Merkel op koers om vierde termyn te wen

start_bildOor die afgelope sestig jaar het die Christelik-Demokratiese Unie van Angela Merkel net vyf jaar ’n regering in die deelstaat Noordryn-Wesfale gelei. Dié deelstaat, waar een uit elke vyf Duitse kiesers woon, was nog altyd die hartland van die Sosiaal-Demokratiese Party. Tydens die onlangse verkiesing in Noordryn-Wesfale het die Christelik-Demokratiese Unie egter eerste geëindig. Daar het vanjaar in drie Duitse deelstate verkiesings plaasgevind en in al drie het die CDU gewen. In twee van die drie het hulle die sosialiste uit die top posisie geskop.

Angela Merkel, voorsitter van die CDU en sedert 2005 bondskanselier van Duitsland, het met die oorwinning in Noordryn-Wesfale haar greep op beheer van Duitsland verder versterk. Toe Merkel ’n paar maande gelede aangekondig het dat sy haarself vir ’n vierde termyn as bondskanselier beskikbaar gaan stel het politieke kommentators wyd bespiegel dat sy moontlik besig is om haar hand te oorspeel.

Die toestroming van vlugtelinge na Duitsland oor die afgelope twee jaar het ernstige druk op Merkel en haar oopgrensebeleid geplaas. Met byna twee miljoen aankomelinge, meestal Moslems, uit Derde Wêreldlande soos Sirië, Afganistan, Irak en talle Afrikalande het die Duitse regering groot druk ervaar om huisvesting, maatskaplike en ander dienste aan almal te lewer. Kulturele botsings en ’n toename in misdaad deur vlugtelinge het die vraag laat ontstaan of die einde van Merkel se politieke loopbaan in sig was.

Op 24 Januarie vanjaar het Martin Schulz aangekondig dat hy homself beskikbaar gaan stel om die Sosiaal-Demokratiese Party se kandidaat vir bondskanselier te wees. Schulz was die afgelope vyf jaar president van die Europese Parlement en is redelik gewild in Duitland. Binne weke het Schulz sê party begin voorloop in peilings en was daar nog meer rede om te glo dat Merkel se rakleeftyd verby is.

Vandag, vier maande voor die Duitse federale verkiesing, lyk dinge egter totaal anders. Na drie deelstaatoorwinnings loop die Christelik-Demokratiese Unie gemaklik voor in peilings en is Merkel weer baie gewild. Beide die sosialiste aan haar linkerkant en die populistiese Alternatief vir Duitsland aan haar regterkant het wesenlike steun verloor.

Hoe kry Merkel dit reg? Eerstens moet belangrike ekonomiese gegewens nie onderskat word nie. Die Duitse ekonomie is tans baie sterk met hoër as verwagte ekonomiese groei en laer as verwagte werkloosheid. Data wat verlede week bekend gemaak is, toon dat die regering se belastinginkomste oor die volgende vyf jaar sowat 54 miljard Euro meer as verwag gaan wees. Merkel en haar regering het dus baie beweegruimte om belasting te verlaag en spandering te verhoog.

Oor die afgelope paar maande het Merkel ook stelselmatig strenger teen immigrante begin optree. Baie asielsoekers se aansoeke is afgekeur en na hul lande van herkoms teruggestuur. Minder vlugtelinge word ontvang en Merkel doen alles in haar vermoë om ’n ooreenkoms met Turkye waarvolgens die Turke die meeste vlugtelinge teen ’n prys huisves, in stand te hou.

Terwyl Merkel en haar Christelik-Demokrate spog oor hul ekonomiese sukses en beloftes oor laer belasting, infrastruktuurontwikkeling en beter veiligheid maak, het die ander partye min om aan Duitse kiesers te bied. Die vraag is nie meer of Merkel in September gaan wen nie, maar eerder hoe vêr sy gaan wen.

Permakultuur

Orania---Bewaria---Skakerings-van-groen

Ek is ’n nuwe intrekker op Orania, maar net 5 maande hier. Benewens die soektog na doelgerigte gemeenskap het Orania se omgewingsvriendelikheid – ‘groen’ gesindheid my hiernatoe getrek. My man en ek woon hier op ’n 1 hektaar stukkie karooparadys met volop grondwater en sonkrag. Ons gryswater lei ’n gedeelte van ons land nat, waar ons binnekort vrugtebome wil begin aanplant.  Ons het so pas ons skadutonnel klaar gebou, die komposhope lê gereed en nou is daar geen verskonings meer oor om nie met alle erns te begin groente plant nie.

Groenhuis

Ek neem jou graag saam met my op my reis na selfstandigheid en voedselsekerheid binne die raamwerk van permakultuur. Tegnologiese vooruitgang, wonderlik as wat dit is en hoe baie die mensdom ookal daaruit voordeel getrek het, het ons van ons eie wortels losgesny. Ons het ons natuurlike verbinding tot ons Aarde en daarmee ons respek vir haar verloor. Ons buit haar nou kortsigtig uit en offer haar op aan die god van kapitalisme. Ons het so ver wegbeweeg van dit wat vir ons natuurlik behoort te wees, dat ons ‘n ingewikkelde term soos permakultuur moes ontwikkel om te her-aanleer, wat ons grootouers as alledaags aanvaar het.

Permakultuur beteken natuurlike hulpbronbewerkingsmetodes wat blywend lewensvatbaar, dus volhoubaar is. So sal ons Aarde aan die gesondheid en fisiese welsyn van die huidige geslag sowel as die van toekomstige geslagte sal kan voorsien.

Dit is ‘n ingesteldheid van vrywillige spaarsaamheid binne ‘n geslote stelsel. Ons mag wel die geld hê om vir groot water en elektrisiteitsrekeninge te kan betaal, maar dit stel ons nie vry van die verantwoordelikheid teenoor ons Aarde se beperkte steenkool en water hulpbronne en om hulle dus spaarsaam en met wysheid te gebruik nie. ‘n Geslote stelsel beteken dat ons ons hulpbronne so lank as moontlik deur herbenutting and hernuwing behou. Ons probeer om byvoorbeeld water en organiese materiaal op ons persele te behou.

Meer oor hoe ek tot dusver vaar teenoor bogenoemde standaarde volgende keer.

Gaby

’n Simposium in Pretoria

Different Person

Round The Camp Fire

Hierdie Saterdag (27 Mei 2017) het ek die voorreg gehad om in Pretoria aan ’n simposium van die Stigting vir Nasionale Minderhede in Suid-Afrika deel te neem. Besprekingspunte en deelnemers, die aard van die gesprek en die omgewing waarin dit plaasgevind het, het my terug gevat na dekades gelede toe ons ook sulke gesprekke gevoer het – baie eners en baie anders.

My broer Wynand, wat voorsitter van die Stigting is, en kol Piet Uys, wat sekretaris van die VF Plus is, het daarin geslaag om vir profs Koos Malan en Deon Geldenhuys, myself en dr Corné Mulder te laat deelneem aan ’n bespreking van ou vraagstukke, maar in ’n nuwe lig gesien. Die ou vraagstukke is eenvoudig dié na Afrikanerselfbeskikking in ’n nuwe staatsorde en wat ons te doen staan om dit te bevorder. Die nuwe lig verwys weer na die insigte wat ons die afgelope twintig jaar verwerf het, wat in besonder vervat is in prof Malan se boek Politokrasie wat al in 2011 verskyn het en ’n steeds toenemende invloed uitoefen.

Kortweg kan gesê word dat prof Malan ’n inleiding tot sy werk wat op dié nuwe term, naamlik politokrasie, uitgeloop het, gegee het. Hy het in besonder na twee historiese sleuteldenkers van die sewentiende eeu verwys, naamlik Thomas Hobbes wat voorbrand gemaak het vir die sentralistiese, soewereine territoriale staatsvorm wat die moderne geskiedenis oorheers het, en na Johannes Althusius wat ’n federalistiese beeld van gedeelde soewereiniteit en die erkenning van gemeenskappe probeer bevorder het. Nodeloos om te sê dat Hobbes destyds die botoon gevoer het, maar dit is tog betekenisvol dat Althusius in ons tyd herontdek en herwaardeer word.

Ek het gepoog om politokratiese denkbeelde met die werklikhede en ervarings van Orania te verbind – ’n onderwerp wat bykans geen moeite geverg het nie aangesien mens Orania as ’n handboekvoorbeeld van prof Malan se teorie kan beskou. Dr Mulder het die VF Plus se politieke en parlementêre rol, veral met betrekking tot moontlike wetgewing wat vir selfbeskikking voorsiening maak, bespreek. Die aanloop, geleenthede en risiko’s wat daarmee saamhang, het natuurlik heelwat bespreking uitgelok.

Ek laat my verwysing na prof Deon Geldenhuys egter vir laaste, want ek wil ’n bietjie daarby stilstaan. Die rede is tweeledig, naamlik dat hy sopas teruggekeer het van ’n studiebesoek aan Duitsland waar hy by die European Centre for Minority Issues gewerk het, en dat hy moeilike vraagstukke op ’n byna bedrieglik eenvoudige manier uiteensit en behandel.

Prof Geldenhuys het vier vorme van outonomie wat kulturele of nasionale minderhede die afgelope dekades opgeneem het, benoem en toegelig waarna hy Afrikaners se benutting daarvan in Suid-Afrika bespreek het. Die vier is (i) funksionele outonomie, (ii) Regeernetwerke, (iii) territoriale outonomie en (iv) kulturele outonomie. Ek gee hieronder ’n kort beskrywing van elk.

  1. Funksionele outonomie verwys na funksies of terreine waarop staatsowerhede uit die minderhede se oogpunt onbevredigend of ontoereikend optree en waarop sulke minderhede dan self inisiatief neem. Dit kan byvoorbeeld onderwys of taalontwikkeling wees waarvoor minderhede se verteenwoordigende organisasies verantwoordelikheid begin neem en die nodige vermoëns verwerf.
  2. Regeernetwerke verwys na ’n verskynsel wat begin posvat, naamlik dat ’n minderheid in vennootskap met ’n goedgesinde owerheid na bepaalde behoeftes begin omsien. Onderwys kan weer ’n voorbeeld wees, maar ook iets soos gesondheidsdienste en bejaardesorg, sake waarvoor ontwikkelde lande tipies voorsiening maak, maar waarvoor minderhede wil sien dat dit op ’n kultuureie manier aangepak word.
  • Territoriale outonomie is vanselfsprekend bevoegdhede wat deur plaaslike gemeenskappe opgeneem kan word omdat hulle in ’n bepaalde gebied gekonsentreer is en beheer oor owerheidsliggame in daardie gebied uitoefen. Die vlak van outonomie hang onder sulke omstandighede natuurlik van die grootte en welvaart van die minderheid en sy gebied af, sowel as van die betrokke staatsowerheid se gesindheid.
  1. Kulturele outonomie verwys na duidelike kulturele behoeftes van minderhede wat nie tot ’n gebied beperk is nie, maar binne ’n staat se hele gebied beskerm word. Dit kan weer eens na moedertaalonderwys verwys, of na iets soos openbare uitsaaidienste in ’n minderheidstaal.

Sover dit Afrikaners in Suid-Afrika aangaan, is dit duidelik dat die drie eersgenoemde vorme van outonomie doelgerig ontgin word, maar dat daar op die vierde terrein nog nie vordering gemaak is nie. Orania, maar ook Solidariteit bied uitstekende voorbeelde van funksionele outonomie op talle lewensterreine wat ons daaglikse bestaan raak. Ons vul juis die leemtes wat, in Suid-Afrika se geval, die falende staat laat selfs ten opsigte van sake soos veiligheid en geskikbeslegting.

Regeernetwerke ontstaan in Orania se geval byvoorbeeld waar die Noord-Kaapse regering kliniekpersoneel en medisyne voorsien terwyl Orania die gebou voorsien en administrasie waarneem. Afriforum se ooreenkoms met die SAPD is ook ’n voorbeeld hiervan. Goeie verhoudings met aangrensende munisipale regerings, sowel as provinsiale en nasionale regerings dra hiertoe by en skep geleenthede om eerder op samewerkende as konfliktiewe maniere die leemtes wat ontstaan te vul. Minderhede is dikwels nie in ’n goeie posisie om ’n lang en duur stryd aan te knoop nie en verkies dikwels eerder om op bepaalde terreine prakties te vorder. Dit geld ook vir Orania.

Tegelyk is Orania ook die enigste praktiese voorbeeld van territoriale outonomie vir Afrikaners in Suid-Afrika. Ongeag die feit dat dit nog klein en beperk is, is die begin onomkeerbaar gemaak.

As dit egter by kulturele outonomie kom, byvoorbeeld in die vorm van ’n erkende Afrikanerraad, is dit ironies dat die Suid-Afrikaanse grondwet daarvoor voorsiening maak, maar dat niks daarvan nog in werking gestel is nie. Dit spreek natuurlik van die SA regering se onwilligheid om werklik daaraan uitdrukking te gee, maar tegelyk ook van Afrikaners se vernuf om met al drie die ander vorme van outonomie beduidende vordering te maak.

 

ʼn Waardige Afrikanerheld: Generaal Christiaan Rudolf De Wet

Een Afrikanerheld wat verering verdien en wat die een pilaar op die beeldekoppie wat nog leeg is en wat uitgehou word om die Oranje-Vrystaat te verteenwoordig moet vul, is generaal Christiaan de Wet.

Christiaan Rudolf De Wet is op 7 Oktober 1854 op ‘n plaas naby Smithfield gebore, die jaar waarin die Oranje-Vrystaat onafhanklik geword het. De Wet het dus opgegroei as vrye Oranje-Vrystaatse Afrikaner, is vroeg getroud en was, soos feitlik almal van sy Nederlandssprekende inwoners destyds, ‘n boer en later ook ‘n transportryer, wat hom ‘n wye blootstelling gegee het.

Al was hy ‘n Vrystater, het die Britse besetting van Transvaal, wat hy as broederrepubliek erken het, hom ontstel en was hy deel van die Volksvergadering by Paardekraal wat belowe het om die vryheid te herwin. De Wet het ook daad by die woord gevoeg en was een van die jong helde wat dapper die Britse garnisoen by Majubaberg verslaan en die Eerste Vryheidsoorlog tot ‘n klinkende oorwinning vir die Boere gemaak het. As erkenning vir sy militêre vernuf en dapperheid word hy tot veldkornet gekies en het in die distrik Lydenburg ‘n plaas gekoop en daar gevestig. Hy is ook tot Volksraadslid vir Transvaal verkies, maar het wel later weer na sy familieplaas in die Vrystaat terug gekeer. Behalwe vir sy boerderybedrywighede is hy ook in die Vrystaat ‘n leiersfiguur met sterk standpunte vir die handhawing van die Boere se vryheid en van die behoud en uitbou van die Nederlandse taal teenoor Engels. Hy word dan ook tot die Volksraad van die Oranje-Vrystaat verkies en was ‘n aanhanger en ondersteuner van president Steyn, wat in 1896 tot president verkies is. Dit is in daardie jare waar die Britse manipulasie van en dreigemente teen die Boererepublieke, veral Transvaal, toeneem. De Wet wantrou iemand soos Rhodes, wat weens sy mooipraatjies deur talle Afrikaners as bondgenoot beskou word.

Brittanje dwing die twee Boererepublieke in ‘n oorlog in en De Wet en sy drie seuns het met die mobilisasie aangesluit by die Heilbron-kommando. De Wet is dadelik betrokke by belangrike veldslagte en beleërings, soos Dundee, en bewys as aanvoerder by die slag van Nicholsonsnek sy krygskuns en word wyd bekend. By Magersfontein aan die westelike front speel hy selfs ‘n nog belangriker rol en dra wesenlik by tot die Boere se merkwaardige oorwinning. Hy kom egter ook in konflik met die opperbevelvoerder generaal Cronje en die se verouderde oorlogstaktieke. De Wet staan vir hoogs beweeglike perdekommandos, terwyl Cronje die ou metode van lomp watrosse en langdurige beleërings volg. Cronje word by Paardeberg beslissend verslaan, maar de Wet en sy manne ontsnap en hy weier om na die verowerings van die twee hoofstede Bloemfontein en Pretoria die oorlog gewonne te gee. Met diegene wat wil en wat sy leiding volg, veg hy na ‘n kort pouse voort en die guerrillaoorlog begin. De Wet word sinoniem met guerrillaoorlog en met waagmoedige aanvalle en fabelagtige ontsnappings. Nie eers die afkamp van die hele land deur middel van doringdraad en blokhuise keer De Wet en sy manne nie. Eers toe die Britte die sagte teikens, vroue en kinders, in konsentrasiekampe gevange neem en mishandel en op groot skaal laat sterf, moet De Wet en die ander Bittereinders, de la Rey, Steyn, Kemp, Beyers en ander ingee. Omdat president Steyn te siek is om die verdrag van Vereniging te onderhandel, is generaal de Wet die hoof van die Vrystaat afvaardiging en word dan ook in Steyn se plek as waarnemende staatspresident aangestel om hierdie vernederende maar onvermydelike taak te doen om die Boererepublieke se oorgawe te onderteken. Vir ‘n vryheidsliewende vegter soos de Wet is dit ‘n baie bitter pil om te sluk.

De Wet gee na die oorlog sy outobiografiese vertelling “Die stryd tussen Boer en Brit” oor die oorlog uit en is deel van ‘n afvaardiging van bittereinder-generaals wat in Europa fondse werf vir die opbou van die verslae Afrikanervolk. De Wet is reeds ‘n legende oorsee en daar word portrette en selfs standbeelde van hom gemaak.

Die republikeinse ideaal het in de Wet bly voortleef en met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog lei De Wet ‘n gewapende protesaksie teen Suid-Afrika se toetrede aan Brittanje se kant en teen die inval in Duits-Suidwes-Afrika, wat hom in konflik bring met sy eertydse mede-generaals Botha en Smuts. Die protesoptog verander in ‘n opstand vir die herstel van die vryheid van die Boererepublieke en ook ander generaals rebelleer saam met De Wet. Die opstand sneuwel egter en hulle moet oorgee aan die militêr veel sterker Suid-Afrikaanse weermag. De Wet word gevange geneem en veroordeel tot ses jaar tronkstraf en ‘nDe Wet-1 swaar boete. Sy aanhangers samel egter die geld in en oefen druk op die regering uit om hom voortydig vry te laat. Sy boerdery is egter aan skerwe en sy gesondheid gaan agteruit. Sy vrou staan hom getrou by tot hy vroeg in 1922 sterf. Dit was hom nie vergun om die heropstanding van die Afrikanervolk te aanskou nie, maar sy gees het voortgeleef in die strewe na Afrikaner-selfbeskikking en republikanisme.

Om hierdie Boereheld te eer, word tans fondse ingesamel vir die giet van ‘n bronsbeeld van genl. de Wet. As u daartoe wil bydrae, maak asseblief ‘n betaling aan

EPOG, Absa Bank, Reknr.000 000 523, takkode 632-005, tjekrekening.

Ons eie geskiedenis, nie ʼn verbeelde “geskiedenis van die mensdom” nie

Orania word telkens gekritiseer vir sy tentoonstelling van beelde van Afrikanerleiers, met ‘n spesifieke fokus op Verwoerd as “die ergste leier van die ou bedeling”. Ons neem egter eienaarskap van ons geskiedenis en erken dat vorige leiers, of jy van hulle hou of nie, ‘n bydrae gelewer het om die Afrikaners te bring waar hulle vandag is. Ons verval nie in die mode om ‘n versameling “goeie mense” wat kamstig vir die hele mensdom iets beteken het, daar op te sit nie, want dit het niks met ons en ons geskiedenis te doen nie. Westerse lande vereer Mohandas Gandhi en Nelson Mandela as “groot humaniste en internasionaliste” en vernoem strate en pleine na hulle en sit borsbeelde van hulle op, ten spyte daarvan dat hulle min of niks met die betrokke lande se Monumentkoppiegeskiedenis te doen het nie, en ook nie met ‘n soort verbeelde “geskiedenis van die mensdom” nie. Mohandas Gandhi het gestaan vir sy mense, die Indiërs en spesifiek die Hindoes (eers in Suid-Afrika, dan in Indië«) se regte en vryheid, en Nelson Mandela het gestaan vir die swart mense van Suid-Afrika en hulle politieke aspirasies. Nie een van hulle was ‘n super-humanis wat die mensdom wou verenig nie en hulle het ook hulle swak punte gehad. Met verloop van tyd word onaantasbare helde heel menslik gesien, en ander wat net as skurke onthou is, word in perspektief geplaas. Nogtans sal daar altyd mense uitstaan en nog eeue later onthou word. Met die nodige tydelike afstand word intussen geskryf dat Gandhi nie veel ooghare vir swart mense gehad het nie en dat dit vir hom daaroor gegaan het om as gekultiveerde Indiër op dieselfde vlak as die witmense erken te word, nie om die gekleurde volke van die wêreld te bevry nie. Laasgenoemde was deel van die latere swart bevrydingsmitologie en die nog latere Hippie-geinspireerde een-wêreld ideologie. Oor Mandela word nog geen kritiek geuiter nie want hy is nog te veel met ons en nog nie geskiedenis nie. Die ware Mandela, tussen terroris aan die een kant en messias aan die ander kant, sal waarskynlik eers na vore kom as historici wat nie die Mandela-era beleef het nie, nugter en op ‘n afstand oor hom skryf, soos wat ons nou oor Napoleon kan skryf. Hulle was almal feilbaar, net soos die Afrikanerleiers wat ons gedenk ook was.

Dit gebeur wel dat sekere groot dade ‘n uitkringeffek het en vir die hele wêreld voordele bied, soos sekere tegnologiese ontwikkelinge of mediese ontdekkinge, wat van die land van uitvinding na die res van die wêreld versprei. Diegene wat dit uitgevind het, het egter gewoonlik nie die hele mensdom in gedagte nie, maar werk aan ‘n spesifieke vraagstuk wat hulle aanspreek en skep iets wat later ontwikkel in iets wat almal bevoordeel. Die punt is dat eintlik geen geskiedkundige persoon buite sy land en sy mense verstaan kan word nie. Om goeie redes vereer die Franse vir Napoleon en de Gaulle, maar nie vir Petain nie, of die Duitsers vir Bismarck of Adenauer, maar nie vir Hitler nie.

Met bogenoemde in gedagte het ons die volste reg om ons helde, synde politieke leiers, oorlogshelde, digters, nyweraars, teoloë«, kunstenaars, filosowe en uitvinders te vereer want hulle het die Afrikanervolk gevorm. Uit die aard van die saak moet ‘n mens ‘n keuse maak en bepaal dat sekere persone meer eer verdien as ander. Orania is ‘n projek deur en vir vryheidsgesinde Afrikaners en om Afrikaners te eer wat koud gestaan het teenoor die Afrikaner se strewe, of wat internasionaliste en selfs imperialiste was, sou nie sin maak nie, al aanvaar ons ook hulle as deel van ons geskiedenis.

NAMPO en Orania

Round The Camp Fire

NAMPO en Orania

Daar is ’n spreekwoord wat sê: Die waarheid hoor jy van jou vyande nooit, maar van jou vriende soms. Dit geld natuurlik net vir ’n sekere soort waarheid, want vriend en vyand sal (gelukkig) in die reël die waarheid praat as jy byvoorbeeld vra hoe laat dit is.

Maar staan nou op die punt om ’n fout te maak waarby jou ego op die spel is – en laat jou ego net ’n bietjie te veel op die spel wees – dan kos dit ’n vriend om te sê: “’n baard pas jou nie” of “jou nuwe haarstyl laat jou gesig vet lyk”. Die res van die mensdom sal jou vrolik laat begaan en jou vyande sal hulle stilweg in jou skade verheug. Vandaar die veelseggende Duitse woord Schadenfreude.

Nou het ek sopas vir die sesde keer ’n hele week by NAMPO deurgebring, besig om ’n aantreklike en innoverende produk te bemark. Almal wat dit van naderby ondersoek of wat reeds daarvan weet en ons kom opsoek, vra op ’n tydstip waar dit vervaardig word. En siende dat dit nie ’n vraag van vriend of vyandskap is nie, antwoord ons eerlik: Orania.

Oor die reaksie wat daarop volg, sal mens ’n studie kan doen. Wat gesê word en wat nie gesê word nie, die loop wat die gesprek verder aan neem, of dit hoegenaamd ’n klokkie lui, ens. sou vir studente in Sielkunde, Sosiologie, Kommunikasie, Openbare betrekkinge en sekerlik nog vakgebiede waarvan ek nie eers weet nie, van waardevolle data voorsien.

Sonder om nou al sulke studente se werk vooruit te loop, kan ek al met gesag ’n toevoeging tot nampoons taalkundige kennisskat maak. Ek kan tot die bostaande spreekwoord toevoeg dat mens ook die waarheid hoor by mense wat nie weet wie jy is nie. Wanneer ek by plekke kom waar daar by wyse van spreke ’n bordjie met ORANIA om my nek hang, moet ek met die meeste mense se ingeboude neiging tot beleefdheid rekening hou.

Wanneer ek egter die gewone bemarker van ’n interessante produk is wat van ’n ongewone plek af kom – of meer nog, wanneer ek agter die skerm sit en op my rekenaar werk terwyl ’n kollega die navrae hanteer – hoor ek dinge wat nie deur die filters van beleefdheid gegaan het nie. Oor Orania, maar ook oor ander verbandhoudende sake.

Aan die hand daarvan wil ek ’n paar waarnemings maak, nie wetenskaplik nagevors nie, maar wel op ervaring gebaseer. Bygesê dat ons boere buitengewone mense is, selfs al sal baie waarnemers die besoekers aan NAMPO juis as gewoon beskryf. Dit is dus ’n groep wat nie die hele Suid-Afrikaanse bevolking volgens getalle of streke verteenwoordig nie, maar dit sluit (meer) wit- en (minder) swartmense vanoor die hele SA en buurstate in.

Die eerste waarneming is dat ek min tot geen vyandigheid beleef nie, inteendeel, dat daar eerder uit byna alle oorde belangstelling en meelewing is. Selfs meelewing is ook nie tot Afrikanerboere beperk nie, maar word nogal dikwels deur swart boere betoon. Afkeer, wanneer dit voorkom, tref mens ook by wit én swart, Afrikaans én Engels aan. Die tendens is ook positief, beide belangstelling en meelewing word elke jaar meer.

Die tweede waarneming is dat daar mense is wat nie van Orania weet nie, maar dat dit tog by die meeste ’n klokkie lui. Ek dink dat die hoeveelheid mense wat dit as ’n rariteit beskou, afneem en dat ons ’n gevestigde deel van die Suider Afrikaanse “kaart” geword het.

’n Derde waarneming is dat dit mense nie verbaas nie, inteendeel, dat hulle verwag om vernuwing en gehalte (innovasie en kwaliteit in Gautengse Afrikaans) uit Orania te sien kom. Wat verder daarby aansluit, is dat mense wat persoonlike herkenning toon of wat reeds meer van iets soos die Ora weet, op die oog af tot die boonste derde van ’n sosio-ekonomiese skaal sou behoort. Soos dr Jooste per geleentheid gesê het, die mense wat darem lyk asof hulle tande borsel.

’n Laaste waarneming vir die doel van hierdie rubriek, bevestig iets wat ons weet, maar voeg darem nog iets daarby. Dit bevestig dat die meeste van ons mense kliphard planne beraam om die beste van hulle huidige omstandighede te maak. ’n Verandering van omgewing of van gevestigde arbeidspraktyke word nie ligtelik oorweeg nie, selfs al wens hulle Orania alle sukses toe.

En tog … meer en meer mense spreek die versugting uit om ’n nuwe begin op ’n nuwe manier te maak. Een persoon, kennelik jonk, wêreldwys, welvarend en dinamies, sê vir my iets wat hy onlangs uitgedink het. Hy sê ons moes in 1994 met die Afrikaanse dele van die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Namibië afgeskei het en ’n twintig voet hoë muur omgebou het. Hy sê ons sou een van die suksesverhale van die wêreld gewees het.

En ek sê: ja, ons moes. Maar nou is ons op die lang pad en ons bou van onder af op.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel