fbpx

Om mieliepap te maak, is op die oog af nie moeilik nie; net drie bestanddele: water, sout en mieliemeel. En tog is alle mieliepap nie lekker nie. Klonterigheid (die beginnersprobleem) buite rekening gelaat, is daar eintlik net een ding wat verkeerd kan wees en dis die sout – te min of te veel. Of dit slappap, stywepap of krummelpap is en of dit nou perfek lyk waar dit daar staan en stoom, te veel of te min sout kan tot teleurstelling lei.

Nou vra iemand my – laat ek hom maar ’n wetenskaplike noem – hoe mens weet as jou pap te veel sout in het. En hy vra dit nie soos een wat wil weet nie, hy vra soos een wat wil sê, dus luister ek. Hy sê: jy proe dit … hy bedoel as jy die sout kan proe, is dit te veel. Ek vra toe of sy reël nie ’n bietjie subjektief is nie en hy sê: ja natuurlik, maar ’n mens se mieliepapsmaak ís ’n subjektiewe saak. Hy het onlangs vir ’n week by mense gebly wat te veel sout in hulle pap gooi en wat dit so ongemaklik maak, is dat hulle dit nie proe nie.

Daarmee het hy kennelik ’n paar groot lewensvrae aangesny, veral as mens geweet het dat dit sy skoonfamilie is by wie hy gekuier het. Maar verhoudingsvrae en relatiwiteit daar gelaat, is die punt waarop ek afstuur die volgende: mens kan sout nie juis as die “geheime bestanddeel” van mieliepap beskryf nie, maar tog is daar ’n geheimenis in die gebruik daarvan opgesluit.

Om onder die opskrif van Idealisme met ’n mieliepapstorie te begin, skep sekerlik die verwagting dat daar ’n eenvoudige en onteenseglike toepassing sal volg, ’n soort lessie van die storie. “Sout is goed en selfs noodsaaklik, maar nie te veel op ’n slag nie – en so is dit met idealisme ook …”

Dit is nie waarop ek afstuur nie, hoewel dit seker ’n belangrike aanknopingspunt bevat. ’n Punt wat vooruit verreken moet word as mens, soos ek dit verderaan sal doen, ’n pleidooi vir idealisme wil lewer. Daar is tog soveel praktiese werklikhede wat nie geïgnoreer kan word nie en almal weet dat die soort dromery wat voeling met die werklikheid verloor, nie ver kom as dit in werking gestel word nie.

My toepassing van die storie is eerder dit, dat daar in die suksesvolle mengsel van idealisme en werklikheidsbesef ook ’n geheimenis skuil, iets wat nie in resepte en formules opgesluit lê nie, maar waaroor ons onder moeilike omstandighede dieper behoort te dink. “Moeilike omstandighede” – en  die meeste mense sal saamstem dat Afrikaners hulle tans in moeilike omstandighede bevind – is eintlik net ’n ander manier om na ongunstige en onwenslike werklikhede te verwys.

Enige mens met ’n sin vir selfstandigheid, of dit nou polities, ekonomies, emosioneel of andersins is, voel soms deur sekere werklikhede vasgekeer en neem hom of haar voor om dit te verander, al is dit die laaste ding wat hulle doen! Soms vang mense in sulke tye dwaashede aan, soms styg hulle tot nuwe hoogtes of kondig hulle planne die begin van iets nuuts en groots aan. Maar waar lê die verskil tussen die een en die ander, tussen die een wat onder moeilike omstandighede ondergaan en die een wat onder moeilike omstandighede nuwe hoogtes bereik?

Dit is duidelik ’n kwessie van verandering én werklikheid – nie nét verandering nie en nie nét die behoud van bestaande werklikhede nie, want aan beide kan mens ondergaan terwyl ’n goeie balans tussen veranderingswil en werklikheidsbesef die sleutel tot sukses hou. Maar hoe vind mens dié goeie balans?

Daar is geen resep vir goeie oordeel en gesonde verstand nie, en tog vaar party mense daarmee beter as ander en vaar dieselfde mense partykeer beter as ander. Ek is seker dat enigeen wat van ander se suksesse en mislukking probeer leer, iets daaruit sal wys word. Daarom dat gevallestudies in sommige vakke tot op die hoogste vlak so ’n belangrike plek in die leerplanne inneem. Voordat ek my egter op ’n waardevolle bron uit die tradisie beroep, wil ek ’n eenvoudige definisie gee van wat ek met idealisme bedoel – dalk so eenvoudig dat dit kon gebly het, maar ek dink tog dat dit iets bevat wat ons maklik en tot ons nadeel uit die oog verloor.

Wat ek oor idealisme te sê het, sê alreeds ook iets oor die mens en hoe ons die mens kan of moet beskou. Dit is dat, vanuit menslike hoek, die werklikheid aan die een kant altyd alreeds gegewe is, maar aan die ander kant ook altyd alreeds ’n veranderlike en veranderbare gegewe is. Dit mag nou baie filosofies klink, maar ons ervaar dit elke dag: daar staan as’t ware elke oggend ’n werklikheid vir ons klaar, een wat om sy eie redes en “van binne” kan verander (dink maar aan die weer), maar ook deur my – meestal nie alleen nie – verander word (dink maar aan die bouperseel waar ek dalk my brood verdien).

Fokus ons nou op die deel van die werklikheid wat ek vandag (of vanjaar, of gedurende my lewe) gaan verander, onstaan die vraag: Hoe en aan die hand waarvan gaan ek dit verander? Aan die hand van niks anders nie as ’n idee, ’n denkbeeld van hoe die werklikheid vir my of vir ons beter kan word as wat dit tans is. Só beskou is idealisme niks anders nie as die oortuiging dat idees aan ons werklikheid betekenis gee en aan ons verandering daarvan rigting gee.

Hoewel hierdie oortuiging oordryf kan word en ’n mens dalk jou aandeel aan of die moontlikhede van ’n nuwe werklikheid kan oorskat, is ek van mening dat ons mense vandag eerder die teenoorgestelde risiko loop. Ons loop die gevaar om die rol wat ons elkeen apart, maar veral saam kan speel in die daarstelling van ’n beter werklikheid as die een wat ons ontvang het, te onderskat. Ons Afrikaners in Suid-Afrika berus te maklik, pas te maklik aan by omstandighede wat ons lankal weet ons nie behoort te aanvaar nie. Ons loop die risiko om ons idealisme te verloor.

Dit help egter nie om bloot ’n beroep op meer idealisme te doen, maar geen rigtingwysers te gee vir die wat en die hoe daarvan nie. Om by die hoe te begin, gaan dit oor die verskil tussen mislukking en sukses, want selfs ’n goeie plan wat verkeerd aangepak word, stuur op mislukking af terwyl ’n ou konserwatiewe spreekwoord lui “moenie dat die perfekte tussen jou en die beste staan nie”. Die beste raad waarvan ek weet as mens ’n goeie idealis wil wees, sluit by die klassieke deugde wat deur skrywers soos Jozef Pieper en Alistair MacIntyre vir ons era toepaslik gemaak is.

Ek noem dit maar, want om aan hierdie ontdekking – só word dit beskryf – reg te laat geskied, kan ’n lewenstaak wees. En as ek die vier kardinale deugde (weer) noem, sal dit onmiddellik duidelik wees dat elkeen op ’n besondere manier sal help om ons idealisme op vrugbare weë te lei.

  • Die moeder van die deug is verstandigheid, daardeur word nie net ons handelinge nie, maar ook ons vertolking van die ander deugde gelei.
  • Die tweede deug is dapperheid waarsonder geen onderneming wat die moeite werd is, aangepak kan word nie; daarsonder staar ons ons net teen die struikelblokke wat die gegewe werklikheid opwerp, vas.
  • Die derde deug is matigheid waarsonder ons gevaar loop om ons eie denkkrag of doenkrag te oorskat; om planne te bedink asof ons gode is en nie mense nie.
  • Die vierde deug is geregtigheid waarsonder ons verhouding met ander sal skeefloop omdat die tydelike voordeel van selfbegunstiging ten koste van ander vir ons as mense so ’n onweerstaanbare versoeking verteenwoordig.

Die Afrikanervryheidstigting het 30 jaar gelede as ’n ideebeweging ontstaan en ten diepste is dit juis wat die Orania Beweging vandag nog is: ’n uitdrukking van idealisme. Die wat van ons idealisme is kort en klaar: vryheid in ’n eie gebied onder ’n eie owerheid en met eie arbeid verwerf. Daaraan toets ons elke gegewe werklikheid en verander ons dit planmatig en na ons vermoë sodat elkeen wat hiermee gemoeid was eendag sal sê “my lewe was betekenisvol”.