Wie is Orania?

Dit is ‘n vraag wat ek die afgelope tyd al meer vra: Wie is Orania?

As mense sê: “Julle moet…” Dan wil ek weet wie is “julle”? En dan kom die antwoord gewoonlik: “Orania moet..” En as ek dan vra: “Wie is Orania?” is mense gewoonlik verbaas, selfs stomgeslaan. Hoe kan ek dan nou nie weet wie Orania is nie. Ek woon tog bykans negentien jaar hier. Maar ek wil weet, wie dink húlle is Orania. En ek besef dan hulle weet nie. Orania is iets, iemand wat dinge moet doen, of dalk nie vinnig genoeg doen nie, of dalk heeltemal iets anders behoort te doen, dink hulle. Orania is soms amper iets misterieus vir mense.

Die volgende verhaaltjie illustreer die persepsie wat mense oor Orania het dalk baie duidelik: ‘n Ontstelde dame laat weet dat haar suster en dié se man by ‘n kusdorp vakansie gehou het en dat daar ook ‘n meisie van Orania was, en dat dié meisie haar suster se man afgevry het. En toe kom die vraag van haar: “Ek wil weet wat Orania daaraan gaan doen?” Sjoe, sou dieselfde vraag aan iemand in Hopetown gestel word of in Bloemfontein of in New York? Ek vind dit vreemd, uiters vreemd.

Op ‘n ander keer bel ‘n belangstellende vroeg die oggend na die Orania Beweging se kantoor. Dis duidelik dat hy die hele nag lank oor ‘n belangrike saak gedink het en hy wil onmiddellik antwoorde hê. Hy wil eiendom koop en geld belê op Orania, maar wie gaan sy belegging waarborg, want op sy dorp kan hy soveel verdien en elders soveel, maar hy wil nie ‘n kans vat op Orania as hy dalk alles kan verloor nie. Orania moet vir hom die waarborg gee voordat hy sy geld bring. “Wie is Orania, Meneer?” vra ek toe met ‘n suikerstem.

Die man dink ek skeer die gek met hom, maar ek hou vol. “Wie is Orania, Meneer?” En hy raak effe ongemaklik met my wat so vroeg in die oggend so moedswillig kan wees. Maar dit werk, want na ‘n rukkie vra hy: “ Nee, sê maar vir my wie Orania is.” Ek is nie moedswillig nie, ek wil bloot bitter graag verstaan hoe mense dink.

“Orania, Meneer, is ‘n klein handjievol mense wat in ‘n gemeenskaplike saak geglo het en besluit het om alles wat hulle het by te dra tot die saak waarin hulle glo. Sonder waarborge. Hulle het gekom om te gee, nie om te kry nie. En dit is waarskynlik een van die hoofredes waarom Orania suksesvol is, omdat mense onbaatsugtig ‘n bydrae lewer en daagliks stoei met vraagstukke waarvoor daar eenvoudig oplossings gevind móét word. Want ons werk aan ‘n saak groter as onsself. En niemand het vir ons waarborge gegee nie.” Dis lank stil aan die ander kant van die telefoon. O, hy het nie só daaraan gedink nie. Maar hy kan nie ‘n kans waag met sy geld nie. Ek het nie weer van hom gehoor nie.

Ek is regtig nie moedswillig as ek die vraag vra nie, ek wil vreeslik graag hê dat mense ‘n slag daaroor moet dink.

Nog ‘n geykte gesegde wat ons dikwels hoor is: “Is daar rêrig so baie kerke op Orania?” Mense is stomverbaas as hulle hoor dat hier meer as een kerkdenominasie op Orania is. Ons behoort, volgens die persepsie ‘n eenkerk-, eenskool-, eenbankgemeenskap te wees. Geen keuses behoort toegelaat te word nie. “Nee, Meneer. Ons gee graag keuses. Om die waarheid te sê, ons bevorder graag vryheid van keuse. En mag ek vra: Hoeveel kerke is op jou dorp, Meneer? Het jy al getel? Wéét jy ooit van al die verskillende denominasies wat daar in jou dorp is? Want die kerke het nie hier by ons ontstaan nie, hulle kom van julle af!”

En jy? Sê jy ook dalk: “Julle moet..”? Dan wil ek vandag vra: wil jy nie asseblief maar kom help nie? Hier is baie werk wat gedoen moet word en dit is dringend. Ek onthou nog so goed die dag toe prof Carel Boshoff tydens Orania Beweging se twintigste verjaardag gesê het: “My volk is terminaal siek.” Dit het my aan die hart geruk. Die tyd is nou. Daar is nog hoop, daar is nog iets wat gedoen kan word om vir Afrikaners ‘n blyplekkie in ons lieflike Afrika te verseker. ‘n Plek waar hulle sal tuisvoel en tuishoort. Maar die tyd is nou.

Ek lees dikwels van buitelandse universiteite wat projekte borg in townships. Dit is groepe wat navorsing doen om te kyk watter omstandighede hulle in townships kan verbeter. Daar word kunsprojekte aangepak, sosiaal-maatskaplike dienste gelewer, krieketafrigting gegee, konserte gehou, strate gemaak, mediese versorging aangebied, saam gebou aan bekostigbare behuising, ekonomiese inspuitings gegee. Die lys is eindeloos. Kan jy nie dalk ook ‘n bydrae hier kom lewer nie? Dalk tydens jou volgende vakansie? Wat is jou kundigheid? Hoe lyk die span wat jy kan saambring om Orania vinniger gereed te maak sodat jou nageslag hier kan nesskop? Het jy al in die Groeifonds belê? Dra jy by tot die Helpsaamfonds? Wat kan jy fisies kom doen? Watter projek kan jy identifiseer wat ons dalk nie meer raaksien nie omdat ons al aan die probleem gewoond geraak het? Kom bespreek dit met ons. Ons hoor regtig graag van jou voorstelle en oplossings. Maar kom om van jouself te gee. Kom word deel van die oplossing.

Wie is Orania? Ons gaan die vraag nog dikwels vra. Maar jy kan nou kom help om inhoud aan die antwoord te gee. Jy kan nou ‘n bydrae lewer tot wat Orania sal word. ‘n Nuwe identiteit vir ‘n volk wat vryheid kies.

NOU.

Land van bloed

‘n 20-jarige vrou word vermoor, arms agter die rug vasgemaak – let op: arms nie hande nie. Haar hande is afgesny. Maag oopgesny en haar selfoon en huissleutels in die gat gedruk.
Dit was die voorval wat gemeenskapsgeweld in Relela ingelei het. Dit was 24 Januarie, ‘n Vrydag.

Oor die naweek word paaie deur die gemeenskap afgesper met boomstompe en klippe. Drie mense word ingeroep vir ondervraging rondom die moord.
Met die vrylating van hierdie drie, word twee se huise afgebrand. Die gemeenskap is op pad na die derde se huis toe hulle in ‘n konfrontasie met die polisie beland. ‘n Seun van 15 word doodgeskiet – na bewering deur die polisie.

Op Dinsdag 28 Januarie breek daar weer geweld teen die polisie uit. 1500 mense val die driekamer -satellietstasie aan met klippe en petrolbomme. Negentien voertuie word beskadig. Vyftien Polisielede word beseer, drie kritiek. Die polisie skiet en dood twee van die aanvallers. Nege arrestasies vind plaas na aanleiding van die geweld.

Die polisiekommissaris gaan lê besoek af. Haar toespraak word onderbreek deur twee vrae:“Wie het opdrag gegee dat die polisie ons mense skiet?” en “Gaan ons die meisie se hande kry om saam met haar lyf te begrawe?”

Dit dan die feite waarop ek reageer.Daar was 19 polisievoertuie by ‘n driekamersatellietstasie. Dit klink vir my na ‘n saak wat die kern van die polisie se aandag is. Dit klink vir my of hulle dalk te veel hulpbronne hier toespits. Daar is tog sekerlik elders ook probleme, of hoe?

Dit werp vrugte af: drie mense ingeroep om te verduidelik wat hulle betrokkenheid is. Oor die naweek al nadat die moord op ‘n Vrydag plaasgevind het. Klink vir my na ‘n ondersoek wat flink verloop. Die aard van ‘n regverdige ondersoek is verder dat jy nie bloot die eerste drie mense wat jy kry arresteer en hulle aanhou totdat hulle skuld erken nie. Dit was juis die aanklag teen polisie van die vorige bedeling. Hoe regverdig of onregverdig hierdie kritiek was, is nie die punt van hierdie skrywe nie. Die persepsie bestaan dat hulle bloot gemartel het totdat jy skuldig pleit. Ons wil die skuldiges aan die pen laat ry en die onskuldiges beskerm – dis tog die rol van die polisie. Niemand het tog sekerlik gedink hulle kan al seker genoeg wees om die verdagtes aan te hou nie?! Of het hulle?

Maar die gemeenskap se belewenis is dat die polisie nie werklik omgee nie. Nie werklik belangstel om die saak op te los nie. Nie in die gemeenskap se belang wil optree nie. Hulle is ongeduldig vir antwoorde en onrealisties oor wanneer daardie antwoorde gekry moet word.

Hulle hoor die polisie het mense ingeroep en verklaar hulle summier skuldig. En hulle kan waarskynlik skuldig wees. Maar kom ons maak eers seker voor ons iemand se lewe ruïneer. Hierdie boodskap val op dowe ore – hulle is skuldig op grond van die feit dat die polisie dink hulle weet iets van die saak.

Die gemeenskap neem reg in eie hande. In ‘n geval waar daar 15 polisielede beseer is. So daar was heelwat meer lede van die mag betrokke. Die saak geniet reeds voorrang. Dis nie nodig om in te meng nie. Dis nie nodig om nog aandag hier te fokus nie. Die aandag is reeds hier. Uitbarstings van gemeenskapswoede verbeter nie die ondersoek nie. Dit pla.

Selfs as die ingeroeptes skuldig is, is die afbrand van iemand se huis tog nie die manier om dit te hanteer nie. Jy wil hê hulle moet boet, maar presies daarvoor is daar mos maniere om dit te bereik. Lewenslank is deesdae nie meer lewenslank nie en die doodstraf is weg. Om dit egter verder te voer en te meen dat daar geen straf voorlê vir iemand wat skuldig bewys kan word nie, is belaglik. Tronke is steeds nie lekker plekke om in te wees nie. As die skuldiges gevang word, sal hulle genoeg pyn beleef om enige drang na wraak te versadig. Hulle gaan gestraf word tot lank nadat die meeste van die gemeenskap van die moord vergeet het.

Dis nie nodig om iemand se eiendom te vernietig bloot oor jy tweede- of derdehands gehoor het hulle het die een of ander betrokkenheid by die moord nie. Dit is presies wat hierdie gemeenskapslede gedoen het. Dis onaanvaarbaar. Dis krimineel. Veel sekerder so as dat die ouens wat ingeroep is om vrae te antwoord krimineel opgetree het.

Boonop stel jy die onskuldiges wat in huise rondom die gebrande huise bly se eiendom en selfs lewens in gevaar.Die polisie tree op teen kriminaliteit. In hierdie geval dus teen die gemeenskapslede wat reg in eie hande neem. Te hardhandig? Miskien. Ek was nie daar nie en lei die feite af van wat berig word. Hoe duidelik hulle lewens in gevaar was, is vir my onseker. Hulle kon rubberpatrone gebruik het. Hulle kon traangas ingespan het. Daar is ander maniere om optogte uitmekaar te jaag, soos wat ons polisiemag goed weet. Hulle het al te veel oefening gehad het om nie te weet nie.Die polisie het lewendige ammunisie op gemeenskapslede gevuur. Die gemeenskap se woede ontvlam teen presies die mense wat besig is om te probeer doen wat hulle eis. Dis tragies.

‘n Newe-effek is natuurlik dat wanneer jy die polisie met klippe gooi, hulle nie so lekker kan fokus op die oplos van die moordsaak waarmee jy wil hê hulle moet besig wees nie. Juis die gemeenskap se ongeduld oor antwoorde maak dat die antwoorde langer gaan vat om te kry.

Is ek al een wat slim genoeg is om die punte bymekaar te bring?

Maar in so ‘n uitbarsting tel logika nie. Relela se eie optrede is die grootste blokkasie wat verhoed dat hulle eise bevredig word. Hierdie introspeksie bestaan glad nie. Die polisie word, soos die mense wat hulle ingeroep het, summier skuldig verklaar. Want die polisie is teen ons. Die polisie wil ons indoen. Die polisie laat die mense vry wat hierdie aaklige ding gedoen het. Alle bewyse tot die teendeel ten spyt. Alle onsekerheid oor die onredelike gevolgtrekking is swakheid. Alle voorstelle dat ons tog kalm bly, is onredelik. Alle hoop op geduld is bewys dat niemand vir ons omgee nie. Die saak KAN nie vinniger opgelos word nie, is ‘n verskoning.

“Wie het opdrag gegee dat die polisie ons mense skiet?” Niemand nie, maar as jy my met klippe gooi, gaan ek myself verdedig.

“Gaan ons die meisie se hande kry om saam met haar lyf te begrawe?” Nie as julle aanhou ons motors vernietig en die paaie toemaak dat ons nie kan kom op die plekke waar ons moet soek nie.

Dis die grootste tragedie dat die armstes in ons samelewing onder die indruk is dat geweld probleme oplos, dat as jy hard genoeg skree, genoeg klippe gooi en petrolbomme teen die polisie gebruik, dit gaan maak dat die saak opgelos word.

Dit gaan nie. Die belofte dat dit gaan, is ‘n leuen.
Die leuen word bevorder elke keer wat mense herinner word aan die geweld van die struggle, asof dit iets is om op trots te wees dat die Kerkstraatbom onskuldiges doodgemaak het.
Die leuen word aangeblaas elke keer wat ‘n politieke leier sê ons gaan vir ons vat wat ons wil.
Die leuen groei in aanklank as grootkoppe net hulle groot koppe draai as die massas baklei.
Die leuen word geglo, want dit was so lank die mantra.
Die leuen word ondersteun met elke herhaling van die masjiengeweerliedjie.
Ons gaan ons pad oopskiet na ‘n beter lewe. Ons gaan die rykdom van hierdie land met machete’s vat. Ons gaan die land onregeerbaar maak tot alles beter is.
Dis die leuen.

‘n Beter lewe kom nie uit ‘n geweer se loop uit nie. Dood kom uit ‘n geweer se loop. Soos Relela eerstehands beleef het hierdie week.

Die grootste struikelblok wat voor elke rebel staan is dit: wat as ek die regering word? As jy die regering word, wil jy juis die optrede stopsit wat jyself aangeblaas het. Dit is en bly die ANC se grootste swakplek. As hulle geweld aanhou ondersteun, maak hulle die regering se werk onmoontlik. As hulle ophou, sê Julius Malema het hulle die struggle vergeet.
Hoe kom ons uit hierdie penarie uit? Ek weet nie. Maar Guerilla Sizobabulala, Sizobadubula Ngombayimbayi, Shosholosa en Umshini wam’ help nie.

Die gemeenskapsbeskouing

Agtergrond

Om te verstaan waarop ek my filosofie baseer, is daar een boek wat heel voor in die ry staan The Myth of Religious Neutrality van Roy Clouser. Die boek definieer geloof as dit wat ons as onvoorwaardelik en onafhanklik beskou.

Een oorhoofse tema in die boek is dat Materialisme ‘n soort geloof is. Materialisme verwys in hierdie sin nie na ‘n grypsugtigheid in verband met geld nie, maar eerder ‘n oortuiging dat daar ‘n fisiese heelal om ons is en dat daar energieë en kragte op hierdie materie inwerk. Buiten hierdie eienskappe van realiteit  maak materialiste so min moontlik verdere aannames en regverdig dit gewoonlik met Occam se reël*.
(*Occam se reël : http://math.ucr.edu/home/baez/physics/General/occam.html)

As materialisme dan ‘n geloof is, moet daar sekere gevolge wees wat hierdie wêreldbeeld bloot aanvaar. Dis immers die kritiek van diegene wat hierdie geloof aanhang en hulleself ateïste noem. Hulle sê: “Julle aanvaar dinge sommer sonder om dit aan die realiteit te toets”. Die probleem met materialisme lê veral daarin dat die materialis glo dat alles wat nie tot massa en energie gereduseer kan word nie, nie bestaan nie. Enige gebeure wat buite hierdie veld val, is gebeure waarvoor geen wetenskaplike maatstaf bestaan nie, as hulle enigsins werklik is. Verder, raak beskrywings al meer wetenskaplik as hulle al meer afgebreek is tot hulle onderliggende realiteit. Dit is ‘n proses wat reduksie genoem word.
Hierdie stelsel werk nogal goed vir die Natuurwetenskappe. ‘n Voorbeeld: deur alle voorwerpe bloot in terme van hulle massa en beweging te beskou, kan ons voorspel wat gebeur as daar botsings tussen die voorwerpe is. As ‘n voorwerp wat ‘n sekere massa besit teen ‘n sekere snelheid in ‘n sekere rigting beweeg en met ‘n ander voorwerp bots, reageer die tweede voorwerp op ‘n sekere manier, ongeag of daardie voorwerp ‘n mens of ‘n duiksak is. Dit maak nie vir die botsing se doeleindes saak of die voorwerp lewend is of nie, tensy daardie lewe tot ander rigting of snelheid aanleiding gee. Duiksakke probeer tipies nie rondom jou hardloop as jy hulle wil duik nie!

In elke model  probeer ons soveel van die realiteit vasvang as moontlik. As ons egter ‘n aspek van realiteit as die basiese realiteit beskou, lei dit daartoe dat alle ander aspekte slegs waarde het wanneer hulle tot daardie basiese aspek bydra.

Daar is egter iets soos vals reduksie. Dit is as jy iets probeer verklaar aan die hand van ‘n ander aspek as waartoe dit behoort. ‘n Voorbeeld is wanneer Marx alle sosiale interaksie probeer reduseer tot sosiale klasse. Alle mense van ‘n sekere welvaartsgroep moet dieselfde gedrag toon. In die proses verloor hy ‘n klomp inligting oor die individue wat tot elkeen van daardie groepe behoort. Die geskiedenis is egter gepeper met leiers wat deur magsvertoon, oorredingsvermoë, beloftes, of blote sjarme mense oortuig het om hulle te volg. Hoewel die gedrag wat hulle voorgestaan het, teenoorgesteld was van wat Marx vir jou groep voorskryf.

Materialisme het egter tot die oortuiging gelei dat alles behoort gereduseer te word. En alle afwykings wat steeds bestaan, word verklaar met “maar ‘n mens verloor altyd van die detail as jy die patroon beskryf”. Ek wys egter in die stuk op die mislukking van beide weergawes op die reduksie, wat die indruk wek dat ‘n skadelike reduksie opgespoor is.

Hier volg my uiteensetting van die Clouser se blik op die staat, gesien deur die bril van ‘n gesprek met Carel Boshoff (iv) op die Afriforum-toer van Desember 2012.

Doel
Bepaal die beste wêreldbeeld waaruit die samelewing ingerig kan word.

Bestaande oplossings
Hierdie doelwit is allermins nuut. Daar is immers al samelewings van voor die geskrewe geskiedenis af en hulle moes hulleself op die  een of ander manier  inrig. Toe ontwikkel daar twee kontrasterende denkskole om die doel te bereik: Die Individualisme en die Kollektivisme. Dit was die onderliggende verskil in die ideologieë van Amerika en die ou USSR. Die VSA was die individualistiese land, Rusland die kollektivistiese staat.

Individualisme
Individualisme neem as sy basiese aspek dat menslike samelewings uit individue bestaan. Uiteindelik is die staat die som van die individue in die staat. ‘n Groepering soos ‘n gesin, ‘n skool, ‘n besigheid, ‘n klub, is dan basies ‘n klomp individue wat die een of ander belang deel. In wese is hierdie groeperings eintlik tydelik: so lank as wat die samewerking vir elke individu in die groep tot voordeel is, sal die samewerkingsooreenkoms voortbestaan. As dit nie meer die geval is nie, behoort die eenheid ontbind te word.

‘n Skool is onder hierdie beskouing iets wat bestaan omdat ‘n klomp individuele ouers hulle eie voordeel soek. Hulle beleef voordeel vir hulleself daarin dat opvoeding vir hulle kinders goed sal wees. Daarom hou hulle aan hulle kinders inskryf, wat die bestuur van die skool in staat stel om onderwysers te onderhou, terreine te ontwikkel en so aan. As die skool nie meer vir individue tot voordeel is nie, sal hy ontbind word en die terrein anders aangewend word.

Wanneer ‘n mens die impak van beleid, natuurrampe of wat ookal op die mensdom wil bepaal, is die maatstaf die individu. Ons wil sien wat met elke mens afsonderlik gebeur en dan is die samelewing die totaal van die individue daarbinne.

Kollektivisme
Kollektivisme verskil radikaal hiervan. Dit reken dat die individu tydelik is. Mense word gebore en gaan dood in ‘n relatief kort periode, amper almal onder 100 jaar. Verenigings kan egter onbeperk voortbestaan. Daarom is die logiese manier om te redeneer oor die mensdom om ons as verenigings te beskou.

‘n Skool, byvoorbeeld, bestaan veel langer as die tyd wat enige spesifieke kinders in die skool is. Daarom is die karakter van die skool iets wat ons onafhanklik van enige kind in die skool kan beskou. Die voordeel van die skool word dan ook op ‘n hoër vlak gereken as die voordeel van enige kind. “Hoeveel kinders moet daar in ‘n klas wees?” word beantwoord op grond van die beste belang van die skool, voor die belang van individuele leerlinge bygereken word.

Hoe groter die eenheid hoe meer permanent is die vereniging geneig om te wees. ‘n Boekklub met vyf lede is meer geneig om te verval as ‘n maatskappy wat 5 000 mense in diens neem. Die grootste eenheid is dan die staat, wat verwys na die regering, wetgewende gesag, howe en almal waaroor hierdie entiteite seggenskap het.

Wanneer die impak van beleid, omgewingsgebeure en so aan bepaal word, is die maatstaf die staat as geheel. Ons wil sien of die beleid tot voordeel van die geheel is. As iets tot voordeel van die geheel is, sal dit deursyfer tot by alle individue wat onder daardie staat val.

Vergelyking
Ter verduideliking van die verskil tussen die denkraamwerke beskou ons byvoorbeeld China se een-kind-beleid, gesinsbeplanning, soos hulle dit noem.

Onder kollektivisme is dit duidelik dat, as jou land oorbevolk is, dit tot die voordeel van die staat sal wees as mense minder kinders kry. Dus is enige maatstaf wat die doel bereik, aanvaarbaar. Of ‘n spesifieke persoon meer as een kind wil hê, is nie van belang nie. As ‘n paartjie weer swanger word en dis vir hulle moreel moeilik is om ‘n tweede kind te aborteer, is dit nie ter sake nie –  hulle moes beter beplan het. Die geheel se voordeel, is al wat tel.
Individualisme reken egter slegs die individu se voordeel. Om dus ‘n persoon se vryheid in te perk kan slegs geregverdig word as dit onweerlegbaar tot sy eie voordeel strek. ‘n Baie oopkop individualis sou kon reken dat die uiteindelike ekonomiese voordeel van ‘n kleiner bevolking, dus meer hulpbronne vir elkeen, tog tot individuele voordeel strek. Die meeste reken egter dat die skade wat aangerig word in die implementering van die beleid dit onhoudbaar maak.

Die twee ideologieë kan dus verskillende gevolgtrekkings maak, wat beteken daar word gekies, die een of die ander.

Die belangrikste ooreenkoms tussen die twee ideologieë  is waarskynlik die feit dat hulle gebruik word om die voordeel vir  die mens te bereken. Daar is baie gevalle waar die voordeel vir die individu en die voordeel vir die geheel sinoniem is. ‘n Toename in ekonomiese aktiwiteit en welvaart wat redelik gelykop verdeel word, sal gesamentlik vir beide individue en die geheel goed wees.

‘n Meer subtiele ooreenkoms is die idee dat ’n  mens deur die bank voor- of nadele behoort te beskou met net een van individue of kollektiewe as maatskaf. Dit beteken dat die ander slegs van belang is in sover dit tot die een waarin jy belangstel, gesien kan word. Nie een van die twee ideologieë vat alles in die samelewing raak nie, juis omdat elkeen ‘n deel van realiteit as ondergeskik aan die ander beskou. Solank beide ideologieë aanhangers het, vul hulle mekaar aan tot ‘n gebalanseerde wêreldbeeld. Dis egter deesdae al minder die geval.
Histories is die twee ideologieë teen mekaar opgeweeg. Die VSA was individualisties, kapitalisties en demokraties. Die USSR was kollektivisties, sosialisties en kommunisties ingestel. Uiteindelik het die USSR die koue oorlog verloor en as staat misluk en toe ontbind. Dus bestaan die oortuiging dat kollektivisme verkeerd is en individualisme die beter wêreldsbeskouing is.

Probleem
Daar is ‘n klomp swakplekke in individualisme. Hierdie swakplekke word nie aangespreek nie want hulle volg direk uit die aanname van individualisme, nl. dat die individu die maatstaf vir voordeel behoort te wees. Ons ontwikkel dus ‘n blindheid vir die swakplekke in die denkraamwerk.
Onder hierdie swakplekke tel:
–    korttermynfokus
–    selfsug
–    isolasie

Korttermynfokus.
Soos reeds genoem, leef ‘n mens nou eenmaal net só lank. Dus praat ons van langtermynbeleggings as ons na 15 jaar kyk. Ons sien dat finansiële bestuur aansienlik beter werk as ons doelwit verder in die toekoms gestel word. Maar langer voel onrealisties. In my M-projek, waar ek drywers vir kliënte se wangedrag moet opspoor, hou die bank die meeste datastelle nie langer as 15 jaar nie want daardie ou inligting kan tog sekerlik nie waarde inhou nie.

In die geskiedenis is 15 jaar egter ‘n oogwink – daar het 300 jaar verloop sedert Alexander die Grote geleef het en tot die mees betroubare weergawe van sy lewensverhaal opgeteken is. Die mensdom is dus in staat om idees vir veel langer te bewaar as wat ons op die oomblik dink nuttig is. Om hierdie waarde te ontken, is om die foute van die geskiedenis met eentonige reëlmaat te herhaal.

Die oorbesteding deur die regerings van die PIIGS-lande (Portugal, Ierland, Italië, Griekeland, Spanje) is ‘n simptoom hiervan. Ons spandeer solank geld, wat nou lei tot lekker gemaklike lewens en gewilde politici. As daardie geld eendag terugbetaal moet word, sal daar al iemand anders aan bewind wees, so dis nie my probleem nie. Die volgende ou leen dan bloot meer geld, is minder volhoubaar om dieselfde voordele te onderhou, wat hulle dan weens die groeiende rente nóg minder kan bekostig.

Die publiek het hierdie partye ingestem, bloot omdat hulle op die korttermynvoordeel gefokus het. Die langtermynprobleme, tref toe vroeër as wat hulle gedink het en nou is hulle kwaad vir die regering oor hulle die voordele stop. Dat hulle nooit daardie voordele kon bekostig het nie en dus nooit die lekker moes gehad het waaroor hulle nou oproerig is oor dit weg is nie, word in die geheel ignoreer. Hulle eis dat regerings verantwoordelik moet omgaan met hulle geld, maar dié regerings met die grootste beloftes, wat die onverantwoordelikste beleide het, word ingestem!

Selfsug
Die verskoning wat selfsug nodig het, is dat my eie voordeel die doelwit van die samelewing is. As dit is hoe ons die sukses van ‘n staat bereken, is die een wat ander vertrap tot eie voordeel nie net iets wat ons aanvaar nie, maar selfs die doel wat nagestreef moet word.
Hierdie samelewing is egter een wat die natuurlike vertroue wat nodig is vir samewerking, ondermyn. Om ons kragte saam te span is egter die grondslag waarop verbeterings van ons samelewings gebou word. Een voorbeeld wat tradisioneel gebruik word, is dié van ‘n wa wat baie swaar gelaai is. As die wa só swaar is dat ‘n perd hom vir een kilometer  kan trek voordat hy uitgeput is, dan kan twee perde vir 17 kilometer trek voor altwee moeg is. Deur saam te werk het hulle dus meer as agt keer soveel bereik as wat elkeen op sy eie sou.

Isolasie
Die gesamentlike impak van ‘n korttermyningesteldheid en onbegrensde selfsug is sosiale isolasie. Ons leef in die era waar dit die maklikste is om te kommunikeer. Facebook, MySpace, Twitter, Twoo, Pintrest, LinkedIn, Picassa en nog ‘n horde name beloof dat jy maklik, gemaklik, vinnig en moeitevry verbind kan wees. Jy kan soveel vriende hê dat jy die meeste van hulle nie eers ken nie. En ons val daarvoor. Elke keer.

Ons word om die bos gelei want die aard van die verhoudings wat ons wil hê, is in wese anders as wat die sosiale media bied. Ons wil juis hê dat iemand moeite sal doen, om ons te leer ken. Maar die netwerke beloof dis moeiteloos.

Ons wil nie net geken word aan die blinkste kant wat ons graag vir die wêreld wys nie. Iemand wat sag daarmee sal omgaan, iemand wat ons kan vertrou, moet ook die kante van jou ken wat jy nie met die wye wêreld deel nie.

Ons wil langdurige verhoudings hê, nie vinnig vriende maak nie.

Die lewensingesteldheid van ‘n verbruikersamelewing ondermyn ons lewensvreugde.

Gemeenskapsbeskouing
Die voordeel van ‘n staat kan nie gereduseer word tot óf die individu óf die geheel soos wat momentum gereduseer kan word tot ‘n produk van spoed en massa nie. Hoewel ons dinge van die rugbyspeler kan verstaan d.m.v. die duiksak, IS hy nie die duiksak nie. Dié verskil is ‘n belangrike een om na op te let.

As ons ‘n stap vroeër ophou reduseer, dan kan ons begin samelewings opstel wat gemeenskaplik ingerig is.

‘n Gemeenskap is nie bloot ‘n kollektief nie. Dis ook nie bloot ‘n samekoms van los entiteite nie. Dis albei. Slegs wanneer ons ophou om die een tot ‘n funksie van die ander af te breek, kan ons die beste gemeenskappe bou. Ons moet beide die individuele voordeel én die kollektiewe voordeel meet en in ag neem vir besluite.

Onder die gemeenskapsmodel het ons ‘n samelewing waar die gemene belang voorop staan, vergeleke met die individualistiese wêreld. Aan die ander kant is dit ook ‘n samelewing waar jou individuele bydrae geken en waardeer word, vergeleke met kollektivisme.

‘n Skool is beide ‘n vaste instelling met ‘n eie karakter, wat sal bestaan, al word daar ‘n lid bygevoeg of weggeneem, én die leerlinge en gesinne wat hulle tot daardie skool verbind afsonderlik. Om die een of die ander weg te laat is om ‘n deel van wat die skool is te ontken. Daar moet dus ‘n dubbele maatstaf in elke beredenering oor die skool se beleid wees. Aan die een kant moet die voordeel van die leerlinge tans aan die skool verbind, bereik word. Aan die ander kant moet die skool uitgebou word ter wille van toekomstige leerlinge wat daar opgelei moet word. Dit is tog die mees natuurlike manier om ‘n instelling se besluite te neem.

Nou moet die beginsel net op ‘n groter speelveld ook toegepas word. Uiteindelik gaan ons nie bereik wat ons nie nastreef nie. Daarom het kollektivisme gefaal, daarom is individualisme besig  om te faal. Dit is moontlik dat die gemeenskapsbeskouing steeds iets miskyk, maar sy blinde kolle is veel kleiner as die bestaande twee. Die rede dat dit hier moontlik is om sowel die kollektiewe as die individuele beswil te bereik, is omdat jy albei erken.

Anderkant gelykheid: die ooreenkoms tussen Orania en Mnyameni

Die pasgetekende ooreenkoms tussen Orania en Mnyameni was kennelik vir baie mense ’n verrassing. Baie Suid-Afrikaners vind dit steeds vreemd dat twee tradisievaste en konserwatiewe gemeenskappe by mekaar aansluiting vind, vreemd net omdat die een swart en die ander wit is. Ironies genoeg is dit meestal moderne liberale wat normaalweg gereed is om die agterosse van versoening in die kraal te kry, wat die gebeure met agterdog bejeën. Seker omdat dit nie aan hulle eie individualistiese vooroordele voldoen nie.

Die punt is dat ‘n verhouding tussen hierdie landelike, tradisionele Oos-Kaapse Isixhosa gemeenskap en die gemoderniseerde, dog konserwatiewe Afrikaners van Orania nie by die gelykheid van alle mense geëindig het nie, maar daarby begin het. Toe ons die eerste keer op Mnyameni besoek afgelê het en hoofman Siphiwo Mdledle ons oor die grasgroen heuwels met huisies en beeste en klein landerye laat uitkyk het, het hy my eenkant toe geneem en gevra: “Glo julle mense dat ons almal gelyk is of glo julle dat sommige mense bo ander geskape is?” En ek kon met al die vrymoedigheid van ’n sendelingseun antwoord: “Ons glo dat God ons gelykwaardig gemaak het en dat ons mekaar se erkenning en respek verdien. Ons sien onsself nie bo of onder enigiemand anders nie.” Enigiets minder sou die besoek dalk op ’n gawe geleentheid laat doodloop het waarop geen verdere verhouding sou volg nie.

Feit is dat die teendeel gebeur het. In die loop van die volgende maande is heelwat telefoonoproepe en e-posse uitgeruil, het mnr Mdledle ’n afvaardiging Orania toe gebring, het ons aan die memorandum van verstandhouding begin werk en is ons onderskeie gemeenskappe deeglik daaroor geraadpleeg. Uiteindelik was die raakpunte van twee geordende gemeenskappe met ’n uitdruklike voorkeur vir selfstandigheid en ’n afkeer van staatsafhanklikheid vrugbare grond vir ’n vaste ooreenkoms. Met die ondertekening daarvan is werklikhede wat oor die afgelope maande geskep is, maar net bevestig en wêreldkundig gemaak. Die ontginning daarvan lê nog voor.

Dit was seker te wagte dat die volgende vraag van waarnemers en joernaliste sou wees na spesifieke projekte en na die voordele wat elke gemeenskap kan verwag om daaruit te trek. Vriendskap word egter nie in die eerste plek aan geldwaarde gemeet nie en ons verwagtings is uit die staanspoor nie deur die vloei van fondse of voordele bepaal nie, maar deur onderlinge ondersteuning, solidariteit en advies. Orania het die pad van ontwikkeling sonder staatshulp al geloop en kan sy ervaring daarvan deel; Mnyameni se interne kohesie en sy afstand van die verbruikersekonomie is ’n voorbeeld vir enigeen wat in ekologiese volhoubaarheid belangstel. Dit is dinge waarmee ons mekaar onderling kan verryk namate ons dit beter leer ken.

Dit sluit natuurlik nie projekte rakende toerisme en ontwikkelingsbefondsing of landbou en inligtingstegnologie uit nie, sulke beplanning is reeds aan die gang. Dit beteken gewoon dat ons mekaar op sleutelpunte sal bystaan soos vriende dit doen – nie sonder voordeel nie, maar ook nie vír die voordeel nie. Dit beteken dus nie dat ons voorgee om geen voordeel in die oog te hê nie en ons onderskeie belange behoort uitgespel eerder as verswyg te word, dit is immers duidelik in die getekende ooreenkoms gedoen.

Mnyameni se belang lê by ekonomiese ontwikkeling en selfstandigheid en Orania kan dit help bevorder. Hulle ervaar hulleself as verwyderd van die groot ekonomiese kragte wat verstedeliking bevorder en die landelike bestaan in die skadu stel. Hulle wil toegang tot dié ekonomiese kragte hê, maar nie teen die prys wat normaalweg daaraan gekoppel word, naamlik selfprysgawe nie. Orania se belang lê by politieke ontwikkeling en selfstandigheid en Mnyameni kan dit help bevorder. Ons ervaar onsself as gestereotipeer en dikwels uitgesluit van die politieke diskoers waaraan ons wil help rigting gee, maar ons sal onsself ook nie prysgee ter wille van deelname daaraan nie.

Daarom dat die grondslag van identiteit, wedersydse erkenning en plaaslike bemagtiging, ’n federalistiese eerder as ’n sentralistiese uitkyk op Suid-Afrika se verskeidenheid, vir ons so aantreklik lyk. Om die waarheid te sê, beide Orania en Mnyameni is van mening dat wat ons besig is om te doen nie net vir onsself van groot belang is nie, maar ook vir die Suid-Afrikaanse samelewing waarvan ons in die breedste sin deel is. Soos die ooreenkoms dit stel: die vraag van ontwikkeling is nie net ekonomies van aard en individueel van omvang nie, maar kultureel, polities, sosiaal, ekonomies en eties van aard en kommunaal, regionaal en individueel in omvang.

Dit is goed en wel dat Suid-Afrika, na ’n geskiedenis van ongelykheid en rassisme, die vraag van onderlinge gelykheid vir eens en vir altyd wou bylê. Dit is nou gedoen en Afrikaners, ook Oraniërs, is bly daaroor. Maar nou is die vraag: wat volgende? Wat lê anderkant dié gelykheid? Ons antwoord is: gemeenskapsgebaseerde ontwikkeling op grond van erkenning; dit is die volhoubare alternatief vir die individuele selfverryking wat die nuwe elite tans kenmerk.

Die soeke na gemeenskap

One of the losses that modern society feels most keenly is the loss of a sense of community. We tend to imagine that there once existed a degree of neighborliness that has been replaced by ruthless anonymity, by the pursuit of contact with one another primarily for individualistic ends: for financial gain, social advancement, or romantic love. – Alain de Botton

Die vraag word gereeld aan ons gestel: Wat maak Orania anders as soveel ander dorpe en gemeenskappe waar Afrikaners hulself bevind? Daar is sekerlik baie verskille waarop ons kan fokus, maar die een verskil wat ek glo meer bespreking verdien, is ons sin vir gemeenskap.

Oral ontmoet ek mense op soek na hul plekkie in vandag se geglobaliseerde wêreld – so asof hulle nerens meer tuis voel nie. Die konsep van vervreemding word toenemend regoor die wêreld as ‘n produk van die individualisme geïdentifiseer. Vervreemding bring mee dat ‘n mens, ten spyte van sukses as individu, steeds bly soek na iets groter wat geluk en vervulling kan meebring.

Reeds in 1961 skryf die Amerikaanse akademikus Robert Nisbet oor vervreemding: “By alienation I mean the state of mind that can find a social order remote, incomprehensible, or fraudulent; beyond real hope or desire; inviting apathy, boredom, or even hostility. The individual not only does not feel a part of the social order; he has lost interest in being a part of it. For a constantly enlarging number of persons, including, significantly, young persons of high school and college age, this state of alienation has become profoundly influential in both behavior and thought.” Volgens Nisbet was daar reeds in die 1960’s tekens in Amerika dat mense toenemend ingetrokke raak en apaties teenoor instellings soos die kerk, regering, politieke partye en ander gemeenskapsinstellings begin staan. Die afname in lidmaatskap en deelname in die aktiwiteite van kultuur- en ander burgerlike organisasies waarmee ons vandag almal vertroud is, het toe reeds begin.

Nisbet koppel die verbrokkeling van die konkrete gemeenskap direk aan die vervreemdingswerklikheid. “I believe, then, that community is the essential context within which modern alienation has to be considered. Here I have reference not so much to a state of mind – although that is inevitably involved – as I do to the more concrete matters of the individual’s relation to social function and social authority. These, I would emphasize, are the two supports upon which alone community, in any reasonably precise sense, can exist and influence its members. There are countless persons today for whom the massive changes of the past century have meant a dislocation of the contexts of the function: the extended family, neighbourhood, apprenticeship, social class, and parish.”

Nisbet maak ‘n sterk saak uit vir die rol van hierdie instellings in die funksionering van die individu binne sy gemeenskap. Hy voer aan dat die meeste mense binne gesag (authority) en strukture wil funksioneer en dat die meer ideale scenario een is waar hierdie gesag en struktuur deur vrywillige assosiasie met gemeenskapsinstellings soos kerke, skole, kultuurorganisasies en ‘n gebonde woonbuurt of dorp verkry word. In sy boek A Quest for Community wat reeds in 1953 verskyn het maar vandag meer as ooit vantevore op die Afrikaner van toepassing gemaak kan word, beskou hy die gevolg van hierdie individualisering as die opkoms van ‘n sterk staat wat toenemend mag binne homself sentreer en bykans in vyandigheid teenoor die georganiseerde gemeenskap en sy instellings staan. Die individu wat hom los maak van sy gemeenskap, verantwoord hom toenemend direk aan die staat en is afhanklik van die staat vir dienste, struktuur, gesag en selfs ‘n waarderaamwerk.

‘n Praktiese voorbeeld is die kwessie van ‘n paartjie wat saambly sonder om getroud te wees. Ons ontvang gereeld vrae oor hoe Orania dit hanteer. Sedert die opkoms van individualisme in Amerika in die 1960’s het buite-egtelike swangerskappe geweldig toegeneem. In 1965 was 24% van alle swart geboortes en 3,1% van alle wit geboortes sulke gevalle. Teen 1990 het dit tot 64% en 18% onderskeidelik gestyg en sedertdien selfs nog meer so. 40% van alle babas wat tans in Amerika gebore word is buite-egtelik. Dit plaas geweldige druk op die staat om te sorg vir mediese dienste, gratis onderrig en maatskaplike dienste. Kinders wat in ‘n huis sonder ‘n vader groot word staan ‘n baie groter kans om ekonomies nie suksesvol te wees nie en verdere druk op die staat plaas. Talle studies regoor die wêreld het al bewys dat die kanse vir ‘n kind wat uit ‘n huis met ‘n pa en ‘n ma kom, soveel beter is om goeie onderrig te ontvang, gesonder te wees en uiteindelik ‘n suksesvolle posisie in sy/haar gemeenskap in te neem. Daar is dus vanuit ons Christelike perspektief, maar ook vanuit ‘n baie praktiese perspektief, ‘n sterk saak uit te maak vir die tradisionele gesin.

Sou ons toelaat dat Orania ook net ‘n gemeenskap van individue raak, sal ons noodgedwonge ‘n sterk regering met baie mag moet skep wat waardes en gesag afdwing. Dit behels die bepaling van drakoniese wette en die polisiëring van waardes. Soek ons ‘n maghonger regering in Orania of ‘n selfregulerende gemeenskap? Die antwoord behoort eenvoudig te wees. Ons moet die konsepte van buurmanskap, deelname aan aktiwiteite van ‘n woonbeurt, deelname aan skool-, kerk-, kultuurorganisasie en ander burgerlike organisasie-aktiwiteite en die bou van ‘n aktiewe gemeenskap wat sy eie waardes, gesag, regulasies en stelsels bepaal, vooropstel.

Dit begin by die eenvoudige konsep om minder van ‘n regering te verwag. As jy rommel langs die pad sien lê, tel dit op! Nooi jou buurman wat kerklos geraak het uit om saam met jou kerk toe te gaan. Onderhou self die gras op jou sypaadjie. Onderhou die reëls as verantwoordelike persoon en nie uit dwang nie.

Prof Koos Malan skryf in wat sekerlik een van die belangrikste boeke wat in jare in Afrikaans verskyn het, Politokrasie, die volgende: “Sedert die staat daarin geslaag het om godsdiens as die enigste politieke kategorie opsy te skuif, waak dit jaloers oor sy monopolie oor die openbare domein. Individue moet dus voorkeur aan hulle verbintenis met die staat gee en moet bowenal in die eerste plek staatsburgers wees. Dienooreenkomstig koester die staat ‘n diep afkeur van enige groepsvorming in die staat wat in die openbare domein ‘n beslag mag kry en dus aan die staat ‘n bepaalde identiteit eie aan ‘n groep (godsdienstig, taal, kultureel, etnies of dergelik) mag besorg, of wat ‘n verdelende effek mag hê.”

Keer op keer voel mense bevry wanneer hulle die “juk” van kerk, kultuurorganisasie of watter gemeenskapsbetrokkenheid ook al afskud, net om onder die harde gesag van ‘n regering in te val. Tog kan min mense sonder gesag en struktuur funksioneer. Gesag en struktuur wat van onder (uit die gemeenskap self) eerder as van bo (‘n regering) kom, is juis nie daar om te onderdruk nie, maar eerder om te bevry. Vryheid beteken egter nie om jouself te bevry van wie jy is nie, maar eeder om vry te wees om te wees wie jy is.

Orania kan en moet ‘n voorbeeld stel van hoe ons deur ‘n sterk gemeenskapslewe oplossings skep. Waardes moet nie afgedwing en gepolisieer word nie, maar moet deur individuele skakeling binne familieverband en tussen bure, kollegas en vriende oorgedra en gereguleer word. Onderwys, maatskaplike dienste en die geestelike versorging van jou medemens moet jóú werk wees en nie ‘n paar predikante s’n nie. Die estetiese voorkoms van jou straat is jou verantwoordelikheid, net soos wat dit jou verantwoordelikheid is om jou vriend wat padreëls verontagsaam daaroor aan te spreek. Elke huidige inwoner, maar ook elke voornemende inwoner en selfs net besoeker aan Orania, kan ‘n verskil maak deur die krag van die georganiseerder gemeenskap te besef en dit in praktyk hier toe te pas.

The family, religious association, and local community––these, the  conservatives insisted, cannot be regarded as the external products of man’s thought and behavior; they are essentially prior to the individual and are the indispensable supports of belief and conduct. Release man from the contexts of community and you get not freedom and rights but intolerable aloneness and subjection to demoniac fears and passions. Society, Burke wrote in a celebrated line, is a partnership of the dead, the living, and the unborn. Mutilate the roots of society and tradition, and the result must inevitably be the isolation of a generation from its heritage, the isolation of individuals from their fellow men, and the creation of the sprawling, faceless masses.  (The Quest for Community)

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel