Deur Sebastiaan Biehl

Toe Orania in 1991 gekoop is, was dit die eerste praktiese stap in die verwesenliking van ‘n ideaal wat al vir meer as 20 jaar bedink is, naamlik ‘n eie gebied oftewel volkstaat vir die Afrikaners.

Eerste versigtige tree in rigting volkstaat (1960’s en 1970’s)

Daar is geen duidelike datum om te bepaal wanneer die idee van ‘n Afrikaner-volkstaat die eerste keer genoem is nie. Dit het wel ontstaan binne die dampkringe van die Suid-Afrikaanse Buro van Rasse-Aangeleenthede (SABRA), wat in 1948 gestig is en territoriale skeiding op grond van rasse en volkere gesteun het en navorsing daar rondom gedoen het. Meeste latere voordenkers en voorvatters van die volkstaat-idee was lede van SABRA. Dr Chris Jooste, prominente lid en later direkteur van SABRA van 1968 tot 1982, was een van die eerstes wat behalwe vir tuislande vir die verskillende swart volke ook die moontlikheid van ‘n volkstaat vir blankes (wat destyds as ‘n volk behandel is) teenoor eerste minister dr Verwoerd, wat SABRA gesteun het, genoem het. Al die aandag was egter op die ontwikkeling van die verskillende swart tuislande (selfs ‘n bruin en Indiërtuisland is bespreek) en Suid-Afrika was sonder die tuislande by implikasie die “blankes se land”, met die Afrikaner as die prominente deel.

In die tyd van eerste minister BJ Vorster, waar die geweldige swart bevolkingstoename en die groeiende onrus sekere mense laat wonder het oor die volhoubaarheid van “aparte ontwikkeling”, is ‘n “blanke tuisland” reeds in die vroeë 1970’s as ‘n alternatief genoem indien die tuislandbeleid sou misluk, deur niemand minder nie as dr Gerrit Viljoen, SABRA-lid, voorste akademikus en later minister onder PW Botha. SABRA en veral dr Jooste het die idee in die laat 1970’s meer openlik verkondig en daar is in 1977 met ‘n memorandum oor “Projek Oranje” in-diepte navorsing oor die moontlikheid van blanke groeipunte bekend gestel. In sekere kerngedeeltes van Suid-Afrika, onder andere in die gebied waar Orania vandag geleë is, sou blankes gekonsentreerd vestig ten einde ʼn soort hartland te vorm. Pleks van blankes is later toenemend van Afrikaners gepraat.

Die breuk met die regering, eerste praktiese stappe en die stigting van AVSTIG (1980’s)

In 1980 is die eerste organisasie wat die idee van “Projek Oranje” in praktyk wou uitvoer, die Vereniging van Oranjewerkers (VOW), gestig. Baie van hulle beginsels het ooreengestem met die van die latere Afrikaner Vryheidstigting. Alhoewel VOW nog vaag was oor die gebied en nie ‘n Afrikanerstaat van Suid-Afrika wou afskei nie, het hulle wel die idee van konsentrasie in sekere demografies gunstige kerngebiede, soos deur Projek Oranje voorgestel, nagestreef. Hulle het ook die eerste keer volkseie arbeid as voorvereiste verkondig en in verskeie dorpe binne die aangewese gebiede (soos Morgenzon en Philippolis) toegepas. Dr Jooste en ander uit SABRA was ook leiers binne VOW. Hy, prof Carel Boshoff en ander het toe al gepleit vir ‘n tuisland in die yl bevolkte noordwestelike Kaapland en dele van die Oranje-Vrystaat, maar binne die VOW was die meeste lede aanhangers van ‘n konsentrasie in die Oos-Transvaal, waar Afrikaners reeds groot getalle gehad het, maar nog steeds ‘n minderheid was en nooit die getalleresies sou kon wen nie. Boonop was dit ‘n ekonomies sterk ontwikkelde en daarom ook sterk geïntegreerde gebied.

Die tuislandbeleid het in die 1980’s sy straalkrag verloor en meer en meer, met korrupte en onbekwame tuislandleiers en – administrasie, ‘n verleentheid geword. Terwyl dr Verwoerd oortuig was van die werkbaarheid en regverdigbaarheid van tuislande en mnr Vorster Verwoerd se beleid ten minste uiterlik voortgesit het, het mnr Botha na alle aanduidings nie meer werklik daaraan geglo nie.

Daar was geen regeringsteun vir dit wat VOW verkondig en gedoen het nie en min steun van Afrikaners op grondvlak, selfs nie in die aangewese gebiede nie. Trouens, dit was in daardie tyd, die vroeë 1980’s, waar daar ‘n breuk was tussen SABRA (en verwante organisasies) wat vir territoriale selfbeskikking gestaan het, en die NP-regering onder PW Botha, wat meer en meer in die rigting van een onverdeelde Suid-Afrika gewerk het (veral met die 1984 grondwet). Prof Boshoff, destyds voorsitter van die Afrikaner Broederbond en van SABRA (1972-2002) en ook voorsitter van die nuutgestigte AfrikanerVolkswag, was een van diegene wat uit die gevestigde orde na die politieke woestyn beweeg het om nie sy oortuigings en ideale prys te gee nie. SABRA was afhanklik van regeringsbefondsing en dit is gestaak, omdat hulle toenemend in opposisie tot die NP-regering was en die 1984 grondwet, wat afstand gedoen het van die uiteindelike doel van territoriale opdeling, verwerp het. SABRA moes op eie fondswerwing staatmaak.

1984 was ‘n beslissende jaar, want SABRA en die NP-regering was nie meer deel van dieselfde kring nie. Wat vroeër ten minste implisiete regeringsbeleid was, het nou vir die regering ‘n struikelblok geraak. Dit was die tyd waar Afrikaners op talle vlakke geskeur het, polities, godsdienstig, op onderwys- en kultuurgebied. SABRA was egter ‘n dinkskrum, nie ‘n massabeweging wat populêre steun kon monster nie. Dit was daarom dat die Afrikaner Volkswag in 1984 gestig is, om volksgesinde Afrikaners op die gebied van hulle kultuur en veral rondom die 150’ste herdenking van die Groot Trek te verenig. “Op trek na ons eie” was die leuse en die boodskap was dat die herdenking nie net oor die verlede gaan nie, maar dat die trek van die Voortrekkers na vryheid en soeke na ‘n eie staat in die binneland in die verlede onder die huidige omstandighede die trek na ‘n eie Afrikanertuisland sou wees. Prof Boshoff is tot voorsitter van die Volkswag verkies. Nie almal binne Volkswag was noodwendig volkstaters nie, maar die sentiment van die eie toekoms en die afkeur vir die rigting van die regering het sterk geloop. Dit was ook in daardie tyd waar talle publikasies uit die kringe van VOW, SABRA en Volkswag, wat ‘n eie gebied of tuisland bepleit het, die lig gesien het.

Tussen 1986 en 1988 het talle herdenkingsgeleenthede plaasgevind, met die hoogtepunt by Donkerhoek naby Pretoria op 16 Desember 1988, waar volksgesinde Afrikaners saamgesnoer is en daar ‘n gevoel van ‘n lotsbestemming en ‘n nuwe strewe na ‘n groot ideaal sonder die verbruikte NP was. Die emosionele opwelling van die Groot Trek 150 herdenking moes egter nou gebruik word vir ʼn doel. Die mobilisering van groot getalle Afrikaners rondom die Groot Trek het direk gelei tot die stigting van die Afrikaner Vryheidstigting (AVSTIG) in Maart 1988, ook onder leiding van prof Carel en mev Anna Boshoff. Terwyl SABRA veral teoreties van aard was, en Volkswag kultuur-polities, het AVSTIG die onomwonde doel nagestreef om die volkstaat werklikheid te laat word deur ontwikkeling van ‘n yl bevolkte gebied in die Noordwes-Kaap. AVSTIG was egter vir eers ʼn avantgarde-organisasie met enkele, maar baie sterk volkstaatgesinde lede, en Volkswag was die “volksorganisasie” wie se lede die volkstaatideaal in beginsel gesteun het. Later is met “Spansaam” ʼn oorgangsreëling getref, waar ʼn lid van een organisasie lid van al drie (SABRA, Volkswag, AVSTIG) geword het, met toenemende fokus op AVSTIG.

In Junie 1988 het AVSTIG sy plan vir ‘n Volkstaat bekend gestel. Die droë en yl bevolkte Noordwes-Kaapland en dele van die Suid-Vrystaat is as volkstaat voorgestel, sonder enige groot stad of tuisland of myn, ʼn groot feitlik leë gebied wat met sowat 500 000 Afrikaners ʼn stewige meerderheid sou hê. Dit was gebaseer op navorsing van veral dr Jooste en Dirk Viljoen. Volkseie arbeid was een van die ononderhandelbare vereistes vir die volkstaat. Die model van die besetting en ontwikkeling van Palestina deur die Jode was daarby ʼn voorbeeld en ʼn inspirasie. Die plan het op die stadium min geesdrif in die media of onder die gemiddelde Afrikaner ontlok aangesien die media veral die NP-lyn gevolg het, maar dit is tog deur sekeres as ‘n moontlike uitweg uit die doodloopstraat van geweld en konflik gesien.

AVSTIG het voortgegaan om sy plan met al sy aspekte te bemark. Daar is in die tyd ook besoeke aan die aangewese gebied gebring om te kyk na ‘n geskikte plek om ‘n praktiese begin te maak.

Die aankoop van Orania. Die volkstaat-ideaal word praktyk.

‘n Lid van AVSTIG het in Augustus 1990 op ‘n advertensie in die Landbou Weekblad afgekom wat aangekondig het dat die staat ‘n hele dorp in die Noord-Kaap, Orania, met ‘n oppervlakte van 483 hektaar, te koop aanbied. Dit was geleë in die  volkstaatgebied wat AVSTIG voorgestel het. Prof Boshoff het dadelik die bestuurslede van AVSTIG bymekaargekry en sommer die volgende oggend het hulle die lang pad van Pretoria aangepak om ‘n verkennende besoek aan Orania te bring en te ondersoek of die dorp geskik was as ‘n volkstaatgroeipunt. Alhoewel die plek vervalle en verniel was, het prof Boshoff en sy ondersteuners wel die potensiaal raakgesien en besef hoeveel infrastruktuur nog steeds daar was wat andersins ten duurste weer opgerig sou moes word. Op pad terug is besluit om die koop te waag en om ‘n tender in te sit op die veiling. Prof Boshoff het prof Gerrit Viljoen, Minister vir Grondwetlike Ontwikkeling in die NP-kabinet en ‘n kennis uit die dae van gemeenskaplike betrokkenheid by SABRA, geskakel om te hoor of die regering ‘n beginselbeswaar met die stigting van ‘n volkstaatgroeipunt sou hê.

Volgens prof Viljoen sou die regering niks doen om so ‘n volkstaatgroeipunt te keer nie. Die bedrag van R620 000 is bymekaargemaak veral deur die onverpoosde werwing van Anna Boshoff en ‘n tender is ingesit. Die bedrag was egter te min en die bod is toegestaan aan ‘n man van Johannesburg wat tot 31 Januarie 1991 tyd gehad het om die som te betaal. Die noodlot het dit egter beskik dat die volkstaters ‘n tweede kans sou kry omdat die voornemende koper nie sy verpligtinge kon nakom nie. Nou moes vinnig besluit word.

Uit sowat 1500 lede en ondersteuners van Volkswag, AVSTIG en die volkstaatgedagte is mense geïdentifiseer en gekontak om deur middel van aandele van R25 000 elk in die projek te belê. Dit was aandelekapitaal wat rentevry geleen is en terugbetaal is namate die aandeelblokke in Orania verkoop is. Alle aanvanklike bydraers vir die aankoop van Orania het mettertyd hulle insetkapitaal sonder rente terug ontvang. Die venster van geleentheid vir die aankoop van Orania was net vir ‘n baie kort tydperk oop en dat alles reg geloop het, was ‘n klein wonderwerk.

‘n Paar dae voor die sperdatum vir die tender is die bedrae in ‘n trustrekening inbetaal en is die ooreenkoms beklink. Vir die bedrag van R1.6 miljoen is die aanvanklike koper se verpligtinge oorgeneem en is Orania van die Departement van Waterwese met al die verbeteringe en toerusting gekoop en geregistreer in die naam van Orania Bestuursdienste Eiendoms Beperk (OBD). Teen 31 Januarie 1991 sou OBD oorneem en die Departement alles ontruim. Weens allerhande struikelblokke en voete sleep van die departement is die datum egter verskuif na 31 Maart. Net daarna, op 13 April, was die amptelike bekendstelling aan alle voornemende inwoners asook aan die media, ʼn geleentheid wat as Orania se stigtingsdag jaarliks gevier word. Kort na die aankoop van Orania is ook die omliggende plaas Vluytjeskraal 272 gekoop.

AVSTIG het hom gekonstitueer soos ‘n toekomstige Afrikanerregering, met ‘n jaarlikse Burgervergadering waar alle lede asook belangstellendes sake rondom die volkstaat kon bespreek, asook ‘n Burgerraad wat deur die lede verkies is en ‘n soort “volksraad” was, en die uitvoerende raad met portefeuljes, ‘n soort volksregering en die president as voorsitter. Vergaderings het in die Gemeenskapsaal van Orania plaasgevind, maar met die veronderstelling dat Orania net die eerste groeipunt in ‘n groter toekomstige volkstaat was.

*Die verhaal van die Afrikanervryheidstigting (Orania Beweging) se rol na die aankoop van Orania tot vandag sal in die volgende uitgawe van Voorgrond gepubliseer word.

Blog Single

Die geskiedenis van ons organisasie

by | Okt 9, 2018 | Voorgrond | 0 comments

0 Comments

Submit a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui