fbpx

Deur Dr John Strydom

(Voorsitter van die Orania Beweging raad en met ‘n agtergrond in voorkomende gesondheid)

 

Aanval, weerstand bied of vlug?

Al drie bogenoemde konsepte is aan die Afrikaner nie vreemd nie. Die eerste doen ons teësinnig en slegs met goeie rede. Die tweede is ons besonder kundig mee, en die derde doen ons strategies ter wille van oorlewing.

Die huidige vyand is ʼn vreemde en relatief onbekende een, en skrikwekkend weens sy onsigbaarheid. Aanval kan ons nie- ons weet tans nie hoe nie. Vlug is wat ons tans probeer met die inperkingsbevel, fisiese afstande en handewas-rituele. Weerstand bied kort egter ʼn bietjie aandag.

Die Corona-virus (soos ander virusse) is ʼn bitter klein stukkie genetiese kode (“DNA” of “RNA”: DNS of RNS op Afrikaans) en is tegnies nie lewend nie. Dit “parasiteer” op ander selle en kan nie daarsonder vermeerder nie. Die Corona-virus het ʼn voorliefde vir lugweë en vermeerder in die selle van ons longe en lugpype en word dan uitgehoes of uitgeasem in mikrodruppels vog. Daarna volg een van twee infektiewe roetes: dit kan direk deur ʼn volgende persoon ingeasem word, of dit kan stadig binne ʼn meter of twee grond toe val of “sweef”. Daar kan dit ʼn volgende persoon se hande besmet en dan weer via tas na die gesig oorgedra word. Die virus is NIE ʼn swewende partikel wat oral om ons voorkom nie. Dit is NIE in staat om deur gesonde vel die liggaam binne te dring nie. Dit is ʼn virus met ʼn voorkeur vir slymvliese van die lugweë en daarom is dit waarop ons moet konsentreer tov weerstand bied. Let net daarop dat die mikrodruppels waarin dit “reis” baie klein is en daarom STADIG grondwaarts val of dryf. Met bogenoemde in gedagte verstaan ons die reëls vir “vlug”: staan ver van ander persone (2 m), was jou hande, moenie aan jou gesig raak nie.

Interessantheidshalwe: die virus reis per mikrodruppel wat ingeasem word, beland op selle van die slymvlies en is kundig om die sel te oortuig om hom “in te neem”. Binne in die sel gaan hy na die selkern wat die sel se eie genetiese materiaal bevat (DNS) en vestig hom as ongenooide indringer daarin. Die sel word dus oortuig om ipv sy eie DNS, die virus te repliseer. Die vervaardigde virusse laat uiteindelik die sel bars, en die proses word elders herhaal, of die “nuwe” virusse word uitgehoes om ʼn volgende slagoffer te besmet.

As ons bogenoemde nie suksesvol kan doen nie, kan ons minstens ons eie liggaamlike weerstand sover moontlik versterk. Om ons slymvliese so gesond moontlik te hou, is minerale en vitamiene krities, en veral die volgende:

Sink
Vit A, D, C
Gesonde vette/ olies (die sg Omega-olies). Kom veral in neute voor.
Onthou dat rook en lugbesoedeling veral nadelig is.
Vetsug, suikersiekte en ander toestande wat die weerstand raak, moet beheer word: tuberkulose (tering), VIGS, kanker en/of bestraling, ens.

Prakties: oefen gereeld, asem gereeld diep in en uit, kry genoeg sonlig, eet veral rou groente en vrugte, verlaag suiker inname, en neem vitamien en mineraal aanvullings. Onthou tog dat bogenoemde nie jou weerstand kan verhoog bo die natuurlike maksimum nie- dit sorg bloot dat jy die beste is wat jy kan wees tov natuurlike immuniteit. Maar die belang daarvan is groot!

Sou ʼn mens enige verkouesimptome BEGIN ontwikkel, skakel ons oor na tweede rat. Neem sowel jouself as ander in ag: eerstens: moenie ander in gevaar stel nie. Sonder jouself in jou huis af vir 14 dae en dra ʼn masker as iemand jou nader. Om jou eie kanse te verbeter die volgende:

Staak dadelik alle produkte wat van beeste af kom, maar veral suiwel omdat dit neig om jou lugweë se afskeidings te vermeerder: dit maak jou slymerig! Vermy ook alles waarvoor jy allergies is. Staak suikerinname.

Omdat die meeste verkoues en griep deur virusse veroorsaak word, neem ons alle stappe teen hulle wat moontlik mag help:

Goeie multivitamien
Ekstra vit C: sommige outeurs beveel tot 1 000mg (1 gram) per UUR aan: dit irriteer egter jou maag se slymvliese met maagpyn en diarree as gevolg: veral mense met maagsere moet lugtig wees.
Granaatskille, klapperolie, knoffel, borrie, Ceylon-tee, sekere sampioene, gemmer, naeltjies, Aloe Vera, vlierbessie, pomelopitte, kakaobone, groenrissies en rooipeper is al gebruik om virusse te beveg en as daar geen bewese skade daardeur gedoen word nie, mag dit selfs die moeite werd wees om dit te gebruik!

Die ou Engelse raad van ʼn koppie warm Ceylon tee en direk daarna ʼn bord WARM tuisgemaakte hoendersop mag dalk net help!

Gebruik swaartekrag om longafskeidings te probeer dreineer (lê op ʼn skuins oppervlak met kop na onder) en maak gebruik van fisioterapeute waar moontlik.

Bevogtig die lug wat jy inasem sover moontlik, en drink BAIE vloeistowwe. Dit hou afskeidings minder taai en makliker om uit te hoes.

LW: hierdie voorstelle is nie bedoel om mediese konsultasies te vervang nie. Jy gebruik dit op eie risiko. Na my beste wete is geen van bogenoemde egter gevaarlik nie. Met ons huidige omstandighede moet elke persoon SELF doen wat hy kan, maar wat jy ook al doen: MOET NET NIE OORGEE NIE!! BIED WEERSTAND!