“Arbeidsetiek is die DNA van Orania” hoor ek ons Dorpsbestuurder se stem by ‘n vergadering waar ons die praktyk van selfwerksaamheid in Orania bespreek.
Ek kyk by die venster uit. Hier op Orania gaan die dae verby – een mooier en meer vol poësie as die ander! Beleë en gekoesterd lê die omgewing soos ‘n natros en ‘die jaar word ryp in goue akkerblare, in wingerd wat verbruin, en witter lig wat daglank van die nuwe wind en klare son deurspoel word’, hoor ek Van Wyk Louw saampraat. Wat ‘n heerlike seisoen!
Om fluks en vlytig te wees is ‘n deug waarvan die voordele dieper as veldiep lê, dieper as wat die oog kan sien. Daarom is dit een van die sewe deugde wat in die Christelike tradisie van geslag tot geslag oorgedra moet word. “Werk behoort liefde te wees wat gestalte gekry het”, skryf J van der Berg in Ook die Klein Dingetjies, “want diegene wat met liefde werk – al is die werk hoe nederig en gering – vind hul loon in die besef van hulle dieper verband met alle wesenlike dinge wat in die groot plan dien. Ja – dit vernuwe die gees om weer sy identiteit te vind na die Beeltenis van God!
Oraniërs verstaan vandag baie goed dat vryheid ook arbeidsvryheid omskryf, en dit sluit in dat ‘n praktyk van gebrek aan selfwerksaamheid in ons kultuur gebreek moet word. Ek sien hoe ons mense in die vergadering hul koppe knik soos hulle die praktyk van die selfwerksaamheidsbeginsel uitpluis. Beskikbare vreemde arbeid het ons posisie grootliks versleg en daar is algemene instemming dat die yl verspreiding van ons klein Afrikanervolk oor ‘n uitgestrekte Suid-Afrika, tussen ‘n oorwig ander kulture, ons kultuur uiters kwesbaar gemaak het. Ons betaal daagliks die prys/verlies van ons kultuur en taal, ons werk en ons vryheid.
Met die oog op kulturele oorlewing is dit noodsaaklik dat Oraniërs hierdie deug moet bemeester en aan jongmense en hul kinders oordra. ‘n Heel gemeenskap funksioneer waar saam gewerk word met ‘n werksetiek wat ‘n plek vir almal het en lede in staat stel om kundigheid aan te leer en vaardighede te verbeter wat nog nodig mag wees. Binne die trajek van ‘n gemeenskapsingesteldheid pluk ‘n gemeenskap en die nageslag die vrug van deugdelikheid. ‘Oor sy wonde druppel die salf van eie gom’ dig Totius oor die platgetrapte doringboompie.
Die motief van selfwerksaamheid, as ‘n sterk kulturele waarde rondom die siening van ‘n heel gemeenskap, is toegevoegde waarde vir die gemeenskap. Soewereiniteit in eie kring word versterk deur kundigheid en bekwaamheid wat oor ‘n wye veld ontwikkel word en beskikbaar is. Deur die beoefening van hierdie deug word die Christelike tradisie ook weer bemagtig met gesag wat nodig is vir ‘n jonger geslag om dit te kan internaliseer. Inderdaad – selfwerksaamheid bemagtig ons in ons strewe na ‘n ‘kultuurhawe’ vir die Afrikaner en as deugdelike oefening bring dit heil en versterk ook die Christendom.
Om die beginsel van selfwerksaamheid te vestig is deur die jare hoë eise gestel. Dit het die gemeenskap voor een van hul grootste kulturele uitdagings te staan gebring. In die beginjare moes maar verlief geneem word met die frustrasies van substandaard arbeid, omdat die mannekrag en vaardighede ontbreek het, maar vandag gaan dit baie beter. Bo-Karoo Opleidingsentrum, wat al ‘n jaar of drie aan die gang is, konsentreer op kursusse waar inwoners opleiding ontvang om Rooi seëls, N-sertifikate en verwante opleiding, in veral die bou- en konstruksiebedryf, te kry. Met die eerste sooi gespit vir ‘n studentekoshuis , wat van regoor die land hul op Orania wil verder bekwaam, is daar nie keer dat Orania ‘n uitnemende sentrum vir tersiêre onderrig- en opvoeding word nie – die vrug van hulle wat die eerste rolbossie uitgepluk het, ‘n doringplant uitgetrek het of ‘n dakplaat vasgeslaan het van die skool! Hoe lekker is dit nie om te sien hoe seuns en dogters van die negentigerjare – die beginjare – vandag die gemeenskap help opbou deur hul eie suksesvolle bou-, elektriese- of loodgieterbedryf nie!
Soos Orania groei, vermeerder die druk om die aanbod van dienste te verbeter en soos ons vermoë groei vestig ons ‘n bepaalde kultuur. Ons versterk die kultuur deur gesprekvoering. Ons gesels daaroor. Ons redeneer daaroor. Ons kla daaroor. Ons spog oor ons pogings. Ons vind nuwe maniere van doen. Ons maak grappies oor ons minder suksesvolle pogings en ons gryp mekaar soms voor die bors. Ons voed ons dorp op – ons nuwe inwoners en opgroeiende jongmense – oor die hoekoms en waaroms van selfwerksaamheid.
So maak die byvoordele van arbeidsdeug ons deel. Ons vind nuwe identiteit in die selfwerksaamheidsbeginsel waarmee ons ons gemeenskap ‘laat werk’. Ons voel nodig. Ons voel ons het ‘n plek om vol te staan. Ons kyk met nuwe oë na onsself en na ander en sien die heldemoed as die son steek, as die sweet tap. Snobisme oor sekere tipe werk vir ‘n sekere klas word uitgerangeer. Salarisgapings krimp tussen geskoolde en ongeskoolde arbeid. Ons dra by tot ons streek en ons land se ekonomie deur ‘n dorp wat met ‘n gesonde werksetiek die wiele laat draai en sy plek in die ranglys van volke en state eendag weer volledig wil inneem. Ons voel dat ons ‘n belangrike rat is in ‘n groter geheel – groter as onsself, deur die aarde te bewoon en bewerk tot eer van God. So versterk ons ons geloof die vryheid om dit te mag doen, ons beskeie pogings sal volg(sin maak nie sin nie_. Selfwerksaamheid hou ons wapenrusting blink! Flip Buys, van Solidariteit, sê altyd: ‘bid asof alles van God afhang, maar werk asof alles van jouself afhang!’
Hierdie jaar het ‘n oproep aan jong skoolverlaterseuns en -dogters van elders, om te kom help olywe en pekanneute oes, meer as 1500 aansoekers opgelewer! Dit is die soort rekrute wat ons in Orania se verdedigingsmag wil hê. Dit is die stryd wat ons stry. ‘Hy wie se sweet die grond benat sal die aarde beërf’ lui ‘n spreuk en ‘n ander een: ‘dit is die sooie van die ploegvoor wat die ploegskaar blink hou’. Om Christelike deugde te slyp is die wapenrusting wat sin maak, wat voorspoed en vrede bring – die roes spruit uit die ledigheid en die verwaarlosing.
Op die konstruksiepersele, verby die Poskantoor op pad na die Grootdorp, neem silhoeëtte van huise daagliks meer vorm aan teen die sonsopkoms. Om die draai vorder Orastad Ontwikkelaars en Bouers se meenthuisprojek al hoër teen die koppie op – ‘n wielmerk of twee teen die randsteen vertel van oë wat te lank geluier het op die bedrywige bouperseel. Maggies, die manne kan werk! Fleurig op die oog lê Gaby se tuinuitleg rondom die voltooide huise – sy ken van mooi plante kies wat aard in die karoo-klimaat en die koeler herfsweer help verseker.
Die olyfboorde hang swaar aan vetronde olywe – hierdie jaar ‘n rekordoes! Anton en sy span jongmanne pluk van douvoordag frantoias vir olyfolie en calamatas en missions vir inlê. Regoor Volkskool loop die oliepers van Cornelia. As jy durf inloer maak sy jou sit onder die boom tussen die sorteerders en kan jy die doel van jou koms oor ‘n emmer olywe verduidelik – die blinkgladdes kom in hierdie skottel, word verduidelik, en die met merkies kom in daardie een. Volgende aan die oesbeurt is die pekanneute wat vinnig ryp word in die herfsson en tussen die kopstukke en skerts word daar aangedruk met die werk!
Die goudgeel olie wat uit die pers tap raak vir my kosbare, Bybelse olie waarin mildelike seën opgesluit lê. Geld kan dit nie koop nie! Net my rooier wange verklap dat my hart uit volle bors die Arbeidslied sing – ‘n lied wat ons vir ons manne toegesing het met die opening van die pypleiding in die beginjare – Oranjerivierwater wat aan die wortels lê van hierdie rekordoes olywe!
Arbeidslied
Orania, dorp van ons harte
jy bring terug ons eer en ons faam
want mannemoed lankal vergete
herleef met volkstaatbou saam
So blink vloei die magtig’ Oranje
nog blinker ons vryheid daarvoor
want hartseer en smart is vergange
as arbeid en vryheid bekoor
Te arbei dit adel mos altyd
dit maak weer ons harte so bly
want water laat saad wat gesterf het
eenmaal in lente gedy
Ons sing nou ‘n lied vir ons manne
ons bring uit ons harte hul dank
want sweet en vereelte grof hande
teken die kaart van ons land
Net miskien inspireer ons ook ander om van hul swaarde ploegskare te smee en van hul spiese snoeiskêre.