fbpx

Eenstemmigheid heers in Afrikanerkringe dat daar wel groot onsekerheid bestaan oor hoe ons kultuur en lewenswyse daaruit sal sien na 50 of 100 jaar van nou af.

Afrikaners het geen invloed meer op wetgewing wat in Suid-Afrika aangeneem word en ons ten nouste raak nie (soos vergestalt in die muilbandwetgewing wat die ANC besig is om deur te voer) of die wyse waarop ons belastinggeld uitgegee word nie. Daarbenewens is Afrikaners deur regeringsbeleid verban uit poste in die staatsdiens en is ons teenwoordigheid in bestuursposte in die private sektor en in die regbank onder groot druk.

Die van ons jonger geslag wat nie self in die buiteland werk nie, het nabye familie of vriende wat reeds uitgewyk het in ‘n poging om geleenthede te vind wat nie in Suid-Afrika vir ons beskikbaar is nie.

Diegene wat ‘n positiewe prentjie probeer skets, verwys na die groei in die gebruik van Afrikaans volgens die 2011 sensus en die goeie bywoning van kultuurfeeste. Tog is die persentasie groei van Afrikaans binne die statistiese foutkoers van die sensus en is die kultuurfeeste nie volksfeeste nie. Tewens, daar word baie moeite gedoen om die Afrikaner uit die kollig van die kultuurfeeste te definieer.

Tog weet ons dat harde werk, deursettingsvermoë, liefde vir ons kultuur en ons medemens en geloof in ons Skepper ‘n onstuitbare krag ten goede is.

Onder hierdie omstandighede het die Orania Beweging en inwoners van Orania ‘n trotse tradisie om nie in konflik met mede Afrikaners te tree oor wat beskou behoort word as die beste strategie vir die verskansing van ons voorbestaan as volk, om op eie voorwaardes te leef, groei en gedy nie.

Ons as ondersteuners van Orania glo dat die boom geken sal word aan die vrugte wat hy dra; dat ons op grond van dit wat ons bereik beoordeel sal word, eerder as op dit wat ander van ons sê of skryf.

In hierdie opsig het ons vaste vertroue dat Orania se strategie nie lukraak uit die lug gegryp is of op enkele jare se akademiese studie van die internasionale reg rus nie. Die aanloop tot die vestiging van Orania is deurgrond met navorsing wat deur SABRA (Die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-aangeleenthede) gedoen is sedert die 1950’s, eers onder leiding van Dr Gerrit Viljoen en later deur Dr. Chris Jooste.

Dit sluit in die praktiese lesse wat geleer is uit die mislukking van die beleid van afsonderlike ontwikkeling (waarby SABRA ten nouste betrokke was) en die pogings om ‘n Afrikaner heimat te skep in die Transvaalse Hoëveld met die projek van die Oranjewerkers in Morgenson aan die spits gedurende die 1980’s.

Daar kan met groot vrug verwys word na die publikasies van SABRA tot en met die beëindiging van die werksaamhede van die Volkstaatraad. Hierdie materiaal word in Orania se argief bewaar. Sedertdien word SABRA se werk voortgesit onder die vaandel van EPOG.

Tog word daar stellings gemaak op publieke webwerwe en op Facebook wat slegs ten doel het om twyfel te saai oor die deurdagtheid van Orania se strategie. As ondersteuner van Orania wat vir bykans 14 jaar betrokke is by die wel en weë van Orania wil ek graag in persoonlike hoedanigheid op enkele van hierdie stellings reageer.

 

Afrikaners het geen historiese aanspraak op grond in die Noord-Kaap nie

Die stelling word gemaak dat Afrikaners in die verlede nie selfbeskikking in die Noord-Kaap geniet het nie, en daarom nie in die toekoms op selfbeskikking in die Noord-Kaap aanspraak kan maak nie.

Dit is waar dat ons as Afrikaners nie in die verlede afsonderlike selfbeskikking in die Noord-Kaap geniet het nie (ons het wel tussen 1910 en 1994 die gebied regeer). Ons beskou dit egter nie as ‘n struikelblok vir ons strewe om selfbeskikking in hierdie gebied nie.

Erkende selfbeskikking in die verlede is nie die enigste vorm van aanspraak op grond nie. Afrikaners beskik vir bykans twee eeue eiendomsreg van groot gedeeltes van die Noord-Kaap, soos bewys deur rotstekeninge op Orania en inskrywings in die aktekantoor in Kaapstad. Slagvelde van die Tweede Vryheidsoorlog en die grafte van ons vroue en kinders in konsentrasiekampe naby aan Orania bevestig dat ons aanspraak op grond in die Noord-Kaap meer as net ‘n vlugtige ingewing van die oomblik is en dat ons vir baie lank reeds ‘n permanente teenwoordigheid in hierdie gebied handhaaf.

Daarby het minister Valli Moosa (minister van Grondwetlike Ontwikkeling) reeds in 1998 in antwoord op ‘n vraag deur die Vryheidsfront in die Parlement onomwonde die volgende gestel: “Die strewe deur die VF en ander Afrikaners na die ontwikkeling van ‘n spesifieke deel van die Noord-Kaap as ‘n `tuiste’ vir Afrikaner-taal en -kultuur binne die raamwerk van die Grondwet en die Handves van Menseregte, is na die mening van die regering  inderdaad ‘n legitieme strewe”. Verwys gerus na Hansard in hierdie verband.

Ons strategie se plooibaarheid word bewys deur die feit dat ons onsself nie slegs op eksterne selfbeskikking hoef te beroep nie. Ons kan deur die beoefening van ons regte as gewone burgers van Suid-Afrika reeds ‘n groot mate van outonomie (interne selfbeskikking) bereik deur ons reg op vrye beweging en op assosiasie uit te oefen en in die Noord-Kaap te gaan woon. Dit is fisies moontlik vir Afrikaners om die meerderheid kiesers in die Noord-Kaap se munisipaliteite en selfs die provinsiale wetgewer te vorm omdat die totale bevolking van die Noord-Kaap getallegewys minder is as die Afrikanervolk. Dit kan gedoen word sonder dat enige bestaande grense verskuif of veranderings aan bestaande wetgewing aangebring hoef te word. Ons het daarom nie nodig om onsself in die eerste instansie tot die internasionale reg te wend vir bereddering van ons situasie nie.

Die selfbeskikking wat inwoners van Kosowo onlangs verwerf het, dien egter as onteenseglike bewys dat die permanente, vrywillige skuiwing van mense aanvaar word. Kosowo word vandag deur ‘n meerderheid etniese Albaniërs bewoon, maar dit was nie altyd so nie. In die verlede het etniese Serwiërs Kosowo bewoon en die uitdrukking van hul kultuur daar reeds eeue gelede is oral te sien. Tog is die werklikheid gevestig dat Kosowo vandag deur ‘n meerderheid etniese Albaniers bewoon word en het die Internasional Geregshof in Den Haag bevind dat daardie “nuwe” inwoners van Kosowo ook op die reg op selfbeskking aanspraak kan maak volgens die reëls van die internasionale reg. Serwiese aansprake tot die teendeel en besware ten spyt.

Etniese Albaniërs het nooit in die verlede oor selfbeskikking in Kosowo beskik nie, maar tog is hul reg op selfbeskikking aldaar deur die Internasionale geregshof bevestig. Afrikaners kan dieselfde in die Noord-Kaap bereik.

 

Orania se strategie is strydig met die regte van die Noord-Kaap se inheemse bevolking

Die internasionale gemeenskap, by monde van die Verenigde Nasies, erken en beskerm die regte van die “eerste bewoners” of inheemse volke van lande. Onder hulle word getel die Aborigenes van Australië, die Maori’s van Nieu-Seeland, die Indiane in Amerika, die Suomi in Noord-Europa en les bes die San en Khoe van Suid-Afrika. Vervolgens mag inheemse bevolkings nie verdryf word, van hul grond onteien word, gedwing word om te verskuif of van hul reg op selfbeskikking ontneem word nie.

Daar word deur sommige gestel dat Orania se strategie (te wete meerderheidsbesetting deur Afrikaners in ‘n deel van die Noord-Kaap) neerkom op ‘n skending van die beskermde regte van die Noord-Kaap se “eerste burgers”.

Dit is egter niks anders as ‘n kwaadwillige valse voorstelling nie. Alle grond wat deur Oraniërs bewoon en bewerk word, is op wettige wyse verkry op grond van die beginsel van vrywillige koper en vrywillige verkoper. Geen wettige bewoners van grond is ooit of sal ooit teen hul wil verskuif hoef te word om Orania se strategie tot volle uitvoering te bring nie. Daarby sal alle inwoners van die Orania-gebied se reg op private eiendom en op selfbeskikking erken en gerespekteer word. Ook elkeen se reg om hul unieke kulture te bevorder en aan hul kinders oor te dra op die wyse wat hulle goeddink.

Dit is juis omdat dit vir Afrikaners moontlik is om ‘n meerderheid in die Noord-Kaap te vorm sonder dat enige iemand wat reeds daar woon of werk hoef pad te gee, dat die Noord-Kaap uitgesonder is as haalbare gebied vir  Afrikanerselfbeskikking deur die navorsing van SABRA.

Orania het lank reeds ‘n gevestigde tradisie van samewerking met alle burgers van die Noord-Kaap, insluitend die nasate van die San en die Khoe, waarvan die meerderheid ‘n taal met ons deel. Ons sien uit na die voortsetting van hierdie goeie bande. Tewens, ons weet dat ‘n Oraniabedeling groter steun vir die regte van die San en die Khoe sal bied as die bedeling van die ANC, soos bewys deur Solidariteit se hofsaak teen die Departement van Korrektiewe Dienste se diskriminasie teen die Bruin bevoling van die Wes-Kaap (insluitend die San en Khoe).

 

Daar bestaan reeds ‘n gebied waarin Afrikaners die meerderheid van die bevolking vorm

Die stelling word gemaak dat daar reeds ‘n gebied bestaan waar Afrikaners die meerderheid vorm; ’n gebied wat groot genoeg is om as selfstandige en selfonderhoudende staat te funksioneer. Daar word geargumenteer dat die bestaan van sodanige gebied dit onnodig maak vir Afrikaners om na die Noord-Kaap te trek om ‘n meerderheid in ‘n selfregerende gebied te vorm.

Dat daar geen enkele munisipaliteit binne die sg. aangewese gebied bestaan met ‘n Afrikaner as burgemeester nie, dien volgens my as voldoende bewys dat sodanige Afrikanermeerderheid slegs ‘n mite is.

Neem byvoorbeeld die munisipaliteit van Mafube in die Oos-Vrystaat. Dit is reg in die middel van die mitiese Afrikanermeerderheidsgebied, sluit talle groot Afrikanerdorpe soos Frankfort en Villiers in en tog is hierdie gebied se plaaslike munisipaliteit se personeel en raad stewig onder die beheer van ‘n demokraties-verkose ANC meerderheidsregering. Om inwoners van Bloemfontein en Pretoria (onderskeidelik 360 en 200 km van Frankfort af) by te sleep om ‘n “Afrikanermeerderheid” in Mafube te vervaardig, druis teen alle aanvaarbare norme van regverdige grensafbakening in. Ek sien daarna uit dat hierdie benadering in die Internasionale Geregshof getoets word, want dit sal die onregverdigbaarheid daarvan vir ieder en elk uitwys.

 

Die omvang van Orania se vordering na 20 jaar dui daarop dat Orania misluk het

Daar word maklik gesê dat Orania se bevolking van “slegs” 1,000 inwoners na 20 jaar daarop dui dat Orania misluk het. Wat moeiliker is om te doen, is om alternatiewe selfbeskikkingsbewegings aan te dui wat in dieselfde tydperk (of gedeelte daarvan) dieselfde of groter sukses behaal het.

Indien ons slegs na die laaste twee jaar kyk, het Orania daarin geslaag om byna 200 nuwe intrekkers die geleentheid te gee om vir die eerste keer in meer as ‘n dekade ‘n mede Afrikaner verantwoordelik te hou vir die bestuur en beleid van hul dorp (nie net ‘n woongebied nie, maar ‘n hele dorp met ‘n selfonderhoudende ekonomie). Meer as 300 kinders is blootgestel aan selfbeskikking-in-praktyk, geleer van die waarde van eie arbeid en geleer dat hulle dit waardig is om oor hulle eie lot te beskik. Meer as 20 nuwe woonhuise is gebou. Orania se bank is deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank erken. Orania se grondgebied is aansienlik uitgebrei met die aankoop van Vluitjeskraal Noord. Wie, insluitende ons kritici met hulle mitiese Afrikanergebied, het meer die afgelope twee jaar bereik vir Afrikanerselfbeskikking?

Orania se groeiende steun onder Afrikaners, groter internasionale bewustheid deur skakeling, groter samewerking met ander kulture deur wedersydse erkenning en groeiende ontwikkeling deur belegging is vir my ‘n riem onder die hart; wat elke dag in harde werklikheid wys dat ons strategie nie slegs in teorie goed klink nie.

Dit beteken egter nie dat ons tevrede is met ons beskeie sukses nie. Ons sal graag meer wil doen. Baie meer. Ons werk elke dag daaraan. Gideonsbendes kan die gang van die geskiedenis omkeer.

Vir ons leunstoelkritici sê ek: “Sluit aan by ons werklikheid en geniet die geur van ons varsgemaalde koffie”.  Hou hierdie stad in wording gerus dop.