op ‘n tydperk waar ons ook maar seker foute gemaak het, maar dit breek Zuid-Afrika, nie net vir ons mense nie, maar sommer vir almal; want, Oom sien, ons verloor die room van ons mense, ten koste van onsself, en ter wille van Australië, Nieu-Seeland en Kanada…

Oom weet immers ook hoe swaar dit weeg om jou vaderland te moet verlaat. Oom Paul, ek is egter ook maar effens vieserig vir ons mense wat gaan. Ek dink nie hulle hardloop weg nie, ek dink hulle neem sinvolle en weldeurdagte besluite, maar Oom Paul, hulle is wat hul vandag is, omdat hulle deel van ‘n volk kan wees wat hul gevorm het en geleenthede gebied het om hul beste self te kon word. Ons leef vandag in tye waar mense dink dat die individu alles kan vermag, en doen, en sommer so op hul eie. Die werklikheid is egter dat die gemeenskap die individu bemagtig het, geleentheid gebied het, om sy of haar beste self te kon word. En hierdie bestes, Oom Paul, hierdie pragtige en slim en vernuftige Afrikanerkinders, trek na ander lande om vir daardie ander lande, en eintlik maar vir hulself, hul beste self te gaan wees. Dit is jammer, maar ek het begrip.

Oom Paul, baie van my vriende en familie is oor die waters. Goeie en geleerde Afrikaners wat in ‘n nuwe land, eintlik maar deel van ‘n ander volk gaan word. Ek voel sommer baie armer vandag as ek hieraan dink. Soveel van ons weggeboelie uit ons eie land uit, en by verlenging, uit ons eie volk uit. Armer…

Oom sien, ek reken dat al die dinge wat ons reg gedoen het na die oorlog teen die empaaier, het aan ons as Afrikaners die geleenthede gebied om regtig goed te wees in dit wat ons doen. Ons het die gesegde, ‘n Boer maak ‘n plan, en Oom Paul, op elke terrein in die samelewing, maak ons as Boerevolk mooi en slim planne, ongelukkig nou vir ander lande en volkere.

Ek dink dat dit wat Ds. Kestell gedoen het, dit wat die FAK, Reddingsdaadbond, Zuid-Afrikaanse regering en dit wat die GRA gedoen het ter wille van ons volk, juis vandag se Afrikaner gemaak het wie en wat ons is, en Oom Paul, ek is dankbaar vir ons voorgeslagte, wat so ‘n duur prys betaal het, sodat ons vandag ‘n slim en hardwerkende volk kan wees.

Oom Paul, ons is armer met al hierdie mooi mense, wat oor die waters getrek het, maar Oom, ek wil tog vra, dat hulle sal dink aan ons hier in Zuid-Afrika, en in besonder in Orania. Dat hulle nie daar sal vergeet van die volk en gemeenskappe wat hulle gemaak het wat hulle tans kan wees nie. Dat hulle sal kom kuier, dat hulle selfs sal help bou, dat hulle so bietjie van hul hardverdiende dollars sal terugstuur, terugstuur huis toe, sodat ons hier weer oor en voor kan begin. Oom sien, dit gaan goed op Orania, maar ons moet huise bou, werk skep, die ekonomie stimuleer, ons moet universiteite bou en die huidige geslag oplei en bemagtig vir hul en hul kinders se toekoms, en die mense wat die meeste hiermee sou kon help, is nie meer hier by ons nie, maar ploeg en bou vir ander volkere in ander lande…

Ek is jammer as dit mag klink of ek bitter is, woorde is eintlik maar soms net te koud en emosieloos om werklik uit te dra hoe ek voel. Ek is nie bitter nie, neem hulle ook nie kwalik nie, is eintlik bly dat hulle ‘n nuwe lewe kan vind, ek is eintlik net hartseer Oom. Hartseer omdat ons wat hier agter bly, soveel armer is, omdat soveel van ons mooi Afrikanerkinders, nie meer is waar ek dink hul eintlik behoort nie. Ons is armer Oom Paul, maar ek glo dat hulle ons nie sal vergeet hier in Afrika… hier in Orania nie.

Groete

PSK

n.s. Stuur groete vir my Oupa.