Verlede week se Nampo-oesdag by Bothaville in die Vrystaat was nie net ’n toonvenster vir die nuutste landbouprodukte en dienste nie, maar het ook die kollig laat val op die talle uitdagings wat die landboubedryf in Suid-Afrika in die gesig staar.
Met die onlangse droogte wat nog nie orals heeltemal uitgewoed is nie, hoë insetkoste en ’n voortdurende aanslag op die veiligheid van boere, staan Suid-Afrika se landboubedryf voor ’n tyd van groot uitdagings.
Die fout wat baie ekonome, denkers en politici maak is om die landboubedryf bloot net as nog ’n sektor van die land se ekonomie te beskou. Om die landboubedryf te reduseer tot sy beperkte bydrae tot die bruto binnelandse produk, is ’n groot fout. Om op te hou om van boere te praat en eerder na produsente te verwys, is net so verkeerd.
Boere en boerderye in Suid-Afrika het ’n sterk kulturele en gemeenskapsbelang wat toenemend besig is om verlore te gaan. Regdeur Suid-Afrika het dorpe in die agtiende en negentiende eeu tot stand gekom omdat boere ’n kerk en later ander dienste nodig gehad het. Die plattelandse dorp was die sentrum vir boere waar hulle bymekaar kon kom, kon sosialiseer en aan ekonomiese en gemeenskapsaktiwiteite kon deelneem.
Min dorpe en selfs klein stede in Suid-Afrika het enige bestaansreg sonder die deelname van boere en hul gesinne gehad. Skole, kerke en talle besighede het vir lank floreer weens die deelname van die landboubedryf.
Die afgelope twee tot drie dekades het boerdery-eenhede begin vergroot, meer mense het na die stede getrek, maar boere en hul gesinne het ook toenemend verby hul naaste dorp gekyk en kinders na skole in groot stedelike gebiede gestuur. Talle dienste en produkte is nie meer plaaslik aangekoop nie.
Daar is drie redes hiervoor. Eerstens is die toenemende individualisering van Afrikaners as antwoord op die vervreemding binne die Nuwe Suid-Afrika, ook op boere van toepassing en het die verruiling van die gemeenskap vir materiële oorvloed ook sommige boere besluite laat neem wat hul gemeenskappe hard getref het. Nog ’n rede vir die verskuiwing is die vervreemding wat nuwe politieke beheer in ons dorpe en stede gebring het. Mede-eienaarskap van ons gemeenskappe het verval. Die derde rede is dat die Suid-Afrikaanse landboubedryf ook deur globale invloede geraak is. Die Amerikaanse idee dat die plaas ’n groot fabriek moet word, het ook hier begin posvat. In die VSA beheer vier maatskappy tans die produksie van 65% van varkvleis en 84% van beesvleis. Die gemeenskapsgefokusde kleinboer word deur siellose korporatiewe landbou vernietig en talle studies in die VSA het bewys dat dit ook tot minder mededinging en selfs ekologies-onvriendelike praktyke lei. Die grootste verlies is egter die verval van gemeenskappe en hul instellings.
Die verlies aan die familieplaas en sy naelstring aan ’n hegte gemeenskap met ’n dorp, ’n kerk, ’n skool en strukture wat mekaar bevorder en volhoubare oplossings vir die uitdagings van landelike gebiede skep, gaan in die toekoms bewys dat die idee dat plase sommer net fabrieke sonder ’n siel kan word, vernietigende gevolge kan hê.
Een van die grootste verliese wat die Afrikaanse taal en die Afrikanerkultuur die afgelope paar jaar gelei het, is die verlies aan taal – en kultuurspesifieke tersiêre onderrig.
Onlangse verwikkelinge by die Noordwes-Universiteit, sowel as die uitsprake van die nuwe rektor van die Universiteit van Stellenbosch oor transformasie, dui daarop dat die laaste twee universiteitskampusse waar Afrikaans en tot ‘n mindere mate die Afrikanerkultuur nog ‘n houvas het, ook nou sal moet transformeer.
Terwyl die oordrag van kennis in ‘n spesifieke taal en vanuit ‘n spesifieke kultuuragtergrond belangrik is, is daar ook baie ander redes waarom ‘n kultuurgemeenskap ‘n eie universiteit moet hê.
Die eerste is op die terrein van navorsing. ‘n Kultuurgemeenskap wat aktief navorsing in sy eie taal en vanuit sy eie kultuurperspektief doen, slaag suksesvol daarin om voortdurend relevant te bly.
Die ontwikkeling van leierskap is nog ‘n rede waarom dit belangrik is dat ‘n kultuurgemeenskap sy eie universiteit moet hê. Ware leiers kom gereeld tydens tersiêre onderrig na vore en leiers wat hierdie vaardighede binne hul eie taal- en kultuuromgewing ontwikkel sal meer geneig wees om uiteindelik hul vaardighede binne die gemeenskap aan te wend.
Regoor die wêreld is daar taal- en kultuurgemeenskappe wat stadig maar seker besig is om te verdwyn. Een van die hoofredes hiervoor, is dat hierdie gemeenskappe glad nie oor hoër funksies, wat veral op universiteite ontwikkel word, beskik nie. Verskeie Eskimo-gemeenskappe in Alaska en Kanada organiseer tans gemeenskapskolleges in die hoop om hul kwynende tale en kultuurfunksies daar in stand te hou.
Die rol wat die teenwoordigheid van ‘n universiteit op ‘n gemeenskap het, moet ook nie onderskat word nie. Neem byvoorbeeld ‘n universiteit met ‘n mediese skool. Dit is welbekend dat Bloemfontein van die beste mediese dienste in Suid-Afrika het. Top dokters en mediese spesialiste word daar opgelei en bly baie keer na hul studies aan om by plaaslike klinieke en hospitale te praktiseer omdat hulle tuisvoel binne die gemeenskap. Dieselfde kan nie van Potchefstroom gesê word nie, omdat daar nooit ‘n mediese skool tot stand gekom het nie.
Navorsing in die VSA toon dat die top universiteite daar meestal in uiters suksesvolle gemeenskappe geleë is. Universiteitsdorpe en –stede in die VSA het gewoonlik ‘n hoë gemiddelde inkomste en lae werkloosheid. Selfs belangriker egter is dat sulke dorpe en stede gewoonlik meer geneig is om ‘n kultuur van innovasie te hê.
‘n Goeie voorbeeld hiervan in Suid-Afrika is Stellenbosch. Stellenbosch is een van die welvarendste dorpe in Suid-Afrika en nuwe, innoverende ondernemings word gereeld in Stellenbosch gestig. Die top entrepreneurs wat hul studies by die Universiteit van Stellenbosch voltooi verlaat nie altyd die gemeenskap nie, maar word eerder aangemoedig om binne ‘n gemeenskap waar hulle tuisvoel te innoveer.
Hierdie soort van gemeenskapsuniversiteit is wat die Afrikaner in die toekoms nodig sal hê ten einde ons kultuur en taal te bly onderhou. Die voordeel wat ons het, is dat ons ‘n goeie vertrekpunt het. Afrikaans is ‘n hoogsontwikkelde taal en ons kultuurfunksies is ook goed ontwikkel. Dat ons besig is om dit te verloor is egter ‘n feit waarby ons nie verby kan kyk nie.
Die bekende Afrikaanse filosoof, skrywer en akademikus prof Danie Goosen lewer onlangs in ‘n toespraak ‘n pleidooi vir Afrikaners om meer land-gerig te wees. Land-gerig word in dié konteks as ‘n metafoor vir begrensing gebruik, terwyl see-gerig as metafoor vir onbegrensdheid dien. Mense wat land-gerig is wil die begrensing waaroor hul beskik in beskerming neem. Volgens Goosen is grense vir landkulture ‘n redding. Grense maak ‘n woning, ‘n egte tuiste, moontlik.
Grense bring sekerheid en geborgenheid, terwyl grensloosheid onsekerheid en tuisteloosheid meebring. Volgens Goosen is mense wat seegerig is, gefokus daarop om vry VAN iets te wees terwyl landgerigte mense daarop gefokus is om VIR iets vry te wees.
In die Westerse wêreld, en ook onder Afrikaners, is daar toenemend ‘n seegerigtheid eerder as ‘n landsgerigtheid. Mense wil bevry word van dinge wat beperkinge op hul plaas, maar hulle streef nie regtig daarna om vry vir iets te wees nie. Dit bring mee dat mense vry voel sonder om werklik ‘n sterk fondament te hê waarop hulle hul strewes kan bou.
Goosen noem vier dinge waarvoor mense vry kan en moet wees. Eerstens moet jy vry wees om grense om jou te trek en jou veiligheid daarbinne na te jaag. Tweedens moet jy vry wees om binne daardie grense gemeenskap te stig. Derdens moet jy vry wees om geregtigheid na te jaag en te sorg dat almal toekom wat hulle verdien en laastens moet jy vry kan wees om die hoogste na te streef.
Hierdie landgerigte ingesteldheid word gereeld in die Westerse wêreld as verstok en verouderd beskou. Dit word verbind met nasionalisme en in sommige gevalle selfs fascisme en liberale denkers doen groot werk om mense te oortuig om eerder ‘n see-gerigte ingesteldheid te volg en uit die begrensing van identiteit los te breek.
Tog het elke mens ‘n ingeboude sin vir plek. Die praktyk wys vir ons dat ‘n suiwer see-gerigte ingesteldheid nie volhoubaar is nie. Mense sonder grense is ook mense wat nêrens het om in ontstuimige tye na terug te keer nie. Jy word vrygestel van die gesag van jou kultuur, volk, gemeenskap en die tradisionele gesin. Wat is jy dan as jy aan niks behoort nie?
Die seegerigte mens raak toenemend weerloos as individu. Die landgerigte mens daarteenoor weet wie hy is, waarheen hy oppad is en het ‘n sterk ondersteuningsnetwerk van mense en instellings wat vir hom intree, hom onderskraag en hom help betekenis aan die lewe gee.
Volgens Goosen is nog ‘n onderskeid tussen die seegerigte en landgerigte mens die onderskeid tussen ruimte en plek. Die moderne wêreld word geregeer deur die gedagte van ruimte. Tog moet ruimte beheer word en indien die individue en sy verbintenisse dit nie beheer nie dan doen ‘n sterkerwordende staat dit. Vir die landgerigte mens kom beheer vanuit die orde van gesin, gemeenskap en volk.
Die Skotte se huidige strewe na onafhanklikheid is ‘n voorbeeld van landgerigtheid. So ook die strewe van die meeste minderheidsgroepe na selfbeskikking. Ook Afrikaners kan gerus meer landgerig wees en dus gefokus daarop om vry te wees vir onsself eerder as van onsself.
Ek was so ’n paar naweke gelede in Orania vir die jaarlikse karnaval. Hoewel ek al heelwat daar gekuier het, was dit tog vir my ‘n vars blik op die dorp. Daar gebeur dinge wat maar op elke dorp gebeur, of hulle dit nou basaar, of skou, of fees noem.
En dan is daar ook iets anders aan. Dit wat dieselfde is as in elke klein dorpie wat ‘n bymekaarkoms hou, is veral in die sigbare te vind: die springkasteel, vuurwerke, daardie stalletjie wat ‘n aartappel in krulle sny wat ek nog nooit in die gewone lewe gesien het nie, maar wat by elke fees opduik. Ek dink elke basaar en elke skou wat ek nog bygewoon het, het ‘n kerrie en rys-stalletjie en ‘n pannekoekstalletjie en koeksisterverkope gehad. Die skoumyl en die perd-teen-fietsren is vir my nuwes, maar ek is seker ander plekke het dalk ook soiets. Optogte is iets waarvan daar deesdae dalk te veel, eerder as te min is.
Uit bogenoemde sou dit klink of ek glad nie beïndruk was nie. Tog is die teendeel waar. Ek het gaan soek vir redes dat dit so is…
Pioniersdorp
Orania is in wese nog baie jonk, in sy vroeë 20’s. Daar bly nog iets van die opwinding oor van ‘n nuwe begin. Dis anders as die meeste plekke waar ek al by ‘n skou was, én dit wys. Waar ‘n plek met ‘n honderdjaargeskiedenis meer het om na terug te kyk, is daar ook heelwat minder moeite uit die gemeenskap om iets nuuts te skep. Hierdie kreatiwiteit leef nog in Orania.
Daar is ook ‘n gemaklikheid daarmee dat dinge nie perfek gebeur nie. Waar ‘n gevestigde plek gewoond kan raak aan ‘n goeie manier van dinge doen en dan onnodig krities raak as dinge “nie so lekker soos in ’97 is nie”, is die varsheid van die idee iets wat maak dat die maatstaf nog is hoeveel dinge reg geloop het, nie hoeveel verkeerd geloop het nie.
Die feit dat baie van die mense wat deelneem al iets moes reël, of besef dat hulle nog so iets gaan moet reël, beteken dat niemand dink dis ‘n maklike taak nie. Ek is deel van Absa se gradueringsprogram en daar tref ek dikwels ‘n soort naïewe denke aan wat sê ons reël sommer gou-gou ‘n maraton, en wat van een elke maand… Die besef dat om iets te organiseer, selfs iets eenvoudigs, moeilik is, val nie op nie. By mense wat wel hierdie besef het, is daar meer waardering vir wat gedoen word, want hulle weet hoeveel inspanning dit verg. Ek glo dis een van die redes dat daar positiewe terugvoer op inisiatiewe in die dorp is.
Inkoop
“Buy in” is ‘n argument wat op ‘n stadium groot mode was in die Suid-Afrikaanse universiteitedebatte. Die term beskryf eerstens ‘n gelate aanvaar van wat hier (aan my) gedoen word, tweedens ‘n ondersteuning van ‘n inisiatief wat iemand anders dryf en derdens ‘n oortuiging dat dit tot my voordeel sal strek en dat ek wil bydra. Dis die emosionele/sosiale weergawe van wat dit finansieel sou beteken om aandele te koop. Vir sommiges is inkoop om toe te laat dat my pensioenfonds of spaarplan of wat ook al uit my salaris kom, ander doen dit omdat hulle dink hier is wins in hierdie maatskappy te maak en die Warren Buffets van die wêreld besef dat jy eienaarskap van ‘n maatskappy kry deur aandele te koop.
Alle vlakke is positief vir ‘n plek/plan/idee, maar ‘n mens verkies natuurlik die eienaarskapweergawe. ‘n Mens sien ook in Orania verskillende vlakke van inkoop. Daar is diegene wat die dorp uit beginsel kom stig het, of wat so sterk daarmee assosieer dat hulle gekies het om in Orania eerder as elders moeite te maak. Daar is ook diegene wat reken dis ‘n groeiende plek wat geleenthede bied en as ‘n plek hierdie sukses begin beleef, is daar ook mense wat nie elders reggekom het nie, wat hulle heenkome kom soek het sonder dat beginselsake noodwendig ‘n rol hoef te speel.
Ander plekke het baie minder van dié soort mense wat uit beginsel by die plek sal bly. In die res van die land gebeur dit omtrent net in gevalle waar ‘n familie nou al ‘n paar generasies in ‘n omgewing bly en deel van die landskap word. Orania se bestaansrede is ‘n beginselbesluit dat die Afrikaner se voortbestaan belangrik genoeg is dat jy daarvoor sal opoffer.
Die omgekeerde reaksie in die vorm van teenstand vir die inisiatief is vir elke nuwe ding ‘n realiteit. Tog blyk dit dat die mense wat kom kyk hoe daar optog gehou word, nêrens negatief reageer nie. Hierdie positiewe milieu maak dat die belewenis van die deelnemers meer positief is as wat apatie of teenkanting sou veroorsaak het. Jy kan dit omtrent nêrens anders verwag nie.
Die karnaval het ‘n inkoop op verskeie vlakke van intensiteit en sonder opposisie wat die naweek wil stopsit. Hierdie feite maak dat dieselfde fisiese gebeure as wat op ‘n honderd ander plekke plaasvind, meer waarde toevoeg as op daardie honderd ander plekke.
Eensgesindheid
Daar was wel twee stalletjies vir die twee skole en die verskillende kerke het verskillende produkte aangebied. Dit sou nie ‘n Afrikanertuiste wees as die mense in een kerk, een skool en een politieke party ingepas het nie. Maar uit ‘n buitestaandersperspektief is daar ‘n lekker samewerking om iets vir die gemene voordeel te doen.
Ek het geen voorbeeld gesien van ‘n prentjie wat al vir my deel van skou was nie. Die prentjie is een waar jy nou pas ‘n vetkoek gekoop het by die plaaslike fietsryklub en jy nou jou besluit moet verduidelik aan die tannie wat wil weet hoekom jy nie die hardloopklub ondersteun nie. Om op hierdie oomblik ‘n ander oortuiging te hê as dat jy ingedoen is en ook die “hot dog” van die hardloopklub se stalletjie gaan koop waar jy darem waarde vir jou geld sal kry, is om moeilikheid te soek. Hierdie onderlinge dwarstrekkery doen gewoonlik die skouganger se belewenis skade en dis lekker om ‘n slag daarsonder reg te kom.
Sterkmanne daag op en kom tel swaar gewigte op – hulle doen dit oral. Maar op Orania gaan staan die karnaval omtrent stil, soos almal gaan kyk. Dis asof die gebeurtenis vir almal meer van ‘n aardigheid is as elders. Waar ek gewoond is om darem ‘n stewige dosis siniese mense aan te tref wat nou by die fees is, maar besluit om deur niks beïndruk te word nie, was daar ‘n sigbare keuse om te gaan aanskou wat daar te aanskoue is.
Daar is waarskynlik nog baie redes, beide in die oppervlakkige én in die dieperliggende te vind vir hoekom Orania net anders is. Maar vir nou sal ek hierby volstaan. Ek sal hierdie karnaval vir enigeen aanbeveel.
Daar is baie mense wat hierdie vraag aan my gevra het, met die die skeptisisme dat dit nie suksesvol kan wees nie.
Ek het saam met my ouers as dertienjarige seun vanaf ‘n groot stedelike gebied na Orania verhuis. Aanvanklik was dit vreemd en ‘n wegbeweeg na ‘n plattelandse omgewing het vervelig gelyk omdat die avontuur van die stad gelok het. Tog het daar ‘n verandering van waardes plaasgevind. Na skool het ek gaan studeer en is weer stad toe maar my hart het hier gebly. Toe ek en my vrou terugkeer na Orania kon mense dit nie glo nie. Ek is lief vir ons ontwikkelende Karoodorp, wat feitlik daagliks nuwe inwoners bykry.
Die kommer wat ek het, is dat te veel groei en ontwikkeling gaan plaasvind en mettertyd dit wat ons nou ervaar soos om rustig in die straat te stap, ‘n vleisie saam met jou buurman te braai of kinders wat tot laataand baljaar, verlore sal gaan.
Orania is vir my die plek waar die ideale wat ek koester, uitgeleef kan word. Orania is ‘n Afrikaanssprekende gemeenskap waar nie net indiwidue na hul eie belange omsien nie maar ook gemeenskaplike belange deel soos die uitleef van christenskap, kultuurbevordering en die voer van ‘n veilige bestaan.
Selfwerksaamheid hou finansiële voordele vir die hele gemeenskap in. In Orania is welgestelde en minderbevoorregte inwoners. Tog is hier geen bedelaars nie. Deur die gemeenskap word omgesien na die gemeenskap. In dieselfde asem bestaan hier ook nie ‘n plafon vir hardwerkende entrepreneurs wat die gemeenskap deel met mindergegoedes nie.
Baie van die nuwe intrekkers besef gou die uitwerking van die gemeenskapsbetrokkenheid nadat hulle hier gevestig het. Binne die gemeenskap beleef hul positiewe aspekte soos die vier van christelike vakansiedae, algemene gasvryheid en hardwerkendheid. Dit alles kan nie in geld gemeet of op grond van status bekom word nie.
Wat veiligheid betref, is Orania totaal anders. Hier glo ons dat veiligheid ‘n eienskap van ‘n gesonde gemeenskap is. Orania is egter nie heeltemal misdaadvry nie. Deur die proaktiewe optrede van die gemeeenskap word ernstige of gereelde misdaad voorkom. In teenstelling met veiligheids-komplekse elders is ons in Orania gefokus om misdaadprobleme op te los in plaas van die bou van hoër mure.
Ek en my vrou se keuse is Orania omdat ons hier tuishoort. Elkeen moet maar self besluit watter opofferings hy/sy bereid is om te maak vir die bereiking van ons selfbeskikkingsideaal.