fbpx

Orania bemark homself as ‘n groen dorp, waar sonkrag gebruik word, vullis geskei word en plante en diere beskerm word. Vir die buitenstaander mag dit voorkom as ‘n poging om weg te doen met die harde beeld van Orania, wat gewoonlik negatiewe mediadekking kry weens “regse politiek” en klem op Afrikaneridentiteit, en om die meer sagte kant waarvan almal hou, die oulike groen dorpie, voorop te stel. Inderwaarheid is die beskerming van jou kultuur en identiteit en die beskerming van die omgewing twee kante van dieselfde munt, naamlik behoudendheid. Geestelike gesondheid, fisiese gesondheid en ‘n gesonde omgewing gaan hand aan hand.
Dit is een van die ironië van die politiek dat dieselfde partye en groepe wat elke boom en plant, elke dier en elke oorspronklike landskap wil beskerm, terselfdertyd morele waardes en gevestigde gemeenskappe wil vernietig. Dit rym nie om te wil bewaar en te wil vernietig en afbreek in dieselfde asem nie en om mens en natuur teen mekaar op te stel asof die een nie deel van die ander een is nie, en asof altwee nie deur God en tot Sy eer geskape is nie. Dit is net so ironies dat sogenaamde konserwatiewes op die voorpunt is van diegene wat hulle beywer vir mynbou en olie- en gasontginning in beskermde areas en vir die uitbou van kernkrag.
By alle kritiek teen die Westerse kapitalisme waarmee groenpartye en ander linkses so graag punte aanteken, moet onthou word dat die grootste besoedelaars sosialistiese lande was en is. Die ou Sowjet-Unie was seker die grootste besoedelaar in die geskiedenis. Vandag is dit Sjina, die land wat nog steeds deur ‘n kommunistiese party regeer word.
Die liefling van die “progressiewes”, wat omgewingsbewustes en groenes insluit, die ANC en sy trawante, is juis diegene wat nou kruis en dwars oor Suid-Afrika laat myn, wildstropery nie meer effektief beveg nie en water- en lugbesoedeling ongeërg laat plaasvind.
Die hele Orania-gedagte en konsep lê diep ingebed in konserwatiewe denke. Nie konserwatief in die sin van “agterlik”, teen verandering en uit tred met die tyd nie, soos wat joernaliste wat met ‘n paar stereotipes grootgeword het, beweer.
Konserwatief beteken om dit wat kosbaar is, te beskerm en te vertroetel. Kosbaar is iets wat die toets van die tyd deurstaan het, wat ewigheidswaarde het en wat dus ‘n reg tot bestaan en koestering het. Die logika van die oorlewing van die sterkste waarvoor liberales staan, kan wel geld as dit kom by tegnologiese uitvindings, waar dit wat meer doeltreffend is, dit aflos wat uitgedien is. As dit kom by dinge wat ewigheidswaarde het en wat nie vervang kan word nie, soos die kulturele erfenis of die natuur, is ingryping nodig.
Dit is nogal veelseggend dat die eerste inisiatief om natuur en diere te beskerm in Suid-Afrika, van Paul Kruger, ‘n diep konserwatiewe Afrikaner, uitgegaan het.
As ons dus in Orania die omgewing beskerm deur weg te beweeg van Eskom-krag wat met steenkool opgewek word na sonkrag, deur rommel te skei pleks om die omgewing toe te gooi met ashope en deur die uitroei van plante en diere aan bande te lê, dan word ons nie gedryf deur ‘n groen modegier nie, maar handel ons uit diepe oortuiging om vir ons nageslagte ‘n goeie land na te laat waarop hulle kan voortbou. Om dieselfde rede moet ons ook die eksplorasie van skaliegas in een van die laaste redelik ongeskonde gebiede van Suid-Afrika, die Karoo, beveg. Die natuur is net so ons erfenis soos die kultuur wat oor geslagte heen oorgedra is. Altwee is ten diepste deel van ons wese.