Paleo-konserwatiewe denke vir Afrikaners nodig

In ‘n onlangse artikel in The American Conservative skryf Rod Dreher van ‘n vriend van hom wat ‘n uitstekende werksaanbod in ‘n ander land van die hand gewys het. “He said that the things he learned from being here, and part of this community, were experiences only open to those who cultivated stable lives in community, which implies renouncing the idea that life is better elsewhere…” Dreher argumenteer dat die konsep van ‘n gelukkige, tevrede gemeenskap ondermyn word deur die ideologie van individualisme en verbruikerskapitalisme.

Die Afrikaner se voortbestaan word vandag nie eksklusief deur eksterne faktore bedreig nie, maar soveel te meer deur ons eie onvermoë om rondom ‘n sinvolle politieke en ekonomiese denke te verenig.

In ons strewe na selfbeskikking sal ons heelwat energie moet wy aan die ontwikkeling van ‘n gepaste politieke en ekonomiese denkrigting. Die populistiese konsepte van sosialisme en laissez-faire-kapitalisme bied geen antwoord op die Afrikaner se unieke uitdagings nie. Daarmee saam ondermyn individualisme, die polities korrekte afdwinging van egalitarisme en die toenemende verval van Afrikanerkultuur enige poging tot selfbeskikking omdat ons mense dink hulle selfverwesenliking deur sosiale aanvaarding en die genot van materiële middelle kan bereik.

Wat is die uitdagings? Soos genoem beskou ek die grootste uitdagings vir die Afrikaner se voortbestaan as interne eerder as eksterne faktore. Dit sluit in ‘n toenemende individualisme en aanhang van die verbruikerskapitalisme waarna Dreher verwys. Verder is Afrikaners stelselmatig besig om ankers soos hulle geloof, die gesin, moraliteit en natuurlik hul interafhanklikheid van ‘n saamgebinde gemeenskap en sy instellings soos skole, verenigings en politieke instrumente, te verloor.

Vir hierdie redes word dit makliker vir Afrikaners om te emigreer, te integreer, of selfs net verder te individualiseer. Hoe kan dit gebeur dat mense met ‘n geskiedenis van meer as 350 jaar net kan oppak en emigreer? Hoe kan dit gebeur dat Afrikaners net kan besluit dat hulle hul kinders Engels wil grootmaak? Hoe kan Afrikaners die bande van hulle geloofs- en kerklewe, die inspirasie van gemeenskap en die fondament van geskiedenis, kultuur en taal net opsê om ook maar net Suid-Afrikaners te wees?

Die probleem lê myns insiens daarin dat Afrikaners nie ‘n sentrale politieke denke het wat hulle bymekaar hou nie. Afrikaners aanvaar toenemend dat om suksesvol te wees en bo uit te kom juis van hulle verwag om wie hulle is op te sê en ‘n meer aanvaarbare, liberale beeld van hulself te projekteer. Dit is te verstane inaggenome die invloed wat Suid-Afrika se politieke en ekonomiese veranderings die afgelope twintig jaar op Afrikaners gehad het. As Afrikaners nie weet wie hulle is en wat en hoe hulle mag wees nie, sal hulle probeer om soos ander te wees, net om te oorleef.

Na die Tweede Wêreldoorlog het Amerika ook voor die vraag van ‘wie sal ons nou vorentoe wees’ gestaan. Amerika se toenemend dominante rol in wêreldpolitiek en toenemende sosialisme in die Amerikaanse regering, het ‘n groep denkers onder leiding van Russell Kirk ‘n informele denkskool tot stand laat kom wat eers as die ‘New Conservatives’ en later as die ‘Traditionalists’ bekend gestaan het. Die denke van hierdie groep het later in die konsep van paleo-konserwatisme as denkraamwerk ontwikkel. Onder leiding van Kirk het hierdie groep die konsepte van die verligting, egalitarisme (gelykmaking), nuttigheidsleer en rasionalisme verwerp. Vryheid, ‘n fokus op insette, tradisie, geloof en die rol van die gemeenskap is weer na vore gebring. Die Paleo-konserwatiewes verwerp die meerderwaardigheid van die moderne demokrasie waar burgers hul stem slegs by die stembus kan laat hoor. Vandag sien ons in die VSA ‘n nuwe opbloei van paleo-konserwatiewe denke in die Teeparty en hernude pogings om tradisie en die rol van die Christelike geloof, waardes en die gemeenskap in die VSA te herstel.

Die paleo-konserwatisme verwerp ook sosialisme en ekstreme laissez-faire-kapitalisme. Die sosialisme ondermyn die krag van die gemeenskap om homself deur toenemende lokalisme te versterk, terwyl die markfanatici se hartelose denke, waar die mark meestal bo die belang van die medemens geplaas word, ernstige morele vrae laat.

Gedurende die 1940’s het Robert Taft, ‘n Amerikaanse senator, reeds die grondslag vir ‘n paleo-konserwatiewe denkrigting gelê. “… a system in which the able would realize their practical talents and receive their just rewards, and in which the needy and unfortunate – from out that society’s prosperity – would be provided with a tolerable livelihood, regardless of their inability to provide for themselves.”

Party moderne paleo-konserwatiewe denkers predik ook die belangrikheid van lokalisme. In ‘n onderhoud met Jeff Fortenberry, ‘n lid van die Amerikaanse kongres van die deelstaat Nebraska, wat onlangs in The American Conservative gepubliseer is, neem hy sterk standpunt in teen die absolute ekonomiese beginsels wat deur ‘n meerderheid van politici in die twee hoof politieke partye in die VSA gepredik word. Fortenberry gaan voort deur ‘n pleidooi vir die lokalisme te lewer: “We can have systems that are small and local and efficient, or big and unaccountable… I believe in the benefits of localism as a more traditional economic model.”

Wat beteken dit alles vir die Afrikaner? Na my mening moet Afrikaners binne ‘n paleo-konserwatiewe denkskool verenig word. Een waar die fondamente dié van ons geloof, waardes, kultuur, taal, tradisies en geskiedenis is en een waar ons metodes ‘n herontdekking van die krag van gemeenskap en lokalisme vooropstel. Afrikaners wat oor ‘n goeie fondament beskik en oor die vermoë beskik om selfverwesenliking uit hul rol in die gemeenskap eerder as oordrewe individualisme en materialisme te kan put, sal ‘n voortbestaan hê. Orania en Oraniërs moet meer doen om hierdie soort denke aan mede-Afrikaners bekend te stel en as alternatief tot individualisme, integrasie en emigrasie aan te bied. Slegs dan sal ons die soort groei in die strewe na selfbeskikking wat ons graag onder ons mense wil sien, begin ervaar.

Die mite van diversiteit

Een van die mantras van ons tyd is “diversiteit”, of anders gestel, die dwang om homogene volke en groepe en streke met die maksimum van staatlike inmenging so te vermeng dat daar nie meer afgrensbare groepe en volke oorbly nie. Etniese homogeniteit as sulks word as iets beskou wat diep verwerplik en gevaarlik is en gewoonlik word woorde soos “isolasie”, “parogiaal”, “rassisme”, “meerderwaardigheid”, “agterlikheid”, ens. daaraan gekoppel.

Vir die sogenaamde meningsvormers, by uitstek multi-kulturele indiwidue wat in wêreldstede bly, is homogeniteit iets wat aanstootlik is. ‘n Gemengde paartjie of  ‘n partytjie met mense van alle kleure maak meningsvormers en joernaliste opgewonde, ‘n gemeenskap wat volgens sy tradisie lewe is perse verdag, veral as dit ‘n blanke gemeenskap is (vir tradisionele swart stamme of Indiane geld effens versagtende omstandighede).

In Suid-Afrika is die ewige geskreeu na meer verteenwoordigendheid regeringsbeleid. Dit dien natuurlik net een doel, naamlik die totale beheer van die ANC-kliek oor elke aspek van die samelewing. Omdat dit nie reg klink om dit so te stel nie, word die mooi klinkende frase van diversiteit bemoei en wat deur liggelowige blanke meningsvormers nagepraat word. Opvallend is natuurlik dat diversiteit net na die een kant toe werk en dat nog nooit iemand gekla het oor die sokkerspan, die Black Business Association of ‘n Xhosa-dorp wat nie verteenwoordigend is nie.

Terwyl die motief vir meer “diversiteit” in Suid-Afrika maklik begrypbaar is, naamlik ‘n versterking van ‘n reeds oorweldigende magsgreep op die samelewing, wat net ‘n variasie op kommunistiese “newspeak” verteenwoordig, is die motiewe in lande wat óf nog redelik homogeen is, óf wat nog steeds ‘n blanke meerderheid het, moeiliker verstaanbaar en maak dikwels glad nie sin nie, ook nie vir diegene wat dit bepleit nie.

In die VSA en Europa het diversiteit so omtrent vanaf die 1960’s meer en meer die gonswoord geword, en is vandag feitlik iets wat nie bevraagteken mag word nie, ‘n soort hoogste gebod. Samelewings wat tradisioneel homogeen (meer as 90% behoort aan een volk) was, strewe nou met alle mag daarna om so multi-kultureel as moontlik te word.

As ‘n samelewing weens sy geskiedenis van immigrasie uit verskeie oorsprongslande (soos die VSA, Australië, Brasilië) na voorheen onbevolkte of ylbevolkte gebiede ‘n multi-kulturele samelewing word en die leiers poog om die verskille so te akkommodeer dat die minimum konflik ontstaan, is daar niks fout daarmee nie. Die VSA se beleid van inklusiewe patriotisme het vir lank gewerk en binne enkele generasies het uit Britte, Iere, Duitsers, Spanjaarde, ens. Amerikaners geword wat mekaar as gelyke aanvaar het. Eers na die burgerregtebeweging in die 1960’s het regstellende aksie in die 1980’s ingekom, deels om die werklike agterstand en ongelykhede van swart Amerikaners te lig, maar later al hoe meer met die argument van die waarde van diversiteit. As daar ‘n oorwegende wit universiteit is, selfs al is daar geen diskriminerende maatreëls nie (behalwe akademiese prestasies), word dit op sigself as ‘n probleem beskou. Wit student sou iets mis omdat hulle nie al ewig in aanraking met student van ander kulture is nie.

In Europa is die drang na diversiteit self nog meer onlangs en nog meer kunsmatig. Eens homogene lande soos Swede, Duitsland, Frankryk en Denemarke wil met alle geweld hulle etniese identiteit afskud ten gunste van ‘n multi-kulturele samelewing. Anders as in die gevalle van die bogenoemde immigrasielande soos die VSA of Brasilië bestaan daar geen noodsaaklikheid om ‘n multi-kulturele samelewing te word nie.

Die argument is gewoonlik dat multi-kulturele samelewings voordele bo die homogene samelewings het, meer dinamies is, meer geleenthede skep, meer talent trek en lekkerder is om in te woon, en dat daarom elke relatief homogene samelewing daarna moet streef om so heterogeen as moontlik te word.

Hou die argument werklik water? Net in so verre as ‘n land se immigrasiebeleid van so ‘n aard is dat hoogs geskoolde mense gelok word wat nie plaaslik beskikbaar is nie. Beter is inderdaad die belegging in goeie opleiding om jou eie, hoogsgeskoolde mense te skep wat makliker in die samelewing inpas. Verder skiet die argument tekort, want nie hoogsgeskooldes word getrek met ‘n immigrasievriendelike beleid nie, maar ander lande se probleemgevalle, werkloses en vlugtelinge wat groener weivelde soek maar wat selde werklik ‘n bydrae het om te lewer. Daar is niks dinamies aan ‘n Turkse of ‘n Pakistanse werklose nie, net so min soos aan ‘n Duitse of Engelse werklose, met die verskil dat laasgenoemdes die reg het om in hulle land van herkoms te wees en eersgenoemdes hulle probleme saambring.

Verder is die argument dat ‘n multi-kulturele samelewing waardevolle kulturele invloede saambring, ook dikwels ‘n blote hol frase. Watter waarde bring ‘n moskee of ‘n Hindu-tempel vir ‘n Christelike land? Gewoonlik net irritasie. As jy belangstel in ander kulture, is dit maklik genoeg om op die vliegtuig te klim en na eksotiese lande te reis. En is die gerief om allerhande uitheemse restourante te hê werklik al die daaglikse probleme van moeilik integreerbare volke die moeite werd? Waarvoor wil jy dan nog reis as jy die hele wêreld in jou stad het?

Die persoonlike verryking wat so besweer word deur die maksimum kontak met ander kulture is ook ‘n drogredenasie. Mense wat in ander kulture belang stel, het selfs in redelik homogene lande genoeg kans om dit te doen. In die multi-kulturele samelewings lei die oormaat vreemdes juis tot die teendeel van kulturele verryking, naamlik ghettovorming omdat vreemdes as ‘n bedreiging ervaar word, en nie sonder rede nie. In ons eie Suid-Afrika is die homogene gemeenskappe gewoonlik die wat oorloop van gasvryheid (ek dink maar aan Orania of aan ‘n tipiese tradisionele swart stat in die landelike gebiede), terwyl in die multi-kulturele stede mense so min as moontlik uitreik na ander kulture. Misdaad is die een rede, maar mense wat jy die hele dag as irritasie beleef omdat hulle in jou gesig gedruk word, wil jy nie graag na-ure sosiaal ontmoet nie, selfs al kon van hulle goeie vriende word.

Konflik is ook meer volop in heterogene samelewings en feitlik elke groepskonflik het iewers ‘n etniese komponent. Hoekom tot dusver veilige, rustige en voorspoedige samelewings die risiko wil loop om deur massa-immigrasie hulle toestand te verander, gaan my verstand te bowe.

Die koste vir ‘n multi-kulturele samelewing moet ook nie buite rekening gelaat word nie. Meer werkloses moet maatskaplike toelaes ontvang en voeg geen waarde toe nie. Geld word gespandeer op allerhande konferensies en seminare, om van staatsdepartemente nie eens te praat nie, wat almal die doel het om multi-kulturalisme te bestuur. ‘n Probleem word geskep wat dan aangespreek moet word, pleks om van die begin af vas te stel dat die voordele van ‘n multi-kulturele samelewing veel minder is as die nadele en dat dit daarom liewers nie eers moet ontstaan nie. Diegene wat die multi-kulturele samelewing dryf, is gewoonlik diegene wat van die bestuur daarvan leef en wat andersins werkloos sou wees, soos gemeenskapswerkers en al die “integrasie en transformasie-beamptes” wat elke universiteit en elke groot maatskappy vandag moet hê.

Die grootste ironie van die saak is dat niemand gedien is met die multi-kulturele samelewing nie: immigrante voel sleg oor hulleself as hulle slegs maatskaplike toelaes trek en voel vervreemd van hulle gasland wat hulle gelok het. Al die geld wat op die akkommodasie van immigrante gespandeer word, kan eerder vir ontwikkelingshulp gespandeer word om geleenthede in die moederland te skep. Die inheemse inwoners is ook nie gelukkig nie, want hulle voel benadeel en bedreig.

Dit is tyd dat politici en meningsvormers wat duidelik stel dat die multi-kulturele samelewing ‘n klug is en meer kwaad as goed doen, nie sommer van die begin af as rassistiese heethoofde afgemaak en doodgeswyg word nie. Die probleem word daardeur net erger. Bou liewers jou gemeenskap pleks om geld in ‘n bodemlose put van ‘n twyfelagtige ideologie te gooi wat reeds as onwerkbaar bewys is.

Boekresensie “Politokrasie” van Koos Malan

Geskryf deur Sebastiaan Biehl.

Die boek Politokrasie van prof Koos Malan handel oor die staat en sy ontstaan, en veral oor die absolutistiese aanspraak wat die staat op ons as mense het, en laastens ’n alternatief vir ‘n beter bestel.
Die staat is die enigste instelling wat ons onverdeelde lojaliteit opeis, bo godsdiens, ras, geslag, volk ens. Terwyl dit algemeen as ekstremisties beskou word om jou godsdiens, ras of taal bo alles te verhef en om alles daaraan te onderwerp, beskou die staat en sy apologete dit as reg en goed, selfs noodsaaklik, dat die staat bo alles verhef moet word. Optrede teen die staat is hoogverraad, optrede teen jou eie groep daarteen word met lof besing.
Dit is belangrik om daarop te let dat staat en nasie twee verskillende dinge is, al word hulle, veral in die Engelse taal, as wisselterme gebruik. Die moderne staat is in die meeste gevalle nie ‘n nasiestaat nie, maar ‘n territoriale staat.
Die ontstaan van die staat
Die staat word vandag as ‘n gegewe beskou en elke vierkante meter grond op aarde is onder beheer van ‘n staat en daar word algemeen gedink dat die staat van die begin van die mensdom af daar was.
Die staat is nie net ‘n relatief onlangse verskynsel nie, maar ook ‘n vorm wat tot in die 20ste eeu grootliks tot Europa beperk was. Voor die moderne territoriale staat (wat selde ‘n nasiestaat in die ware betekenis van die woord is) in die 17de eeu in Europa geleidelik ontstaan het, was daar die groot ryke in die Antieke tydperk soos die Alexanderryk, die Persiese Ryk en die Romeinse Ryk, en in die Middeleeue die Christelike Ryk, die verenigde Christendom in Wes-,Suid- en Sentraal-Europa onder die pous en die Duitse keiser as geestelike en wêreldse opperhoofde. Die tweestryd oor wie die groter een is, was die belangrikste politieke vraagstuk in die Middeleeue en is ten gunste van die pous beslis. Die idee van die Christelike Ryk was dat die gesamentlike Christendom onder een gesag saamgevoeg moes word. Etnisiteit het geen rol gespeel oftewel nog nie bestaan nie. Die politieke gesag was onderworpe aan God en moet God dien en die Christelike ideale help verwesenlik. Die Christelike Ryk het geen vaste grense gehad nie en was nie territoriaal van aard nie, maar het gegaan oor die keiser se gesagsuitoefening en waar mense hulleself as onderdane beskou het. Dis belangrik om daarop te let dat die keiser onregstreeks geheers het deur middel van vorste en vasalle wat weer oor hulle onmiddellike onderdane in hulle streek geheers het.
Die reg in die Middeleeuse Christelike Ryk was uit die aard van die saak veral kanonieke reg wat direk uit die kerk se tradisie afgelei kon word. Selfs die keiser was ondergeskik aan die Goddelike reg. Weens die uitgestrekte gebied met talle volke en tale en verskillende vorste het daar ook in elke gebied ‘n ander reg gegeld en geen universele reg vir die hele staat soos vandag nie.
Die Germane se tradisie het wel ‘n reg gehad wat deel was van oorgelewerde gebruike en wat nie universeel nie, maar volksgebonde was en bestaan het van die begin van die volk af. Die Reg was nie soewerein nie, maar die volk was, en die volk se oorgelewerde regsbegrip en beginsels was die reg: gewoontereg in Engeland, natuurreg in kontinentale Europa. Selfs konings en keisers was onderworpe aan die reg. Die absolutistiese beskouing dat die koning bo die reg verhewe is en as’t ware die reg en die staat is, het eers in die 17de eeu ontstaan.
Die moderne staat het sy ontstaan eers in die 17de eeu gehad, met die Vrede van Wesfale van 1648 wat algemeen as die beginpunt gesien word. Die Hervorming op godsdienstige gebied speel daarby ‘n belangrike rol: die universele gesag van die pous, en die Duitse keiser as sy politieke mede-regeerder, word uitgedaag; die klem op persoonlike verstaan van die Bybel beteken dat streekstale se rol opgeskaal en Latyn se rol afgeskaal word en daarmee saam nasionale identiteite ontstaan; en die kompromis in die vrede van Wesfale, dat elke territoriale heerser die godsdiens van sy onderdane kan bepaal, lei tot die ontstaan van godsdienstige staatjies pleks van ‘n universele Katolieke Ryk. Ons moet egter nie die fout maak om te dink dat die ontwikkeling enigsins in die rigting van “meer demokrasie” beweeg het nie. Die teendeel was die geval. Die state was meer sentralisties en die monarg se gesag groter en meer direk as in die Middeleeuse ryke. Die tendens het sy duidelikste uitkristalisering in Frankryk beleef, seker die eerste territoriale staat in die moderne sin, met streng sentrale beheer en ‘n absolute heerser, gesentraliseerde belasting, permanente burokrasie en leer en algemene regstelsel asook die gelykmaking van die onderdane en die gedwonge vorming van een Franse identiteit ten koste van streeks- en groepsidentiteite. Dit het onverdraagsaamheid meegebring en die Katolieke godsdiens het deel van die Franse staatsbestel geword en ander godsdienste is as bedreiging vir die nasionale identiteit en integriteit beskou. Daarom was daar ook die vervolging van die Protestantse Hugenote waarvan ons goed bewus is.

Denkers ten gunste van die sterk staat
Denkers soos Jean Bodin en L’Hopital het egter beweer dat godsdiensvryheid op die lang duur beter is vir staatlike behoud, want twis oor godsdiens sou die staat uitmekaar laat spat. As godsdiens minder belangrik en as private saak geag is, kan die heerser op wêreldse belange fokus en ‘n sterk staat opbou. Dit is die grondslag van Frankryk se sterk sekularisme.
Thomas Hobbes geld as die groot apologeet van die sterk territoriale staat. In sy werk “die Leviataan” word die staat daargestel as die waarborg van orde en stabiliteit vir die burgers. ‘n Absolute heerser is nie per definisie die Godgegewe gesag nie, maar werk die beste om streng sentrale beheer toe te pas en word dus voorgestaan. Hobbes begin die siening gewild maak dat die mens nie ‘n gemeenskapswese is nie, soos in die Middeleeue gegeld het nie, maar ‘n vryswewende individu. Die natuurstaat (wat deur Rousseau geïdealiseer is) word as sleg, chaoties en onbevredigend beskryf en die strewe na staatlike orde waarbinne alle sinvolle menslike aktiwiteite kan plaasvind en kultuur kan ontstaan, word bepleit. In die natuurstaat is dit die oorlog van almal teen almal, maar om dit te voorkom gee die individue deel van hulle regte af aan die staat wat hulle beskerm. Die staat het verpligtinge, eerder as wat individue regte het.
John Locke lê weer groter klem op individuele vryheid en regte en beperkinge van die staat as Hobbes en is klassiek-liberaal en kom modern voor. Maar ook hy sien mense as vryswewende individue wat toevallig in een grondgebied woon en alleen op grond van rasionale oorwegings ‘n staat of gemenebes stig.
Die staatlike paradigma
Volgens Artikel 1 van Montevideo-konferensie van 1933 moet ‘n staat beskik oor ‘n permanente bevolking, ‘n afgebakende grondgebied, ‘n regering en die vermoë om in verhouding met ander state te tree. Die staatsbegrip is in die eerste plek territoriaal: die skending van grondgebied van ‘n ander staat word as baie erger beskou as skending van menseregte binne ‘n staat. ‘n Staat word na die gebruiklike beskouing gedefinieer deur ‘n grondgebied, nie ‘n bevolking of volk nie. Dus moet ons eerder van die territoriale staat en nie die nasie-staat praat nie. Veral in die sogenaamde derde wêreld met sy taamlik onlangse, onlogiese en arbitrêre grense word oorheersing oor minderhede vasgeskryf. Die huidige staatsbeskouing kom van Hobbes en Locke, wat bo kortliks verduidelik is. Dus is die staatsbeskouing nie neutraal nie, maar bepalend beïnvloed deur die individualisties-liberale siening en nie die siening van volkskap nie. Vanaf die grondgebied word na bevolking gewerk, nie anders om nie (soos wat dit behoort te wees); die staat huisves ‘n bevolking, nie ‘ volk of gemeenskap nie. Die bevolking word hanteer as individue en die staat funksioneer as regsordening, met regsgesag binne ‘n omlynde gebied.
Regspraak
Nes die staatsbeskouing is ook die regspraak afhanklik van die gees van die tyd en die filosofiese rigting. Daar is nie iets soos neutrale regspreking nie.
Regte in die Middeleeue en 16de eeu was regte en nie aansprake wat mense op sosiale dienste en materiële dinge gehad het nie. Liefdadigheid was ‘n saak van die kerk en mense se morele gewete. Here en knegte het ‘n baie nouer leefwêreld gedeel en daar was ‘n paternalistiese verantwoordelikheid (vergelykbaar met die verhouding van blanke boere en hulle swart werkers). Die kapitalistiese stelsel het gemaak dat massawerkers anoniem geword het en geen interaksie tussen werkgewers en werknemers bestaan het nie. Die staat het die rol van maatskaplike versorger oorgeneem om opstande te keer en om die rol van die kerk te beperk.
Menseregte gee nie meer regte aan mense nie, nog minder aan groepe, maar skep meer magte vir die staat, al klink dit onlogies en al was die aanvanklike bedoeling van menseregte om die mense volgens die liberale beginsel teen die staat te beskerm. Intussen het dit egter so verander dat die staat die rol van die beskermer van die mense teen dinge soos armoede, maatskaplike toestande, en afdwing van godsdienstige en samelewingswaardes (wat diskriminasie kan insluit) beskerm. Die Staat wurm hom dus in die privaatsfere in om menseregte toe te pas. As daar ‘n toestand van wedersydse vertroue was, was dit nie nodig dat die staat menslike verhoudings reguleer nie. Dit skep ‘n regsregime, met ‘n magdom regsinstellings. Juriste is die nuwe hoogste klas, soos dit in die Christelike republiek die kerklike personeel was. Hoe meer regte mense het, hoe meer word hulle afhanklik van die juridiese klas.

Die staat is die opeiser van die finale gesag. Hoogverraad as delikt teen staat het ingekom. Mense behoort aan die staat, of hulle wil of nie. Voorbeelde van hoogverraad is die van Boere in die Kaapkolonie of swartmense in ou Suid-Afrika. Mense moet hulle eie volk verraai omdat hulle nie die staat mag verraai sonder ernstige gevolge nie.

Ook die internasionale reg giet die huidige staat vas deur die onskendbaarheid van kunsmatige grense vas te skryf en selfbeskikking nie vir volke nie maar vir omlynde gebiede te laat geld. Selfbeskikking van volke pleks van grondgebiede daarteenoor sal die huidige staatlike orde radikaal ondermyn.

Selfbeskikking in internasionale verband

‘n Nuwe paradigma het na die Eerste Wêreldoorlog ontstaan. VSA-president Woodrow Wilson se selfbeskikkingsidee het gelei tot die ontstaan van volkstate in Europa en gedeeltelik ook in die Midde-Ooste, maar nie elders nie. Omdat die konsep te veel ontwrigting sou veroorsaak en te veel teenstanders gehad het, veral die bestaande state, is eerder die beginsel van minderheidsregte binne bestaande state gevolg. Nasionale selfbeskikking het nie regsbeginsel geword nie, maar slegs politieke beginsel. Nogtans is dit ingesluit in die Verenigde Nasies se Handves van Regte.
Ongelukkig het nie Wilson se idee van selfbeskikking vir volke die heersende een geword nie, maar die een van Lenin. Lenin het selfbeskikking gelyk gestel met dekolonisasie, iets wat sterk die denke in die Derde Wêreld beïnvloed en ongelukkig ook vandag nog die oorheersende siening van selfbeskikking by die VN is. Lenin het wel nie ‘n flenter omgegee vir die regte van onderdrukte volke nie, hy wou die gekleurde massas teen die Weste ophits en as troepe vir die kommunistiese wêreldrevolusie gebruik en daarom moes hulle ontvoog word en onder Westerse invloed uitkom.

Daar is wel ‘n groeiende regsopinie ten gunste van selfbeskikking. Nogtans maak die VN-resolusies geen voorsiening vir die reg op afskeiding nie, maar eerder vir groepregte binne ‘n staat. Selfbeskikking word bely maar die logiese gevolg, die verandering van grense, verbied of ontmoedig dit.
Sesessie kom egter na die einde van Koue Oorlog weer kragtig na vore. Daarby word egter voorkeur gegee aan territoriale selfbeskikking (‘n reeds omlynde gebied met ‘n bevolking wat selde etnies homogeen is) teenoor nasionale selfbeskikking van ‘n volk wat binne sekere grense woon.
Die konsep van selfbeskikking is mak gemaak, nes demokrasie, om aan die staatlike paradigma onderdanig te word. Omdat die hele menslike politieke lewe georden is binne ‘n staatsverband, al speel die staat in talle gemeenskappe geen groot rol nie, kan die wêreldleiers aan geen ander uitlewing van selfbeskikking dink nie as binne die staat nie.

Politokrasie as antwoord

Politokrasie beteken die heerskappy deur die burger. Dit verskil dus in nuanses van die demokrasie, wat die heerskappy van die bevolking beteken, en dikwels op die heerskappy van die gepeupel neerkom, veral in die lande wat geen demokratiese tradisie het nie. Die tuistelike gemeenskap is die boublok vir politieke aksie en deelname omdat sulke gemeenskappe werklik lotsgebonde aan mekaar is. Ten spyte van globalisering vind die meeste interaksie nog steeds op die plaaslike vlak plaas.
In die politokrasie lê die klem nie op politieke regte nie, maar op deelname aan die gemenebes. Dit is ‘n regeringsvorm vir tuistelike gemeenskappe. Regte is grootliks betekenisloos sonder gemeenskap. Politokrasie is geensins ‘n heerskappy deur enkele adelikes nie, maar deur die burgery, wat aan die staat gebonde is. Dit vind sy voorbeeld in die Griekse stadstate, waar die begrip van die burgers mense bedoel het wat ‘n aanspraak op hulle stad het en wat daarmee vereenselwig. Mense kan deel van die burgery word, maar dit is onsinnig om enigiemand wat volwasse is, deel van die burgery te maak as die persoon nie gebonde is aan die staat nie. Die politokrasie werk dus ook net in ‘n oorsigtelike staatsopset met ‘n klein en homogene bevolking wat aan mekaar verantwoordelik is en waar die enkeling se belang met die belang van die gemeenskap verweef is.
Die elite van die politokrasie is nie staties van aard nie maar vloeiend en betrek gedurig nuwe burgers en faseer ander uit. Politieke deelname is dus in beginsel oop vir almal. Die “poli” in politokrasie verwys na die veelvoud, en politokrasie glo dus ook aan veelvoudige deelname en ‘n verspreiding van mag na vele onderdele toe. Dit maak die konsentrasie van mag in die hande van ‘n klein elite feitlik onmoontlik. Besluitneming vind deursigtelik en verkieslik deur konsensus plaas. Dit wat partye net altyd belowe, naamlik regering nader aan die mense, maar weens ‘n sentralistiese bestel nie kan toepas nie, word deur politokrasie moontlik gemaak. Voorvereiste is egter ‘n kopskuif weg van staatsgerigte denke na gemeenskapsgerigte denke en om ‘n bedeling anderkant die almagtige staat te dink en dan te doen.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel