Skietkompetisie in die VSA: Afrikaner-emigrante groep ondersteun Orania van vêr
‘n Groep Afrikaners in die VSA het onder leiding van ‘n groot Orania-ondersteuner ‘n skietdag gereël om fondse vir Orania in te samel!
Orania het ondersteuning van regoor die wêreld, nie net burgers van ander lande nie maar ook Afrikaners wat tydelik of permanent in ander lande gevestig is.
Een so ‘n lojale ondersteuner is dr Danie Brink. Dr Danie en sy gesin is in die VSA-gevestig, maar het oor die jare ‘n prominente rol gespeel in die bemagtiging van Afrikaners en ook verskeie projekte in Orania onderneem. Dr Danie is tans ook die administrateur van die groep Afrikaner-Emigrante wat Orania Ondersteun waar verskillende aksies geloods word om inligting te versprei.
Op die Amerikaanse onafhanklikheidsdag, die 4de Julie, het dr Danie en sy gesin ‘n skietdag aangebied. Dr Danie het Kerk- en gesinsvriende genooi vir ‘n jaggeweerskietkompetisie waar daar op 300m, 200m en 100m kompeteer is. Daar was ook ‘n .22 kompetisie vir die kinders.
Foto: Deelnemers lê aan op die teikens.
Op ‘n wyse wat enige Boerehart warm sal laat klop, het Dr Danie se eie seun die volwasse manne onder die tafel in geskiet, met ‘n telling van tien uit tien! Die Amerikaners was glo lekker verbaas oor die jong Boerseun wat so vaardig is met ‘n roer.
Foto: Johann Brink, wenner van die kompetisie
Hierdie geleentheid het 100de dollars ingesamel vir behoeftige Afrikaners, veral met ‘n fokus op verbreking van honger. Die skietdag kon ‘n baie positiewe bydrae lewer in die lewens van twee gesinne. Die een gesin het drie dogters in pleegsorg, en hulle kan uitsien om te smul aan heerlike Karoolamvleis! ‘n Ander gesin van vyf ontvang vir die komende maande koopbewyse vir kruideniersware.
Baie dankie aan dr Danie, sy gesin en die Facebookgroep Afrikaner-Emigrante wat Orania Ondersteun
word 'n lid!
Orania Beweging-nuusspan
Hierdie berig is deur die Orania Beweging-nuusspan geskryf, verwerf of opgestel.
Eksterne bronne of berigte kry volledige erkenning vir gebruik in stories.
Nuus kan gestuur word na inligting@orania.co.za