Een Afrikanerheld wat verering verdien en wat die een pilaar op die beeldekoppie wat nog leeg is en wat uitgehou word om die Oranje-Vrystaat te verteenwoordig moet vul, is generaal Christiaan de Wet.
Christiaan Rudolf De Wet is op 7 Oktober 1854 op ‘n plaas naby Smithfield gebore, die jaar waarin die Oranje-Vrystaat onafhanklik geword het. De Wet het dus opgegroei as vrye Oranje-Vrystaatse Afrikaner, is vroeg getroud en was, soos feitlik almal van sy Nederlandssprekende inwoners destyds, ‘n boer en later ook ‘n transportryer, wat hom ‘n wye blootstelling gegee het.
Al was hy ‘n Vrystater, het die Britse besetting van Transvaal, wat hy as broederrepubliek erken het, hom ontstel en was hy deel van die Volksvergadering by Paardekraal wat belowe het om die vryheid te herwin. De Wet het ook daad by die woord gevoeg en was een van die jong helde wat dapper die Britse garnisoen by Majubaberg verslaan en die Eerste Vryheidsoorlog tot ‘n klinkende oorwinning vir die Boere gemaak het. As erkenning vir sy militêre vernuf en dapperheid word hy tot veldkornet gekies en het in die distrik Lydenburg ‘n plaas gekoop en daar gevestig. Hy is ook tot Volksraadslid vir Transvaal verkies, maar het wel later weer na sy familieplaas in die Vrystaat terug gekeer. Behalwe vir sy boerderybedrywighede is hy ook in die Vrystaat ‘n leiersfiguur met sterk standpunte vir die handhawing van die Boere se vryheid en van die behoud en uitbou van die Nederlandse taal teenoor Engels. Hy word dan ook tot die Volksraad van die Oranje-Vrystaat verkies en was ‘n aanhanger en ondersteuner van president Steyn, wat in 1896 tot president verkies is. Dit is in daardie jare waar die Britse manipulasie van en dreigemente teen die Boererepublieke, veral Transvaal, toeneem. De Wet wantrou iemand soos Rhodes, wat weens sy mooipraatjies deur talle Afrikaners as bondgenoot beskou word.
Brittanje dwing die twee Boererepublieke in ‘n oorlog in en De Wet en sy drie seuns het met die mobilisasie aangesluit by die Heilbron-kommando. De Wet is dadelik betrokke by belangrike veldslagte en beleërings, soos Dundee, en bewys as aanvoerder by die slag van Nicholsonsnek sy krygskuns en word wyd bekend. By Magersfontein aan die westelike front speel hy selfs ‘n nog belangriker rol en dra wesenlik by tot die Boere se merkwaardige oorwinning. Hy kom egter ook in konflik met die opperbevelvoerder generaal Cronje en die se verouderde oorlogstaktieke. De Wet staan vir hoogs beweeglike perdekommandos, terwyl Cronje die ou metode van lomp watrosse en langdurige beleërings volg. Cronje word by Paardeberg beslissend verslaan, maar de Wet en sy manne ontsnap en hy weier om na die verowerings van die twee hoofstede Bloemfontein en Pretoria die oorlog gewonne te gee. Met diegene wat wil en wat sy leiding volg, veg hy na ‘n kort pouse voort en die guerrillaoorlog begin. De Wet word sinoniem met guerrillaoorlog en met waagmoedige aanvalle en fabelagtige ontsnappings. Nie eers die afkamp van die hele land deur middel van doringdraad en blokhuise keer De Wet en sy manne nie. Eers toe die Britte die sagte teikens, vroue en kinders, in konsentrasiekampe gevange neem en mishandel en op groot skaal laat sterf, moet De Wet en die ander Bittereinders, de la Rey, Steyn, Kemp, Beyers en ander ingee. Omdat president Steyn te siek is om die verdrag van Vereniging te onderhandel, is generaal de Wet die hoof van die Vrystaat afvaardiging en word dan ook in Steyn se plek as waarnemende staatspresident aangestel om hierdie vernederende maar onvermydelike taak te doen om die Boererepublieke se oorgawe te onderteken. Vir ‘n vryheidsliewende vegter soos de Wet is dit ‘n baie bitter pil om te sluk.
De Wet gee na die oorlog sy outobiografiese vertelling “Die stryd tussen Boer en Brit” oor die oorlog uit en is deel van ‘n afvaardiging van bittereinder-generaals wat in Europa fondse werf vir die opbou van die verslae Afrikanervolk. De Wet is reeds ‘n legende oorsee en daar word portrette en selfs standbeelde van hom gemaak.
Die republikeinse ideaal het in de Wet bly voortleef en met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog lei De Wet ‘n gewapende protesaksie teen Suid-Afrika se toetrede aan Brittanje se kant en teen die inval in Duits-Suidwes-Afrika, wat hom in konflik bring met sy eertydse mede-generaals Botha en Smuts. Die protesoptog verander in ‘n opstand vir die herstel van die vryheid van die Boererepublieke en ook ander generaals rebelleer saam met De Wet. Die opstand sneuwel egter en hulle moet oorgee aan die militêr veel sterker Suid-Afrikaanse weermag. De Wet word gevange geneem en veroordeel tot ses jaar tronkstraf en ‘n swaar boete. Sy aanhangers samel egter die geld in en oefen druk op die regering uit om hom voortydig vry te laat. Sy boerdery is egter aan skerwe en sy gesondheid gaan agteruit. Sy vrou staan hom getrou by tot hy vroeg in 1922 sterf. Dit was hom nie vergun om die heropstanding van die Afrikanervolk te aanskou nie, maar sy gees het voortgeleef in die strewe na Afrikaner-selfbeskikking en republikanisme.
Om hierdie Boereheld te eer, word tans fondse ingesamel vir die giet van ‘n bronsbeeld van genl. de Wet. As u daartoe wil bydrae, maak asseblief ‘n betaling aan
EPOG, Absa Bank, Reknr.000 000 523, takkode 632-005, tjekrekening.
Hallo Sebastiaan,
Dis interessant dat jy oor Christiaan de Wet skryf. Mens wonder waarom die Britte so teen die Boere was en so wreed opgetree het in die Boere oorlog. Dalk sou dit jou help as jy die geskiedenis van die Hollanders en die Britte in Oos-Indië (later Nederlands Indië en nou Indonesië) bestudeer. Ek het ‘n baie interessante en resente boek vir jou, wat vanuit die perspektief van die Engelse geskryf is: Nataniels Nutmeg (https://www.amazon.com/Nathaniels-Nutmeg-Incredible-Adventures-Changed/dp/0140292608).
Die Engelse kon dit nooit aanvaar dat hulle die wedloop na die spesery eilande van die Hollanders in die seventiende eeuw verloor het. Die drie oorloe tusse Nederland en Brittanje in die seventiende eeuw was die direkte gevolg van wat in Oos-Indië gebeur het en die wedyver het lang aangegaan / voort geduur.
Wat veral tot woede in Engeland gelei het, was die sogenoemde Amboyna massacre (https://en.wikipedia.org/wiki/Amboyna_massacre), waar die Hollanders koelbloedig tien Engelse gemartel en vermoor het.
Suid-Afrika was in daardie tyd net die verversings stasie vir die Hollandse skepe wat Oos-Indië toe gaan. Natuurlik was Rhodes en ook Milner belangrike persone wat gebaat was by die anneksasie van die Boere republieke, maar die haat tussen Britte en Hollanders in die oorlog het waarskynlik sy wortels in die geskiedenis van die 17e eeuw. Ek het ook self ‘n boek daaroor geskryf wat ek ‘Leviatan’ genoem het, maar het nie meer eksemplare beskikbaar nie.
Groete en seën vanuit Nederland,
Bart Spruijt
Hallo Bart,
dankie vir die kommentaar en die interessante stuk inligting en die bronverwysing. Ek sal meer moet lees oor die Nederlandse koloniale geskiedenis.
Ek het ‘n eksemplaar v/d boek ‘Strijd Tussen Boer en Brit’ maar sien ook die skakel:
http://thediariesofavillageidiot.blogspot.co.za/2009/03/general-de-wet.html
Baie interessant die verwysing na sy broer Piet…
In die boek ‘Almost in Confidence’ van Arthur G Barlow het CRdW ‘n moeilike periode beleef onder Hertzog – mens kry hom bitter jammer. CRdW was ook in Britanje en het met sukses SA se beeld daar verbeter. Dit was ook tydens daardie reis waar hy sy boek begin skryf het. Ongelukkig kan mens nie net die positiewe aspekte van sy lewe beskryf nie (‘cherry picking’). Hy was ook baie betrokke tov die treinspoor ontwikkeling in die OVS.