by Jaco Kleynhans | Aug 7, 2014 | Nuus |
“At the present time we are suspended, so to speak, between two worlds of allegiance and association. On the one hand, and partly behind us, is the historic world in which loyalties to family, church, profession, local community, and interest association exert, however ineffectively, persuasion and guidance. On the other is the world of values identical with the absolute political community – the community in which all symbolism, allegiance, responsibility, and sense of purpose have become indistinguishable from the operation of centralized political power.” – Robert Nisbet, The Quest for Community
Nisbet se beskrywing van ‘n tyd wat so te sê by ons verby is, verwys natuurlik na die grootskaalse verskuiwing in magsverhoudings en politieke stelsels wat met die Era van Verligting na vore getree het en veral na die Tweede Wêreldoorlog in ‘n versnelde tempo in Westerse lande ‘n houvas gekry het. Die tradisie van hegte gemeenskapsverbintenisse, samewerking en assosiasie is vervang met ‘n fokus op individuele regte, die moderne regstaat en die verligting. Wat die liberale Westerse individu van die negentiende eeu egter nie besef het nie, is dat individuele regte die rol van tusseninstellings wat ‘n belangrike rol in die verhouding tussen burger en staat behoort te speel, verswak het. Die regstaat plaas dalk die klem op regte, maar vereis ook inmenging in mense se lewens deur regulasie en sentralisering van nie net mag nie, maar ook beginsels en praktiese reëls wat voorheen onderling deur assosiasie bepaal is.
In Westerse lande sien ons vandag die massa magtelose burgers wat in ‘n afstandelike verhouding met die politieke elite staan. Die verhouding is hoofsaaklik gebou op die persoonlike vryheid wat met die verligting saamgekom het en wat in samehang met die materialisme en persoonlike drang na meer van alles, lande bestaande uit goed georganiseerde gemeenskappe in ‘n massa individue omskep het. Die Westerling van voor die verligting het vervulling gekry uit omgang met sy medemens in ‘n gemeenskapsverband en gereël binne tusseninstellings soos kerke, skole, markte, koöperasies, sport- en kultuurverenigings. Vandag se Westerling vind vervulling uit die veronderstelde absolute vryheid wat die moderne individualisme moontlik gemaak het en die voortdurende verkryging van materiële dinge wat korttermyngeluk moontlik maak.
Die probleem hiermee is egter dat materiële middele nooit langtermyngeluk kan bring nie. Die mens streef altyd na iets meer as net materiële geluk. Die oormatige wyse waarop die Westerse wêreld die individualisme omhels het, het tot ‘n verswakking en in baie gevalle vernietiging van die middelinstellings aanleiding gegee. Die individu staan vandag in baie gevalle in ‘n afstandige verhouding met ‘n sentrale mag wat in ‘n poging om individuele regte te onderhou juis die individu die reg tot talle persoonlike vryhede ontneem. Want soos die ou gesegde lui: My vryheid begin baie keer waar joune ophou.
In die VSA en Europa is daar ‘n groot breuk tussen die burgery en regerings, oftewel die politieke elite. Wie ookal regeer, staan op ‘n afstand van die burgery. In Europa word meer en meer wette deur ‘n Europese regering wat nog nooit verkies is nie, maar wat aangewys word, gemaak. Geen Europese burger beskik oor die vermoë om hierdie besluite te beïnvloed nie. Die politieke elite wil ‘n orde in stand hou en doen dit deur die regulering van individue wat soos marionette rondgelei word. In Suid-Afrika het die ANC op ‘n baie slim manier sedert 1994 daarin geslaag om ‘n meerderheid van die land se bevolking totaal afhanklik van die sentrale staat te maak. Gemeenskappe en tusseninstellings is doelbewus verswak en gewone burgers staan magteloos in verhouding tot die magtige sentrale regering. So magteloos soos wat Afrikaners toenemend voel, so magteloos voel meer en meer swart mense regoor Suid-Afrika. Die regering bied oorlewing, maar nie geluk nie.
Orania kan nie anders as om saam met ander gemeenskappe en volkere van regoor die wêreld teen hierdie tendens in te gaan nie. Orania moet vir die volgende staan:
1. ‘n Gesonde verhouding tussen die gemeenskap en die individu
Orania is nie ‘n kibboets nie en die Afrikaner nie ‘n nomadiese volk nie. Afrikaners hang ook verskeie individuele regte aan, maar dit beteken nie dat ons nie ‘n volk met ‘n sterk gemeenskapsbesef is en moet wees nie. In Orania handhaaf ons ‘n gesonde balans tussen die regte van die individu en die beginsels van die gemeenskap. Dit lei eerder tot die versterking as die verswakking van gemeenskapsinstellings.
2. Desentralisering eerder as sentralisering
In Orania word magte eerder afgewentel as opgewentel. Die vraag is dus nie wat kan die regering vir my doen nie, maar wat kan ek vir die regering doen. Elke burger het ‘n groter plig eerder as ‘n regering wat baie belangrik voel.
3. ‘n Veelheid van leierskap eerder as ‘n klem op sentrale figure
Orania het nie een groot leier nie. Ons het ‘n voorsitter van die Dorpsraad, voorsitter van die Orania Verteenwoordigende Raad, ‘n president van die Orania Beweging, voorsitter van die Orania Sakekamer en verskeie ander leiers wat almal verskillende persone is en almal leiersfigure eerder as heersers is. Hoe meer leiers hoe beter.
4. ‘n Regering moet doen wat hy moet doen en nie wat hy kan doen nie
Dit is in die mens se wese om van ‘n regering te verwag om oplossings te bied. Moet die Orania Dorpsraad personeel aanstel om rommel op te tel? Wat van permanente veiligheidwagte wat saans patrollies kan doen? Moet ons nie ‘n verkeerdsbeampte kry nie? In hierdie gevalle en talle ander is die antwoord: Nee. Die gemeenskap sorg self dat die dorp skoon is, doen self patrollies in die aand en spreek mekaar aan oor verkeersoortredings. Die regering hoef nie vir elke probleem die een te wees wat die antwoord moet bied nie.
5. Konsultasie skep eensgesindheid eerder as verdeeldheid
Regerings is meestal bang vir die burgery en vermy graag konsultasie. In Orania word burgers in die meeste belangrike besluite geken en dit skep eerder samewerking en eensgesindheid as in verdeeldheid en negatiewe reaksies.
6. Volhoubaarheid moet ‘n leefwyse wees
‘n Gonswoord deesdae is volhoubaarheid. Min mense leef egter op volhoubare maniere. In Orania wil ons volhoubaarheid ‘n leefwyse maak. Volhoubaarheid lê nie net op die terreine van omgewingsbewaring en energiebesparing nie, maar ook in ons vermoë om sterk instellings te skep wat ‘n gemeenskap daarstel wat vir volgende generasies ‘n tuiste kan wees.
7. Daar is niks fout daarmee om trots op jou kultuur te wees nie
Afrikaners leef daagliks in vrees dat ‘n openbare trots vir hul kultuur tot benadeling aanleiding kan gee. In Orania word ‘n trots op jou eie kultuur en ‘n volwaardige uitlewing daarvan as ‘n goeie karaktereienskap beskou wat vir jou groot voordele kan inhou.
8. Regulering hoort by verskillende instellings eerder as een sentrale mag
In Orania het ons sterk instellings soos die Orania Dorpsraad, Orania Beweging, skole en kerke. Daar is egter nie net een instelling wat die mag het om regulasies toe te pas nie. Elke instelling het sy rol. Die Dorpsraad as ‘n soort regering reguleer nie waardes nie. Dit hoort by die kerke. Kinders leer van dissipline in die gesinsverband, die skool en die kerk. So het elke instelling sy gedesentraliseerde rol in gemeenskapsregulering.
9. Lewensgehalte is belangriker as lewenstyl
Regoor Suid-Afrika leef Afrikaners in luukse huise, ry in duur motors en verdien groot salarisse terwyl hulle uiters ongelukkig is. Nie alle welgestelde mense is ongelukkig nie, maar net ‘n hoë lewenstyl kan nie geluk bring nie. ‘n Goeie lewensgehalte word verkry deur toegang tot die nodig lewensmiddele, ‘n goeie selfbeeld, ‘n kultuurtrots, ‘n sterk gemeenskapsband en inskakeling by instellings. In Orania woon baie mense wat op lewenstyl moes inboet, maar wie se lewensgehalte hier toegeneem het.
10. Samewerking eerder as konflik
Partykeer lyk dit asof Afrikaners meer baklei hoe slegter dit gaan. In Orania glo ons in samewerking eerder as om op ons verskille te fokus. Ons werk saam met verskeie organisasies en individue, sommiges naby aan ons, andere meer verwyderd. Die doelwit is altyd die bevordering van Afrikanervryheid in ‘n eie grondgebied. Ons glo in groeiende selfbeskikking en glo dit kan net vermag word deur ons mense saam met ons te vat as om meer en meer van ons te vervreem.
Mag ons toenemend die Orania-model as ‘n werklike oplossing vir ons mense aanbied en mag ons daarin slaag om saam met ander gemeenskappe en volkere die gemeenskapsidee, waar ons self oor ons eie waardes, verhoudinge, verantwoordelikhede en behoud beheer kan neem en suksesvol op ‘n groter skaal implementeer.
by Henri Boshoff | Jun 13, 2014 | Nuus |
Ek deel ‘n huis met ‘n paar ou koshuismaats.
My meisie vra my nou die dag wat dink een van hulle en ek gee sommer vir hom die foon om self per teks te antwoord. Soos dit maar soms gebeur as koshuismaats ‘n pinkie gegee word, ontvang ek toe my foon die volgende oggend terug na hy met haar gesprek gevoer het as “ek”.
Die situasie hou vir my ‘n klomp lesse in.
1) Ek het heelwat insig gekry in wat die idee is wat ek uitstraal
Ek dink ek het meer geleer oor wie hy dink ek is in die boodskappe wat hy gestuur het toe hy soos ek probeer skryf het, as wat ek sou leer as ons vir dae aaneen in diep gesprekke was. Die tipe taalgebruik, die frases wat ek dikwels gebruik wat hom opgeval het, die onderwerpe wat hy aangeraak het… Alles aan die gesprek het ‘n beeld vir my geskets van wie hy dink ek is. As sodanig het ek myself leer ken.
2) Kontra-intuïtief was dit nie ek wat blootgelê is nie maar hy
As jy iemand anders probeer wees en daardie iemand anders lees hoe jy hulle speel, dan val die filters weg. Ek het uitgevind wie hy is. Op ‘n heeltemal ander vlak as wat ek sou as ons met mekaar gepraat het.
Wanneer ek wegstroop wat ek weet my persoonlikheid is, bly daar net oor wie hy dink ek is, en wie hyself is. Plato het hierdie gedagte verwoord toe hy gesê het jy kan meer van iemand uitvind deur ‘n uur te speel as in ‘n jaar se gesprekke. Hierdie spesifieke speletjie is een wat fokus op wie hy dink ek is. Daarom is ek in ‘n onregverdige magsposisie om hom te ontleed. Daar is groot dele van hoe ons ‘n rol speel wat maar bloot onsself is.
3) ‘n Mens sluit jouself af vir antwoorde oor mense omdat jy dink dat jy hulle ken
Ek het dinge oor my meisie agtergekom wat ek gedink het ek weet. Daar is dinge wat ek nou al goeie raaie oor gemaak het, so ek vra nie meer nie.
Maar die pêl weet nie, so hy vra. En haar antwoorde was ‘n goudmyn. Naby aan my verwagting in die meeste gevalle en tog nie. Ek het so sterk begin oplet wat ek verwag dat haar ware antwoorde my op plekke verras het.
4) Eerste indrukke is verskriklik belangrik
As die vrae wat ek vra dan so beïnvloed word deur wat ek dink ek weet, is dit waarskynlik van almal waar. Elke feit wat jy oor iemand leer ken word gefilter deur die vorige kennis wat jy van daardie persoon het. Die enigste ongefilterde kennis is die eerste interaksie. Daarom is dit belangriker as enige ander enkele interaksie.
5) Niemand kan lank voorgee nie
In weerwil van punt 4, kan niemand vir ‘n aand lank voorgee om iemand te wees wat hy of sy nie is nie. Nie as die mens met wie jy praat die een ken wat jy naboots nie. Na ‘n paar minute van iemand anders wees verval ons in ons eie gewoontes. Dan word die vermomming deursigtig. Sy’t hom redelik vinnig uitgewerk.
Ons is in veel groter gevaar by diegene wat ons goed ken as by onbekendes daar ver.
6) Die vrug van openheid is veel groter as die risiko
Ek het ‘n risiko geneem toe ek die foon oorhandig het. Hy het hom immers ‘n hele aand lank gehou! Maar hy het ook ‘n kans gewaag om ek te wil wees, so natuurlik was hy net so versigtig soos ek.
Hy kon ook nie eintlik skade maak nie – die mens met wie hy praat ken my darem! Die feit dat daar dinge oor my is wat bekend is, beteken hy sou heelwat teenkanting gekry het as hy iets ongelooflik gesê het.
Die vrug was iets waarna CS Lewis verwys het ná sy vriend Charles Williams, se dood wat sy verhouding met ‘n ander vriend, Ronald Tolkien skade aangedoen het. Daar is dele van mense wat jy nie te voorskyn kan bring nie. Ek het eerstehands beleef dat dele van onsself nie bestaan tot ‘n ander persoon dit ontlok nie. Daar is dele van die mense om jou wat jy nie kan ontlok nie – iemand anders moet dit doen.
Wat het al hierdie punte met enigiemand wat nie ekself is nie te doen? Elke punt wat ek hier maak oor persone kan ook direk oorgedra word op plekke, gemeenskappe en groepe. Daarom dink ek strategies vir Orania soos volg:
1) Dis noodsaaklik dat jy gaan kyk wie dink ander is jy. Jy móét lees wat dink die Citizen van Orania. Jy móét sien wat dink Praag. Jy moet baie fyn gaan kyk hoe reageer die ANC op Orania en wat dink Cosatu in die mate as hulle enigsins aan ons dink. My siening is dat hulle nie minder kan omgee oor ‘n ou in die Karoo as daardie ou nie ook ‘n mynbaas of bestuurder van ‘n groot maatskappy is nie. Die beeld wat ‘n plek uitstraal vir ‘n Numsa word nie in persverklarings gelees nie. As jy nie in ‘n optog is nie, let hulle jou nie op nie. Wat beide goed en sleg is.
‘n Mens moet sien of wat jy kommunikeer gehoor word. As ‘n deel gehoor is en die res nie, hoef jy nie volgende keer daardie deel te laat fokus dra nie. Kyk wat is gehoor. Die omgewingsbewustheid van die dorp is vir my ‘n goeie voorbeeld van iets wat dit selde tot in buitestaanders se persepsies maak.
As jy sien wat ander van jou dink ontsluit dit soms dinge oor jouself wat waar is, maar waarvoor jy blind was. Hierdie blindekolle kan’n mens seermaak as jy optree sonder daardie kennis, daarom wil jy hulle so klein moontlik maak. Dit was dus vir my baie waardevol om te lees wat dink ‘n ou in Europa oor ons interaksie met Europa (http://opinieplatform.co.za/2014/06/08/orania-se-internasionale-politiek-kan-anders/). Ek weet te min oor die interne politiek in Europa om die volle meriete te weeg, maar die opinie was waardevol.
2) Dit mag dalk goed wees om te vra wat ander groepe dink jou motiewe is. Gaan luister hoe dink ‘n Malema of ‘n Stephen Groottes oor mense wat hulleself gaan afsonder het tussen mense soos hulle. Nie om te gaan weerlê nie. Nie om ‘n bakleiery te gaan soek oor hulle jou wanvoorstel nie. Gaan luister wat dink hulle. Gaan vra wat maak dat hulle so dink.
En leer daaruit! Jy gaan omtrent ewe veel oor hulle leer as oor jouself. Ons ken immers die storie van Orania. Watter dele hulle dus vir hulleself gaan uitkies het, wys vir ons soveel wie hulle is as wat dit wys wie ons is.
Beter kennis oor wie die ander spelers op die bord is kan tot onverwagse vennootskappe lei. Mnyameni is ’n goeie voorbeeld. Hier moet ons bereid wees om ‘n paar onakkurate voorstellings van onsself te trotseer. Gaan voorbereid in die gesprek in met die volwassenheid om nie opgeruk te raak daaroor nie.
3) Kom ons maak nie of ons weet wat die motiewe van ‘n “derde mag” of ‘n “hulle” of “die kragte van vandag” of watter ongedefinieerde vae “vyand” is nie. My belewenis was tot dusver eenduidig dat niemand die tyd of energie het om ander se ondergang te beplan nie. Jy beplan vir jou eie voordeel.
Alle vooordele wat enige sogenaamde “vyandige” uit ‘n vernietiging van die Afrikaner kon kry het hulle reeds daarin dat daar nie ‘n Afrikaner aan die hoof van enige regeringsdepartement is nie. Hulle hoef ons nie te vernietig nie en het nie die doelwit nie. Optrede uit ‘n agterdogtige voorveronderstelling dat iemand TEEN ons is, lei tot ‘n versterking van alle teenkanting wat wel bestaan en dit kos ons vriende.
Maar soos ek sê: ek weet ook nie alles nie. ‘n Leergierige gees gaan niemand skade doen nie. Gewoonlik is die grootste struikelblok van kennis nie die nuwe goed wat ons moet leer nie, maar die gesukkel om iemand te leer wat dink hulle weet reeds. Dis nie goed as jy daardie rol vir jouself uitkies om te speel nie.
4) Eerste indrukke. Die Afrikaner het al van die Afrikaner-Nasionalisme (minstens) ‘n groot trots daarin dat hy nie sy beeld poets nie. Ek is soos ek is en jy kan daarvan hou of nie. Dan verras dit dikwels ‘n buitestaander om uit te vind jy is nie net ‘n harde volk wat wil baasspeel nie. Jy kan eintlik vriende maak en gasvry wees en jou kos is ongewoon, maar tog lekker. Kom ons maak dit nie ‘n verrassing dat ons aangenaam kan wees nie!
Ek lees by herhaling of voer gesprekke met swart vriende (en ook liberale vriende) wat uitspreek dat hulle oortuig is hulle sal nie welkom wees in Orania nie. Dis onwaar maar die eerste indruk wat ‘n opskrif “Whites Only”-town maak, is dat jy nie welkom sal wees nie. Alle teenvoorbeelde ten spyt, hou hierdie persepsie water. Ek dink ‘n uitnodiging om te kom kyk en te kom ondersoek of ons iewers ‘n weermag opbou moenie wag tot iemand weer hulle onkunde uitstal nie. Moenie ‘n “haai, kom kyk” spaar vir wanneer iemand nou klaar gesê het ons dink ons is beter as hulle en “mense wat soos ons dink” is die gif in die pragtige land nie.
Daardie uitnodigings moet proaktief wees. Daar is pas ‘n nuwe kabinet aangestel – nooi hulle. Dalk kom een, dalk twee, dalk almal, dalk niemand. As hulle egter oor drie of vier jaar skielik die jeuk kry om te gaan kyk of Orania verkramp is, kan hulle ‘n vriend naby hê om te vra of jy kan verwys na die oop uitnodiging en bevestig dat hy nog staan.
5) Wie jy is, gaan wys. Hiervoor is dit belangrik om duidelikheid te hê oor wie jy is. En Orania is nie ‘n “nie so en so” nie. Orania het ‘n positiewe standpunt VIR Afrikaans en die Afrikaner. Moenie dit verwar met ‘n “kwaad vir” of ‘n “darem nie”-posisie nie.
6) ‘n Mens vat ‘n kans elke keer wat jy toelaat dat iemand oor jou iets sê. Elke joernalis wat kom kuier en teruggaan en iets skryf, is ‘n risiko. Elke video oor hoe mense ‘n bestaan wil maak in Orania, is ‘n kans wat jy vat.
Maar as ek nou Paul McNally se artikel lees en ek sien hoe hy sy wese instort in ‘n spotboodskap en ek lees die kommentaar onderaan, dan moet ek die gevolgtrekking maak dat selfs die negatiefste publisiteit niemand oortuig wat hulle oë oop het nie. Die skrywer moes maar self inspring, anders was al die reaksies dat hy uitgelag word – selfs jare later. So, die kans wat jy vat is veel kleiner as wat dit voorkom.
Daar is reeds heelwat kennis in die wêreld van waarvoor hierdie dorp staan. Groot dele van die motiewe van die mense wat Orania gestig het en onderhou is algemeen bekend. Enigeen wat ver hiervan wil afwyk, gaan vir hom teenkanting op die hals haal.
by Sebastiaan Biehl | Mei 26, 2014 | Nuus |
Orania bemark homself as ‘n groen dorp, waar sonkrag gebruik word, vullis geskei word en plante en diere beskerm word. Vir die buitenstaander mag dit voorkom as ‘n poging om weg te doen met die harde beeld van Orania, wat gewoonlik negatiewe mediadekking kry weens “regse politiek” en klem op Afrikaneridentiteit, en om die meer sagte kant waarvan almal hou, die oulike groen dorpie, voorop te stel. Inderwaarheid is die beskerming van jou kultuur en identiteit en die beskerming van die omgewing twee kante van dieselfde munt, naamlik behoudendheid. Geestelike gesondheid, fisiese gesondheid en ‘n gesonde omgewing gaan hand aan hand.
Dit is een van die ironië van die politiek dat dieselfde partye en groepe wat elke boom en plant, elke dier en elke oorspronklike landskap wil beskerm, terselfdertyd morele waardes en gevestigde gemeenskappe wil vernietig. Dit rym nie om te wil bewaar en te wil vernietig en afbreek in dieselfde asem nie en om mens en natuur teen mekaar op te stel asof die een nie deel van die ander een is nie, en asof altwee nie deur God en tot Sy eer geskape is nie. Dit is net so ironies dat sogenaamde konserwatiewes op die voorpunt is van diegene wat hulle beywer vir mynbou en olie- en gasontginning in beskermde areas en vir die uitbou van kernkrag.
By alle kritiek teen die Westerse kapitalisme waarmee groenpartye en ander linkses so graag punte aanteken, moet onthou word dat die grootste besoedelaars sosialistiese lande was en is. Die ou Sowjet-Unie was seker die grootste besoedelaar in die geskiedenis. Vandag is dit Sjina, die land wat nog steeds deur ‘n kommunistiese party regeer word.
Die liefling van die “progressiewes”, wat omgewingsbewustes en groenes insluit, die ANC en sy trawante, is juis diegene wat nou kruis en dwars oor Suid-Afrika laat myn, wildstropery nie meer effektief beveg nie en water- en lugbesoedeling ongeërg laat plaasvind.
Die hele Orania-gedagte en konsep lê diep ingebed in konserwatiewe denke. Nie konserwatief in die sin van “agterlik”, teen verandering en uit tred met die tyd nie, soos wat joernaliste wat met ‘n paar stereotipes grootgeword het, beweer.
Konserwatief beteken om dit wat kosbaar is, te beskerm en te vertroetel. Kosbaar is iets wat die toets van die tyd deurstaan het, wat ewigheidswaarde het en wat dus ‘n reg tot bestaan en koestering het. Die logika van die oorlewing van die sterkste waarvoor liberales staan, kan wel geld as dit kom by tegnologiese uitvindings, waar dit wat meer doeltreffend is, dit aflos wat uitgedien is. As dit kom by dinge wat ewigheidswaarde het en wat nie vervang kan word nie, soos die kulturele erfenis of die natuur, is ingryping nodig.
Dit is nogal veelseggend dat die eerste inisiatief om natuur en diere te beskerm in Suid-Afrika, van Paul Kruger, ‘n diep konserwatiewe Afrikaner, uitgegaan het.
As ons dus in Orania die omgewing beskerm deur weg te beweeg van Eskom-krag wat met steenkool opgewek word na sonkrag, deur rommel te skei pleks om die omgewing toe te gooi met ashope en deur die uitroei van plante en diere aan bande te lê, dan word ons nie gedryf deur ‘n groen modegier nie, maar handel ons uit diepe oortuiging om vir ons nageslagte ‘n goeie land na te laat waarop hulle kan voortbou. Om dieselfde rede moet ons ook die eksplorasie van skaliegas in een van die laaste redelik ongeskonde gebiede van Suid-Afrika, die Karoo, beveg. Die natuur is net so ons erfenis soos die kultuur wat oor geslagte heen oorgedra is. Altwee is ten diepste deel van ons wese.
by Sebastiaan Biehl | Mei 23, 2014 | Nuus |
Die titel van Frans de Klerk se nuwe boek Orania, van dorp tot stad. ‘n Nuwe strategie is veelseggend. Dit behandel ‘n nuwe benadering tot die verkryging van vryheid vir die Afrikaner in sy eie gebied en behandel ook kortliks Orania se ontstaan en werkwyse.
Laat ek sommer met die intrapslag sê wat dit nie is nie omdat die persepsie wel bestaan het en nog bestaan. Die boek verteenwoordig nie ‘n argument vir ‘n verdere afskaling van die ideaal van staatkundige vryheid vir die Afrikaner nie. Dit is ook nie ‘n nuwe skuif om die aanspraak op selfbeskikking af te water nie en om ons te oortuig dat ons nou maar moet afsien van die ideaal van uiteindelike vryheid en tevrede moet wees met ‘n dorpie of ‘n mini-stadstaat nie.
Wat die boek wel goed beredeneer, is ‘n nuwe strategie om vryheid te bereik onder veranderde omstandighede. Die ideaal van uiteindelike vryheid bly nog dieselfde. Die kernargument van die boek is om die tans nog beperkte energie vir Afrikanerselfbeskikking te fokus op dit wat ons het, die dorp Orania, en om daarvan ‘n voertuig te maak wat ons by ‘n eie gebied vir die Afrikaner uitbring.
De Klerk argumenteer dat ons met die feit van beperkte getalle moet werk. Toe die idee van ‘n volkstaat in die Noordwes-Kaap bekend gestel is in 1989, en later weer in 1996 ook deur die Vryheidsfront ondersteun is, was die verwagting dat binne ‘n relatiewe kort tydperk van enkele dekades duisende Afrikaners hulle in die gebied gaan vestig, asook dat die ANC-regering gewillig sal wees om oor ‘n Afrikanergebied te onderhandel voordat nog iets op die grond tot stand gebring is.
Albei verwagtings is nie vervul nie, maar was terugskouend waarskynlik te naïef gewees. Om verskeie redes het Afrikaners se ontnugtering met die nuwe Suid-Afrika langer gevat as wat diegene wat Orania begin en ondersteun het en wat reeds voor 1994 ontnugter was, verwag het. Van ontnugtering met die oue tot die beywering tot die nuwe is ook nog ‘n redelike groot stap om te neem. Wat die regering betref, het die houding van “daar is plek vir almal in die land, ook Afrikaners” plek gemaak vir een van onbeskaamde swart nasionalisme en is die ANC nie bekommerd oor toenemende frustrasie, onttrekking en emigrasie van Afrikaners nie.
Om dié rede moes Orania sy strategie (nie sy einddoel nie), naamlik om ‘n groot, uitgestrekte gebied redelik gelyktydig te beset met aansienlike getalle Afrikaners, herbedink. Die strategie van verspreiding, om so veel as moontlik grondgebied te beset (wat eie is aan die Afrikaner se voorgeslagte, die Trekboere en Voortrekkers) kon om verskeie redes nie werk nie. Gewillige vryheidstrekkers was min en diegene wat in bestaande dorpe in die aangewese gebied in die Noordwes-Kaap gevestig het, moes besef dat hulle min of geen verskil maak nie omdat hulle met ‘n reeds gevestigde struktuur en ekonomie, wat nie te vinde was vir Afrikanerarbeid nie, te make gehad het. Slegs Orania, ‘n dorp wat van nuuts af opgebou is, het die ideaal vergestalt. Eenduisend Afrikaners wat gekonsentreerd in Orania woon, het ‘n baie groter impak as 100 Afrikaners wat elk in 10 dorpies oor die uitgestrekte Noordwes-Kaap sou woon.
Orania bied die voordeel dat dit reeds onder Afrikanerbeheer is en reeds in ‘n groot mate na sy mense se belange kan omsien en dinge vir Afrikaners kan doen wat geen ander munisipaliteit in die land doen nie. Hier is werk vir Afrikaners, hier is veiligheid, funksionerende dienste en ‘n mate van maatskaplike sorg en opheffing, behuising, goeie opleiding, beskerming en uitbou van ons kultuur, geleenthede vir ondernemers en vele meer.
Wat Orania en sy vermoë om groter uitdrukking aan die Afrikaner se vryheidstrewe te gee beperk, is veral die gebrek aan getalle. Dit maak dat hier tans geen hospitaal en voltydse dokter, geen universiteit of beroepskollege en geen groot nywerhede is nie. Die uitdaging is om Orania tot ‘n klein stad te ontwikkel vanwaar dit moontlik is om ‘n ware enjinkamer te wees vir die vinniger bereiking van die Afrikaner se vryheidsideaal.
Die woord stad mag vir mense uit Johannesburg, Durban of Kaapstad negatiewe beelde oproep van misdaad, vervreemding, besoedeling, verkeersknope, beknoptheid en anonimiteit. Vele stedelinge kom juis Orania toe op soek na ’n idilliese plattelandse bestaan. Die gerusstelling is dat Orania nooit ‘n megastad sal raak nie. Afrikaners se beperkte getalle maak dat ‘n Afrikanerstad Orania heel waarskynlik nie eers 50 000 inwoners sal hê nie en dat dit die voordele van stad en platteland sal verbind. Alles wat nodig is, sal in die stad beskikbaar wees en die lang en duur ritte na die stede onnodig maak. Dit is egter nog steeds ‘n opset waar mense gemoedelik en rustig kan lewe. ‘n Sekere grootte is nodig om die instellings, dienste en werksgeleenthede te kan vestig wat vir die meeste Afrikaners noodsaaklik geword het vir ‘n gehalte lewe. Dit sal ook ‘n deur en deur Afrikanerkarakter hê en die nadele wat met groot stede gepaardgaan, sal nie van toepassing wees nie.
Die Afrikanerstad Orania kan uit die aard van die saak nie sonder omliggende grond bestaan nie. Voedselsekuriteit is uiters noodsaaklik en ruimte bied ook veiligheid. Dus sal daar rondom die kernstad ‘n kleinhoewegebied wees, soos wat die meeste stede het, en nog verderaan sal daar ‘n gordel van plase wees om die kos te produseer.
Die boek Orania: Van dorp tot stad. ‘n Nuwe strategie kan ‘n belangrike rol speel om Afrikaners te laat besef dat Orania werklik ‘n alternatief kan wees.
by Frits en Ella | Mei 16, 2014 | Nuus |
Orania groeit. Nu al trekt de volkstaat veel journalisten wereldwijd. Dat zal, naarmate Orania groeit, alleen maar toenemen. De stem die Orania uitdraagt, zal steeds meer gehoord worden, op tv, in de kranten, op internet, tijdens politieke bijeenkomsten, enz. Wil Orania uit kunnen groeien tot de volkstaat, dan heeft zij steun nodig, laat ik zeggen, enige welwillendheid van de westerse wereld. Het stichten van een eigen land gaat niet makkelijk. Zoiets roept, zoals nu al blijkt, felle tegenkrachten op. Wat zal nu de allereerste aanval/beschuldiging zijn die tegen Orania wordt ingebracht? Rassisme! De Afrikaners bouwen hun eigen volkstaat/ Orania, omdat zij rassisten zijn. Zij hebben een hekel aan zwarte mensen en willen zich om die reden van hen isoleren. Dit is de allereerste aanval tegen Orania en de volkstaat. En voor dié aanval is de westerse wereld erg gevoelig.
—Mijn vrouw en ik wonen in West-Europa en zien met eigen ogen wat onder de mensen hier speelt. Afrikaners hebben geen goede naam. Het vooroordeel tegen Afrikaners dat algemeen leeft, is: jullie zijn rassisties. Op youtube zijn enkele filmpjes te zien, waarin Afrikaners als lelijk en monsterachtig, want rassisties, worden afgebeeld. En met name AWB-sympathisanten werken dit ook in de hand. Er is een video van een AWB-man op internet te zien, waar deze Afrikaner doodleuk aan jeugdige Afrikaners zegt, dat Hitler hun voorbeeld moet zijn. – De westerse wereld heeft nog steeds niet de gruwelen van Hitler verwerkt. Wat denken jullie, dat de boodschap is, die deze afrikaner uitdraagt naar de wereld aangaande jullie?
—De beschuldigingen tegen Afrikaners zijn niet terecht. Integendeel, Afrikaners zijn de moeite waard. Wij zijn van mening dat zij een lieftallig volk is. Maar daar heeft de westerse wereld geen enkele boodschap aan. Filmpjes en videos zoals die van deze AWB-man vormen de mening. En de tegenstanders van Afrikaners weten dat heel goed. Zij zijn er op uit om Afrikaners ten overstaan van de (westerse) wereld zwart te maken.
—Maar hoe kan Orania zich verdedigen tegen de beschuldiging van rassisme? In de allereerste plaats door niet rassisties te zijn. Dat is niet zo makkelijk, omdat Afrikaners juist door swartmensen in een hoek worden gedreven. Ik zelf afkomstig uit West-Europa moest blozen vanwege het rassisme in Zuid-Afrika, niet door, maar tegen Afrikaners. Het is begrijpelijk dat een mens dwarsgevoelens krijgt tegen die groep mensen door wie hij steeds wordt aangevallen. Precies hetzelfde gebeurde immers met de Nederlanders. Zij hadden de eerste jaren na de 2e wereldoorlog een uitgesproken hekel aan Duitsers. (Niemand haalde het in zijn hoofd om Nederlanders om die reden rassisten te noemen.)
—Toch moeten Afrikaners, willen zij overleven, hier- dit is niet makkelijk – een ‘kopschuif’ maken. Er bevinden zich onder swartmensen hele goede mensen. En swartmensen zijn niet beter of slechter dan witmensen. Deze overweging kan rassisme in ieders hart keren. Bovendien, als wij werkelijk ‘die Heere’ willen dienen, laten wij dan proberen – en dat is voor ieder mens een moeilijk gebod – een beetje onze naaste lief te hebben als onszelf. Ook dat keert rassisme.
—Mijn vrouw en ik zijn van mening dat het Orania-bestuur hier en daar kunstmatige maatregelen kan opleggen om kwaadaardige journalisten een stap voor te zijn. Maar dat zal allemaal slechts ten dele helpen. De belangrijkste maatregel tegen de komende aanval: julle zijn rassisten! – , is om het niet te zijn. Wij hopen, dat het Orania-bestuur hiervan doordrongen is. En zoals zij nu leiding geeft, doet zij het goed. Carel Boshoff senior heeft een goede geestelijke richtlijn gegeven in zijn autobiografie: Dis nou ek. – Als wij werkelijk een volkstaat voor de Afrikaners willen stichten, is het van wezenlijk belang om te blijven bij de geest die Boshoff in zijn boek uitademt. Die geest is goed. Waarom werken Orania-werkers voor de stichting van een volkstaat? Hierom! Omdat ook Afrikaners mogen leven en omdat Afrikaners in de huidige, politieke situatie van Zuid-Afrika geen kans krijgen om te (over)leven. De enige uitweg voor Afrikaners is het stichten van een eigen land, door Afrikaners en voor Afrikaners. Een ruime meerderheid van de inwoners van die staat moet natuurlijk uit Afrikaners bestaan. Dat waarborgt het bestaan van een land voor Afrikaners.
—Dit concept dat van rassisme is gespeend, is te verdedigen ten overstaan van de wereld. Wij moeten niet een volkstaat proberen te bouwen in isolatie van de rest van de wereld en van de rest van Zuid-Afrika. Dat is de idee van de AWB en het is tot mislukken gedoemd. Het zal, zo zijn wij van mening, uitlopen op de ondergang van de Afrikaners. Laten wij daartegen kiezen. Ook Afrikaners mogen leven! De volkstaat kan er, als God ons hierin zegent, komen, maar bij voorkeur moeten Orania-werkers hierbij samenwerking met hun zwarte buren in de rest van Zuid-Afrika zoeken.