fbpx

Groentjies-projek:
Orania kinders plant groente!

 

Die Groentjies-projek is ʼn wintergewas-tuinboukompetisie vir jong Oraniërtjies tussen die ouderdomme van 7 en 18 jaar. Die projek strek oor etlike maande en die kinders moet hulpbronne soos saad, bemesting en voorbereide grond gebruik om groente te kweek, te onderhou, te oes en uiteindelik te bemark en te verkoop.

Voedselsekerheid bly ʼn belangrike kwessie in Suid-Afrika en die wêreld. Die Orania-manier was nog altyd deur die jare om meer verantwoordelikheid self op te neem, en om indiwiduele sowel as gemeenskapselfstandigheid te bevorder. Volgens Jakob Middel, wat die Groentjies-projek saam met die Bo-Karoo AfriForum-tak aanbied, is een van die heel belangrikste inspirasies vir die projek om voedselsekerheid en eie verantwoordelikheid aan die volgende geslag oor te dra.

 

Foto: ‘n Stalletjie waar die kinders hulle produkte verkoop

Die wintergewaskompetisie het weggespring met 58 kinders wat deelneem. Jakob Middel, wat ʼn breë landbou-agtergrond het, beoordeel elke tuin aan die hand van die kinders se voorafopgestelde, en deurlopend bygehoue projekplan. Dit sluit inkomste, uitgawes en tuinbeplanning, praktiese beplanning van die tuin, risiko’s soos temperatuur, diere en meer in. Magdaleen Kleynhans en Marike Labuschagne van die plaaslike AfriForum-tak het verantwoordelikheid geneem vir die borgskappe en ʼn borg gevind wat die saad en bemesting aan die kinders voorsien het.
Volgens Magdaleen word daar baie klem gelê op ʼn holistiese poging, om seker te maak dat die projek van begin tot einde goed deurdink en aan die hand van ʼn plan uitgevoer word. Van die toegevoegde waarde op die groente sluit verwerking en goeie verpakking in. Die kinders verkoop hulle produkte by plaaslike supermarkte of uit die hand uit.
Jakob Middel besoek gereeld die tuine, gee insette en luister na uitdagings wat die deelnemers ondervind. Hy beoordeel ook elke deelnemer aan die hand van verskillende maatstawwe. Die wenners sal teen einde Oktober bekendgemaak word.

 

Foto’s: Van die verwerkte produkte

 

Die pryse word deur AfriForum geborg:
Eerste plek ɸ5000-kontantprys en tuintoerusting
Tweede plek ɸ2500-kontantprys en tuintoerusting
Derde plek ɸ1000-kontantprys en tuintoerusting
Baie dankie aan die organiseerders en borge en baie sterkte aan elke deelnemer!

word 'n lid!

Orania Beweging nuusstories word volledig deur ons lede befonds. Indien u hierdie storie geniet het, sluit aan as lid deur hierdie skakel te volg. Baie dankie!

Orania Beweging-nuusspan

Opgestel deur die Orania Beweging se nuusspan

Hierdie berig is deur die Orania Beweging-nuusspan geskryf, verwerf of opgestel.
Eksterne bronne of berigte kry volledige erkenning vir gebruik in stories.
Nuus kan gestuur word na inligting@orania.co.za