As mense sê: “Julle moet…” Dan wil ek weet wie is “julle”? En dan kom die antwoord gewoonlik: “Orania moet..” En as ek dan vra: “Wie is Orania?” is mense gewoonlik verbaas, selfs stomgeslaan. Hoe kan ek dan nou nie weet wie Orania is nie. Ek woon tog bykans negentien jaar hier. Maar ek wil weet, wie dink húlle is Orania. En ek besef dan hulle weet nie. Orania is iets, iemand wat dinge moet doen, of dalk nie vinnig genoeg doen nie, of dalk heeltemal iets anders behoort te doen, dink hulle. Orania is soms amper iets misterieus vir mense.
Die volgende verhaaltjie illustreer die persepsie wat mense oor Orania het dalk baie duidelik: ‘n Ontstelde dame laat weet dat haar suster en dié se man by ‘n kusdorp vakansie gehou het en dat daar ook ‘n meisie van Orania was, en dat dié meisie haar suster se man afgevry het. En toe kom die vraag van haar: “Ek wil weet wat Orania daaraan gaan doen?” Sjoe, sou dieselfde vraag aan iemand in Hopetown gestel word of in Bloemfontein of in New York? Ek vind dit vreemd, uiters vreemd.
Op ‘n ander keer bel ‘n belangstellende vroeg die oggend na die Orania Beweging se kantoor. Dis duidelik dat hy die hele nag lank oor ‘n belangrike saak gedink het en hy wil onmiddellik antwoorde hê. Hy wil eiendom koop en geld belê op Orania, maar wie gaan sy belegging waarborg, want op sy dorp kan hy soveel verdien en elders soveel, maar hy wil nie ‘n kans vat op Orania as hy dalk alles kan verloor nie. Orania moet vir hom die waarborg gee voordat hy sy geld bring. “Wie is Orania, Meneer?” vra ek toe met ‘n suikerstem.
Die man dink ek skeer die gek met hom, maar ek hou vol. “Wie is Orania, Meneer?” En hy raak effe ongemaklik met my wat so vroeg in die oggend so moedswillig kan wees. Maar dit werk, want na ‘n rukkie vra hy: “ Nee, sê maar vir my wie Orania is.” Ek is nie moedswillig nie, ek wil bloot bitter graag verstaan hoe mense dink.
“Orania, Meneer, is ‘n klein handjievol mense wat in ‘n gemeenskaplike saak geglo het en besluit het om alles wat hulle het by te dra tot die saak waarin hulle glo. Sonder waarborge. Hulle het gekom om te gee, nie om te kry nie. En dit is waarskynlik een van die hoofredes waarom Orania suksesvol is, omdat mense onbaatsugtig ‘n bydrae lewer en daagliks stoei met vraagstukke waarvoor daar eenvoudig oplossings gevind móét word. Want ons werk aan ‘n saak groter as onsself. En niemand het vir ons waarborge gegee nie.” Dis lank stil aan die ander kant van die telefoon. O, hy het nie só daaraan gedink nie. Maar hy kan nie ‘n kans waag met sy geld nie. Ek het nie weer van hom gehoor nie.
Ek is regtig nie moedswillig as ek die vraag vra nie, ek wil vreeslik graag hê dat mense ‘n slag daaroor moet dink.
Nog ‘n geykte gesegde wat ons dikwels hoor is: “Is daar rêrig so baie kerke op Orania?” Mense is stomverbaas as hulle hoor dat hier meer as een kerkdenominasie op Orania is. Ons behoort, volgens die persepsie ‘n eenkerk-, eenskool-, eenbankgemeenskap te wees. Geen keuses behoort toegelaat te word nie. “Nee, Meneer. Ons gee graag keuses. Om die waarheid te sê, ons bevorder graag vryheid van keuse. En mag ek vra: Hoeveel kerke is op jou dorp, Meneer? Het jy al getel? Wéét jy ooit van al die verskillende denominasies wat daar in jou dorp is? Want die kerke het nie hier by ons ontstaan nie, hulle kom van julle af!”
En jy? Sê jy ook dalk: “Julle moet..”? Dan wil ek vandag vra: wil jy nie asseblief maar kom help nie? Hier is baie werk wat gedoen moet word en dit is dringend. Ek onthou nog so goed die dag toe prof Carel Boshoff tydens Orania Beweging se twintigste verjaardag gesê het: “My volk is terminaal siek.” Dit het my aan die hart geruk. Die tyd is nou. Daar is nog hoop, daar is nog iets wat gedoen kan word om vir Afrikaners ‘n blyplekkie in ons lieflike Afrika te verseker. ‘n Plek waar hulle sal tuisvoel en tuishoort. Maar die tyd is nou.
Ek lees dikwels van buitelandse universiteite wat projekte borg in townships. Dit is groepe wat navorsing doen om te kyk watter omstandighede hulle in townships kan verbeter. Daar word kunsprojekte aangepak, sosiaal-maatskaplike dienste gelewer, krieketafrigting gegee, konserte gehou, strate gemaak, mediese versorging aangebied, saam gebou aan bekostigbare behuising, ekonomiese inspuitings gegee. Die lys is eindeloos. Kan jy nie dalk ook ‘n bydrae hier kom lewer nie? Dalk tydens jou volgende vakansie? Wat is jou kundigheid? Hoe lyk die span wat jy kan saambring om Orania vinniger gereed te maak sodat jou nageslag hier kan nesskop? Het jy al in die Groeifonds belê? Dra jy by tot die Helpsaamfonds? Wat kan jy fisies kom doen? Watter projek kan jy identifiseer wat ons dalk nie meer raaksien nie omdat ons al aan die probleem gewoond geraak het? Kom bespreek dit met ons. Ons hoor regtig graag van jou voorstelle en oplossings. Maar kom om van jouself te gee. Kom word deel van die oplossing.
Wie is Orania? Ons gaan die vraag nog dikwels vra. Maar jy kan nou kom help om inhoud aan die antwoord te gee. Jy kan nou ‘n bydrae lewer tot wat Orania sal word. ‘n Nuwe identiteit vir ‘n volk wat vryheid kies.
NOU.
Dit kom maar daarop neer, vra nie wat Orania vir jou kan doen nie, maar wat jy vir Orania kan doen….
As ek iets moet uitlig dan is dit die volgende: “Orania, Meneer, is ‘n klein handjievol mense wat in ‘n gemeenskaplike saak geglo het en besluit het om alles wat hulle het by te dra tot die saak waarin hulle glo. Sonder waarborge. Hulle het gekom om te gee, nie om te kry nie. En dit is waarskynlik een van die hoofredes waarom Orania suksesvol is, omdat mense onbaatsugtig ‘n bydrae lewer en daagliks stoei met vraagstukke waarvoor daar eenvoudig oplossings gevind móét word. Want ons werk aan ‘n saak groter as onsself. En niemand het vir ons waarborge gegee nie.”
Ek weet nie watter waarborg die ou nou eintlik wou he nie, want ek kan nie aan ‘n beter waarborg dink as mense wat in ‘n gemeenskaplike saak glo en alles insit om dit te maak werk nie.
Dis waarom ek nie tweekeer gedink het toe ek R10000 in Vlujtjieskraal Noord bele het nie. Inteendeel, ek sal waarskeinlik nooit weer daai geld sien nie – want alles wat ek uit die belegging maak, ploeg ek net so weer terug in Orania in. Hoekom? Want alhoewel ek nie in Orania woon nie, glo ek ook in die saak, en offer ek graag my persoonlike welvaart op om daarin te kan deel. Die grootste opbrengs op my belegging is om elke paar jaar die 7 uur na Orania toe te ry en te sien hoe wonderlik die dorp uitgebrei het. Dit is ‘n belegging nie net vir my eie toekoms nie, maar ‘n belegging vir die nageslag wat ‘n verskil sal maak lank nadat ek nie meer hier is nie.
Dag Lisa,
bedankt voor je goede artikel. Het is eerlijk en oprecht. Daar kunnen we verder mee. Erg fijn, hoor. Wij hopen ook van harte, dat steeds meer Afrikaners zich zullen laten aanspreken door oproepen als deze van jou. Er is nog een heleboel te doen, inderdaad. Zoals het er nu voor staat, krijgt Orania steeds meer steun en ook steeds meer aandacht. Wij hopen, dat dat zich ook vertaalt in Afrikaners die zich daadwerkelijk in de Volkstaat komen vestigen. Ja, zo iets gaat niet makkelijk! Maar het lijkt erop, dat jullie aan de winnende kant staan. Wij hebben je hele artikel op onze facebook-pagina gezet.
@tulp
op welke facebook-pagina heb je dat gezet?
Wij hebben gisteravond je artikel nog een keer doorgelezen. Wat ons erg aanspreekt, is de bescheiden toon van je artikel. Daarbij komt, dat het realistisch is. Dus, geen nationalistisch gebral, maar bescheidenheid, vasthoudendheid en realisme. Dezelfde toonzetting kom je tegen in het boek van Carel Boshoff: Dis nou ek. – Van groot belang voor de Volkstaat/Orania om te slagen, is de economie: er moet een groeiende en goed-lopende economie komen/zijn om de mensen werk en inkomen te geven. Zonder dat geen Volkstaat. Maar minstens zo belangrijk is de geestelijke ondergrond. Wij zijn van mening, dat Carel Boshoff (senior en junior) hier juist zo goed in zijn geslaagd. Afrikaners hebben ook recht om een plekje op deze aarde te hebben om te kunnen bestaan. Daarbij is de inzet van de Boshoff’s gespeend van ieder racisme of nationalisme. Zij zetten in met een rechtvaardige en bescheiden eis……. om te mogen leven. Ieder mens die het hart op de goede plaats heeft, zal zoiets waarderen. Dezelfde geest komen wij tegen in dit artikeltje van Lida. Dit is de goede weg! Wij denken, dat ook juist hierom, dus vanwege deze geestelijke onderbouwing, de Volkstaat succesvol is en ook kans heeft om in de toekomst te slagen. Wij zien voor de toekomst de volgende punten als van belang:
-) er moet meer plek binnen Orania komen voor verpauperde Afrikaners; er zijn er letterlijk 100.000-en nu in Zuid-Afrika; juist voor hen is de Volkstaat bedoeld!
-) de boodschap van de Volkstaat moet worden uitgedragen aan de Afrikaner-jeugd/matrieks; wie gaat de scholen en universiteiten langs met de boodschap van Orania?
-) er moeten nieuwe groeipunten/dorpen worden gesticht richting Wes-kus; Orania alleen is te weinig voor een Volkstaat; 3 families zijn genoeg om een groeipunt te beginnen; de grond moet door Orania worden opgekocht en de groeipunten moeten vanuit Orania worden geleid
-) een duidelijk en overtuigd ‘nee’ tegen ieder AWB-denken
Pragtig geskryf, Lida.
Ek was vir lank een van daardie mense wat gesê het Orania moet dit doen, of hierdie projek aanpak. En dit was natuurlik voordat ek self daar was. Na my eerste besoek, het ek besef, dié Orania waarin ek glo, en die “julle” is en sal niemand anders kan wees as ek self en die vele ander wat ‘n toekoms vir die Afrikaner daar skep nie.
Nadat ek teruggekeer het, het ek gedink, en nou as ek ‘n voorstel maak, is ek meer as bereid om my kundighied en geld te belê waar dit nodig mag wees om Orania vinniger te laat groei totdat dit die Volkstaat is waarheen ek wil trek. Maar nie om soontoe te trek en net te wees en te kry nie, maar my bydraes daar te gaan opsoek, sodat ek onbeskaamd kan sê ek is Orania, ek is ook ‘n deel van die “julle”.
Belê in die Groeifonds en gaan sien wat daardie bietjie geld wat jy belê het kan vermag. Skenk jaarliks ‘n bedrag aan die Helpsaamfonds en sien hoeveel werklose mans, vrouens en kinders en minder bevoorregte Afrikaner gesinne ‘n heenkome kan vind omdat jy net ‘n bietjie gegee het. Sluit aan by die Orania Beweging sodat jy vier keer ‘n jaar (met die Voorgrond Tydskrif) kan lees wat jou bydrae kan doen en jy opreg kan weet jy het ‘n deel daaraan. Hoe vinniger jy belê, hoe vinniger jy skenk, hoe vinniger jy ander Afrikaners kan oortuig dat jy Orania is hoe vinniger sal jy daardie Vrye Volkstaat sien waarna elkeen van ons so bitterlik na smag.
Vriende, baie dankie vir julle kommentaar. Dit is besonder belangrik dat ons vir wie Orania ‘n hartsaak is, sal dink en dan DOEN! Daar is nie meer tyd vir die luuksheid van praat en praat sonder dat ons ‘n nuwe werklikheid tot stand bring nie.
En hoe wonderlik is dit om deel te kan wees daarvan!
Norman
Bae dankie vir jou eerlike kommentaar.
As jy meer oor Orania wil weet is die heel beste ding om te doen om self te kom ondersoek instel. Daar is baie wanpersepsies oor Orania en dit is belangrik dat ‘n mens dit vir jouself uitmaak, met die korrekte feite tot jou beskikking.
Soos in elke ander gemeenskap het Orania ‘n verskeidenheid van inwoners: Van mense wat min geleentheid tot ontwikkeling gehad het en as ongeskooldes sukkel om werk te kry tot hoogs ontwikkelde,uiters intelligente mense wat almal hulle unieke bydrae tot Orania maak.
Maar Orania is ‘n plek met ‘n plan. Ons ploeter nie net dag vir dag voort nie, ons het ‘n doel om te bereik. Daardie doel is groeiende selfbeskikking vir Afrikaners. Dit beteken dat ons oor onsself wil regeer. Dat ons self wil besluit hoe ons onderwys sal wees, hoe ons juridiese stelsel sal werk, hoe ons paaie, water en ander dienste in stand gehou moet word.Dat ons ons kinders volgens ons eie oortuigings en morele waardes wil opvoed. Dat ons Afrikaans wil praat en ons eie humor wil waardeer. Dat ons veilig wil voel wanneer ons om ‘n braaivleisvuur staan en grappies maak. Dat ons verwag dat ons mense ordentlik en met waardigheid behandel sal word. Dat ons stem gehoor sal word. Dat ons ‘n deel van die oplossing sal wees en nie van die probleem nie.
Daar is verskeie van ons kinders wat aan verskillende universiteite studeer. Deur die bank het hulle almal goed aangepas en ek dink, heelwat persepsies afgebreek omdat hulle toe nie so rassisties reageer as wat daar van hulle verwag is nie. Hulle het nie nodig om rassisties te wees nie, want hulle het ‘n goed ontwikkelde identiteit en besef dat hulle nie minderwaardig is nie, maar terselfdertyd is hulle ook nie meerderwaardig nie.
Sluit gerus ook aan by ons Facebookblad https://www.facebook.com/pages/Orania/135943369814481
Reel gerus ‘n gratis begeleide toer by die kantoor van die Orania Beweging wanneer julle kom: 053 2070 062 sodat julle die ware Orania kan leer ken!
Ons het ons jongmense baie nodig!
Norman
Ek sien dit so, as jy al op Orania was en haar wil kritiseer is dit in orde want Orania is nie vir almal nie. As jy wel nog nie daar was nie en haar wil kritiseer dan se ek gaan kyk eers en besluit dan.
Daar is wonderlike plekke om te tuis te gaan so moenie onnodig uitstel nie.
Ek weet presies waar jy vandaan kom: Ek wasok 15 jaar gelede waar jy was. Ek het Orania nou al ‘n paar keer besoek, en al woon ek nie daar nie, bele ek reeds duisende rande daar.
PS. As jy regtig ‘n akkurate beeld van Orania wil kry, gaan besoek die dorp, en doen dit dan weer oor ‘n jaar of twee. Dan sal jy met jou eie oë kan sien dat dit ‘n dorp is waar dinge gebeur.
Groete
Hanno
Ek stap vanoggend verby ‘n koffiewinkel met die volgende aanhaling voor sy deur (my vertaling): “Ek het altyd gedink dat iemand iets daaraan moet doen, totdat ek besef het dat ek iemand is.”
Lida, iemand wat besluit het om haar gemeenskapsprojek in Orania te doen in plaas van ‘n ander “minderbevoorregte gemeenskap”, is Hermien Greyling. Sy is ‘n scio-praktisyn van Roodepoort en kom elke twee maande Orania toe om haar pasiënte hier te behandel. Sy doen dit ook nie op ‘n neerbuigende wyse omdat ons so minderbevoorreg is nie, maar dit is haar manier om haar solidariteit met Orania te toon en die afstand na die ver Bo-Karoo te help krimp. Dankie, Hermien!
Goeie werk!
Genugtig hoe trots is ek nou om te kan sê ek is ook Orania. My eerste tree het hierdie IEMAND gegee. Wat n voorreg. Dankie Lida, jy bemagtig baie van ons weer met n puik stuk inligting, en ek sekondeer Tulp se kommentaar. Nogal lekker om die taal te lees van my voorvader wat van Vuren af kom.
Seëngroete aan Orania.
Andries Janse van Vuuren
Uitmuntend! Waarlik ‘n pragtige en omvattende skrewe, Lida